My broer se kraai

chris barnard

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

VERTELLERS
DEEL TWEE

DEUR MERWE SCHOLTZ

My broer had 'n kraai wat hy een oggend vroeg ná die reën in die veld opgetel het. Aan sy vere en sy bek kon ons sien dis 'n baie jong voël wat maar pas uit die nes gekom het. Sy een vlerk het in die storm seergekry en hy was honger en half verkluim en kon glad nie vlieg nie. Maar hy kon byt. Daardie jong snawel van hom was venynig.

My broer het die kraai in 'n kartondoos gesit en met oorskiethout en stukkies draad vir hom 'n hok gemaak. Die middag was die kraai in sy hok. Maar dit het drie dae se geduld gekos om  hom iets te laat eet. Hy was bang vir ons en hy het nie van die hok gehou nie.

Ná 'n week het hy in die hok begin rondstap en kort-kort sy vlerke gelig. Ná twee weke was die kraai gesond en kwaaier as ooit. Hy het oop en af gestap en die draad gepik, gepik, al geniepsiger, en met sy vlerke teen die draad geklap dat die vere so waai.

My broer se kraai was die duiwel in.

Hy het die vleis geëet wat ons hom gegee het, elke dag 'n bietjie gulsiger. Maar as jy jou hand by die hok insteek om die vleis te laat val, takel hy eers die hand en daarná die vleis. En hy sluk die vleis omtrent heel in, wurg dit af en begin weer op en af stap met kort, kordate treetjies. As jy te lank bly staan en kyk, storm hy op die draad af, klap en pik en skop, blaas, dreig.

Die kraai het groter geword en sy vere minder.

Eendag toe ons by die hok kom, het die kraai se een vlerk gebloei; hy het dit waarskynlik teen die hokdraad stukkend geskaaf.

Los die kraai, het ons almal gesê, maar my broer wou nie luister nie. Hy het geheg geraak aan die kwaai kraai. Dit was syne. Hy het elke dag by die hok gesit en met die kraai gepraat, met hom probeer maats maak, die kraai gepaai. Hy was lief vir die kraai en hy wou hom nie loslaat nie.

Op 'n dag het die kraai se voet gebloei.

Hy was nog net so vraatsig en venynig soos altyd, maar hy het nie meer so goed gelyk soos vroeër nie. Hy het kruppel geloop en sy snawel was stom en sy vlerkvere yl en bederf.

Ons het dikwels oor die kraai gepraat smiddae op die stoep, saans aan tafel. Ons het my broer probeer oortuig dat dit vir die kraai beter sou wees as hy losgelaat word. Hy is ongelukkig in die hok en hy maak homself seer Maar my broer het gevoel dis sy kraai - hy het hom gevang, hy het vir hom 'n hok gemaak, hy het hom gevoer, hy sal besluit wat vir die kraai die beste is.

Ons het almal geweet: nie wat vir die kraai die beste is nie, maar wat vir my broer die aanvaarbaarste is. Maar niemand het dit hardop gesê nie.

Later het ons ander die hok begin vermy. Dit was nie meer mooi om na die kraai te kyk nie. Hy was byna altyd iewers stukkend, sy stappe het al stywer geword, sy snawel al stomper. Ons sou graag van die kraai wou vergeet as ons kon - maar sy verwoede gelag wat snags oor die stil werf weergalm, het ons nie toegelaat om van hom en sy hok te vergeet nie.

My broer het begin stiller word. Ons het dit almal gemerk. Hy was 'n vrolike vent, my broer, maar sy vrolikheid het begin afslyt. Hy het sy bes gedoen om dit vir  ons weg te steek, maar niemand om die bos gelei nie. Eenkeer het ek deur 'n venster staan en kyk hoe hy die kraai uit die hok probeer haal. Dit het ' n vreeslike gestoei afgegee. Ek het gedink hy gaan die kraai los. Maar  hy het die kraai uit die hok gehaal en sal of iets aan die stukkende plekke probeer smeer. Hy het die swart voël teen sy wang probeer druk, maar kon dit nie regkry nie. Die kraai het so gespook en gekrap dat hy hom weer in die hok moes terugsit. Die kraai was waarskynlik nóg stukkender ná die operasie en oral om die hok het swart veertjies neergesif grond toe. My broer het kamer toe gegaan en die deur agter hom toegemaak. Daardie aand aan eettafel was daar krapmerke op sy arms en hande en 'n bloedrofie op sy wang.

Ons het gemaak of ons dit nie raaksien nie.

Dit was 'n Sondagmiddag toe my broer met my kom praat. "Ek dink ek moet my kraai maar los,"  het hy gesê.

Ek het hom nie probeer aanmoedig nie. Een verkeerde woord,  het ek geweet, en hy verander dalk van voorneme. Maar hy het aangedring op my opinie.

Toe dink ek vinnig en ek sê: "Dis jou kraai en jy moet besluit, maar ek dink as die kraai kon besluit, sou hy homself losgelaat het."

"Dis die probleem," het my broer gesê. "Juis dit hinder my meer as iets anders. Ek is lief vir die kraai en ek versorg hom goed. Maar dit voel nie vir my of hy myne is nie. Ek wil hê dit moet my kraai wees. En solank hy wil weg, is hy nie regtig myne nie."

"Kry vir jou 'n papegaai of iets wat by jou wil bly, dan sal jy beter voel. Jy sal gelukkig wees, en die papegaai ook."

"Almal het papegaaie," het hy gesê. "En buitendien: 'n papegaai bly ook maar net by jou omdat hy nie van beter weet nie. Ek wil iets hê wat beter weet as om by my te bly - en nogtans by my bly."

"Daardie iets," het ek gesê, "is nie die kraai nie."

Hy het opgestaan en geloop, my broer. En ek het hom deur 'n venster gaan dophou en gesien hoe hy die kraai se hok oopmaak en hom uithaal. Die kraai het gespook en my broer gepik en toe my broer hom los, het hy verskrik weggefladder; half grond toe geval, en op 'n tak daar naby gaan sit. Hy was uitasem, maar hy het my broer wantrouig dopgehou. Na 'n lang ruk het die kraai lomperig opgevlieg en sukkel-sukkel tussen die bome verdwyn.

Ons het hom hoor lag met die wegraak.

Die hok het oopgestaan. Daar net nog van die kraai se vere rondgelê en daar was 'n paar droë bloedspatsels teen die dak. Die stukkie brood in die hok het verdroog en die drinkbakkie se water het verdamp.

My broer het nie weer by die hok gekom nie. Niemand het weer oor die kraai gepraat nie. Dié episode was afgesluit. En tog ook nie afgesluit nie: want die kraai se afwesigheid was aan elke eettafel teenwoordig, in elke gesprek, in elke stilte.

Maar drie dae later, die oggend, het ek net ná dagbreek wakker geword en in die bed gelê en luister hoe dit bietjie vir bietjie op die werf Woensdag word. Simon heet met die voetpad aangesing gekom, toe was daar melkemmers, toe het die hoenders uit die mangobome afgefladder en kloekend weggestap. En die kombuisdeur het geklap. Simon het vuur gemaak - ek kon die stoofyster hoor klink.

Toe lag daar iemand luidrugtig op die werf.

Die eerste oomblik het ek gedink dis Simon wat vir Vossie koggel, want Vossie die hings het elke oggend oor die onderdeur kom brood bedel. Maar toe word daar weer gelag en die lag word 'n huil...en toe weet ek: dis die kraai.

Ek en my broer was gelyk in die kombuis en gelyk in die agterplaas. Die kraai het kordaat in sy hok gesit - en weer gelag toe hy my broer sien. Maar dit was eers toe ek daardie stywe stappie van hom sien dat ek seker geweet het dis dieselfde kraai.

My broer het net daar gestaan. Sommer net.

"Gaan haal vir hom vleis," het ek gesê, maar hy het net daar bly staan. Dit het nie vir my gelyk hy glo wat hy sien nie.

Ek het vleis en brood gaan haal en dit vir my broer gegee en hy het die kos in die kraai se hok gaan gooi. Die kraai het met sy vlerke geklap en gulsig geëet.

My broer het nie die hekkie toegemaak nie. "Dis beter oop," het hy gesê.

En ek sê toe: "Ja, oop  is dit beter."

Die kraai het nie weer weggegaan nie. Bedags, ja. Bedags was hy meestal in die bos. Maar saans het hy teruggekom en in sy hok ingestap en bewaar my broer se siel as daar nie vars water en brood en vleis is nie. Hy sou blaas en lag en huil en met sy vlerke teen die draad klap.

Want van daardie Woensdag af, was die kraai my broer s'n.

Chris Barnard

Vertellers 2

Die tweede groot verhaalboek

deur Merwe Scholtz 

Radio Kuber Kontrei is 'n gratis Afrikaanse Agtergrond musiek kanaal. Kliek op ► links en luister via TuneIn. Maak asb. die ♥ rooi! deur ons as 'n FAVOURITE te merk. Vind ons APP op Google Play