# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Ontsnapping

Die hoof van die gevangenis sit by sy groot lessenaar. Agter hom hang die landsvlag. Oorkant hom sit die assistent-hoof en berekeninge doen. Dit is teltyd en die syfers klop nie. Elke dag, voor die dissipline-lede wat dagskof gewerk het, kan huis toe gaan, moet daar getel word om te sorg dat al die gevangenes in die selle is voordat daar met die meestersleutel gesluit kan word.

"Een kort," sê luitenant Vermooten die tweede maal. "Laat hulle weer tel." Majoor Korg is nie bekommerd nie. Dit gebeur soms dat daar verkeerd getel word. Van ontsnappings word 'n mens gewoonlik bewus voor teltyd. Die waarders raak kriewelrig as hulle die bevel kry. Dit neem 'n rukkie om een en 'n halwe duisend mense te tel, al is daar baie pare oë wat help. In die selle sit die manne in lang, netjiese rye op hulle hurke. Hulle hou ook nie daarvan as daar smidae vertragings is nie, want hulle wil hê die hekke en staaldeure moet tussen hulle en die bewaarders gesluit word. Hulle sien uit na die aand se kaartspel of die lees of smokkel (kabelgooi van een sel na 'n ander, selfs van een selblok na die een langsaan) of sommer kuier tot die ligte uit is en nog lank daarna soms. Hulle sit doodstil na die "tula" van die bewaarder wat geen inbreuk op die konsentrasie wil hê nie. Hy loop vinnig langs die rye af, gevolg deur nog iemand, en tik teen elke kop om sekuur te tel. 

Dié tyd van die dag is dit oonatturlik stil in die gebou waar altyd stemme is en die klank van die kombuis waar groot kastrolle van vlekvrye staal gewas word en waar bevele geroep word en waar oorspanne humeure losskiet. Luitenant Vermooten se voetstappe van seksie na seksie is duidelik hoorbaar. In die hospitaaltjie, waar die siekes pajama-uniforms aanhet, is selfs die gehoes stiller. In die isolasieselle sit die ingehoktes elkeen op sy eensame hopie komberse. In elke afdeling word die getalle op 'n velletjie papier neergeskryf en aan die assistent-hoof oorhandig. Hy loop daarmee terug na die hoof se kantoor. "Oral is die syfers dieselfde, " sê hy, versigtig vir majoor Krog. "Tel weer op." Na 'n rukkie: "Nog steeds een kort, majoor."

"Gee hier..." Die hoof doen self die berekening. Hy skud sy kop. 

"Is daar niemand oorgeplaas vandag nie?" "Nee, Majoor." Die hoof staan op en loop tot by die tralies van sy venster. Hy kyk oor die tuin uit. Hy gaan sit weer. "Het jy in die besemstore laat kyk? Agter die asdromme in die seksies? Laat hulle binne-in die dromme kyk." Ons het al, majoor. Dié wat in die gebou is, is getel." "Kyk dan weer!. En tél weer!" Majoor Krog slaan met sy liniaal op die lessenaar. Tot nou toe is sy rekord skoon. Die enkele gevangenes wat ontsnap het, is gou weer gevang en oorreed om dit nie weer te doen nie. Dit is lank laas dat een dit gewaag het. Nog eens kom die papiertjies terug met dieslefde totaal as die vorige kere. Nou heers daar kommer in die kantoor waar die twee mans staan. "Bring vir my die spanlys. Vandag hou ons roll call as dit dan moet." 'n Sersant word nader geroep om die boeke te bring en hy dra die nuus van die hoof se plan an die ander toe oor. 'n Gebrom ontstaan onder die bewaarders. Dit versprei stadig aan deur die rye gevangenis. die sersant kom op 'n gedagte en gaan terug na die kantoor toe. "Majoor, ekskuus, majoor, maar die een met die hitte-uitputting wat vanmiddag op die lande dood is,het ons hom bygetel, majoor?" Die hoof glimlag skielik. "Sersant, jou doring. Laat maar sluit."

Die sleutels draai opgewonde in die slotte terwyl die rye mense hul formasie verbreek,. om slaapplek reg te maak en speelkaarte te voorskyn te bring. Iemand breek die dooie man se sluitkassie oop en deel sy sigarette onder die ander uit. 

JAN VAN TONDER

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7