'n Kat in die sak

JEANNE GOOSEN

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

VERTELLERS
DEEL TWEE


DEUR MERWE SCHOLTZ

Die rules and regulations van die Christian Coloured Ladies Hostel sê uitdruklik: No pets allowed. Dit sê  ook: No noise after 10 p.m. En 'n rand 'n maand ekstra vir 'n strykyster en 'n elektriese ketel.

Ek en Regina betaal ons rand en saans is ons stil in ons kamer, maar toe kom Regina mos dié aand hier aan met die swart kat.

Ons is nou wel twee old maids, maar ons is respectable en op ons plek. elf jaar woon ons al hier in die Ladies Hostel en in al die tyd het ons nog nie een keer skeef getrap nie.

Regina het gaan melk koop op die hoek dié aand, toe sy die treurige katgekerm hoor.

"Eers wil ek aanstap," sê sy toe sy die kat voor by haar bors uithaal, "maar toe sê 'n stem vir my: 'Regina, een wat oek nie 'n hart het vir diere, is 'n griewel in die oeg van die Here'. Dis toe dat ek maar die ou godswondertjie saambring. Ag shame, Ruby, kyk sy een ou af-oortjie..."

Sy maak 'n piering vol melk en druk die kat se neus daarin. En toe ek nou sien met hoeveel plesier die arme dier suip, toe kan my ou jammer hart dit ook nie meer nie. Ek sluit die deur toe en gaan sit op die bed.

"Regina," sê ek. "Wat nou? Jy weet wat sê die rules!"

"'n Mens draai nie jou rug op 'n siek dier nie," sê sy. "Ons moet hom eers aangesterk kry en op die been voor ons hom lat gan."

"Dan moet jy skadêddel, hoor!" praat ek met die kat. "Ordentlike blyplek is skaars in Woodstock!"

Ons het die kat die naam van Klaas gegee. Klaas is naand sterk en skoon dik van gesondgeit, maar al wat loop, is meneer. En op straat sit, wil ons hom ook nie. Ons kon dit nie oor ons harte kry nie en ek moet bysê: ons het lief geword vir ou Klaas.

Hy was slim, dié Klaasen-kat. Maklik die slimste mannetjieskat in die kontrei. en soos Regina sê, "die Skepper het hom geseën met 'n wonderlike voorgevoelente", want ons hoor nog nie eers 'n mens aankom in die gang nie, of Klaas doen 'n disappearing act. Dis kompleet of hy geweet het dat die hande wat hom voed, in die moeilikheid sou kom as hulle moet uitvind. En dan kom hy eers láát terug, as dit stil is. Dit sweer ek nou: in die maande wat Klaas by ons was, het g'n mens hom ooit gesien nie.

Maar daar moes suspisie gewees het. Een aand klop een aan die deur. Ek maak oop en daar staan die hostel-matron. Sy loer oor my skouer die kamer binne en sê astrant: "Tóé. Uit met die kat, sê ek!"

Arme ou Regina het amper gefaint, want as daar nou 'n ding is wat sy háát, dan's dit 'n geliegery. Nou die aand nog sê sy vir my: "Ruby," sê sy, "ek het nog nooit gelieg nie, and so help me, ek sal oek nooit lieg nie."

"Nie eers vir my nie? Of vir Klaas nie?" vra ek haar nog.

"Nee, nie vir een van julle twie nie!"

En hier staan die matron voor die deur oor die kat. Dit het nou vir jou vinnig dink gekos om ons daardie aand sonder lieg uit die tjorts te kry!

"Kom in, matron," sê ek vir haar en hou die deur wyer oop. "As hier ' n kat is, wys dan die kat vir my - cause seeing is believing!"

Ek het gesê ons het lief geword vir die kat. Ons werk ook maar swaar deur die dag en dis lekker om saans huis toe te kom na 'n lewendige ou dingetjie. Vriende het ons nie juis veel nie. Ons bly maar particular met wie ons mix. Twee aande in die week oefen ons koor, want altwee van ons behoort aan die Harmony Choir. En dan sing ons ook nog oor naweke duets op troues en so aan. Met die werk se mense mix ons glad nie. 'n Mens moet jou klas ken. Ons is naaisters by die Aphrodite Fashion House in Soutrivier. Daar is ses lyne en ek en Regina is elkeen in charge van ons eie lyn. Nou kan 'n mens self dink hoe popular ons daar is onder die ander. Die meisies sê ou Murphey die moffie - hy is nou die factory se production manager - trek ons voor, maar dis nonsens. Werk is werk, sê ek altyd en wat ons doen, doen ons goed. Dis van jaloersgeit dat hulle so skinder.

Hulle sê ek en Regina is so in ou Murphey oopgekruip dat ons nie eers agterkom hy's 'n slave driver nie. Maar ek het niks teen hom nie. Hy's olraait en dis hy wat gesorg het dat die loudspeakers die heeltyd op musiek is terwyl ons werk.

Partykeer switch hy die musiek af en dan sê hy: "Girls, die stock room is die fabriek se slagaar. Die slagaar moet die lyne voed. As die masjiene stil is, sit die quality checkers en die seamstresses sonder werk. Wat beteken dit?""

En dan word Regina sommer so skaam van grootsgeit en sê: "Bad production, Mister Murphey."

"That's right, my girl! That's it!" En dan skielilk begin die musiek weer speel en dan werk ons dat ons bars, want ou Murphy maak net dié soort van speech as ons agter is met die werk. En as ons agter is met die tyd, beteken dit net één ding: oortyd sonder pay!

Maar ons hou van die werk; die musiek, en dis lekker om met materials te werk. Die bietjie ekstra party Vrydae in ons pay envelopes word met dank aanvaar. Dié bêre ons in 'n boksie vir ons twee weke holiday oor Krismis en Nuwejaar. Dis dan ons uithangtyd, want dan kom al die Kaapse k re aand na aand bymekaar vir die uitdunne en die finals.

Maar ek was nog besig om van Klaas te vertel.

Hy't 'n groot kat geword. Spekvet. Regina sê dis van al die rooibostee. Ons het hom gewoond gemaak daaraan, want skoon melk, net só, kos te veel geld.

Nou ja, een aand sluit ek weer ons kamerdeur oop. En daar lê Klaas uitgestrek op die bed. "Klaas lyk vir my oes," sê ek nog vir Regina. "Haai, kyk hoe bewe die arme ding!"

Regina gaan sit by Klaas op die bed en voel aan sy neus. "Droog," sê sy. "Watsit met Ma se bybie?" vra sy.

Die arme ou Regina se oë is skoon groot in haar kop. "Hy's yskoud Ruby. en kyk hoe stil lê hy!"

Ek probeer Klaas 'n bietjie rooiobostee injaag, maar nee, hy wil nie 'n mond sit aan nat of droog nie. Rooilaventel probeer ek, maar dié hoes hy op.

Laataand, toe sit ons nog so in ons werksklere. Regina sê nie 'n woord nie. Sy sit net daar en vorentoe kyk en af en toe huil sy in die stilligheid. Ek hou maar gedurig die keteltjie reg. Tienuur toe maak en weer tee en ek gooi maar Klaas se piering ook vol. Net vir in case. Ons tel hom op die vloer en toe lyk dit vir die eerste keer of hy darem nog 'n bietjie lewe in hom het. Hy lek-lek aan die tee, eers stadig, maar naand is die piering leeg en ons wil net hoop kry toe daar 'n snaakse ding gebeur. Kat slaat net daar om! Kardoems! Pote in die lug! Morsdood. Bokveld toe! - en ons hoor hoe hy sy laaste asempie uitblaas.

Ons staan daar en asems inhou. Alles gebeur so vinnig. Ons is halfpad nog bly dat Klaas beter is en hier, amper in dieselfde tyd, vrek hy.

Toe begin Regina huil. Sag en stemmig. Al die jare in die Ladies Hostel het ons alles sag leer doen. Shame. Arme ou Regina. Wat sou die Heer se doel tog met alles wees? wonder ek nog so by myself.

Ek sleep die seepkissie onder die bed uit, pluk die salvolatilebottel se prop af en  hou dit onder Regina se neus. "Vir krag en sterkte, sustertjie," probeer ek help.

Maar 'n gelowige versoen hom met dinge soos die dood.

Ek draai eers vir oorlede Klaas in watte toe en sit hom toe in 'n OK Bazaar-carrier.

"Wat gaan ons met Klasie maak?" vra Regina.

"Never mind," sê ek vir haar, "daar's genoeg tyd. Ons sal wel aan iets dink."

"My kat moet ordentlik begrawe word. In 'n ordentlike gat in die grond!"

Ai, die Regina tog ook. As sy 'n ding in haar kop het, kry niks en niemand haar daarvan af nie. Maar ek kry darem toe 'n plan.

"Ek sê jou wat. Kyk, Regina, môre is Saterdag. Halfdag. Ons vat Klaas saam factory toe. Net ná een is daar mos 'n Liebersteinbus. Ons haal dié Akkers toe. My antie woon mos in 'n huis daar. Dan begrawe ons vir Klaas op haar grond. Okay?"

Toe's Regina getroos en ons maak reg vir die bed.

Die anderdagoggend voor werk kry ons 'n bossietjie ranonkels en ons sit die bo-op Klaas in die carrier. Regina dra vir Klaas soos ' n mens wat 'n parcel goud moet oppas.

By die factory is daar baie werk en ons moet uithaal om klaar te kry voor een. Toe ons uitklok, moet ons hardloop om die Lieberstein te haal. Die bus stop, maar die driver is nie haastig nie. Ons gaan sit, en die conductor sê: "Antie, jy bieter maar daardie boerekysie van djou daar onder die staircase loep neersit by die ander luggage."

Regina is skoon upset, maar ek pomp haar in die sy en sê: "Dis beter só, Regina, man. Netnou trap iemand op Klaas as die bus vol is."

Toe die bus eindelik ry, ry die ding só stadig dat dit amper vir 'n mens voel dis vinniger om te stap. "Wat's dit dan nou, die gekruipery?" vra ek vir ' n vrou agter my. Nee, sê sy, dis 'n strike. Nou nie 'n regte een nie, want dis teen die law om te strike. Die regulations is dat g'n bus stadiger mag gaan as vyftien myl 'n uur nie en hy mag ook nie langer as tien minute op 'n keer by 'n busstop staan nie. Nou doen die driver nét dit: vyftien myl 'n uur en tien minute se stop op 'n slag.

Dit ook nog. Dan's dit mos nag teen die tyd dat ons by die Akkers aankom. En Regina se senuwees is juis aan die ingee.

Niemand op die bus lyk eintlik gepla met die strike nie. Iemand agter speel bekfluitjie  en by party stoppe klim van die mense af om gou lunch te gaan koop Dan beter ons ook maar iets kry om te eet, dink ek nog toe die bus weer by 'n café stilhou. Ek spring gou uit en kry vir my en Regina viennas en chips. "Eet ietsie," sê ek vir haar. Ons het sleg geslaap die vorige nag en ons het heeldag nog nie 'n krummel te ete gehad nie. Regina pik-pik so hier en daar tussen die chips, maar later lyk sy darem ook beter.

Die bus word vol. Hier by Koeberg klim 'n klomp vrouens in met blomme. Hulle's mos die klomp wat elke Saterdag begrafnis toe gaan. Sommer enige begrafnis wat, al ken hulle nie die mens wat dood is of dié se familie nie. En dan huil jy ook sommer daar by die graf van 'n medemens oor alles waaroor jy nog altyd wou gehuil het, sê hulle. En daarom gaan hulle ook maar, en, sê hulle, by oop grafte maak jy baie true friends.

'n Stop verder klim ' n ou man met 'n groot, rooi soetkys in. Die conductor is bo en hy sien nie die ou nie. Elke keer as iemand wil afklim, val hy oor die ou man se soetkys.

Die vrou agter my sê later vir hom: "Oempie, gaan sit jou kys voor, man, by die ander luggage, onder die staircase."

"En wie dink djy is djy!" cheek hy haar.

Ek sien hoe die ding op Regina werk. Sy is mos nie een vir 'n bakleiery nie. Ek draai toe om, sê mooi vir ou man: "Oempie, sit net jou kys dan 'n bietjie opsy. Kan oempie nie sien nie, die mense trip oor dit."

"Nei," sê hy, "netnou steel hulle my soetkys en al my pampiere is daarin."

"Blerrie fool!" verloor die vrou agter my haar temper. Sy  hang oor en knip altwee die knippe los en daar spat 'n lemoen, papiere, klere en bottels oor die vloer.

Die ou man mik-mik om die vrou 'n stamp te gee, maar 'n ander man met 'n Salvation Army-uniform keer met sy elmboog: "Sies, 'n mens vat mos nie aan 'n vrou nie! Wat's dit met djou?"

Die conductor kom van bo af en skree vir die ou man: "Ek sê! Tel op! Tel op, sê ek vir djou! Al daai robbies, en kom sit dit hier voor onder die staircase neer!"

"My pampiere...." moan die ou man, maar die conductor sê: "Sukkel nog en ek lat djou betaal vir die luggage oek!"

"Almal is oek net daarop uit om op 'n mens te trap in die lewe," grens die ou man. Shame. Ook maar oud.

Net toe die conductor weer op boontoe is, spring 'n klompie jongetjies oop die bus en hang aan die paal. Hulle kry altoos free rides so. Die conductor sien hulle bo in die spieël en skree: "Scram...!" en daar spring die jongetjies en hulle lag en jil die conductor uit.

Die bus ry nog so stadig en ek sien Regina kyk so sideways en met groot oë deur die venster en ek dog - wat nou! - toe begin sy stemmig en sag te kerm: "Klasie," huil sy en wys met haar vinger deur die ruit. "Daar gan my Klasie-e-e..."

Iemand in die bus begin lag. "Oempie, daar gaat die piek-pockets met jou rooi soetkys..."

Die bus stop en die conductor skree van bo af: "Woltemade: gate number three!" Die begrafnismense, die ou man en ek en Regina is op om af te klim. Ek hou vir Regina styf om die lyf vas. Sy is skoon swak.

Ons staan buite op die pavement en Regina skree: "Roep die poelies!"

Die ou man kerm: "Al my pampiere was in daardie soetkys. Nou is ek 'n man sonder naam. Niemand sal my glo nie..."

"Foei tog," sê 'n begrafnisvrou - een met geel asters - "die antiekie en die oempie is besteel. Ag shame. Die sône!"

Ek vertel die mense die sad storie van Regina en Klaas. "Ag shame," koor hulle. "Maar antie kan maar vergeet om die poelies te roep. Daai piek-pockets is te slim vir hulle. En as die poelies nog weet daar's 'n dooie kat in die sak, sal hulle nooit help nie. Forget it!"

"My naam..." huil die ou man nog al die tyd. "Nou het ek nie eers meer 'n naam nie..."

Die arme oompie. Hy vat die ding sleg

Net toe, toe hou daar 'n lykstoet oorkant die pad voor die hekkie stil. Die mense vir die begrafnis word haastig. Maar hulle is ook mense met oop harte vir 'n ander se verdriet. "Antie-hulle en die oempie moet maar saam met ons kom," sê die vrou met die asters en hulle haak by ons in.

En toe volg ons die lykstoet. Om te gaan huil. Ek en Regina oor Klasie, en die oompie oor sy naam.

En toe huil ons ook sommer oor alles waaroor ons nog altyd wou gehuil het.

Jeanne Goosen

Vertellers 2

Die tweede groot verhaalboek

deur Merwe Scholtz 

Radio Kuber Kontrei is 'n gratis Afrikaanse Agtergrond musiek kanaal. Kliek op ► links en luister via TuneIn. Maak asb. die ♥ rooi! deur ons as 'n FAVOURITE te merk. Vind ons APP op Google Play