# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Oppas vir die duwweltjies!

Ons het by Grootmoeder se broer Coenraad gekuier op sy groen heuwelplaas Foggy Valley. Hoekom die plaas 'n Engelse naam dra, het ek nooit gevra nie - hoekom dit Foggy Valley was, kon selfs ek as kind begryp. Die plaas was hoog geleë en daar was altyd mis in die vallei. Daar was varkore by die spruit  en flappe in die vlei en baie aandblomme.
 
Oom Coenraad se huis was van klip en sy tafels van geelhout en sy matrasse van veredons. Saans by die kerslig het ons skaapribbetjie geëet en vars melk gedrink en geluister na die baie stories. Oom Coenraad kon 'n barshou vertel. Veral as dit oor die Engelse Oorlog of oor sy kinderdae gaan. En daar was maar altoos 'n spookstorie of twee ook voor die aand om is. Hy en Grootmoeder het baie oor hulle jeugjare gepraat. Keer op keer as ons gaan kuier dan was daar maar die een of ander onthou-jy-nog. Eida, die plaas waarop hulle grootgeword het, was nie baie ver van Foggy Valley af nie. Dertig myl, miskien. Dalk 'n rapsie verder, 'n rapsie nader. Maar om die een of ander rede het nie een van die twee ooit weer daar gekom nie. Toe, een aand, sit ons ouder gewoonte om die tamaai eettafel en Grootmoeder, of Oususter, soos haar broers haar genoem het, vertel van Eida en van die keer toe Coen die gans met die lampetbeker doodgeslaan het. "Hoekom gaan kyk ons nie na Eida nie, Oudsuster?" het oom Coenraad skielik gevra toe die amen van sy dankgebed nog skaars uit was.

"Ons? Eida toe?" Dié voorstel het Oususter kennelik nie verwag nie. Dit was kompleet of Coenraad vir haar vra hoekom gaan kyk hulle nie hoe lyk Tristan da Cunha nie. "Ja toe, dis 'n plan". Almal om die tafel het in 'n koor saamgesstem. "Ons ry sommer  môre. Ons pak 'n mandjie en ons gaan vir die dag. Ons wil almal graag sien hoe Eida gelyk het." Die volgende dag was 'n mistige dag op Foggy Valley, en ons het uit die mis uit gery die berge oor en afgesak Eida toe. Oususter het heelpad vertel hoe min sy die vorige nag geslaap het, en ek het gewonder hoekom; maar oom Coen het gelag en stilgebly. Hy het toe al, soos ek vandag eers, verstaan. Later was ons op grondpaadjies, op uitdraaipaadtjies, op tweespoorpaadjies. Ons is deur ou, verroeste hekke, deur toegerankte konsertinahekke. Ons het 'n paar keer verdwaal en omgedraai en pad gevra. En oplaas was daar 'n lang skuinste oorkant 'n spruit. Die pad het duskant die spruit in vergroeide kweekgras opgehou, maar Oususter en oom Coenraad het na 'n paar sipresse en bloekoms teen die oorkanste skuinste gewys en gesê: "Daar lê Eida..."
Ons is te voet verder.

Oususter en oom Coenraad het niks meer gepraat nie. Die eerste waarop ons afgekom het, verlore tussen die lang tamboekies, was 'n vervalle kripkraal. Eida se beeskraal. Hier agter hierdie muur het oom Coenraad en sy twee jonger broers, Koos en Jan, skelm gerook. Daar binnekant in daardie hoek waar die boompie nou staan, nou daar het Witlies die aand die melkemmer tussen Coen se knieë uitgeskop. Toe was daar twee sipresse, 'n ent verder. En tussen die gras was 'n paar los klippe. Oususter en oom Coenraad het net 'n rukkie staan en kyk en toe omgedraai en geloop en ons moes net sterk aanstryk om hulle in te haal. Dit was Oorgrootmoeder se graf, byna sestig jaar lank vergete tussen die onkruid. Ons het die dammetjie gekry waar oom Coenraad die kwaai gans bokveld toe gemoker het. Daar was nog 'n effense walletjie en biesies en slyk. en langsaan was die gladde wasklip tussen die gras, bruin van mos en baie wind. Toe stap ons af na die bloekoms toe. Ek het begin voel iets is hier aan die gang sonder om te weet presies wat. As jy tien jaar oud is, besef jy nog nie hoe treurig die verlate reste van 'n verlede 'n mens kan stem nie. Jy dink nog nie in terme van gister nie - selfs môre maak nog nie deel uit van jou werklikheid nie. Dis nog net vandag vir jou. Vandag duur vir ewig. Vandag is alle tye. Die besoek aan Eida het my begin verveel. Ek wou nie meer saam die die ander stap nie. Ek het vooruit gehardloop na die bloekoms toe en daar was 'n sooimurasie, die mure plek-plek omgeval, plek-plek nog staande. Vier vertrekke. 

Die werf was toegegroei met kakiebos en kosmos en ek het verroeste stukkies yster opgetel en stukkie blou geblomde porselein en 'n entjie verder 'n verknotte roosboom raakgeloop wat halfhartig probeer blom. Later het ek teruggegaan murasie toe en die res van ons geselskappie daar gekry. "Dit was die kombuis, Oususter, onthou jy?" Ek kon nie glo dat dit ooit 'n kombuis kon gewees het nie - die twee buitemure het op die grond gelê. "Hier het olee Pa en Ma altyd saans gesit en gesels voor ons bed toe gaan. Die stoof het hier gestaan, Oususter, onthou jy?" Het daar teen dié rou grondmure familieportrette en botterspane gehang? Het hier stoele en tafels en beddens gestaan? Het iemand met 'n ingeduikte lampetbeker water oor hierdie drumpel gedra? Het hier saans kerse gebrand, 'n kind gehuil, 'n ketel gesing? Is hier gebid en gelag en liefgehê? Daar het kakiebos in die voorkamer gegroei en daar was groen mos teen die kosyne en uit die een slaapkamer uit het 'n bruin padda aangespring-gespring gekom in die smal kweekgrasgang af. Net oom Coenraad het hoofslaapkamer toe gegaan. Oususter wou nie. En oom Coenraad - hy is vandag al dood - was 'n harde man, 'n bruin gebrande skaapboer wat alles weggelag het en selfs oor die grootste ramp filosofies kon borduur. Maar toe oom Coenraad uit daardie stukkie murasie uitkom, was sy oë vol skaamtelose trane en ek onthou nog goed ek het gedink: Arrie, party mense, darem!
 
Eers nou die dag het ek gehoor hoekom almal die môre die hoofslaapkamer so vermy het, en hoekom groot oom Coen se gemoed so vol was toe hy daar uitkom. Miskien is dit die treurigste storie wat ek ken. Coen was as kind glo maar 'n rakker. Hy't daarvan gehou om sy broers te karnuffel. Speels, miskien, maar tog. Kleinboet Jan, die jongste van almal, was 'n laatlammetjie en hy moes maar altoos deurloop onder sy groter broer se kwajongstreke. Maar kleinboet Jan was g'n papbroek nie - hy't alles soos 'n man getrotseer. Hy't nooit by Pa of Ma loop nuus aandra nie, al het hy ook hoe deurgeloop. Miskien het hy geweet hulle sal iets agterna skree, iets soos "Oppas vir die duwweltjies", soos kinders maak maak as iemand gaan nuus aandra. Die nag toe Oorgrootmoeder dood is, is al die kinders wakker gemaak behalwe kleinboet Jan. Hy was immers maar vyf en sou niks van die verlies verstaan nie. Selfs die groter broers het min begryp. Net Oususter was al groot genoeg om te weet wat dood beteken. Daardie volgende oggend het die boers op die werf gespeel, byna soos gewoonlik. En kleinboet Jan het weer deurgeloop. Maar dié oggend (hoekom juis die oggend - was daar iets in die lug?) kon hy die plaery nie verder verdra nie. Nie meer alleen nie. En hy het gaan kla. Ouster het hom in daardie slaapkamer gekry, by sy ma. Hy't langs die bed gestaan, sy mond naby haar stil kop, en huilend alles vir haar vertel.

CHRIS BARNARD

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7

JONA1

Die Heer het gepraat:

„Jou Volk is in nood!”

- My waansinsdaad

Van die wal in die sloot:

Van my land ek’t gevlug!

Ek’t vrede gesoek.

Ek’t vergeet van my plig

En’t verdwyn om die hoek!

Die Heer het gefrons

„Wat maak die vent nou?”

Hy’t my gewete gebons,

My gedompel in rou!

‘n Gewete is streng

Soos die storm op die see.

‘n Walvis is eng

Wat sy maag moet betree!

Ek roep na die Heer:

„In die sonde verdwaal

Het ék, sonder eer,

En my moed het gefaal”.

O Volk verskoon!

Neem my weer aan!

Ek sal vir jou toon

’k Sal my nooit weer misgaan!

Die see het bedaar -

Die vis spu my uit!

Ek’s nou weer daar!

Dis die Heer se besluit!

      © Pieter Cohen Hamburg

Laslappie.mp3