# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Praatsieke Tom

PRAAT! O, LIEWE aarde! Hy was soos 'n grammafoon wat nooit ophou nie.

As hy regtig eers begin het, kon hy nie gekeer word nie. Dit het geskyn of hy kon praat en praat tot almal daarvan kopseer het.

Hy wou altyd die eerste woord, die laaste woord en al die woorde tussen-in hê.

En stry! Dit was vreeslik. Hy kon oor alles en met almal stry. Daar was niks waaroor hy nie met gesag gepraat het nie - asof hy meer as enigiemand anders daarvan geweet het. En wanneer hy gevra is om iets tedoen of om iewers heen te gaan, het hy so baie waarom en hoekom gevra dat Moeder hom maar laat praat en dit self gaan doen het.

"Tom," het Pappie eendag gesê, "as jy nie ophou om alewig te praat en te stry nie gaan daar met jou iets gebeur."

En daar het ook. Tom het pampoentjies gekry en toe kon hy nie praat nie. Dit moes seker vir hom vreeslik gewees het. Maar toe hy weer begin beter word, het hy maar weer begin praat.

Maar intussen het Pappie aan 'n oulike plan gedink.

Tom was weer eendag hard besig om te stry. Hy kon nie insien waarom hy nie daardie middag kon gaan rugby speel nie. Die gras is miskien nat, maar ander mense speel rugby as dit reën. Sy skoene is sterk en sy skoolmaats wag vir hom, en hy gee nie om as hy verkoue kry nie want verkoues doen niks aan hom nie, en wanneer laas het hy iets makeer, behalwe die pampoentjies, en dit was ook nie so erg nie, en die son skyn lieflik, en dit word laat en so voort en so voort.

"Nou kyk hier, Tom," het Pappie gesê, en hy moes Tom in die rede val want hy het nog een strook deur gepraat, "ek het genoeg gehoor. 'n Mens weet amper nie in hierdie huis wat hy dink soos jy praat nie. Ek het al agtergekom dat dit net 'n blote gewoonte van jou is en jy kan dit net so maklik soos enige ander gewoonte afleer - as jy gou genoeg begin."

Tom was so verbaas dat hy skoon van sy rugby vergeet het en hy het net sy Pappie aangegaap.

"Ja," het Pappie voortgegaan, "jy moet jou teëpratery laat staan - en jy moet sommer dadelik begin. Van nou af moet jy leer om stil te bly."

"Leer om stil te bly?" het Tom verbaas en effens bang gevra. "Hoe sal ek dit regkry?"

"Ek sal jou vertel hoe," het Pappie gesê. "Ek weet dat jy kan stil wees, want hierdie huis was doodstil toe jy pampoentjies gehad het. En dit is wat gaan gebeur: Elke keer as jy stry, gaan jy beboet word met 'n halfuur stilte."

"Ag nee!" het Tom uitgeroep asof iets vereesliks met hom gaan gebeur. "Maar sê nou dit gebeur met middagete en ek wil nog brood en botter hê, of ek onthou dat ek iets belangriks te vertel het, of sê nou-"

"Daar begin jy alweer," het Pappie gesê. "Ek dink ons moet sommer dadelik met ons plan begin. Dit is nou vieruur en voor half-vyf wil ek nie 'n woord uit jou mond hoor nie."

"M-m-m-aar," het Tom begin.

"Nie 'n enkele woord nie," het Pappie streng gesê en Tom het geweet dat Pappie bedoel wat hy gesê het.

"Daar was vir 'h hele halfuur stilte in die huis. Toe het die vloed weer opnuut losgebars.

"Tom," het Pappie ernstig gesê, "oefen asseblief nog vir 'n halfuur om stil te bly."

Eers het tom baie swaar gekry en dit het baie halfure gekos om hom van sy gewoonte te genees, maar dit het tog geslaag.

En toe het almal wat hom geken het, gesê: "Ek wonder wat op aarde Tom oorgekom het. Hy is deesdae baie stiller. Hy praat glad nie meer so baie nie. Is hy nie 'n gawe seun nie?"

Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell