# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Nooit weer bang nie

Wat sou Joan makeer? het Moeder gewonder nadat sy haar dogtertjie in die bed gesit het. "As die arme kind net vir een minuut alleen gelaat word, wil sy doodgaan van bangigheid."

Sy het toe in die gemakstoel gaan sit om te lees. Sy het nog skaars een paragraaf gelees of Joan het begin roep na haar.

"Mammie, Mammie!"

"Wat makeer nou," het mammie teruggeroep.  "Mammie, Mammie, kom hier!" het Joan benoud geroep asof daar groot moeilikheid was.

Moeder is toe weer na Joan se kamer.

"Wat is dit nou, Joan?" het sy gevra toe sy daar kom.

"Moeder hte die lig in die gang afgeskakel, en dis nou vreeslik donker hier," het Joan gesê.

"Ek is jammer," het Moeder gesê; "ek sal weer die lig aanskakel; maar jy moet nou slaap, Joan. As ons Jesus liefhet, dan maak dit nie saak of dit lig of donker is nie. Daar is geen rede waarom jy in die donker bang moet wees nie."

"Ek weet," het Joan gesê, "maar ek wil darem die lig hê."

Moeder het die lig aangeskakel, Joan weer nag gesê, in haar stoel gaan sit om verder te lees.  Maar daardie aand sou daar geen rus vir Moeder wees nie, want 'n paar oomblikke later het Joan weer geroep.

"Mammie, Mammie!"

"Lieweland Joan, wat is dit nou weer?" het sy geroep.

"Mammie, kom gou, kom gou!"

Moeder het haar boek neergesit en na die kamer gegaan. "Joan," het sy gesê, "wat is dit dan met jou?" Waarom slaap jy nie? Al die seuntjies en dogtertjies in die hele dorp is by hierdie tyd al vas aan die slaap."

"Mammie," het Joan gesê, bewende van angs, "kyk daar."

"Waar," het mammie gevra.

"Daar by die kaggel. Ek het daar 'n kabouter-mannetjie gesien, en hy het reguit na my bed toe aangestap gekom."

"Dis pure bog," het Mammie gesê; "daar is nie sulke goeters soos kabouters nie, en daar was nog nooit nie. Wie het hierdie lawwe stories aan jou vertel?"

"Daar is kaboutertjies," het Joan baie ernstig gesê.

"Eva May sê so!"

"Eva May!" het Moeder verontwaardrig uitgeroep. "Sy het jou dit vertel! Wag jy net tot ek haar moeder sien. Wat het sy jou nog vertel?"

"Sy het gesê dat as ek nie 'n soet dogtertjie is nie, sal die kabouters met die kaggelpyp afkom en my kry."

"Maar sy's verspot!" het Moeder gesê. "En wat het sy nog gesê?"

"Sy het gesê dat dit moontlik is dat 'n groot beer deur die kamervenster sal klim, onder die bed sal wegkruip en my in die nag sal opeet."

"Maar daar is nie 'n beer binne honderd myl hiervandaan nie," het Moeder gesê. "Dis die belaglikste stories wat ek nog ooit gehoor het."

Joan was nou heeltemal onseker. Wie was reg? Moeder of Eva May? Haar vriendin was mos 'n groot meisie, en sy het alles geweet. Daar was vir 'n rukkie stilte.

"Luister hier, Joan," het Moeder gesê, "Moenie meer oor daardie dinge dink nie; hierdie stories is glad nie waar nie, en dit is dwaas om bang te wees vir goeters wat nie eers bestaan nie. Jy moenie vir skaduwees bamg wees nie!"

Nog net so bang het Joan weer gaan lê.

"Ek wens dat daardie goeters nie meer hier wil kom nie," het sy gesê.

Moeder het nou haar koppie gestreel en gesê: "Moet nou nie meer bang wees nie. As jy weer bang word, moet jy alles aan Jesus vertel. En onthou, Joan, jy het 'n engel wat by jou wagstaan. Jesus het aan hom gesê om jou op te pas, en daardie engel sal geen lelike goeters toelaat om in die donker by jou te kom nie."

"Ek weet," het Joan gesê. "Ek het Jesus al baie daarvan vertel, aar dit help tog nie, want ek sien maar nog daardie goeters na my toe aankom."

Toe het Moeder gesê: "Kom, Joan, laat ons Hom nou weer alles vertel."

Moeder het gebid en Jesus gevra om Joan vir alle gevaar te beskerm, en haar te help om daardie verkeerde dinge te vergeet wat aan haar vertel is. Sy het Hom gevra om Joan te laat beef dat haar beskerm-engel dag en nag altyd by haar is, sodat sy nie hoef bang te wees nie.

Sy was net klaar toe die telefoon lui. 'n Rukkie alter het sy vir Joan gesê: "Dit was mevrou Joanes, sy het my gevra om gou 'n bietjie oor te kom. Sal jy nou soet bly terwyl ek weg is? Ek sal gou weer kom."

Joan het gesê: "Ja, maar Mammie moenie lank wegbly nie."

"Nee, ek sal nie," het Moeder gesê. "Ek sal net 'n paar minute wees."

Toe waas daar silte in die huis, en Joan het in haar bedjie gelê en gedink aan wat Moeder haar vertel het; en elke keer wanneer daardie nare gedagtes wou terugkom, het Joan gebid en glo dat alles sal regkom.

En toe het daar 'n baie wonderlike ding gebeur. (Ek weet dat dit gebeur het, want nie alleen Joan se Moeder nie, maar ook Joan self het dit aan my geskryf), en hier lê haar briefie langs my terwyl ek sit en skryf.)

Daar het skielik 'n pragtige lig in die kamer geskyn, en Joan het 'n heerlike wese by haar bed sien staan. Hy het geglimlag, asof hy aan haar wou sê: "Moenie bang wees nie, dogtertjie."

Joan het haar boeglam geskrik, maar terwyl sy na daardie blink gedaante gekyk het, het daar skielik groot vrede in haar gemoed gekom.

Alles was binne 'n paar oomblikke verby, die lig het stadig verflou en die gedaante was weg. maar van daardie oomblik af, was alles anders.

Kort daarna het Moeder teruggekom. Sy was nog skaars binne of Joan het na haar geroep.

"Mammie, Mammie!" Maar hierdie keer het Joan se stem nie bang geklink nie, en Moeder het dit dadelik gemerk. Dit was die stem van iemand wat baie bly was.

"Mammie!" het Joan opgewonde uitgeroep toe Moeder die kamer binnekom. "Jesus was hier, of miskien was dit my beskerm-engel. Regtig, Mammie, hy het hier by my bed kom staan.

Toe het Joan Moeder alles vertel van daardie heerlike wese, en die pragtige lig wat in haar kamer geskyn het. Joan se gesiggie het gestraal van geluk, en Moeder het geweet dat alles wat sy vertel het, waar was.

Joan is vandag nie meer 'n klein dogterjie nie. Sy is nou groot. Maar sy sal seker nooit vergeet wat op daardie wonderlike aand, lank gelede, gebeur het toe sy vyf jaar oud was nie. Sy het Jesus lief, en sy het aan my gesê dat sy nooit weer bang sal wees nie.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell