# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Oom Diederik leer om te huil

Die koors was daardie jaar baie kwaai en selfs in die wyk van Buffelshoek, waar gewoonlik geen malaria is nie, het baie mense siek gelê aan die koors.

Dit was in die nasomer aan die end van Maart. Oom Diederik Blas sit alleen in die sitkamer van sy taamlik ruim, maar armoedige huis en sit daar en dink aan al die siektes in sy omgewing. Noord en suid van hom woon sy kinders, al langs die spruit, op hul klein stukkies grond in hul klein woninge, kleinboere wat hard moet werk om hul grondjies te behou.

In elke huis is siekte. In hul klein lae kamers lê die siekes, grootmense en kinders in die hitte van die nasomer en bewe van koue of woel in hoorshitte, smagtend na koelte. Die armoede is ook groot en in menigte huis het hulle gebrek aan die dinge wat 'n siek mens nodig het. 

Sy vrou kom uit die kombuis en praat met hom. Dit is al weer oor die siekte. Sy staan daar in die deur, oud en grys, krom en maer, verwaarloos deur sorge en ontbering. "Flip het ook weer ingeval," sê sy. "Hulle pas hul ook nie op nie."

Sy het dieselfde 'n uur gelede ook al gesê en hy begryp dat sy na geselskap verlang, maar na 'n paar minute verval hy weer in gepeins. Dit druk haar dat hy so weinig spraaksaam is; dit maak haar trietsig as hy daar so stil sit sonder om 'n woord te sê. Met 'n sug gaan sy weer weg.

'n Dogtertjie van 'n jaar of twaalf kom binne en vra of Ouma nie kans sien om bietjie oor te kom nie, want boet Jan het weer so harde koors. "Ma weet nie wat om te doen nie," sê die kind, " en Pa is nie by die huis nie."

Hy roep na haar. "Gaan tog maar weer bietjie soheentoe," sê hy. 

Toe sy vrou weg is, dink hy: Ek is verwonder dat die koors my nog nie aangetas het nie. Maar een van die dae sal hy my seker ook kry. Iemand klop en hy staan op. Dis 'n opgeskote seun, die seun van een van sy kinders wat 'n paar uur verder woon.

"Hoe gaan dit by julle? vra hy. "By ons is nog baie siekte, Oupa. Pa het my gestuur om te verneem hoe dit hier by Oupa-hulle gaan."

"Ja, kind, hier is dit maar net so. Jou oom Flip het weer ingeval. By Hendrina lê ook twee van haar kinders siek. Stefaans se vrou lê ook al 'n paar weke. Hier is amper nie 'n huis waar geen siekte is nie. Ek verwonder my dat die siekte my ook nog nie aangetas het nie."

"Oupa is gelukkig," sê die seun.

"Ja, maar hy sal my seker nog kry."

Die seun sê niks, weet nie watter antwoord hy daarop moet gee nie.

Toe hy weg is, loop oom Diederik uit na sy mielielande. Hoog en groen staan die mielieplante in die hitte van die warm voormiddag, weelderig, met groot koppe. Dit kan 'n goeie oes word, dink hy. Maar mens weet nie of jy nog sal sien dat hierdie mielies gedors word nie. 

Na 'n tyd sien hy sy vrou weer terugkom. Dit val hom by dat hy die laaste tyd so min met haar gesels; so met sy eie gedagtes besig is dat hy die geselskap verwaarloos. Dis darem nie goed genoeg nie, dink hy. Hy gaan haar tegemoet en vra haar uitvoerig uit en dit beur haar op dat hy weer so spraaksaam is. Dis alte swaar as mens net twee in die huis is en een sê amper geen woord nie, dink sy. 

Een bedompige middag, terwyl hy in die huis by sy oudste seun sit, voel hy die koue hom bekruip. Sy seun sien dit.

"Pa voel toeg nie siek nie? vra hy.

"Ek voel of ek koud wil word," sê hy. "Ek wil maar weer loop."

"Wag, ek sal gou inspan," sê sy seun.

"Nee, toe maar, dis nie ver nie: miskien is dit goed as ek 'n entjie stap."

Maar toe hy by sy huis kom, is hy so duiselig dat hy op sy bene wankel. Dadelik gaan hy lê en terwyl hy rillend inmekaar krimp van die kouekoors, sê hy elke maal by homself. "hier het my my nou ook; ek het dit verwag."
Sy ou vrou dokter hom so goed as sy kan, maar die koors neem toe. Van koue wat hom so laat bewe dat sy kooi skud, kom hy dan langsaam in 'n hitte wat hom na koelte laat smag. Dan lê hy uitgeput tot die kouekoors weer vat.

So gaan dae verby met tye dat hy helder van gedagte is en tye dat hy nie weet wat hy praat nie, dat hy dinge om hom heen sien wat nie bestaan nie; tot daar 'n ding kom wat sy denke een rigting laat loop. Dis 'n droom.

Dis 'n droom wat elke maal terugkom. Dit gaan aan as hy wakker lê en terwyl hy slaap, ook as hy by tye by sy bewussyn is, dan nog gaan hy met die droom aan. Sy gaan dit dae aanmekaar.

Hy droom dat hy met kar en perde ry, 'n lang pad. Hy sit alleen op die kar met sy oë benoud met die pad af, want 'n vrees is in hom dat hy by 'n hek sal kom. Daar is geen rede om bevrees te wees vir die hek nie, want hy kan dan mos maar afklim en die hek oopmaak, maar tog maak die gedagte dat hy moontlik voor hek sal kom hom so bevrees dat hy vir niks anders aandag het nie as net daarvoor. Maar die pad is oop en geen hek hou sy voortgang op nie tot hy meteens sien dat daar draad oor die veld en oor die pad gespan is en hy die pale van 'n hek sien. 'n Skok gaan deur hom. Sê nou die hek is toe? Maar toe hy nader kom, sien hy dat die hek ooplê. Dis maar 'n draadwerk en lê daar neergegooi aan die kant. Met 'n sug van verligting ry hy deur. 

Hy lê op sy bed in die donker bedompig-warm kamer met sy broek en hemp en sokkies aan, heet van die koors, en woel onrustig. Soms maak hy sy oë oop en dan kan mens sien dat hy deurmekaar is. Hy gooi homself heen en weer; hy mompel. Sy ou vrou sit by die bed; sit elke maal nat lappe oor sy voorkop. 

"Daar is 'n hek," sê hy verskrik. 

Toe sê hy: "Gelukkig lê hy oop."

Dan lê hy weer 'n rukkie rustiger. 

Sy ry hy verder. Elke maal is daar weer 'n hek, maar die hekke is altyd oop en sonder dat hy selfs nodig het om af te klim, ry hy deur. Tog laat elke nuwe hek hom weer skrik. Naderhand kom hy voor 'n hek wat toe is. 'n Man staan daar by die hek. 'n Gewone man, 'n gewone plaasboer soos mens baie ontmoet. Hy hou stil en wag of die man die hek sal oopmaak. 

"Waar ry oom heen?" vra die man. 

Daarop het hy nie dadelik 'n antwoord nie. Toe sê hy: "Waar almal heen ry."

"Ry maar," sê hy.

So hou dit aan. Elke maal is daar 'n hek en staan daar 'n man wat hom vra waarheen hy ry, en altyd gee hy dieselfde antwoord. Maar sy vrees word altyd sterker. Miskien sal hy voor 'n hek kom waar 'n man staan wat nie wil oopmaak nie. Maar dit gaan goed; altyd weer maak die man die hek vir hom oop. Toe, by 'n nuwe hek, vra die man hom 'n nuwe vraag. Dis 'n ou man soos hyself: "Wie is neef? vra die man.

"Ek is Diederik Blas," sê hy.

"Diederik blas wat in die Eerste Vryheidshoorlog in die slag by Bronkhorstpruit onder kommandant Frans Joubert by was?

"Ja, ek was daar."

Die ou man maak die hek vir hom oop.

"Ry maar."

By elke hek wat hy moet deur, staan daar nou net so 'n ou Boer. Hulle lyk almal soos die ou mense wat al bejaard was, toe hy nog maar 'n opgeskote seun was, manne met lang baarde en klapbroeke en ouderwetse geweers.

"Wie is neef" vra hulle. 

"Ek is Diederik Blas, oom, sê hy dan nederig. 

Hy is self oud, maar hulle is vanmelewe se mense en vergeleke by hulle, voel hy jonk. 

"Is jy die Diederik Blas wat met die inval van Jameson heeltemal van Middelburg met 'n klompie burgers gekom het om te help veg?"

"Ja, oom."

Die man maak die hek oop.

By 'n ander hek vra hulle hom of dit hy was wat in die Driejarige Oorlog in die slag by Bakenslaagte gewond is, toe die vrede al so te sê gesluit was. 'n Ander vra hom weer iets dergliks; en altyd laat hulle hom dan gewillig deur, want oom Diederik was 'n goeie burger wat altyd klaar gestaan het om sy lewe vir sy land te waag. Hy begin langsamerhand meer moed kry, want hy sien dat hulle hom oral ken en dat niemand hom die deurgang versper nie. 

Maar by 'n nuwe hek staan daar twee manne en dit laat hom weer met angs nader kom. Dis mense soos die ander, maar vernamer; hulle lyk soos offisiere, manne met gesag, en hy besef dat dit hier moeiliker sal gaan. Bang wag hy vir hul vrae. 

"Wie is neef?" vra die een. 

"Ek is Diederik Blas, oom." Hy voeg daarby: "Ek was in die slag by Bronkhorstpruit en ek was by die geveg met Jameson. Ek het ook in die Driejarige Oorlog al die tyd buite gebly."

Maar tog aarsel hulle en 'n tyd staan hulle met mekaar en gesels sonder dat hy kan hoor wat hulle sê. Lank bekyk hulle hom, twyfelend. 

Toe vra een van hulle: "Was dit jy wat in die rebellie gesê het dat julle ook vir die Sappe moes bid? "

Ja, dit het hy gesê. Dié ding het hy al byna vergeet, maar nou herinner hy hom dit weer. "Ja oom," sê hy, "dit het ek toe gesê."

Hulle maak vir hom oop.

"Jy kan maar aanry," sê hulle. 

Lank ry hy nou ongesteurd verder. Daar is geen hekke nie, geen manne wat hom vrae stel nie; wyd en oop lê die wêreld sonder êrens 'n enkele kamp of waar die grond met draad toegemaak is, oop sonder iets wat jou keer, soos vanmelewe, en oor die lang vlaktes klim en daal sy pad onbelemmerd na die verte. Maar terwyl hy hom nog daaroor sit en verheug, kom hy plotseling om 'n draai weer voor 'n hek. Weer staan daar twee manne, van uiterlik soos die twee voriges.

"Is jy Diederik Blas?" vra een van hulle.

"Ja, oom."

"Ons laat nie sommer elkeen hier deur nie," sê hulle. 

Groot angs staan in hom op. Hier stuur hulle my terug, dink hy.

"Ons wil jou bietjie uitvra," sê die ander een. 

"Ja, oom," sê hy. 

"Wat het jy gedoen met jou skape?" vra die man.

"Hoe meen oom?"
"Ek meen jou swart skape; wat het jy gedoen met jou werkers? Hulle is mos jou swart skape. Hê-jy hulle in die Evangelie laat wei?"

Oom Diederik laat sy kop sak. Nee, hy het hulle nie in die Evangelie laat wei nie. Hy het hulle laat werk; hy het hulle kos gegee; hy het hulle nie sleg behandel nie, maar moeite om hulle te bekeer, het hy nie gedoen nie. Net met een of twee het hy moeite gedoen; daaraan dink hy nou. 

"Nee," sê hy. "Met boekevat was party soms by, dis al. En dan soms, byvoorbeeld met Windvoël, hom het ek iets probeer leer van die Christendom. Ja, met hom het ek regtig my bes gedoen. Maar hy was baie dom. Hy was my agterryer in die Drie-jarige Oorlog en meer as een aand het ek lank met hom gesels om hom dinge te laat verstaan, maar hy het te min verstand gehad om veel daarvan te begryp. En dan Vaatjie, wat saam met my groot geword het, met hom het ek later ook dikwels oor die geloof gepraat. Hy was ook 'n getroue werker. Hom kon ek iets leer, want sy verstand was wonderlik goed."

"Ja," sê hulle. "Ons weet daarvan."

Tog aarsel hulle nog. Toe, langsaam, asof hulle nog half twyfel, maak hulle die hek oop. 

Neerslagtig ry oom Diederik verder. Die ding word al moeiliker; hy sal dit nie maak nie. Netnou sal hom vrae gestel word wat hy ontkennend moet beantwoord. En dan? Dan sal hulle hom nie laat deur gaan nie. 

Toe sien hy iets wat hom tegelyk van hoop en wanhoop laat bewe. Hy sien 'n hoë bult voor hom en bo-op die bult 'n kerk. Dis 'n mooi groot kerk en sy vensters blink in die son. Rondom die kerk staan dit vol waens en tente. Sal hy daar kan kom? Hoeveel hekke sal hy nog moet deurgaan voor hy daar sal wees?

'n Nuwe hek is al weer voor en 'n man  staan daar. Dis 'n buitengewone man, indrukwekkend om te sien, lank en fris gebou, met 'n groot grys baard en oë wat dwarsdeur jou heen kyk. Hy hou sy kop soos 'n groot generaal, soos 'n mens wat vir niks vrees nie; soos iemand wat mag het om jou met een woord te verdelg. 

Vol vrees hou hy 'n ent van die hek af stil. 

"Waar ry jy heen?"

"Na daardie kerk, meneer," antwoord oom Diederik vol angs. 

"Wie is jy?"

"Diederik Blas."

"Waarom huil jy nie, Diederik Blas?" vra die groot man. "Ons laat net mense deur wat huil."

Hierdie woorde verwonder hom. 

"Waarom moet ek huil, meneer? vra hy. "Moet ek huil oor my kinders wat dood is; of oor my eerste vrou wat ek verloor het; of oor al die teenspoede en ongelukke of teleurstellings in my lewe? Dis mos nie maklik om daaroor te bly huil nie?"

"Nee, mens kan nie altyd daaroor bly treur nie," antwoord die man. 

"Moet ek oor my sondes huil?"

Daar is 'n lang stilte.

"Wat moet ek doen, meneer?" vra oom Diederik bedroef. 

"Omdraai."

"Waarheen."

"Terug waarvandaan jy gekom het."

"Om wat te doen?"

"Om te leer huil."

"Waarom moet ek dan huil as dit nie oor my sondes is nie?"

Maar die man gee hom geen antwoord nie en gans bedruk en teneergeslae keer oom Diederik die perde om en ry terug met die pad waarmee hy gekom het. 

Stadigaan word oom Diederik weer gesond; langsaam met tye van nuwe verswakking. Ure lank kan hy sit sonder om te roer, sy gedagtes stil soos 'n gat water. Dikwels ook dink hy aan die droom. 'n Wonderlike droom was dit. Hy beskou dit as 'n voorbode. 

"Hierdie droom wil vir my iets leer," dink hy, "maar wat weet ek nie." Die predikant kom eindelik daar. Hy moes lankal daar gewees het, meen oom Diederik, maar nou kom hy dan tog eindelik en oom Diederik besluit om hom omtrent die droom uit te vra. 

Die predikant is 'n man van so by die vyftig, vol krag en werklus nog. Hy is op huisbesoek en ry nou ook by oom Diederik aan. Dat hy nie al eerder, spesiaal vir hom, gekom het nie, sou oom Diederik hom vroeër seker kwalik geneem het, maar nou traak dit hom min. Daar is nog 'n ouderling by ook. Ook dit kan oom Diederik weinig skeel. Hy is wel helder van gedagte, maar hy is so kragteloos, so deur en deur swak, en tegelyk so sorgeloos dat hy sommer dae aanmekaar sit sonder om hom oor iets te bekommer. Hy dink ook weinig. H is soos 'n spieël waarin die dinge om hom heen weerkaats. Hy neem die beelde op, dis al. Daar sit die predikant, daar sit die ouderling in hul swart pakke. Hy hoor wat hulle sê. Hy sê self ook iets. Ja, hy het koors gehad. Amper was hy  nie meer daar om die dominee te ontvang nie. 

"Ja," sug die predikant, "die Here weet sy tyd."

Die ouderling sug ook: "Almal moet maar die pad loop, sê hy. 

"Daardie hek moet jy deur," sê oom Diederik. 

Daar is 'n lang stilte. Oom Diederik sit daar, regop, maer, geelbleek; sy grys baard blouwit, sy blou oë flets en sonder spraak. Hy sit daar roerloos, soos 'n beeld, sy stil hande oormekaar. Die predikant sit hom en beskou. 

Die ou is klaar met die wêreld, dink hy. Oom Diederik weet wat die predikant dink, maar dit maak geen indruk op hom nie.

"Dink dominee 'n Christen moet 'n neerslagtige soort mens wees?" vra hy onverwags. "Moet jy dan almelewe bedruk en droefgeestig wees? Treurende so te sê?"

"Nee, oom Diek, ek glo nie. Wat is daar benydenswaardiger as 'n blymoedige Christen? Natuurlik, daar is altyd dinge om jou oor te bekommer en dinge wat jou leed doen; maar tog, 'n Christen het tog alle rede tot blydskap."

