# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Paul se les

Paul se een groot strewe op daardie oomblik was om vir hom 'n boot te maak. Hy het 'n stuk hout gehad, twee voet lank, ses duim breed en ses duim dik. Hy was besig om dit uit te hol met 'n hamer en 'n beitel.

As julle nog nooit 'n boot gemaak het nie, dan het julle een avn die beste dinge in die lewe gemis. Paul het dit baie geniet. Hy het soveel belang in sy werk gestel dat hy aan niks anders kon dink nie. Elke middag, sodra hy uit die skool kom, het hy dadelik na sy klein werkswinkeltjie gegaan om aan sy boot te werk.

Geleidelik het die stuk hout vorm gekry. Tydsaam het hy dit al dieper uitgehol. Eindelik was daar nie meer veel om te doen nie, en baie gou nou sal hy die mas en die seile kan aanbring.

Toe het die Sabbat aangebreek. Van sy prille jeug af is Paul geleer dat die Sabbat geheilig moet word. Vandat hy kan onthou, het hy op daardie dag kerk toe gegaan. Dan is die gewone werk gestaak. Hy het sy beste boeke gehou om op daardie dag te lees. Vir die hele gesin was dit 'n tyd van rus en vrede. Maar hierdie week was dit vir Paul asof die Sabbat op die verkeerde tyd gekom het. Meer as enigiets in die wêreld wou hy sy boot klaarmaak. Daar was nog net 'n paar dae oor voor die vakansie, en hy was bevrees dat hy dit nie sou klaar kry voor daardie tyd nie. As hy net 'n bietjie langer kon werk, sou het ten minste die uitholwerk kan klaarmaak.

In die oggend het hy soos gewoonlik kerk toe gegaan. In die namiddag het hy aan sy Moeder gesê dat hy liewer nie saam met haar sal gaan wandel nie. Hy sal die huis oppas terwyl sy uit is, het hy gesê.

Nadat sy Moeder so 'n rukkie weg was, het Paul die boek toegemaak waarin hy gelees het, en hy het van sy stoel af opgestaan. Hy het geweet dat hy nie een reëltjie gelees het nie, maar dat hy die hele tyd net gedink het aan sy boot. Dit was asof 'n stem in sy ore gedruis het, "boot, boot, boot!"

Hy het vir 'n tydjie in die huis rondgedool, heeltemal besluitloos. Baie dof het hy 'n ander
stem hoor fluister, "dink aan die Sabbatdag dat jy dit heilig."

Dan het die eerste stem weer van vooraf begin, "boot, boot, boot!"

Half onbewus het hy die werkswinkel se kant toe gestaan. Hy het die deur oopgemaak en ingeloer. Dit is tog seker nie verkeerd om 'n bietjie te loer nie, al is dit die Sabbatdag het hy gedink.

Ja, daar was die boot nog, net soos hy dit die vorige aand gelaat het - byna klaar. Nog net 'n halfuur se werk, het Paul gedink, dan sal dit gereed wees om die dek op te timmer. Hoe jammer tog dat hy 'n hele dag moet wag voordat hy daaraan mag raak!

Hy het ingegaan, en die deur agter hom toegemaak. Toe het hy na die boot gegaan, en gevoel aan die gladgeskaafde hout.

En toe, voordat hy mooi besef wat gaande was, het hy met die beitel daaraan begin werk. 'n Hamerslag het deur die huis gedreun, en Paul het 'n bietjie geskrik. Hy het weer goed rondgekyk om te sien of die deur toe is.

Klop! het hy weer met die hamer op die beitel geslaan. Weer het hy bang gevoel. Sou sy Moeder nie miskien hoor nie? Wat sou sy van hom dink? Maar sy Moeder sou seker nog vir 'n hele halfuur wegbly, want sy het altyd vir 'n uur of wat op Sabbatdae gaan wandel.

Nog 'n slag, en daar is weer 'n stukkie hout uit. Paul was nou nie meer so bang nie, en hy het al harder begin slaan. Hy het egter nog senuweeagtig gebly.

"Eina!" het hy geskreeu, want hy het die beitel misgeslaan en hom op sy eie duimnael getref.  Daar het trane in sy oë gekom, en hy het rondgespring van die pyn. Daar was nou nog so klein biejtie werk oor, dat hy besluit het om dit maar klaar te maak.

Hy het weer begin hamer.

"Ag!"het hy skielik uitgeroep. Hierdie keer het die beitel 'n bietjie te hard geslaan, en dit het dwarsdeur sy boot gegaan. Sy goeie werk was nou bederf. Hy kon gerus huil, want dit sou moeilik gaan om sy boot nou waterdig te hou.

Hy wou ophou, maar die ongeluk het hom desperaat gemaak.

Hy het vinnig begin slaan met die hamer, want hy was bang dat sy Moeder nou enige oomblik kon opdaag en hom daar vang.

"Sjoe toggie!"

Die beitel het gegly en sy hand lelik gesny. Paul het besef dat dit 'n gevaarlike sny was. Hy het sy sakdoek op die wond gedraai en vinnig uit die kamer gehardloop.

"Moeder, Moeder!" het hy geskreeu, "ek het my lelik gesny. Moeder, waar is jy?"

Gelukkig vir hom het sy Moeder net die huis genader. Sy het Paul hoor roep, en sy het begin hardloop. Toe sy by die voordeur inkom, het Paul flou neergesak, en dit was 'n hele tydjie voor hy kon verduidelik wat gebeur het.

Toe hy weer sy oë oopmaak, het hy in een van die gemakstoele gesit, en Moeder was besig om sy hoof met koue water nat te maak.

Skielik het Paul stip gekyk na iets teen die muur. "Wat makeer nou?" het Moeder gevra. "Moenie so bekommerd lyk nie."

"Kyk daar," het Paul gesê, "Dis snaaks dat ek dit nou eers raaksien."

"Wat?" het Moeder gevra, want sy het glad nie verstaan nie.

"Daar teen die muur," het Paul gesê.

Moeder het weer gekyk; toe het sy verstaan, en sy het die bekende woorde gelees:

        "Die Sabbat geheilig,
          Bring vrede oorvloedig
          en krag vir more se taak;
          Maar die Sabbat ontheilig
          In enige sin,
          Bring altyd droefheid en leed."

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell