Slaaptyd stories deur Arthur S. Maxwell
Moeilikheid op die strand
Lena en haar broertjie, Eddie, het so pas by die stand aangekom, dit was hulle eerste besoek.
Van alle kinders behoort hulle die gelukkigste te gewees het, maar moenie glo nie. O nee, inteendeel, hulle was baie stout.
Vir elkeen van hulle het Mammie 'n nuwe grafie gekoop - die een was rooi en die ander groen. Albei wou die rooi grafie hê, alhoewel die groene net so mooi was.
Hulle het ook elkeen 'n emmertjie gekry, maar die een het so 'n klein duikie gehad en daarom wou nie een van hulle die emmertjie hê nie en het toe ook daaroor baklei.
Toe hulle eindelik begin grawe, wou albei op dieselfde plek grawe, nes of daar op daardie groot strand nie genoeg plek vir albei was nie.
"Ek het eerste hier begin grawe," het Lena gesê.
"Nee, jy het nie - ék het," het Eddie gesê en hy het sommer bo-op die hopie sand gespring wat Lena reeds uitgegrawe het.
"Jou nare ding!" het Lena geskree. "Jy het my kasteel verpletter, nou sal ek jou darem 'n les leer."
En toe het sy vir Eddie begin jaag; Eddie het geval en Lena het op hom geval. Daar was 'n vreeslike gestoei en eindelik het albei gehuil so hard as hulle maar kon. Al die mense rondom hulle het vir hulle gekyk.
"Dit is nou 'n mooi grap," het Mammie gesê, toe sy by hulle kom. "As dit die manier is waarop julle gaan vakansie hou, sou ek liewer sien dat ons maar huis toe gaan."
"Dit is haar skuld," het Eddie gesê.
"Dit is nie, dis sy skuld," het Lena geskree, "hy het op my kasteel gespring."
"Sy het gegrawe waar ek wou grawe," het Eddie huilend gesê.
"En hy het die grafie en emmer wat ek wou hê," het Lena gesanik.
"O my liewetjie!" het Mammie radeloos gesê en haar ore toegehou. "Waarom het ek julle twee tog na die strand gebring? Weet julle waarna julle lyk? Julle lyk soos twee paaiboelies."