# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

My Kubaan

Ek het 'n Kubaan aan 'n tou. Soos ons geleer is by die SAW se Perde- en Hondeskool in die rooi poeierstof van 'n uitgetrapte Voortrekkerhoogte, hou ek die leiriem liggies om my linkerpols; die wurgkettings om die Kubaan se nek verskaf geen pyn as ek ruk nie - slegs 'n skoksensasie wat hom op die noodsaak van dissipline attent maak.

Ook Barbara Woodhouse het dié primêre beginsels aan die volk verduidelik, met as agtergrond 'n pastorale Engelse toneel. Dit is egter dinge wat enige korporaal van die Honde-afdeling weet.

Ek het die Kubaan se ore nog nie afgesny nie. Dié ekstatiese daad, wat 'n mitologiese anker het in die Amerikas (wat tog nader aan die Kubaan se hinterland is as die stink, verkragte Angola), sal eers later plaasvind; soos die Rooihuide sal ek my trofee eers teen die einde, die héél einde eis. Ek sal dit netjies insout, in watte toedraai en per weermag-lugvrag  versend na Bellville, waar die familie dit in formalien sal bewaar en aan die bewonderende gaste wys as hulle 'n sondagmiddag-besoek aflê, of, soos ek gevra het, dit vasspyker aan die voordeurkosyn.

Sodat dié wat ore het om te hoor, kan hoor.

Dit klink wreed. Oorlog is so. Maar aan die ander kant is die liefde ook wreed. Ek sê nie om van die punt af te dwaal nie. Ses weke se patrolliewerk in die Bos in, en nou eers verstaan ek wat beteken die koerante of die weerburo se versengende hitte. Daar is soveel in dié een woord opgesluit: die skril sonbiesiesang wat soos radiogolwe deur alles priem, deur die been, deur die vleis, deur die murg. Ook: die sweet wat in druppels hang aan jou winkbroue; as jy 'n oomblik opkyk (en jy mag nie), sien jy die druppels. Die groen bos, die groen bosklere, die vlekke van ander liggame, die lig wat skuif en plas, die son wat breek en die ploeter met die één liggaam wat jy het. Versengend.

Ek dwaal dus nie af nie. Ek wil kom by my en dié Kubaan se sonderlinge verhouding. Ons moes mekaar eers vind, natuurlik. Soos in die ou slawehandel. (Hulle vertel dat Portugese meisies - sommiges erg uitgebaster, ongelukkig - nou te koop is effens verder noord as Gebied Rooikat. Ons was nog nie só ver nie, maar hulle sê die Rekkies moer soms daar rond). Ek het hom eers deeglik bekyk. Sy kiestande was gesond. Sy voorste tande was effens aangekleur deur die Havaanse sigare wat hy gerook het. Maar sy neusvleuels het 'n aangename fynbesnedenheid aan hulle gehad. Sy hande was nogal slank, en ek kon in die geheel nie kla nie.

Wat van die ander gekry het, is nou ja....

Ek het my Kubaan orals met my saamgeneem. Dit was die goue reël. Nooit sonder jou Kubaan nie, het die Kommandant gesê.

Want: die totale Aanslag eis Totale Weerbeerheid.

Ek ek my Kubaan gesels.

Ek: Wat is daar nou aan dié Castro?
Hy:
Ek: Sou jy per mortier, Stalin-orrel, AK-47 of bajonet wou sterf?
Hy:
Ek: Wat die Sapo's ok doen, is om jou oor 'n miershoop vas te maak. Die miere soek eers die sagte, klam plekke, die orale en ander openings. 'n Mens is ook maar so: jy eet eers die kersie van die koek af. En die miere is eintlik onskuldig. Hulle weet nie Op die uiterste ken hulle nie pyn nie. Die wriemelende, gillende liggaam van die slagoffer is bloot 'n groot eetbaarheid. Hulle weet nie daar is lewe, kosbare lewe nie. Hulle kan nie intelligensie na waarde skat nie. Die vonk van die persoonlikheid gaan hulle verby, die individuele gelaatstrekke. Kortom: dis vir hulle 'n maaltyd. Hulle word slegs gedryf deur 'n stom, dinklose, diep drif. Hulle moet eet, en hulle marsjeer met 'n meedoënloosheid wat uit geslagte se ingeteelde instink kom. Ek blameer dus nie die miere nie. Wie blameer jy?
Hy:
Ek: Miskien moet ons aan die lesers verduidelik hoe ek aan jou gekom het. Ons wil nie hê dat die lesers ook, soos ons, die gevoel kry dat hulle in die lug sweef nie, vingerpoppe aan drade wat komieklik rukkerige bewegings maak as 'n vinger iewers spring nie. Bowenal mag die leser nie soos 'n yo-yo voel, gedurig geloods in 'n ruimte waarin hy onveilig en onbegrens is nie. Ons verlei hom eerder met die bekende en kyk of ons iewers arriveer.
Hy:
Ek: Kom, sit nou stil. Ek maak jou vanaand weer buite vas, in die reën, as dit gaan reën, soos die ander soms doen; dink jy dit gaan reën?
Hy:
Ek: Dit was veel later as die Brug Veertien-episode. Of sage. Of sege. Ek noem dit om die leser te oriënteer. Al Venter was pier hier om Into Angola vir SATV te skiet, hy't sy kamera uiteraard net hier en daar gerig. Ek het so uit die skaduwees gekyk hoe hink die stukkende kinders al om hom en wedywer met die verpleegsters om 'n plekkie voor die lens. En hoe die vleis-in-foelie later soos by 'n supermark afgelaai is, het die lesers ook seker gesien.

So wreed soos die liefde, so ook is die oorlog. Dit het ek al gesê. Soos donsvere dryf die valskerms en aan elkeen hang 'n puntjie. Soos dissels dryf hulle, met aan die onderpunt van elkeen die saadjie. Hoe wonderlik het die natuur nie sy meganika beplan nie!  Só dra die wind die saadjie aan sy donserige valskerm tot op 'n stuk aarde waar hy kan val en ontkiem en léwe!

Ek was een van dié disselsade. O, hoe het ons gedryf, die pragtige jong manne van die Republiek. Groen was ons uniform, rooi die blos op die wange, steil die wind, Afrika soos 'n oop hand onder ons - en weg, weg dreun die vliegtuie en onder ons, nog laer af, oor die bossiekoppie, karring die helikopters met die rooi kruise. Lieflik daal ons, in die son, die wind, my God! Ek was so naby, tóg so ver. In 'n oogwink kon alles verander. Dood/lewe. Net só, met die grens tussen die twee so toevallig soos die graadverskil in 'n geweerloop se mik.

Disselsage, heldedade. Seuns van die Republiek: Afrika is ons s'n, ons die wit, wit donsvere.

Lê stil, Kubaan, geen kos vir jou vandag nie. Hoor hoe blikkerig klap die varkpanne daar by die opwasbank. Daar's 'n kruppel oud-Swapo wat opwas. Hy staan op een been en kyk met een oog na die vuil skottelgoeddwater waarin die blink varpanne wegglip. Hy staan onder die seildak, by die enkele boom en kyk hoe die oorskietkos in 'n konka weggegooi word totdat dit ophoop en verveelde stewels daaroor trap en die manne later gaan lê soos jong, hortende honde, kaalbolyf in die tente, terwyl hulle foto's van hul geliefdes om en om in die hande draai of daarmee na die toilette stap.

Wreed ook is die liefde, soms net so wreed soos die oorlog.

Dit was kort na Al Venter en SATV laas hier was. Operasie Koedoe was toe nog in beplanning. Ons het nie geweet nie, maar tog gehoor. soos dit maar gaan tussen die tente (dit was altyd soos 'n miernes) het die fluisteringe gegroei tot gerugte en die gerugte tot nuus, en die nuus het gepromoveer tot feit en algemene kennis. Dit was nog nie so nie, maar dit was so: ons sou dieper as tevore ingaan, diep, diep in die omgedolwe land binne, verby die murasies en gestrande trekkers en motors en aflweringswaens, verby die murasies van Portugese winkels en verby die trosse nomade wat met oop, histriese oë wag dat die jeeps en Bedfords kom en vertrek. Ons sou deurbreek, deur Savimbi se wêreld die grasplato's oor, tot amper by - of, ja, selfs tot in - Luanda.

Een groot eenheid sou al die eenhede word; 'n enkele masjien. Die gedagte aan penetrasie het opgewonde gemaak, dis te verstane.

Of soos met Jamesy, hei, Kubaan, luister, soos met Jamesy: hulle het hom in 'n nat beesvel toegedraai, en die vroue het hom vasgestik binne die nat silinder. Toe die beesvel daar onder die boom droog word, het die bende lankal padgegee en ons kry Jamesy met sy tong wat op sy bors hang en die klosse groen brommers wat daarop koek. Ons het hom só, net so, begrawe met die uitgedroogte beesvelddoodkis om hom.

Hoe lank vat 'n beesvel om droog te word en in te krimp in die son van Angola?

Jamesy was half Hollands, die kaaskop van die kamp. Hy't so half-half nog in Nederland gestaan. Op patrollie het hy Gerrit Achterberg of Nijhoff uitgehaal en dit was vir my histeries snaaks - die kosmiese revold en "Voor dag en dauw" in die bosse van Angola. Ons was óór die grens sy Nederland 'n milde landjie iewers uit ons kollektiewe  onderbewussyn. So het Jamesy Zeeman, vroeër van Amsterdam, gesterwe aan beesvelinkrimping.

Wat het geword van my en my Kubaan se gesprek? Hy antwoord nie, en as hy wél sou - nou ja, ek verstaan nie sy taal nie. Ek wonder watter taal praat hy? Het Kuba 'n eie taal? Hulle het ons nooit gesê nie. Die sigare smaak goed. Dit lê tussen lyke in ondergrondse bunkers of smeul in dooie hande. Die rook is nog in die warm longe as ons hulle uitsleep uit die bunkers: gooi ons hulle soos matrasse op die Bedfords, val hulle doef en blou hoes die dooie longe die rook uit.

Hul siele is lankal reeds in Kuba, neem ek aan.

In ieder geval het ons opdrag om nie te veel met die Kubane te praat nie. Hulle het seker ook die klassieke opdrag gekry: naam, rang en magsnommer. Verder niks. Al behandel hulle jou soos 'n hond. Of span jou oor 'n miershoop.

Operasie Koedoe  was nog op papier, in die stratege se briljante breine aan't vorm: 'n Disneyland van mag en kartetse en geweld en oprukkende jeeps en knetterende gewere en vleis wat skielik deur vel peul en die skrikwit splinter van 'n been. Ek sê nie sommer nie. Ek was daar.

Ander was nie daar nie. Van die ouens - en nie almal was Nusas-lede nie, hoor  - wat by Brug Veertien was en ook daarna, het geawol. Nie weer nie, het hulle gesê. Die grond was te vreemd. Hulle kom (byvoorbeeld) uit kosmopolitiese Seepunt. Hulle leef heeltyd daar. Nou beland hulle in Angola. Hulle - nou ja, ek kan verstaan. Dis soos Jamesy Zeeman: iewers is daar 'n kortsluiting.

Baie het geawol. In die een kamp glo oor slegte kos. Ons het geweet dat dit Operasie Koedoe was. Maar die blinksterrre het nie geweet dat ons weet nie. almal het geweet dat ons weet, van skutter op tot by die rang van eerste luitenant. Verder op het hulle gedink dis net hulle wat weet: dié wat die stokke onder die arm dra en soos poue rondpronk in die menasie saans.

Ons het dus geweet en ons dus voorberei. Wat doen 'n soldaat wat hom voorberei? Hy groet eintlik wat nie te groet is nie. Hy's nie soos 'n ou in Death Row nie. Hy weet nie. Wat jy eintlik groet, is die sekerte. Jy groet die sekerte en dit vat lank. Dit vat baie nagte. Dit vat baie dink, of baie wegdink. Sommige ouens dink dit wegl. Hulle raak wild, die kamp raak wild voor 'n operasie. Hulle drink en baklei soos tiere. Hulle vloek en bemors die latrines. Hulle steel die Bedfords en jaag deur die vlugtelingskampong. Hulle maak die moffies kaalgat vas op jeeps se neuse en ry dorp toe met hulle. Hulle drink, drink, drink.

Die ander ouens wast net dink: party loop weg. Hulle gaan op awol. Hulle kan nie huis toe nie, want dis die eerste plek waar hulle gesoek sal word. Hulle awol YMCA's toe - Durban, Port Elizabeth, Kaapstad, Johannesburg...maar later kan hulle ook nie meer soontoe nie. Die blinksterre het vaste oë op die YMCA's gesit om hulle dop tehou. Kan mens sê dat dit 'n hele geslag op awol was? Kubaan, wat dink jy?
Hy:
Ek: Operasie Koedoe is aangekondig, op die daaglikse orders. Die offisiere wou ons voorberei, ons is op 'n groot dag saggies ingelig dat ons ingaan. Maar ons het reeds geweet. Ons was voorbereid.

Dit was 'n hele ruk terug. Ek het sedertdien my Kubaan, en hy is die resultaat van alles wat tussenin gebeur het.

My hele lewe het verander sedert ek dié Kubaan het. Ek mag hom nie alleen laat nie. Hy is altyd by my. Deel van my, kan mens maar sê. Ons is, by wyse van spreke, één. As ek afgaan na die latrineblok, moet hy saam. As ek gaan stort, moet hy ook dié private oomblik deel. Hy is so na aan my dat hy my drome deel. Hy weet al amper wat ek dink.

Ek: Hei, Kubaan, stem jy saam? Is dit so?
Hy antwoord nie, kyk nie na my nie, soos 'n bang hond bang is om na sy baas te kyk. Ek laat die wurgketting rinkel. Dit klink soos iets uit 'n Middeleeuse kelder, of uit 'n Barbara Woodhouse-program.

Mens het dit aangevoel. Elkeen het dit aangevoel - na Operasie Koedoe sal sy lewe nooit weer dieselfde wees nie. Sommiges het dié gevolgtrekking op melodramtiese wyse bereik. Ander het dit stil-stil bedink. Ek het, dink ek, dit instinktief gevoel, op 'n  meer realistiese vlak as die ander.

Die klein patrollies die Bos in (ek het al iets daaroor genoem) het begin lyk na Boy Scout-togte na die Vaaldam of Chapmanspiek. Iets groters het voorgelê, my Kubaan, iets wat jou aan my besorg het, wat jou na my gebring het, sodat ek jou nou by my het soos mens 'n stuk koeël in jou bobeen ronddra - nooit is jy sonder die dowwe pyn nie, nooit sonder die herinnering nie.

Disselsade. Heldedade. Binne die vliegtuig: die gedreun van die motore het alles gesmoor. Dit laat my altyd dink aan insekte: die groen helms met die net daarop vas. Die rugsakke met die kort gewere, die waterbottels op die heup, die geverfde gesigte. Soos insekte in die maag van 'n groter insek. In dié tyd soek mens ook eers die sagte, klem plekke. Daar is dinge waaraan jy dink, waarmee jy spook. En dis dan dat die liefde ook wereder raak as die oorlog. Op die uiterste ken jy nie meer vrees nie. Die vlakte wat onder jou verbyskuif, is bloot 'n kaart, die kaart wat by jou ingehamer is by Basis, voor die vertrek. Jy is 'n kopspeld; as jy takties reg beweeg, word die blou kopseld op die kaart 'n vlaggie. As jy of een van die ander in jou peleton 'n fout maak, word die speld dalk uitgetrek en al wat oorbly op die kaart, is die gaatjie wat die speld se punt gelaat het.

Jy weet nie meer jy is lewe, kosbare lewe nie. Jy is daarom nie meer bang om te sterf nie. Dis die geheim van alle leërs. Dit is die magiese krag van die uniform, die stamdans, die marsjerende peleton, die vliegtuig in formasie.

Disselsade, heldedade. Binne die vliegtuig: die reuk van Afrika se wind is nie Etosha se modder of die swaar trope se reuk nie, dis nie die reuk van vars mis en skoenpolitoer, klere, tentseil, rubber, sperm, liggame, bloed en die skerp geur wat 'n mens in die hoogste angs afskei (angs nie as vrees nie, maar as hipergereedheid, adrenalien-angs) is Afrika s'n. Dit is die asem, die nuwe asem, van die kontinent.

Later weet ons ons moet gereed maak. Die enjins doof uit, die rooi liggie flits aan. Gou, té gou, is die tyd daar. Die kajuitdeur gaap, 'n gat na 'n donker en woeste land onder. Die reuk raak bedompig. Afrika se reuk. Ons sweet, ons kamoefleeverf  en sweet smeer af aan die agterkante van ons hande. Mens raak lus om te spring, om uit te kom in die lieflike wind, die vryval wat onkeerbaar is. Mens raak lus om net te val en te val, 'n koeël op sigself, 'n missiel na die middelpunt van die aarde.

Ek moet spring. Ruk die wind in my wangvleise. Ek dink niks. Konsentreer net op die sprong, die maganiek wat die Valskermskool by my ingedril het. Ek val los van die vliegtuig, die groot staalvoël wat opeens weg is; sy skaduwee kan ek links onder die bosse sien glip. Onder my is die wit blomme van 'n paar oop skerms, murasies, 'n geroeste sinkdak wat tog son vang. Ek pluk my skerm en ruk tot 'n rustige sweef. Ek is nou in niemandsland waar alle sekerheid verwyn het.

Geen aarde onder die voete, geen skroef om my weg te dryf nie, geen wete van wat onder wag nie. Soos 'n dissel, oorgelewer aan die wind en die toeval en - volgens die Kapelaan - die Voorsienigheid, het ek gedryf.

Ek was heeltemal alleen, totdat ons op die grond weer sou aantree nadat ons ons van ons skerms losgevou het. Ek moes my vrees beteuel. Dink aan die operasie. Dink aan elke beweging. In my gedagtes my geweer nagaan. My valskerm probeer stuur. Uitkyk vir 'n vyandelike patrollie. Al nader kom die vreemde land. Ek wil soos 'n saad - 'n dood of 'n lewe binne.

Ek het die Kubaan nie verwag nie. Ek het hom nie gevra nie. Hy is aan my opgedwing - deur die tyd, die geskiedenis, die besondere politieke omstandighede. Maar hoe hy ook al daar beland het (deur toval of Voorsienigheid) - feit is, toe ek grondvat in 'n dwarreling wind, half skeef binne-in 'n bos wat omtrent manshoogte staan, met my valskerm wat eenkant toe bol in die wind en ek wat rem en struikel en terselfdertyd vloek en om my soek na die ander ouers - toe  is die Kubaan daar.

Geel soos van 'n eiland, vreemd met die fyn neusvleuels en die sensuele neusvleuels het hy uit die skaduwee gestap 'n plas son binne, sy roomkleurige uniform kraaknuut en hiperkorrek aan sy lyf. Het hy met my geglimlag? Ek het my vloekend probeer loswoel uit my valskermharnas, my gevleulde anker wat my gekneld het. Uiteindelik was ek los, die kort karabyn in my hand warm het die son reeds in die gemaal gesit  binne-in die bos het ek geval en die karabyn het onder my begin knetter en die stof het in klein wolkies om die Kubaan se voete orent gestaan, maar hy het steeds glimlaggend bly aankom en het hom vervloek sy geslag en sy hoer van'n moeder en sy eiland en hy het glimlaggend aan aangestap gekom maar hy nooit bereik nie terwyl ek snikkend my karabyn lê en leeg skiet het, nog half in my harnas, met die valskerm wat in Afrika se wind rustig eenkant op en neer flap.

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell