# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Muriel se Klandisie

Klein Muriel was 'n baie eensame dogtertjie. Haar moeder het siek geword en is na die hospitaal geneem, en sy moes solank by haar tante gaan woon.

Sy het graag by haar tante gaan kuier, maar daar was niemand om mee te speel nie. Haar tante was oud, en sy het al vergeet dat sy ook self 'n kind was. Muriel was seker dat sy klein dogtertjies glad nie verstaan het nie. Sy het gedurig gesê, "Moenie so raas nie, Muriel", en "Moenie kwaad doen nie, Muriel", totdat die arme Muriel glad nie meer geweet het wat om te doen om soet te wees nie.

Eendag het tante met 'n voorstel gekom. "Toe ek 'n dogtertjie was," het sy gesê, "het ons winkel gespeel."

"Ek wil ook graag winkel speel," het Muriel gesê, want hier was nou iets wat tante goedgekeur het. Tante het Muriel toegelaat om 'n paar leë vrugtekissies na die tuin te neem, en ook leë konfytblikke.

Muriel was vir 'n hele ruk besig om 'n toonbank in te rig, maar toe dit klaar was, het sy weer begin eensaam voel, want wat help 'n winkel as daar nie klandisie kom om die goed te koop nie?

Sy het toe maar een van haar poppe voor op die toonbank gsit as iemand wat kamma iets kom koop. Maar 'n pop is 'n treurige iets om as klandisie te hê, want 'n pop kan nie die goed wegneem wat sy koop nie. Muriel het gou daardie plan opgegee en die pop uit die winkel gesit.

"Ag, dis darem droewig," het sy gesê. "Ek wens dat hier iemand wil kom om met my te speel!"

Haar woorde was nog skaars koud toe 'n mooi kat om die hoek van die winkel kom en sommer bo-op die toonbank spring.

"Maar jy's 'n mooi koper!" het Muriel gesê, terwyl sy vir die eerste maal daardie middag glimlag. "En wat sal u vandag koop, Meneer Kat?"

'n Pennie se suiker," het Meneer Kat gesê so goed as hy kon, terwyl hy sy bek wyd oopmaak en suiker se kant toe staan - veels te naby na Muriel se sin.

Muriel het geraai wat die kat wou hê, en sy het 'n kont suiker vir die kat gehou om te sien of sy reg geraai het. Meneer kat het sy bek nog wyer oopgemaak en sommer die hele klont suiker ingesluk. Muriel het blykbaar reg geraai.

"En nou, Meneer Kat, gaan jy nie betaal nie?" het Muriel gevra. "Niemand kan sommer goed uit hierdie winkel neem sonder om daarvoor te betaal nie, weet jy."

Meneer Kat het sy regterpoot opgelig asof hy die nodige geld wou oorhandig, en Muriel het daardie gebaar aangeneem vir die daad. Wel, die twee het lekker saamgespeel. Solank as die voorraad suiker gehou het, was Meneer kat 'n gereelde koper, en Muriel het ook baie ander goed aan hom verkoop. Die volgende dag was hy weer daar, en hulle het die hele spel weer van vooraf gespeel.

Muriel het 'n blink gedagte gekry. Sy het besluit om ook melk aan te hou. Meneer Kat het die idee beaam, en hy het kort-kort 'n piering melk bestel. Daar was net een moeilikheid, en dit was om genoeg melk van tante te kry vir die winkel, want tante kon nie verstaan waarom sy soveel melk verkoop nie.

Binne 'n kort tydjie was Muriel en Meneer Kat groot vriende. Hy het haar gevolg net waar sy gaan, en het slefs saamgegaan wanneer tante en Muriel iets in die dorp gaan koop het. Hy het die hele dag saamgespeel, en Muriel het gou haar eensaamheid vergeet.

Toe het daar eendag 'n brief gekom om te sê dat Moeder beter is, en dat Muriel weer kon huis toe gaan. Sy het nie geweet of sy moes lag van vreugde dat sy weer kon huis toe gaan, of moes huil van droefheid om van haar nuwe vriend geskei te word nie.

Sy net nog net eenkeer winkel gespeel, en aan Meneer Kat net soveel melk verkoop as wat hy kon drink, en al die suiker wat hy kon eet, maar sy wou geen geld daarvoor neem nie. Toe het sy totsiens gesê terwyl die trane oor haar wange rol.

Tante het gesê dat dit sommer lawwigheid is om oor 'n kat te huil, veral daar sy baie dankbaar behoort te wees dat haar moeder so mooi herstel het; maar Muriel kon dit eenvoudig nie help nie.

Eerlank was sy terug by die huis, en sy was so bly dat Moeder weer sterk en gesond was. Maar hoe sy ookal geprobeer het, kan sy nie haar vriend vergeet nie, en sy het baie na hom verlang.

En toe, een more, hoe dink julle wat het gebeur? Wel, dit was haar verjaarsdag, en toe sy by die ontbyt tafel kom, het 'n snaakse pakket langs haar bord gesien. Sy het gou die papier afgehaal, en gesien dat dit om 'n mandjie was - en raai wat was in die mandjie?

Meneer Kat.

Dus het tante tog alles verstaan!

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell