# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Ouma se Klavier

Ruth het vreeslik baie daarvan gehou om by Ouma te gaan kuier, want sy was altyd so gelukkig daar. Ouma was baie goed vir haar; sy het vir haar stories vertel, haar pop se klere heelgemaak, en natuurlik was daar altyd iets lekkers om te eet.

Elke woensdagaand het Ouma vir Ruth vroeg in die bed gesit, en daarna gestap na die huis van Mevrou Henderson om die biduur by te woon. Behalwe die paar maal wat siekte, of slegte weer Ouma tuisgehou het, het sy oor die afgelope twintig jaar nooit 'n biduur gemis nie. Hoewel sy nou al baie oud was, het sy niks toegelaat om haar van die biduur weg te hou nie.

Een aand, terwyl Ruth en Ouma weer lekker gesit en praat het, het Ruth 'n vraag gevra wat Ouma 'n bietjie uit die veld geslaan het.

"Ouma," het Ruth gevra, "waarom moet Ouma dan altyd die hele ent pad loop na die huis van Mevrou Henderson vir die biduur? Ouma kan nie meer so ver loop nie?"

"Wel, Ruth," het Ouma gesê, "ek het nog nooit eintlik oor die saak gedink nie. Vir so baie jare al gaan almal van ons na Mevrou Henderson se huis, dat ek seker maar sal aanhou so lank as wat ek leef."

"Maar Ouma," het Ruth weer gesê, "waarom laat Ouma nie die biduur hier hou nie? Want dan sal Ouma mos nie so ver hoef te loop nie!"

"Ek het seker nog nooit daaraan gedink nie," het Ouma met 'n glimlag gesê. "Een rede is natuurlik die feit dat Mevrou Henderson 'n klavier het, en ek het nie een nie. Sien jy nou, daar is die rede."

Maar as Ouma gedink het dat sy Ruth tevrede gestel het, het sy dit mis gehad. "Ouma," het Ruth na 'n rukkie weer gevra, "waarom het Ouma nie 'n klavier nie?"

"Seker omdat ek nie een nodig het nie," het Ouma gesê. "As Ouma een gehad het, sal Ouma nie so ver hoef te loop in die nattigheid en koue nie."

"Ek weet Ruth, maar daar is nog 'n rede: Ek kan nie 'n klavier bekostig nie; dus moet sake maar so bly."

"Maar Ouma," het Ruth weer gesê, "kan Jesus dan nie vir Ouma 'n klavier gee nie?"

"Natuurlik kan Hy," het Ouma gesê; "maar ek glo nie dat Hy dit sal doen nie, want soos ek alreeds gesê het, het ek nie een nodig nie.

"Maar Ouma het een nodig," het Ruth gesê, "en ek gaan Jesus vra om vir Ouma een te stuur. Sal dit nie gaaf wees as Ouma 'n klavier het nie, want dan kan die mense na Ouma se huis kom vir die biduur?"

Ouma het geglimlag en gesug. Sy het nou nie meer geweet wat om te sê nie, en sy wou vir geen geld ter wêreld Ruth se geloof in Jesus vernietig nie.

"Wel, kindjie," het sy eindelik gesê, "ons moet maar die saak aan Hom oorlaat, nie waar nie?"

"O, ja, Ouma," het Ruth gesê. "Natuurlik moet ons, maar ek gaan Hom darem vra om vir Ouma een te stuur."

En Ruth het ook.

Elke oggend en elke aand het Ruth gebid: "Liewe Jesus, stuur asseblief vir Ouma 'n klavier sodat sy nie so ver hoef te loop na die biduur nie."

Ek weet nie presies hoelank sy gebid het voor die antwoord gekom het nie - miskien was dit twee of drie weke, of miskien 'n hele maand. En toe, een agtermiddag, terwyl ouma en Ruth in die eetkamer gesit het, het hulle skielik mense by die voordeur gehoor.

Hulle het mansstemme hoor praat.

"Tel hom jou kant op," het een geskreeu. "Stadig nou, stadig nou," het 'n ander geskreeu. "Tel nou almal gelyk op": en daar was 'n rondtrappery by die deur.

Hulle het op die trappies by die voordeur 'n bietjie gestaan en rus. Ouma het met haar werk opgehou en gevra; "Wat is dit? Wie sou ons vanmiddag kom besoek?:"

Toe het hulle weer die manne gehoor: "Tel nou almal gelyk op, en laat ons hom op die boonste trappie sit, maar wees baie versigtig kêrels."

Toe is daar skielik hard aan die deur geklop. Ruth was vreeslik opgewonde.

"Ouma!" het sy uitgeroep, "miskien is dit die klavier. Kom ons gaan kyk!"

Ruth het feitelik voordeur toe gevlieg.

"Ouma! Dit is die klavier! Jesus het Ouma se klavier gestuur."

"Ek weet nie wie dit stuur nie, het een van die manne gesê, maar hier is dit, en wat moet ons daarmee maak?"

"Bring hom in; bring hom in!" het Ruth gesê, terwyl Ouma verslae gestaan en wonder het wat alles beteken; en daar was groot dankbaarheid in haar hart.

Hulle het later ontdek dat die klavier behoort het aan een van die dames wat na die biduur gekom het; sy sou uit die dorp verhuis, en omdat sy nie geweet het wat om met die klavier te maak nie, het sy skielik die idee gekry om dit na Ouma te stuur.

Hoe dit ookal sy, daar was die kalvier - 'n regte klavier - in Ouma se huis!

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell