# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Piet en die Pampoenpitte

"Moeder," het Piet eendag gesê, "Ek wens ek kan 'n bietjie geld verdien."

"Wel, Piet," het Moeder gesê, "maar jy verdien nou mos geld? Jy help my met klein werkies, en ek gee jou elke week 'n bietjie sakgeld."

"Ja, ek weet," het Piet gesê, "maar ek bedoel werklik geld verdien - 'n salaris trek soos groot mense."

"Wel, wanneer jy groot is, sal jy 'n salaris kan verdien, hoop ek," het Moeder gesê. "Maar daar is nog baie tyd daarvoor."

"Ek wil nou geld verdien," het Piet gesê. "Kan ek nie na ons buurman, meneer Jansen, gaan en vir hom werk nie?"

"Jy sal seker vir hom kan werk as hy jou werk wil gee. Maar jy is nog so klein, weet jy. Ek glo nie dat hy hom met jou sal moegmaak nie."

"Maar sal Moeder hom nie vra nie?" het Piet gesoebat. "Vra hom. As hy nie wil nie, kan hy maar met nee sê."

Na Piet lank geneul het, het Moeder belowe om met hulle buurman oor die saak te praat. En so het dit dan gekom dat Piet 'n week van sy vakansie by meneer Jansen gaan woon het. In die voormiddag moes hy vir 'n sekere prys werk, en in die namiddag kon hy speel - dit is as hy sy werk bevredigend gedoen het.

Piet was hoog in sy skik toe hy een oggend daar weg is met sy handkoffer waarin sy slaapklere, sy hare-en tandeborsel, en nog 'n paar ander benodighede was, om op hulle buurman se plaas te gaan werk.

Meneer jansen het hom vriendelik gegroet en hom dadelik aan die werk gesit om klein werkies in die huis en op die werf te doen.

En toe, een môre, toe dit tyd was om te begin werk, het meneer Jansen aan Piet gesê dat hy vandag spesiale werk vir hom het.

"Piet," het hy gesê, "jy moet my vandag mooi help. Ek het baie belangrike werk vir jou, en jy moet maak net soos ek sê, sal jy?"

"O, ja," het Piet opgewonde gesê. "Natuurlik sal ek. Wat moet ek doen?"

"Kom saam met my," het meneer Jansen gesê; "jy sal gou uitvind."

By die huis het meneer Jansen 'n emmer vol pampoenpitte geneem. En die twee het na 'n stuk geploegde land gestap.

By daardie tyd al het Piet geraai dat hulle pampoenpitte gaan plant. Hy sal seker die emmer moet dra terwyl meneer Jansen plant.

"Luister nou mooi," het meneer Jansen gesê. "Sien jy daardie stuk grond?"

"Ja," het Piet beteuterd gesê, want hy het gedink dat hy nog nooit so 'n groot stuk bewerkte grond gesien het nie.

"Ek wil hê dat jy hierdie pampoenpitte moet plant, en jy moet dit baie versigtig doen."

"Ek?" het Piet gevra.

"Ja, jy," het meneer Jansen gesê. "Stap met die eerste ry af, tel elke keer twintig tree, en dan plant jy drie pitte. Wanneer daardie ry klaar is, moet jy twintig tree in die dwarste loop, en weer 'n nuwe ry plant - weer elke twintig tree drie pitte. En so moet jy aanhou totdat die emmer leeg is."

"Ja, meneer Jansen," het Piet gesê, en hy het sommer pure grootman gevoel.

"Verstaan jy nou mooi wat jy moet doen?"

"Ja, ek dink so," het Piet gesê. "Elke twintig tree moet ek drie pitte plant, en die rye moet twintig tree uitmekaar wees."

"Nou ja, goed dan," het meneer Jansen met 'n glimlag gesê. "Ek sal nou maar gaan, en as jy klaar is, kan jy maar 'n bietjie gaan swem."

"Baie dankie, meneer Jansen," het Piet gesê, nou haastig om te begin plant. "Ek sal so gou maak as wat ek kan."

"Ek wonder hoe hy sal vaar," het meneer Jansen gedink toe hy daar wegstap om ander werk te gaan doen.

Piet het in alle erns begin plant.

"Drie pitte - twintig tree - drie pitte - twintig tree," en so het hy aangehou met daardie lang ry af. eindelik het hy by die onderent gekom, en toe het hy omgedraai en teruggekyk of hy die plek kon sien waar hy begin het. Hy kon dit skaars sien so ver was dit. Maar toe Piet na die emmer pitte kyk, het sy moed sommer gesak. Die emmer was nog net so vol!

"Ek het al so baie pitte geplant, en die emmer het nog niks gesak nie. Ek sal vinniger moet werk as ek nog wil gaan swem."

Hy het toe twintig tree in die dwarste afgetree, en maar weer begin plan.

"Drie pitte - twintig tree - drie pitte - twintig tree."

Eindelik was die tweede ry ook klaar; weer het Piet na die emmer gekyk. Hy het gevoel  dat hy in trane kon uitbars. Hy kon sien dat die emmer 'n klein bietjie gesak het, maar so min dat dit byna nie merkbaar was nie.

Teen hierdie tyd het hy ook al begin moeg word. Hy was nat van die sweet; en toe hy so na die emmer saad kyk, het hy gevoel dat daar vir hom geen swemmery gaan wees as hy nie opskud nie. Skielik het daar 'n verkeerde gedagte in sy kop gekom.

"Ek wonder," het hy gedink, "of dit sou saak maak aas ek vier of vyf pitte elke keer plant? Dan sal dit mos gouer gaan. En meneer Jansen sal nooit weet nie, want die pitte lê mos onder die grond.

Hy het so 'n rukkie oor die plan nagedink, toe het hy na die son gekyk en het sommer skielik baie warm begin kry, en gedink aan die heerlik koel water van die dam. Hy het besluit om die nuwe plan te volg.

Nou was sy rympie, "vyf pitte - twintig tree - vyf pitte - twintig tree."

Eindelik het hy die derde ry klaar gehad, en het hy die vierde gepak; aan die einde daarvan het hy die vierde gepak; aan die einde daarvan het hy weer die emmer betrag, en dit het vir hom nog net so vol gelyk as ooit.

Piet was nou baie moeg, en hy het 'n bietjie gaan sit om te rus.

"Hy moes my nie so 'n groot werk gegee het nie," het Piet daar gesit en brom. Hy behoort mos te weet dat ek nooit al hierdie pitte kan plant en nog tyd oor hê om te gaan swem nie. Ek glo nie hy het ooit bedoel dat ek moet gaan swem nie - ek is seker hy het nie. Maar ek het nie die moed om hom te sê dat ek die werk nie klaargekry het nie. Ek sal maar moet aanhou plant, of nee wag, as ek vyf pitte op 'n slag kan plant, dan kan ek net so lief ses of sewe op een plek ingooi."

En dit is presies wat Piet gedoen het; in die volgende twee rye het hy sommer sewe pitte op 'n keer geplant, en toe was dit: "twintig tree - sewe pitte - twintig tree - sewe pitte."

Maar selfs dit het nie die emmer gou genoeg na sy sin laat sak nie, en dit het al begin laat word.

"Ag wat, ek gee nie meer om nie," het Piet gesê. "Ek gaan hierdie emmer nou sommer gou leeg maak, en dan gaan ek swem. Ek sal sommer 'n hele handvol pitte op 'n slag plant."

Piet het weer begin plant, en hy was vies. Hierdie keer was dit: "twintig tree - 'n handvol - twintig tree - 'n handvol."

Op hierdie manier was die emmer baie gou leeg. Piet het dit onderstebo neergesit, en hy is na die dam. Maar hy het glad nie lekker geswem nie. Hy het binnekant baie ongelukkig gevoel. Wat dit was, het hy nie eintlik geweet nie, maar hy was nie op sy gemak nie.

Toe het meneer Jansen na hom geroep en gevra of die werk klaar was.

"Ja, ek is klaar," het Piet geantwoord; "ek het al die pitte geplant." Maar iets het vir Piet gehinder.

"Jy het fluks gewerk ou seun," het meneer Jansen gesê; maar dit het Piet glad nie getroos nie.

Daardie aand is hy huis toe. By die huis het Moeder hom gevra hoe dit gegaan het, en hy het geantwoord: "Heeltemal goed"; maar daar binne-in hom het dit nie goed gevoel nie. Hy kon maar nie daardie plantery van hom vergeet nie, en, o goeie, skielik het hy besef dat daardie pitte mos almal sal opkom!

Tot op daardie oomblik het hy nooit aan daardie vreeslike moontlikheid gedink nie. Dit het gevoel of daar 'n warm gloed oor hom gaan, en toe het hy weer 'n koue rilling gekry. Heeltemal verslae het hy daar langs sy bedjie neergekniel en God gevra om sommige van daardie pampoenpitte nie te laat opkom nie.

Maar, terwyl hy nog daar gebid het, het die pitte al begin groei, en binne 'n paar dae sou hulle op wees - almal van hulle. Intussen het meneer Jansen gaan kyk waarom Piet dan so gou klaar geplant het, en toe hy terugkom, was daar 'n veelseggende glimlaggie om sy mond - hy het geweet!

Piet het meneer Jansen die volgende keer toe hulle kerk toe gaan weer gesien. Daar in die kerk het hulle teenmekaar vasgeloop. Vir Piet was dit soos die oordeelsdag. As hy kon weghardloop, het hy dit seker gedoen, maar dit was of sy voete daar vasgespyker was. Al wat hy voor hom kon sien, was meneer Jansen en miljoene en miljoene pampoenstoele. Sy lippe het begin bewe.

Meneer Jansen het alles maar te goed verstaan. Hy was 'n goedige man, en hy het dadelik geweet dat Piet sy bitter les geleer het.

"Toe maar, Piet, moenie huil nie," het hy vir hom gefluister. "Onthou maar net dat die saad wat 'n mens in die lewe saai opkom. "Wat 'n mens saai, dit sal hy ook maai."

As blyk van vergifnis het hy Piet 'n vriendelike handdruk gegee, en Piet het gewens dat hy sommer dadelik daar uit die kerk kon gaan om daardie stuk grond behoorlik te beplant.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell