# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Maandagaand, 10 Oktober 2016 om 19h00 gesels ek oor Pieter Pieterse. Pieter Pieterse (9 Junie 1936 in Pietersburg - † Maart 2002 in Marloth Park, Mpumalanga) was ’n Afrikaanse skrywer, storieverteller en TV-persoonlikheid. Hy het tientalle boeke en draaiboeke geskryf en verskeie literêre toekennings daarvoor ontvang. Daarbenewens was hy vanaf 1991 tot met sy dood die aanbieder van verskeie TV-reekse soos Swerwerskos, Boude en blaaie, Van die Kaap tot die Kunene en Maak ’n las.

Speellys 10 Oktober 2016:

  • Skatkis vol drome ♪ Anton Goosen
  • Moet my niks van liefde sê nie ♪ Anton Goosen
  • Kinders van ons land ♪ Anton Goosen
  • Mampoerlied ♪ Anton Goosen
  • Nooientjie met die rooi ♪ Anton Goosen
  • Wolfslied? ♪ Anton Goosen
  • Kers in die wind ♪ Anton Goosen
  • Voorbegin ♪ Anton Goosen
  • Rietjiesfluit ♪ Anton Goosen
  • Papegaailied ♪ Anton Goosen
  • So sê my man  ♪ Anton Goosen
  • Rietjiesfluit 2 ♪ Anton Goosen
  • Kers in die wind ♪ Anton Goosen

    Pieterse is gebore as die oudste van vier kinders. Sy ma was die skrywer Emily Pieterse en sy pa ’n boer Ferdinand Petrus Arend Pieterse. Hy het skoolgegaan aan die Laerskool Soekmekaar en die Laerskool Daviesville. Die gesin verhuis in 1949 na ’n plaas naby Messina, agter die Soutpansberg. Hy matrikuleer in 1954 aan die Hoërskool Pietersburg, waar hy veral uitgeblink het in gimnastiek en rugby. (Die Hoërskool Pietersburg het in Pieter se matriekjaar die Administrateursbeker vir rugby gewen.)

    Sy kenmerkende selfvoorsienende leefwyse begin toe hy na matriek vir vier jaar in die bos gaan bly, van die veld geleef en sy eerste kortverhale in 1956 gepubliseer het.

    Daarna het hy ’n polisieman en later ’n versekeringsverteenwoordiger geword. Hy het egter nooit opgehou skryf nie - sy eerste boek, Smokkelaars in die Nag, verskyn in hierdie tydperk. Na ’n verdere sewe boeke besluit hy in 1974 om sy werk as bemarkingsbestuurder van SANLAM in Belville op te gee sodat hy voltyds kan skryf. Hy verhuis na ’n plaas, Kom tot Rus, in die Noord-Transvaal. In 1979 kry sy swerwersdrang weer die oorhand en hy maak sy woonwa, Die Spookhuis, sy nuwe basis en werkplek. Hy het die manier gehad om vir ’n jaar of twee met Die Spookhuis op ’n (meestal ongerepte) plek te gaan staan, die natuur en die mense van die plek intiem te leer ken, en dan daaroor te skryf. Van sy staanplekke was die Laeveld, Dasseneiland, Mosambiek,  die Kavango, die Skedelkus, die Weskus en die Caprivi.

    Pieter is een van min Afrikaanse skrywers wat genoeg boeke verkoop het om ’n gemaklike lewe te kan lei. Meer as ’n miljoen boeke is verkoop waarvan hy óf die alleenskrywer was óf waarin van sy werke opgeneem is.

    Pieter het ’n dogter Shirley uit jeugverhouding. Hy is in die vroeë sestigs met Annatjie getroud. Hulle het vier kinders: Madie, Emsie, Ferdie en Annetjie. Pieter en Annatjie is in 1984 geskei. Sy seun Ferdie sterf in ’n motorongeluk in sy twintiger jare. Hy ontmoet sy tweede vrou, Jenny (die "Ingelsman") aan die Kaapse Weskus en hulle is in 1985 getroud.

    Pieter is in Maart 2002 op 65 jarige ouderdom wreed by sy huis in Marlothpark vermoor. Sy vrou, Jenny het op sy erg ontbinde lyk afgekom nadat hy die vorige Sondag laas in die kerk gesien is. Hy is 28 keer met ’n skerp voorwerp in die hart, longe en kop gesteek.

    Enkele dae voor sy dood het hy die volgende gedig op ’n stukkie papier geskryf:

    Hierdie bloed wat in die aar langs my elmboog klop, sal eendag gaan staan. Die aar sal nie weer klop nie; die dinge wat ek dink, sal ophou, soos die groen boomslang wat ek geskiet het toe hy in die voëltjiesaadbak gaan lê en wag het.