# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Na Twee Jaar

Ons moet egter onthou dat alle gebede nie dadelik verhoor word nie. Soms, om die een of ander goeie rede, laat God ons wag, miskien vir 'n maand, en soms vir 'n jaar of langer. Maar Hy vergeet nooit ons gebede nie; hoe Hy almal kan onthou, weet ek nie. Soms, lank nadat ons vergeet het dat ons vir 'n sekere ding gebid het,  kry ons daardie ding om ons te herinner aan Gods bedagsaamheid en liefde. 

So was dit in die geval van die vrou waarvan ek 'n tyd gelede gehoor het. Toe sy eendag by die huis kom, het sy tot haar groot ontsteltenis ontdek dat sy haar handsak verloor het. Dit was 'n gevoelige slag vir haar, want daar was meer as vyftig dollars in. 

Om vyftig dollars te verloor is glad nie 'n grap nie! Sy het die polisie in kennis gestel van haar verlies, en sy het ook in die koerante geadverteer, maar alles was tevergeefs. Sy het gedink aan al die plekke waar sy geloop het, en daar gaan soek, maar hoe sy ook al gesoek het, sy het die handsak nie gekry nie. 

Sy het oor die saak gebid, en haar man ook,  maar niks het gebeur nie. Hulle het vir 'n hele paar weke gebid, en toe besluit om die saak maar te laat vaar. Hulle het vir mekaar gesê, "Miskien is hierdie saak te moeilik vir die Here." Moontlik is dit om daardie rede dat Hy hulle so lank laat wag het.

Maande later, so teen Kerstyd, het 'n jong man in daardie buurt gestap, toe hy tot sy verbasing 'n vroue handsak in die gras sien lê. Hy het dit opgetel en huis toe geneem. Hy was van plan om die polisie te bel, maar omdat hy op daardie oomblik iets anders moes doen, het hy dit in 'n kas gegooi en heeltemal van die handsak vergeet.

Twaalf maande verbygegaan; ja, 'n hele twaalf maande, want dit was teen die volgende Kersfees dat hy eendag weer die handsak gesien het. 

Al daardie tyd het die handsak veilig in die kas gelê. Die jong man was verbaas toe hy die handsak sien, en toe het hy onthou hoe hy dit opgetel het, maar hy was nie meer so seker nie. Omdat hy op daardie oomblik niks te doen gehad het nie, het hy besluit om die handsak oop te maak. Groot was sy verbasing toe hy die vyftig dollars daarin sien!

Onder die papiere het hy die eienaar se naam en adres gevind, en dadelik het hy dit na haar toe geneem, en verskoning gevra omdat hy dit so lank gehou het. Hoe dink julle wat het daardie vrou gesê toe haar handsak na so 'n lang tyd eindelik weer in haar hande was sonder dat daar iets vermis is? 

Wel, ek weet nie wat sy aan die jong man gesê het nie, maar ek is seker dat sy God daardie aand gedank het toe sy gebid het. Hierdie voorval leer ons dat ons nooit moedeloos moet word wanneer ons gebede nie dadelik verhoor word nie. Die Here weet altyd die beste, en Hy het seker goeie rede wanneer Hy ons soms laat wag. 

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell