# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Onthou jy vir Helena Lem? 

Onthou jy vir Helena Lem? staan daar geskrywe in die brief wat 'n vrou so pas ontvang het van die man aan wie sy verloof is, 'n fagotspeler verbonde aan die simfonie-orkes van 'n stad in 'n ander provinsie.

Onthou jy vir Helena Lem 'n Meisie met eienaardige liggrys oë wat, toe ons kinders was, soms saam met ons by die steengroef gespeel het? Dit spyt my om jou te moet vertel dat sy twee jaar gelede blind geword het. Ek was gister by die tandarts en sy het daar gesit toe ek by die spreekkamer aankom. Sy het vir my effens bekend gelyk, maar dit was eers toe die ontvangsdame met haar praat en haar "juffrou Lem" noem, dat ek haar herken het. As ek reg onthou, is sy jonger as jy - maar sy lyk nou ouer as ons albei. Sy sê sy onthou jou. Sy moet binnekort 'n operasie ondergaan wat haar gesig miskien gedeeltelik sal laat herwin, maar die kans is glo skraal. Dink maar aan haar. 

Helena Lem. 

Die naam verbrokkel tot vier enkelklanke wat glipperig op die oortrom val, maar dan voeg hulle hulle weer saam tot 'n eenheid, en hierdie eenheid word 'n herinnering; dog dit is nie tot die oor wat die herinnering hom rig nie, maar tot die oog. Die aanskouingsbeeld wat uit die klanke te voorskyn tree en wat die vrou in die tuin teen haar geslote ooglede sien, is so skerp dat dit die nabeeld kon gewees het van iets van 'n sekonde gelede, eerder as die herverskyning van iets baie jare gelede. 

Dit is wat die vrou teen haar ooglede sien:

'n Vlinder met sy oorwegend purperblou vlerke trillend na bo oopgesprei, hurkend  teen 'n agtergrond van blomkrone en blare. Dan 'n hand wat van regs af verskyn en stadig opbreek in vyf knuppelvormige vingers: die vingers van Helena Lem. En dan twee van die vingers wat die vlinder se vlerke tussen hulle soos in 'n knyptang vasknyp en met twee vingers van die ander hand aan flenters skeur. 

"Hoekom het jy dit gedoen, Helena?"

"Oor ek lus was om dit te doen, natuurlik. Vir wat anders?"

Dit wat daar tussen die vingers oorbly - 'n paar rafels met iets lewends daaraan vasgeheg - word soos vuilis weggegooi: 'n windvlaag vee dit in die sand vorentoe en dan bly dit op een plek lê, maar dit lê nie stil nie, dog woel wild van al die lewe dat daarin vasgevang is en nie kan uitbreek nie totdat Helena Lem haar voet daarop druk.

Die vrou in die tuin maak haar oë oop en knip haar ooglede vinnig, asof sy haarself wakker maak uit 'n beklemmende droom. 

Die somermiddag met sy bontheid wil haar deur haar wyd oop oë binnestroom, maar wat sy so pas teen haar ooglede gesien het, word 'n versperring wat niks wil deurlaat nie. 

Sy gaan haal in die huis haar skryfblok en pen, en daar in die kwynende sonlig begin sy haar verloofde se brief beantwoord:

Haar derde paragraaf begin so:

My herinneringe aan Helena Lem is nie gelukkig nie en ek is haar nie goedgesind nie. Ek hoop die operasie slaag nie, want - Dan is dit asof haar pen meteens heeltemal oorneem en die woorde vanself uitstoot op die papier, die een woord na die ander, 'n sneeustorting van woorde:

ek wil hê dat, soos sy die afgelope twee jaar nie in staat was om 'n vlinder se vlerke te sien nie - die vlerke wat hy soos 'n uitspanseltjie bokant hom saamdra; die vlerke soos opgevoude Sjinese ryspapierwaaiertjies; die vlerke bespat met kolletjies wat soos conffetti deurmekaarskommel wanneer hy beweeg, maar soos die gebrande glas van 'n katedraalvenster word hy roerloos is; die vlerke met ingeskulpte rande wat met swart kartelkoord omgeboor is; die vlerke waarvoor daar 'n netwerk spekies soos dun borduurgaring rank; die vlerke wat hy teenmekaar druk en dan weer oopsprei asof hy 'n prenteboekie oop- en toemaak - dat, soos sy, Helena Lem, die afgelope twee jaar nie in staat was om hierdie vlerke te sien nie, sy in die jare wat daar vir haar voorlê, ook nie daartoe in staat sal wees nie.

En nou beskryf sy tot in die fynste besonderhede die herinnering wat daar in haar opgelewe het by die oproep van die naam Helena Lem. Elke keer in die daaropvolgende dae wanneer sy aan die kind Helena Lem dink, voel sy beklemd; maar dan dink sy aan wat daar met die vrou Helena Lem gebeur het, en die beklemming word vervang deur 'n gevoel van genoegdoening. 

Sy wag vir 'n antwoord op haar brief, maar, soos haar verloofde se tweeweeklikse telefoonoproep, by dit uit. Dan begin sy om diksels die telefoonnommer van sy woonstel te skakel, maar word elke keer deur 'n vergeefse gelui begroet.  Desperaat stuur sy dan aan hom 'n telegram waarin sy hom beveel om aan haar te skryf, en drie dae later maak sy 'n brief van hom oop. Dit was nog altyd vir hom moeilik gewees om hom onder die invloed van 'n sterk gemoedsaandoening skriftelik uit te druk, en die brief sien daar slordig uit vanweë al die woorde, woorddele en woordgroepe wat deurgehaal is, asof hy met sy pen gestotter het. 

Hy skryf:

Helena Lem sal nooit weer sien nie, en sy sal ook nooit weer gesien word nie. Ek hoop jy is nou gelu tevrede.

Jou beskrywing van wat sy met die vlinder gedoen het, het my nie geskok nie. Ek kan jou verseker die meeste kinders vang erg wreder dinge as dit aan. Vernielsug is algemeen onder kinders.

Wat jy Helena Lem nie kan vergewe nie, is nie dat sy destr vernielsugtig was nie, maar dat sy iets vernietig het waarvan jy gereken het dat dit vir jou kosbaar is. Met mooiskrywery Met In blomryke taal Geaffekteerd Presieus In blomryke taal gee jy vir my 'n lang beskrywing van die vler vlinder se vlerke, en vergelyk hulle met allerlei ander dinge wat vir jou kosb mooi is. As dit 'n vlieg was, of 'n wurm, of 'n vlooi, of 'n luis, of 'n muskiet wat sy verwoe vernietig het, sou dit jou nie geraak het nie. En wil jy vir my sê dat toe sy die vlinder doodgemaak het, sy meer vernie destruktief was as wat jy was toe jy daardie sin geskryf het waarin jy sê wat jy haar toewens? En as Helena Lem die vlinder doodgemaak het sommer maar net omdat sy "lus was" om dit te doen, sommer maar net so terloops, dan bewys beteken dit tog dat die vlinder nie vir haar die waarde betekenis gehad het wat dit vir jou gehad het nie. en daarom behoort sy nie aanspreeklik geh

Eintlik wil ek vir jou iets verskriklik gewigtigs belangrik meedeel. Dit is naamlik; dat, soos jy nie vir Helena Lem wil vergewe nie omdat sy iets vernietig het wat vir jou mooi kosbaar was, ek vir jou ook nie sal vergewe nie, omdat jy iets vernietig het wat vir my kosbaar was, naamlik ons liefde vir mek die verhouding tussen jou en my my liefde vir jou. Jy het deur vir my te skryf wat dit is wat jy vir Helena Lem toewens hoop - deur daardie sin wat jy geskryf het - dit heeltemal doodgem verwoe vernietig en nou bestaan dit nie meer nie. 

Met ander woorde, ons verlowing bestaan ook nie meer nie. Die vrou wat ek bem aanbid liefgehad het, het opgehou om te bestaan. Van die oomblik af toe ek daardie sin gelees het, bestaan sy nie meer nie. En ek wil jou dit nie vergewe nie dat jy iets so moo kosbaars - dit wat meer as enigiets anders betekenis aan my besta lewe verleen gegee het - dat jy dit met een sin kon verwoe vernietig het, soos Helena Lem 'n insek se vlerke met een beweging gebaar kon vernietig. Ek sou ook 'n lang reeks mooi dinge kon opnoem waarmee ek die lie verhouding tussen on my liefde vir jou sou kon vergelyk, maar ek doen dit nie, want ek weet jy sou nie daardeur dit sou jou nie raak nie. Dat jy dit so ongeërg terloops maklik kon vernietig, sonder dat jy eers behoorlik besef dat jy iets lewends verniei vernietig, dat jy daardie sin sommer net so kon skryf, blykbaar net omdat jy op daardie oomblik "lus was" om dit te skryf, sonder om te dink aan die onv moontlike die uitwerking wat dit op ons verh liefde sou kon hê, bewys vir my dat dit nie vir jou die betekenis gehad het wat dit vir my gehad het nie, nes die vlinder nie vir Helena Lem dieselfde betekenis gehad het as vir jou nie. 

Dat dit vir jou belangriker was van groter belang was op daardie oomblik om daardie sin te skryf as om ons liefde om uitdrukking te gee aan wraaksug as om ons liefde in stand te hou Dat die uitdrukking van jou wraaksug vir jou op daardie oomblik belangriker was as die instandhouding van wat daar tussen jou en my bestaan, beteken dat wat daar tussen ons bestaan het, nou nie meer kan bestaan nie, en daarom wil ek jou nooit weer sien nie. Jy het nie die reg gehad om daardie bose sweer in jou gemoed swart kol in jou bemoed voos plek in jou siel aan my te toon nie. As jy nie daardie sin geskryf het nie, sou ek nie daarvan geweet het nie en die vrou wat ek liefhet liefgehad het, sou nog bestaan het. Miskien dra alle mense so iets diep in hulle rond Miskien dra ons almal so iets dipe binne-in ons rond. Maar dis ons plig om die verborge te hou vir diegene vir wie ons dierbaar is. Miskien lewe ons almal agter 'n sluier front fasade, en is dit al wat dit vir ons moontlik maak om naby diegene te lewe vir wie ons dierbaar is. Niemand van ons het die reg om die sluier te verskeur ons fasage geweld aan te doen die sluier van onsself af te ruk ons fasade te beskadig ten aanskoue van voor diegene vir wie ons dierbaar is nie. En as die fasade eenmaal beskadig is t.o.v. iemand vir wie ons dierbaar is, is dit vir altyd beskadig, want as die waarheid eers eenmaal onthul ontbloot is, kan niks op aarde dit oot weer verberg bedek nie. Voordat die fasade beskadig is, weet 'n mens dat daar 'n moontlik iets onaangenaams leliks skokkends agter die fasade kan wees, maar 'n mens bly hoop hou aan met glo dat dit nie die geval is nie, totdat die fasade beskadig word en dit klinklaar aan 'n mens bewys word dat die skokkende ding wel bestaan. Daarna is dit totaal geheel en al absoluut onmoontlik om ooit weer deur die fasade bedrieg te word om ooit weer aan die fasade te glo. Hierdie ding het jy my aangedoen, en daarom is al wat daar tussen ons en daardeur al wat daar tussen ons bestaan het, vir goed vernietig. Moenie met my in aanraking probeer kom nie. Ek wil jou nooit weer sien nie.

Dit is van hierdie tyd af dat die vrou stadigaan, dog opvallend, agteruit begin gaan. Sommige mense sê dat die verbreking van haar verlowing haar 'n knou gegee het waarvan sy nooit heeltemal kon herstel nie. Ander sê weer dat daar meer as dit in die spel moet wees. Menigeen probeer op 'n subtiele wyse, maar tevergeefs, in gesprekke met haar uitvind watter geheim sy in haar ronddra. En dan, wanneer sy reeds bejaard is en sommige mense beweer dat sy kinds is, gee sy die geheim prys teenoor die predikant op huisbesoek. Sy sê vir hom dat daar vir haar geen genade kan wees nie, omdat die sonde wat sy gepleeg het onvergeeflik is: dat sy as kind eendag 'n vlinder se vlerke verskeur het, hom in die sand neergegooi het en toe haar voet om hom gedruk het. 

Ina Rousseau

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7