# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie


Nico Carstens

Maandagaand, 3 April 2017 om 19h00 bring ek hulde aan Nico Carstens.

Luister op jou rekenaar, jou iPhone, Tablet, jou Blackberry, iTunes, Streema of TuneIn. Hierdie bladsy is geskep vir die nagenoeg 15,000 lede op Facebook Vergete Musiek wat my daagliks herinner en terugneem op 'n nostalgiese toer! Luister gerus na die potgooi aan die regterkant van die blad - 'n potgooi wat ek oor Nico Carstens gedoen het. Hierdie program sal ook as 'n potgooi op hierdie blad beskikbaar gestel word. Gaan besoek gerus Vergete Musiek op Facebook, en kliek 'hou van'. Plaas jou versoeke daar vir die volgende program.


Speellys 3 April 2017:

  1.  Zambezi ♪ Nico Carstens
  2. eNuus Huldeblyk ♫ Nico Carstens
  3. Knorwals ♫ Nico Carstens
  4. Nico Carstens Keurspel ♫ Nico Carstens
  5. Jampot Polka ♫ Nico Carstens
  6. Goue Vingers ♫ Nico Carstens
  7. Skoppelmaai ♫ Nico Carstens
  8. Mallemeule ♫ Nico Carstens
  9. Stadig oor die Klippe ♫ Nico Carstens
  10. Medley ♫ Nico Carstens
  11. Die Klokkiewals ♫ Nico Carstens
  12. Afrikaans.com - 'n Huldeblyk ♫ Nico Carstens
  13. Hoe ry die Boere? ♫ Nico Carstens
  14. Zambezi ♪ Nico Carstens
 Hartlike welkom aan ‘n ieder en elke wat vanaand ingeskakel is op my program  My Volk, die Trekpad van ‘n nasie. My naam is Paul. Ek is met jou tot net so na 20h30 vanaand wanneer Andre Walters by my oorvat tot en met 21h00 – en dan natuurlik ons baie gewilde #Maandagaand Raaskas. Kontak my op my Facebook blad Radio Kuber Kontrei, of stuur ‘n vonkpos na paul@radiokuberkontrei.co.za vir spesiale versoeke.

Ek hoop jy kuier lekker saam met my vir die volgende negentig minute. Die verhoog behoort natuurlik vanaand aan die Trekklavier koning van Suid-Afrika – Nico Carstens, wat op 90-jarige ouderdom op 1 November 2016 afgesterwe het.


In 1965 word hierdie verwerking van Nico Carstens deur die wêreldbekende Bert Kampfer opgeneem – en bereik no.1 op verskeie Top 10,20 en 50 speellyste oraloor…Hier is sy mees bekendste lied, Zambezi. Nou kyk, jy is in goeie musiekgeselskap as name soos Bert Kampfer, Eddie Calvert (Britse Trompetspeler), James Last, Acker Bilk, The Shadows, Chet Atkins, Floyd Kramer en en Johnny Dankworth jou musiek opneem en opvoer.

Die titel van my program is My Volk, die Trekpad van ‘n Nasie. Ons staan stil by mense wat ‘n fantastiese impak op ons land en sy mense gehad het.  

In 2016 verloor Suid-Afrika een van sy geliefde seuns…Nico Carstens…’n Beskeie musiekman, wat na 70 jaar in die musiekbedryf, en 2,000 komposisies later, Hendrik Susan, loof as mentor vir wat hy in die musiekwêreld bereik het.  Luister na die uitreksel op eNuus met die nuus van sy afsterwe.

Het jy geweet?

  • Daar is meer as 3 miljoen CD’s en plate van sy musiek verkoop.
  • Hy het 2 000 trefferliedjies geskryf.
  • Hy was die eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat ’n miljoen langspeelplate verkoop het.
  • Hy en sy orkes het sowat 800 000 km op toer afgelê.
  • Hy was ses keer getroud (met een vrou twee keer) en het vyf kinders gehad.
  • Sy gunstelingliedjie uit sy pen – die Helena Tango – wat hy vir sy vrou, Helena Dreyer gekomponeer het.
  • Hy was baie lief vir vinnige motors: Cadillacs, Pontiacs, Buicks en Jaguars.
Hy was ses jaar lank deel van Ollie Viljoen se ateljeeorkes in die televisiereeks, Spies & Plessié.

In die 1950’s en 1960’s het Nico in verskeie Afrikaanse rolprente opgetree, ondermeer ‘n Plan is ‘n Boerdery (1953), Dis lekker om te lewe (1957), Nooi van my Hart (1959), Jy is lieflik vanaand (1962) en Stadig oor die Klippe (1969). In laasgenoemde het Al Debbo ook tot sy reg gekom as sanger.

Nico Carstens het die hartsnare behoorlik getokkel. In 1948 is hy met Elize Lategan getroud (Klem en Nicolise is uit die huwelik gebore); in 1952 het hy met Helena Dreyer getrou; in 1957 met die skrywer Vera Gibson (sy oorlede seun, George, is uit die huwelik gebore); in 1967 met die choreograaf Ann Vorster (hulle het geskei, maar weer in 1976 getrou en het ’n dogter, Lani); en in 1987 met Salomé (hulle het ’n seun, Marcel).

Nico en sy orkes se vele musiekprestasies sluit in:
● eerste Suid-Afrikaanse kunstenaar wat ’n miljoen langspeelplate verkoop het;
● ’n Goueplaat-prys in 1959;
● ses jaar agtereenvolgens (1965 tot ’70) wenner van Springbokradio se Sarie-prys in die kategorie beste boereorkes; en
● ses jaar in Ollie Viljoen se ateljeeorkes in die bekroonde televisiereeks Spies & Plessié.

KykNet se huldblyk program som dit so op…“Die impak van Nico Carstens en sy komposisies is onmeetbaar. Met sy trekklavier het hy die unieke klanke van  Suid-Afrika na wêreldverhoë geneem.

Op eie bodem het hy interkulturele grense verskuif en musiek meer toeganklik vir almal gemaak. Hy was ’n formidabele musikant wat dit reggegkry het om verskeie musikante, divers in klank en agtergond, vir die eerste keer bymekaar te bring.

Nou. 90 minute is verby. En sy vingers is nou stil. Maar die Trekklaiver ikoon se musiek sal in ons harte voortleef. Nico Carstens, baanbreker, legende, Musikant, Komponis, skrywer…die Volk groet jou! Nag ou Grote!

LouwSHR.pdf LouwSHR.pdf
Size : 3286.233 Kb
Type : pdf

RandallWicombSNRPaul.2016-01-11.190036.mp3

VergeteMusiekPaul.mp3

AlabamaSNRPaul.2015-12-11.210248.mp3