"So het ek ook gedink," sê oom Diederik. 

"Net jou sondes, oom Diek, daaroor sal jy altyd bedroef voel."

"Mens kan darem ook nie aanhou daaroor treur nie," sê oom Diederik. 

Die predikant kyk verwonder, 'n weinig pynlik getroffe selfs. Ook die ouderling vind dit 'n snaakse antwoord. 

"Nee, oom Diek," sê die predikant, "as ons besef hoe groot sondaars ons almal is, kan dit nie anders nie of dit moet ons neerslagtig maak."

Oom Diederik gee nie antwoord nie. Hy voel nie lus om hieroor te stry nie, al weet hy nou beter.

"Dominee kan 'n stukkie vir my lees as dominee wil," sê hy na 'n tyd.

Sy vrou kry die Bybel en die predikant dink wat hy sal soek. Die woorde oom Diederik het hom erger laat sleg voel en hy sit daaroor en dink terwyl hy soek. Hy weet waarlik nie wat hy moet lees nie. 

"Het oom Diek voorkeur vir een of ander gedeelte?" vra hy. 

"Nee, dominee kan maar enigiets lees."

"Dan sal ek sommer hier lees waar dit oopgeval het."

Hy voel 'n bietjie skaam dat hy nie 'n toepaslike gedeelte kan kry nie en met weinig besieling begin hy lees. Hy lees 'n gedeelte van Lukas 19. Oom Diederik neem elke woord op, al lyk dit of hy skaars hoor.

Hoe verder die predikant lees, hoe meer meen hy dat hy nou iets lees wat weinig troos of bemoediging in hierdie oomblik kan gee; dat dit jammer is dat hy nie iets meer toepasliks gesoek het nie. Tot hy kom by die een-en-veertigste vers; "En als Hij nabij kwam en de stad zag, weende Hij over haar."

Toe hy daar kom, sê oom Diederik: "Dankie, dominee, dis genoeg. Ek weet nou wat ek wou geweet het."

Verwonderd wag hulle of hy meer sal sê, maar hy bly swyg. 

"Wat is dit, oom Diek?" vra die predikant. "Wat was dit wat oom Diek wou geweet het?"

 Maar oom Diederik het geen lus om van die droom te vertel nie en hy sê: "Die Woord is darem wonderlik, dominee. Dit gee jou antwoord op al jou vrae."

"Ja, oom Diek?" vra die predikant. 

Maar oom Diederik sê niks meer nie. Roerloos sit hy daar soos 'n beeld van was. Hy sit so stil asof alles in hom onbeweeglik is, asof al sy gedagtes slaap, soos 'n grou water in skemering; soos 'n sandplaat by nag. Hulle sit hom en bekyk. 'n Ou man, 'n mens by die poort van die dood; een wat by die hek weldra sal deurgaan. 

'n Buitengewone stemming is in die kamer. Sonder beweging sit die vier mense daar en niemand praat 'n woord nie. Die drie sit soos die drie wat kyk hoe een van hulle vir goed weggaan, soos drie mense 'n wa nakyk wat wegry. Daar gaa hy heen en naam alles saam wat hy het: sy geloof, sy berou, sy werke - goeie en slegte. Watter soort vrag is daar op sy wa? So sit hulle daar en dink. 

Die son sak en goudagtig skyn sy strale deur een venster. Die stil mense maak dit alles nog plegtiger. 

Eindelik staan die predikant op en oom Diederik sit weer alleen met sy gedagtes. Hy sien dat sy kar ingespan staan, opgepak en klaar om te ry. Alles wat hy nodig het, is op, net die trane, die regte trane, ontbreek. Hy sien vooruit reeds al die hekke wat hy sal moet deurgaan en hy weet nou dat dit nie moeilik sal wees nie, dat hulle hom oral sal deurlaat; net die laaste hek sal hy nie kan deurgaan nie; daar gaan alleen die mense deur wat huil, trane huil wat nooit ophou vloei nie; waar jy is, hier op aarde of van die aarde weg, aanhou vloei solank die mensdom in nood en sonde leef. Mag hy dan nie daardie trane hê nie? 

Groot droefheid vervul hom, 'n bitter droefheid dat hy oud geword het, sewentig jaar geleef het sonder daardie trane te huil, regtig daardie trane te huil en hy bid om daardie droefheid wat sal aanhou, aanhou solank die son op 'n onveranderde aarde skyn. 

J. van Melle

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7