# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

'n Swakheid van die vlees

In die oorlog was daar twee soorte verraaiers sê oom Basjan: die selfgemaaktes en die geskapenes. Oom Schalkie was so 'n skepsel. Hy het dit nie geweet toe die moeilikheid begin het nie, of anders sou hy seker maar 'n ander skeet uitgedink en by die huis gebly het, soos daar oorgenoeg dié-sulkes was. Ons Vrystaters had laas in '65 'n veldtog, teen die Basoeto's, en toe was dit nie vir oom Schalkie nodig om te gaan veg nie. En dit was al '99 toe die Ingelse gekom het. 

Toe die oproep uitgaan, het oom Schalkie sy perd, saal en toom en geweer reggekry, en met mondprovisie vir agt dae, soos die kammandeerbevel gelui het, saam met ons ander Poorters bymekaargekom, en onder veldkornet Neethling het ons verder getrek om by die Petrusburg-kommando aan te sluit, want ons sou in dié afdeling veg. Die ding met oom Schalkie het ook nie sommer oornag bekend geraak nie, want die oorlog was aan die begin maar 'n harmansdrup affêre. Ons het gehoor dat daar in Natal kwaai baklei word, maar hier aan die westekant het ons rondom die Ingelse in Kimberley en Mafeking gaan lê en wag vir iets om te gebeur. 

Ek was die dag by toe oom Schalkie saam op patrollie uitgegaan het en ons vir die eerste maal onder die lood gekom het, en nadat ons 'n paar sarsies teruggeskiet het net om te wys dat ons ook kan as ons wil, het ons omgedraai kamp toe. Ek merk toe dat oom Schalkie nie reguit saam met ons gaan afsaal  nie, maar eers agter 'n bos indraai en lank daar vertoef, maar ek steur my nie verder daaraan nie, want elke mens het mos sy behoeftes.

Die tweede maal was ek elders toe 'n klompie van ons Poorters met oom Schalkie daarby in 'n skermutseling betrokke was, en by hulle terugkoms het die burgers hoor praat. "Ai, oom Schalkie, hoe het Oom se broek dan so klam tussen die boude uitgeslaan toe die Ingelse op ons lostrek?", sê Douw Radys, soos ons hom genoem het omdat hy nooit ordentelik bruin gebrand het in die son nie en altyd half bleek gebly het met net sulke kolle-kolle rooi afgedop, maar sy eintlike van was De Waal. Hy was so kontant met sy mond. Oom Schalkie was 'n besadigde man, dienende ouderling toe die oorlog uitgebreek het, skraal van postuur met so 'n skimmel bokbaardjie, en ek sien nou nog voor my oë hoe dit teen die vuurlig wip terwyl hy kortaf antwoord: "Aag,jy praat dinges, man!". Toe draai hy om en stap weg, en daardie aand het hy gaan slaap sonder om te eet. Maar niemand het hom te ernstig aan oom Schalkie se moeilikheid gesteur nie tot by die Slag van Modderrivier, toe die Ingelse ons al aan die hardloop het met hulle kolonnes soos sprinkane oor die veld, en ons weer 'n keer wou probeer vasskop. Ons Poorters was in so 'n baster-klipkoppie, en ek moet sê: dit het daardie dag bars gegaan. Die Ingelse het hulle kanonne op ons oopgetrek, en as hulle nie sulke vrot skuts was nie, was ons almal saliger gedagtenis. Soos dit moes kom, het Douw Radys langs oom Schalkie gelê, en toe die skietery 'n oomblik stil word roep hy kliphard: "Sies, magtig, oom Schalkie, wat stink so?"

Daar bars oom Schalkie in trane uit. Hy lê met sy kop op die kolf van sy geweer en sy hele lyf ruk soos hy snik sodat 'n mens hom moet jammer kry, en tussen die snikke deur sê hy: "Ek...kan dit nie help nie...Dis my maag...As hulle op ons begin skiet...bevuil ek my broek." Ons kon daar en dan nie dieper in die saak ingaan nie, want die Ingelse het juis weer begin vuurmaak, en dit was elke man vir homself. Maar die volgende dae en weke terwyl die Ingelse ons hot en bles oor die Vrystaatse vlaktes begin jaag het en ons net so dan en wan kon terugbyt voor ons eer spore maak, het ons baie oor oom Schalkie gepraat. Douw Radys wou nog spot, maar die Veldkornet het hom gou-gou die swye opgelê. "Dis 'n siekte wat enigeen van ons kon oorgekom het", het hy gesê. "ons moet oom Schalkie help." Dit was makliker om sommer so openlik oor alles te gesels, want oom Schalkie het al meer en meer eenkant gebly en selde nog tussen ons kom sit. Daar en dan gee die Veldkornet vir oom Hans Vandeventer, 'n befaamde man met kruierate, opdrag om iets vir oom Schalkie te berei. Oom Hans het dit gebrou, oom Schalkie het gesluk, maar dit het niks gehelp nie. Toe het die Veldkornet ernstig met oom Schalkie gepraat. "Oom moet Oom nie so aan die Ingelse steur nie," het hy gesê. "As hulle begin skiet, dink net aan...Wat is vir Oom die lekerste ding op aarde?" 

"Groenvyekonfyt", antwoord oom Schalkie sonder om twee maal te dink, en dis g'n wonder nie, want sy ou vrou, tant Grieta, kon sulke onoortroffe groenvyekonfyt kook. "Dan dink Oom net aan groenvyekonfyt en vergeet al die ander dinge," sê die Veldkornet. Ek weet nie of oom Schalkie die raad gevolg het nie, maar daar was g'n verbetering merkbaar nie. As 'n vyandelike skoot klap, is daar 'n vy in sy broek. Oom Schalkie het by die dag agteruitgegaan. Ek het mos gesê hy was net vel en been. Dit was naar om hom so in die saal te sien heen en weer slinger. Noudat almal tog van die ding geweet het, het hy baiemaal sommer sonder broek gery want dié moes darem kans kry om droog te word. Die Veldkornet het oom Schalkie glad nie meer laat veg as hy dit kon verhelp nie. Hy moes net die perde vashou, maar selfs die geluid van die skote agter die rantjie was vir hom te veel. As ons weer by hom kom, staan hy in sy veldskoene, en sy broek hang oor 'n bos. Toe wou die Veldkornet hom kok maar, maar daarteen had ons almal begryplike besware. 

Dis toe dat Douw Radys - vergeet sy groot mond: hy was 'n man met 'n kop op sy lyf - met 'n plan vorendag gekom het. "Oom Schalkie moet gaan hendsop," sê hy waar ons een aand teen die saals skuinslê. "Ons Poorters se naam stink al publiek by die kommando's." Douw het nie oordryf nie. Die ander manne het ongenadiglik met ons die spot gedryf en ons die "Sk-tbroeke" genoem. UIt beginsel het ons kwaai teen Douw se voorstel geprotesteer - te kwaai, soos 'n mens maar maak as hy nie seker van sy saak is nie. Toe het ons stil geword en begin nadink. Met so 'n maag sou oom Schalkie in elke geval niks vir die vyand beteken nie. Die daaropvolgende dae het ons swaar geleef. Die Ingelse moet 'n Hanskakie of so iets gehad het om hulle te lei, want niemand anders kon daardie skelm paadjies so goed geken het nie, en elkers het hulle ons so amper-amper op die nes vasgetrap. Oom Schalkie het omtrent pal broek in die hand gery, maar kopgee was min. Hoe vuriglik ons ook al gehoop het dat hy tog liewers in die Ingelse se hande sal val, elke slag het hy ontkom. Douw Radys se plan was al oplossing. "Gaan gee oor, oom Schalkie. Toe, Oom. Dis die beste so," het ons hom vroeg en laat aangemoedig, maar vergeefs. Oom Schalkie het sy ry gery, seer maag en al. Die Veldkornet het hom tot dusver nog eenkant gehou as ons van Oom Schalkie se moontlike hendsoppery praat, want dit het darem nie 'n offisier van die Republiek betaam om sy burgers tot verraad aan te spoor nie, maar hy het gesien dat ons kommando'tjie dit nie veel langer gaan uithou nie. Daarom roep hy oom Schalkie een middag en sê vir hom: "Oom, vat nou Oom se perd, saal en toom - die geweer sal ons hou - en trek aan Oom se broek, dan gaan hendsop Oom." 

Oom Schalkie was 'n pligsgetroue mens. Toe die Veldkornet hierdie woorde met hom praat, is dit asof daar 'n groot rustigheid oor hom kom. "As Veldkornet nou sê ek moet dit doen vir ons Republiek, dan doen ek dit", antwoord hy. "Vir ons Republiek, Oom," sê die Veldkornet. Oom Schalkie het sekuur gemaak soos die Veldkornet vir hom beduie het. Hy het sy geweer vir hom gebring en sy perd opgesaal. Toe het hy ons elkeen met 'n handdruk gegroet. Ek sien hom nou nog soos hy van ons oorstaning af wegry: 'n lang, maer figuur op die rug van sy kolperd wat ook al beter dae gehad het. Toe hy so 'n entjie weg is, draai hy in die saal om en wuif vir oulaas. "Dag, oom Schalkie!" roep ons terug. 

Iemand sit in. Dit moet seker weer Douw Radys gewees het, want hy was 'n mens wat aan sulke dinge gedink het. Een vir een tel ons die wysie op totdat ons almal saam uit volle bors die verdwynende oom Schalkie dra op ons lied. "Dat 's Heeren zegen op u daal," het ons gesing.

Pieter W Grobbelaar                                                                                                                    

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7

Boeresport Promo - Paul Joubert.mp3

Onbeskaamd Afrikaans! ♦  Kom vier saam fees op Erfenis Naweek ♦ 23 - 24 September 2017 ♦ Silverton Pretoria ♦ www.boeresportdag.co.za  ♦ Bespreek NOU! ♦ 079 219 6735 ♦ 97 Stalletjies beskikbaar ♦ Troutrek, Potjiekos en Kaskar Kompetisie ♦ Skryf gou in !!  paul@radiokuberkontrei.co.za