# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

'n Gawe Dametjie

Wat se lawaai is dit daar in die tuin! Daar is gegil en geskreeu, so erg dat Moeder besluit het om te gaan kyk wat aan die gang was. En wat sou sy sien? George en Janet het woes op die grond gestoei; hulle het gekrap en geskop en dinge vir mekaar gesê wat ek nie hier kan neerskryf nie.  

"Hou op! Hou dadelik op!" het Moeder geskreeu. Die twee het vinnig opgespring, en hoe het hulle nie gelyk nie! Hulle gesigte, klere, hande, en skoene was die pure stof. 

"En wat beteken dit miskien?" het Moeder gevra. "Hy wou nie mooi speel nie," het Janet gesê. "Sy het my oor die kop geslaan met 'n stok," het George gesê. 

"Sy is 'n gemene ding."

"Loop maak jou werk in die tuin klaar, George; en kom jy hier, Janet," het Moeder gesê. Ewe gedwee het Janet saam met haar Moeder gegaan na die eetkamer; sy het die ergste verwag. Sy het vreeslik gelyk; haar hare was deurmekaar; haar rok was geskeur; haar kouse het afgehang, en sy was vaal van die stof!

"Ek is moeg hiervoor," het Moeder gesê. "Dis die derde skoon rok wat jy vandag aangetrek het, en kyk hoe lyk dit! Jy gedra jou soos 'n wilde ding, net soos 'n wilde dier in die bos. Ek glo nie dat selfs 'n dier so 'n lawaai sou maak soos jy nie. Regtig Janet, hierdie soort gedrag moet ophou. Ek wil hê dat jy 'n verfynde dame moet wees en nie 'n wildemens nie; verstaan jy?"

"Ja, Moeder," het Janet bedees gesê.

"Nou ja," het Moeder gesê, "dit moet nie weer gebeur nie, of dinge sal baie skeef loop. Jy moet leer om jou te gedra - maar wag bietjie, daar klop iemand. Jy moet liewer wegkruip, want besoekers kan jou nie in so 'n toestand sien nie. Kruip hier agter die rusbank weg voordat hulle jou sien."

Moeder het die deur oopgemaak. Dit was die predikant se vrou en hulle dogterjie, Clarice. Dit was sommer 'n vriendelike besoek, en Moeder het hulle gevra om in te kom. Daar agter die rusbank kon Janet nie haar oë van Clarice of hou nie. Sy was so deftig! Haar hare was so mooi gekam, en sy het 'n pragtige rokkie aangehad. Hoe het haar skoentjies geblink! Sy was so skoon, en so goedgemanierd. Sy het Moeder baie deftig gegroet, en toe stil gaan sit. Sy het nie gepraat as daar nie met haar gepraat is nie. 

En hoe musikaal was haar stem wanneer sy praat! Sy het so vriendelik geglimlag dat dit 'n genot was om te aanskou.  

"En hoe gaan dit met u dogterjie," het die predikant se vrou gevra. Moeder het so 'n ongemaklike hoesie gegee en gesê: "Heeltemal goed, dankie."

"Sy speel seker buite?" het die predikant se vrou gesê. Moeder het weer gehoes en 'n bietjie gebloos ook. "Sy het feitlik die hele dag buite gespeel," het sy gesê, terwyl Janet nog 'n bietjie dieper wegkruip agter die bank. Sy kon nou nooit te voorskyn kom voor daardie deftige dogtertjie nie. Sy het nog nooit so vuil gevoel as juis op daardie oomblik nie, en sy het ook nog nooit so skaam gevoel nie. Eindelik, na wat vir Janet 'n ewigheid was, het die besoeker gegroet en geloop. Hoe bly was Janet om uit haar skuilplek te kom. "Wat 'n liewe dogtertjiie" het sy gesê. "Dis dammer dat jy nie met haar 'n bietjie kon gespeel het nie."

"Dit is," het Janet gesê, "maar ek kon nie, want kyk hoe vuil is ek. Sou Moeder haar 'n deftige dametjie noem?"

"O, ja," het Moeder gesê. "Ek wens dat jy jou ook kon gedra soos sy haar gedra."

"Ek wil ook graag soos sy wees," het Janet gesê. "Dink Moeder dat ek ook so kan wees?"

"Ja, natuurlik; jy kan as jy net wil, " het Moeder gesê.

Sommer daar en dan het Janet besluit om nie meer so wild te wees nie, en dat sy ook 'n deftige dametjie wil wees net soos daardie dogtertjie. 

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell