# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Van Militêre held to Sirkusman

Een  van die mees tragiese verhale wat die Tweede Vryheidsoorlog opgelewer het - en daar was baie - was die van genl. Piet Cronjé. Sy optrede in die Eerste Vryheidsoorlog, twintig jaar vroeër, het die openbare verbeelding aangegryp en hom 'n volksheld gemaak. Ook in die Tweede Vryheidsoorlog behaal hy groot roem, onder meer as die oorwinnaar van Magersfontein (ons sal later sien in watter mate hy hiervoor soveel lof verdien het). Sy hardkoppigheid het egter gedurig groot probleme veroorsaak en later tot sy oorgawe by Paardeberg gelei. Hieroor het sy volk hom verwerp. Sy laaste jare was eensaam en verbitterd, met die bykomende ironie dat hy 'n tyd lank sy brood moes verdien deur as kammakastige "Boereheld" in 'n Amerikaanse sirkus op te tree. 

Anders as genl. Piet Jubert,was sy vermoëns as aanvoerder onderskat het en steeds gereed was om die opvattings van sy offisiere in ag te neem, het genl. Piet Cronjé sy eie vermoëns as aanvoerder hopeloos oorskat. Hy was voortvarend en eiesinnig en het hom selde aan die opvattings van sy eie of selfs ander bevoegde offisiere of raadgewers gesteur. 

Gebore op 4 Oktober 1836, het Cronjé gedurende die Eerste Vryheidsoorlog in die kalklig getree toe hy aan die hoof van 'n aantal burgers Potchefstroom binnegery het. Hy het die opveiling van 'n ossewa  wat op las van die staat verkoop moes word met die oog op die betaling van belastings deur die eienaar, Piet Bezuidenhout, met geweld belet. Die afslaer - ene Moquette - is op sy bevel van die wa afgesmyt en die wa aan Bezuidenhout terugbesorg. 

Hierdie eimatige optrede van Cronjé  sonder dat hy die Boereleiers geraadpleeg het (hulle het inderdaad Cronjé se optrede afgekeur maar dit nie in die openbaar durf toon nie), het groot bewondering  by die volk gewek. Dit was aanleiding tot die ondermiddellike byeenroeping van die byeenkoms te Paardekraal waaruit die Eerste Vryheidsoorlog voortgespruit het. Vir hulle het Cronjé die ideaal geword van onverskrokkenheid en beslistheid. Hy het gewys dat hy die man was wat deurtastend kon optree. Niemand sou droom om Cronjé se optrede aan te val as onberekend en heethoofdig nie, soos dit inderdaad was. 

Met die uitbreek van die Eerste Vryheidsoorlog is hy as generaal benoem, maar hy was nie by benadering so suksesvol soos Piet Joubert en die se veggeneraals Nicolaas Smit en Frans Joubert nie. Wel het hy maj. Clarke, wat met 'n klompie manskappe in die Potchefstroomse landdroskantoor stelling geneem het, na 'n paar dae se gevegte tot oorgawe gedwing, maar met die beleëring van kol. Winsloe en die res van die Potchefstroomse garnisoen het hy swak gevaar. Winsloe is eers op 2 Maart 1881, nadat die oorlog verby was, tot oorgawe gedwing - dus na 'n uirgerekte beleg wat die hele oorlog lank geduur het. Veel rede tot roem het die Eerste Vryheidsoorlog dus nie vir Cronjé gebring nie. Inteendeel, hy het, soos genl. De La Rey dit later onverbeterlik uitgedruk het, toegelaat dat kol. Winsloe se 200 man sy 700 burgers by Potchefstroom gevange hou, weg van die front af waar die burgers se dienste baie nodig was.

Die geluk het Cronjé egter begunstig. Die feit dat hy die troepe waarmee dr. L.S. Jameson die Republiek binnegeval het, op 2 Januarie 1896 by Doringkop tot kapitulasie gedwing het en daardeur die onafhanklikheid van die Boere gered het, het hom weer 'n baie populêre figuur by die burgers gemaak. 

Dat Cronjé nie 'n veldheer van formaat wat nie, het hy as generaal van die Westergrenskommando's  by die uitbreek van die Tweede Vryheidsoorlog getoon toe hy hom deur die jong Britse kolonel R.S.S. Baden-Powell laat verlei het om die grens tussen Transvaal en Brits-Betsjoeanaland oor te steek ten einde 'n garnisoen van 1,200 blanke en 300 nie-blanke soldate met sy hele krygsmag van 6,000 burgers in Mafeking te gaan beleër. Strategies was Mafeking vir die boere waardeloos en wat Cronjé in die dorpie wou aanvang as hy dit kon verower, bly 'n raaisel. Al wat hy met 'n intog in Betsjoeanaland kon vermag, was om daarmee die vyandskap van die swart bevolking van die gebied te wek. 

As Cronjé probeer ontleed het waarom die Britte by Mafeking stelling geneem het, sou hy tot die slotsom moes kom dat hulle net daar was met die doel om 'n deel van die Boerekrygsmag daar besig te hou. Daardie 1,200 man was buite Mafeking immers onskadelik. Al wat nodig was om hulle te verhinder om die Transvaalse grens oor te steek, was 'n wakker grenswag van 'n paar honderd man binne Transvaalse grondgebied. Cronje se militêre adviseur, genl. Koos de la Rey, het Cronjé dan ook aangeraai om net 'n paar honderd man aan die Transvaalse wesgrens te laat en met die res van sy krygsmag suidwaarts te beweeg ten einde hulp aan die swak Vrystaatse kommando's te gaan verleen. Hulle moes immers belet dat Lord Methuen, die Britse bevelvoerder, met sy sterk krygsmag na Kimberley deurdruk of die Vrystaat vanuit die suidweste aanval. 

Eers nadat hy die grens oorsteek, die dorp aan alle kante omsingel en dit onder kanonvuur geneem het, het Cronjé tot die ontnugtering gekom dat sy verwagtings om die swak Britse garnisoen deur bombardemente tot oorgawe te dwing, hopeloos onrealisties was. Kol. Baden-Powell, die Britse aanvoerder, het hom, anders as kol. Winsloe by Potchefstroom in 1880-1881, vooraf deeglik vir 'n langdurige beleg ingerig. Die dorp was ruim van voedselvoorrade voorsien en uitstekend verskans - meestal met goeie sandsakverskansings wat deeglik teen kanonvuur bestand was. Cronjé se bombardement van die dorp kan dan ook nie anders beskryf word as 'n hopelose fiasko nie. Dit het geen lewensverlies veroorsaak nie terwyl die skade aan die geboue gering was. Op die Britse vestings wat die dorp omring het, het die projektiele van die Krupp-kanonne hoegenaamd geen indruk gemaak nie. Nog die soldate, nog die bevolking is deur die doellose kanonnade ontsag ingeboesem en Cronjé self was so teleurgesteld dat hy aan die Regering berig het dat die Krupps hopeloos te lig was om noemenswaardige skade aan 'n "bevestigde stad soos Mafeking" te doen en 'n tweetal van die vier vestingskanonne uit Pretoria bestel het "om Mafeking te bereken."

Selfs die aankoms van een van die vier Long Toms op die terrein - meer as een daarvan wou die Regering gelukkig nie afstaan nie - het in die situasie geen verandering bewerkstellig nie. Cronjé het nie begryp dat bombardemente wat nie gevolg is deur 'n bestorming nie, niks anders was as 'n blote vermorsing van ammunisie nie. As Piet Cronjé by Mafeking gebly het, sou die reputasie van 'n knap militêre bevelvoerder wat hy onder die burgers verwerf het, weldra 'n natuurlike dood gesterf het. By die beleg van Mafeking het hy duidelik getoon dat hy, ofskoon hy aanvanklik oor sowat 6,000 burgers met 'n grofgeskut beskik het, nie in staat was om 'n plan te bedink om 'n swak Britse garnisoen van 1,500 man met vier ligte kanonne te oorrompel nie. 

Onder die burgers wat na die front gegaan het vol geesdrif om te veg, was daar reeds voor einde Oktober 'n gebrom omdat hulle nie die geleentheid gegun is om die vyand deur 'n goedbeplande aanval op Mafeking tot oorgawe te dwing nie, maar die inisiatief byna volkome in vyandelike hande gelaat is. Dit was dan ook gelukkig vir Cronjé dat die Regering hom 'n maand na die uitbreek van die oorlog met 'n aansienlike deel van sy krygsman na die gevegsterrein suid van Kimberley verplaas het om lord Methuen se opmars na Kimberley te stuit.

Suid van Kimberley het Cronjé die Engelse aan die Modderrivier  getref. Lord Methuen se magte het op 28 November hier na Kimberley probeer deurdring, maar die Boere het hulle in die walle van die rivier tuisgemaak, en in die natuurlike stelling kon hulle die vyand lank teenhou. Dit was pas nadat sommige Boere gemeen het die vyand kan nie meer teengehou word nie en hul posisies begin verlaat het, dat Cronjé verplig was om terug te trek.

Die groot oorwinning wat Cronjé op 11 Desember 1899 oor lord Methuen se oormag by Magersfontein behaal het, het sy reputasie gered en hom in die oë van die burgers verhef tot een van die beroemdste aanvoerders in die Boereleer. Wat die burgers nie besef het nie, was dat die keuse van die uitmuntende stellings by Magersfontein waar lord Methuen se opmars gestuit is, nie Cronjé se werk was nie. Na die swaar geveg by Tweerivier 'n paar dae tevore was Cronjé trouens vasbeslote om met die hele burgermag na die hoogte by Scholtznek terug te trek.

Hy het in die waan bly leef dat hoogtes, van waar die vyand op 'n groot afstand bespreur kan word, ideale verdedigingsinstellings was wat net met groot moeite deur die vyand verower kon word. En dit ten spyte van die feit dat hy by Tweeriviere met sy eie oë gesien het hoe die vyand die Boerstellings net met 'n uiterste poging kon verower. Van die nadele van hoogtes as verdedigintstellings teen 'n vyand wat oor 'n groot oorwig aan manskappe en artillerie beskik, het hy geen begrip gehad nie. Dat die burgers, saamgedrom op die kruin van die hoogtes, ideal teikens vir die Britse kanonne was, kon hy hom blykbaar nie indink nie. Genl. de la Rey, sy militêre adviseur, wat in die slag by Graspan kort tevore in die praktyk met hierdie en ander nadele van sulke hoogteposies kennis gemaak het het sy bes probeer om Cronjé van hul nadele te oortuig dat die terrein aan die voet van die hoogtes meestal blinde terrein is waar die vyand vry kan beweeg sonder om van die kruine bespeur te word, maar tevergeefs. Aan stellingname op die vlaktes voor Magersfontein, soos deur De la Rey bepleit, het Cronjé nie eers oorweging geskenk nie. Daar is gevolglik op aandrang van Cronjé vanaf Tweeriviere teruggeval na die hoogtes by Scholtznek, en as dit nie was vir die tussenkoms van pres. Steyn wat die front begin Desember besoek het nie, sou die slag by Magersfontein, waar Cronjé sy hoogste roem behaal het, nooit plaasgevind het nie.

De la Rey het die sake waaroor hy en Cronjé met mekaar verskil het, breedvoerig met die Vrystaatse President bespreek. Pres. Steyn wou hom nie graag met militêre aangeleenthede bemoei nie, maar nadat hy die stellings by Magersfontein besigtig en verneem het wat De la Rey se plan was, het ook hy aangeval dat Cronjé verkeerd opgetree het. Deur sy tussenkoms is daar toe weer 'n krygsraadsitting bele om finaal te besluit waar stelling ingeneem moes word. Nadat die krygsraad die aangeleentheid noukeurig oorweeg het, is besluit om Scholtznek te ontruim en ooreenkomstig genl. De la Rey se voorstel op die vlakte voor Magersfonteinrant stelling in te neem. 

Een van die rede waarom Cronjé so haastig vanaf Tweeriviere na Scholtznek geretireer het, was 'n vrees dat die vyand onmiddellik van sy amp by Modderrivier sou opruk om die burgers wat die slagveld by Tweeriviere verlaat het, te agtervolg en uiteen te skiet. Hy het nie, soos De la Rey, begryp dat die vyand in die geveg by Tweeriviere so swaar gekwes was dat die nie daaraan kon dink om verder voorwaarts te beweeg voordat versterkings hom kon bereik nie. Eers na sy terugkeer van Scholtznek na Magersfontein het hy begryp dat De la Rey se opvatting reg was, en het hy 1,000 man om die vandelike flank gestuur om die spoorweglyn in die rug van die Britse leer te verwoes. Daardeur is lord Methuen se aandag in die rigting afgelei en het die burgers meer as voldoende tyd gekry om hulle deeglik in die stelling by Magersfontein in te grawe, volkome gereed om die Britse krygsmag op gepaste wyse te ontvang toe hy sy opmars op 11 Desember hervat het.

Die wyse waarop die Britse krygsman op daardie dag in die slagyster geloop het wat daar by Magersfontein vir hom gestel is, het Cronjé se stoutste  verwagtings oorref. Dit het hom dadelik met roem in die buiteland en onder die Boere oorlaai. Ongelukkig het hy daarby skoon vergeet dat al die luister in die eerste plek Koos de la Rey toegekom het. Hy het homself blykbaar begin inbeeld dat die oorwinning die gevolg van sy knap leidng was.

Dat Piet Cronjé - wat as hoofaanvoerder opgetree en op die 11de sonder De la Rey se hulp moes klaarkom aangesien laasgenoemde afwesig was - het hom tydens die geveg kranig gedra het, kan niemand ontken nie. Hy het hom nie beperk tot die brigade Bergskotte wat hy op kort afstand voor sy loopgrawe by Magersfonteinrant vasgepen het nie, maar sy aandag oor die hele slagterrein versprei en gesorg dat elke deel van die Boerelinie tydig deur 'n toereikende aantal burgers beset word om lord Methuen se aanvalsplan in die wiele te ry. Die deurslag tot die oorwinning is gegee toe Cronjé lord Methuen se plan om om die Boere se regterflank te werk en Cronjé se krygsman in die flank en rug beet te ry, verydel het deur 'n aantal burgers vanuit sy frontlinie weg te neem en onder die bevel van sy broer Andries op 'n lang rant aan sy regterflank voor die brigade gardetroepe in te werp. Daardie burgers net net betyds op die toneel verskyn om die brigade gardetroepe te stuit en hulle op dieselfde wyse en net so effektief voor die Boerestelling vasgepen as wat vroeër in die dag met die brigade Bergskotte gedoen is. 

Die sege was volkome. Die aangewese weg vir Cronjé om te volg, was om na sy oorwinning om die flanke van Methuen se leer te snel en op sy toevoerlinie te te slaan. As dit gedoen is, sou lord Methuen waarskynlik nie gehuiwer het om onmiddellik na die Oranjerivier terug te trek nie. Hy had trouens reeds instruksie vir die terugtoeg uitgereik. Sowel pres. Steyn as pres. Kruger het Cronjé dit op die hart probeer druk dat sy oorwinning nutteloos sou wees as hy dit nie sou opvolg deur die vyand se verbidings af te sny en hom te dwing om van Modderrivier af suidwaarts terug te val nie Dit was egter tevergeefs. Cronjé was net bereid om voorwaarts te gaan as hy met sowat 2,000 man versterk word. Hy het so onder die indruk an die waarde an die stelling Magersfontein gekom, dat hy nie kans gesien het om dit te ontruim nie. Dat lord methuen in sy laer aan die Modderrivier bly stil lê het, was vir hom 'n aanduidend dat die Britse veldheer aan een plan kon dink om deur die stelling by Magersfontein te breek nie. Daat lord Methuen doelbewus besig was om Cronjé se sterk krygsman by Magersfontein skaak te hou ten einde aan lord Roberts die geleentheid te verskaf om 'n baie sterk leer verder suidwaarts op te bou wat met die Modderrivier langs reuit op Bloemfontein sou afstuur, het nooit tot hom deurgedring nie.

Sy opvatting was dat 'n troepemag van groot omvang soos die wat nodig sou wees vir lord Robers se offensief, nie van die spoorweglyn sou kon afwyk nie omdat van swaar belaaide treine afhanklik was vir die gereelde voorsiening van krygstuig en ammunisie. Hy kon hom dit nie indink dat 'n magtige Britse leer van enige spoorwegstasie aan die Vrystaatse wes- of suid-grens deur die veld na Bloemfontein kon opruk en deur wakonvooi van die nodige voorsien word nie. Dat die vyand besig was met die opbou van 'n sterk krygsmag in die rug van lord Methuen, was aan Cronjé goed bekend, maar dat dit lord Roberts se bedoeling was om met daardie krygsmag om sy linkerflank te gaan, Kimberley te gaan ontset en Bloemfontein te gaan inneem, kon niemand met die beste wil ter wêreld by hom ingedryf kry nie. Genl. Christiaan de Wet, aanvoerder van die Vrystaatse krygsmag by Magersfontein, vertel at hy dadelik die gevaar wat die troepe geskep het, begryp en Cronjé herhaaldelik gewaarsku het. Die 'vyand', so het hy keer op keer aan hom gesê, sal ons nie hier aanval nie. Hy sal om ons trek". Dit was egter tevergeefs. Cronjé het aan sy eie opvattings vasgeklou.

Enkele demonstrasies van lord Metuen teen sy stelling by Magersfontein het die opvattig nog vaster in hom laat wortel en hom des te meer vasberade gemaak om nie uit die uitstekende verdedigingstelling pad te gee nie. Daardeur het hy presies gedoen wat lord Roberts wou hê: om stil te le terwyl sy ry-en trekdiere byna onopgemerk op die uitgerapte en kaalgevrete weiveld kwyn. Toe hy eindelik deur lord Roberts verplig is om pad te gee, was sy burgers se perde en osse kapot. 

Cronjé kon nie kla dat hy nie gewaarsku is teen die moontlikheid dat hy omvleuel kon word in die veilige Magersfonteinstelling nie. Afgesien van Christiaan de Wet, het die graaf Devillebois-Mareuil 'n Franse opgeleide krygsman wat reeds sy spore verdien het en op hoogte was van die wyse waarop Europese leers beweeg en veg - die beterweterige generaal se aandag daarop gevestig dat die Britse aanvoerder maklik 'n divisie berede troepe om sy linkerflank kon stuur om hom in die rug aan te val. Alle waarskuwings was tevergeefs. Cronjé se antwoord was dat hy in twintig jaar se gevegte teen die Engelse geleer het dat die Britse krygsman geen enkele uur sonder 'n spoorweg kon klaarkom nie. Hul magtige hoeveelhede rantsoene moes altyd per trein aan hulle verskaf word, en daarom sou die Engelse dit nie kon waag om van die spoorweg af te wyk om hom te probeer omvleuel nie. As Cronjé vir twintig jaar lank militêr teen Groot-Brittanje geveg het, soos hy hom verbeel het, kon daar iets vir sy standpunt te se gewees het. Hy was egter gedurende die twintig jaar vir nouliks twintig weke in 'n militere botsing met die vyand gewikkel - en hiervan slegs sedert 27 November aan die front teen 'n oprukkende Britse leer. Dat hy hom met die bietjie krygservaring op so 'n hooghartige wyse jeens 'n opgeleide militêre aanvoerder met goeie krygservaring kon uitgelaat het, is die duidelikste aanduiding dat hy nooit as aanvoerder aangestel moes gewees het nie.

 Toe dit vir kol. Villebois glashelder word dat lord Roberts reeds besig was om om Cronjé se linkerflank te beweeg, het die kolonel die kardkoppige generaal weer probeer oortuig dat sy standpunt verkeerd was. Al antwoord wat hy ontvang het, was: "Ag, ek was al krygsman toe jy nog 'n klein kind was."

Nog verstommender was sy houding jeens die Oostenrykse graaf Sternberg, ook 'n opeleide krygsman. Laasgeoemde het op eie inisiatief die vyandelike bewegings op Cronjé se linkerflank gaan verken en die aand van 12 Februarie 1900 aan Cronjé berig dat die vyandelike ruitery besig was om die Rietrivier oor te steek onderweg na Kimberley. Vir Cronjé was die aangewese weg onder die omstandighede om onmiddellik stellings op sy linkerflank te beset waar die driwwe oor die Modderrivier beheer kon word, ten einde die berede troepe, wat slegs die voorhoede van lord Roberts se reuse leer was - te belet om oor die rivier te kom. In plaas hiervan deel hy Sternberg mee - sonder bedanking vir sy verkenningswerk - dat dit onnodig is om met kavallerie rekening te hou. Hulle is maar swak krygslede en die burgers sou hulle sonder moeite almal gevange neem en doodskiet.

Uit sy stelling in lord Methuen se front het hy egter nie die nodige burgers ooswaarts laat opruk om die kavallerie te gaan voorsny nie, ten spyte daarvan dat hy in 'n uitstekende posisie was om die troepe uiteen te slaan toe hulle die Modderrivier die aand van 13 Februarie oorsteek. Die ruiters was volkome uitgeput en nie instaat om hulle teen 'n vasbrade verrassingsaanval van die Boere te handhaaf nie. 'n Beter kans om die Britste ruitery te oorrompel en lord Roberts se offensief in die wiele te ry, sou Cronjé nooit weer kry nie. Hy het dit egter verspeel, die kavallerie toegelaat om ongehinderd in sy linkerflank stelling te neem en daarmee 'n militere dwaasheid begaan waarvoor geen verskoning bestaan nie.

Graaf Sternberg was ook nie die enigste of selfs die eerste wat Cronjé verwittig het van die vyandelike beweging op sy linkerflank nie. Reeds die dag tevore het kmdt Dawid Lubbe, wat die terrein aan Cronjé se regterflank bewaak het, berig dat 'n sterk vyandelike mag die Vrystaat binnetrek en na Cronjé se oostelike flank mik. Maar Cronjé se reaksie was dat die vyand net met 'n demonstrasie besig om sy burgers uit die Magersfonteinstelling weg te lok.

Gevolglik het hy niks gedoen om as Christiaan de Wet met 'n kommando van 450 man, voorsien van 'n Krupp en 'n Maxim ooswaarts te stuur om die vyand te gaan keer nie. Almal het die gevaar aangevoel wat lord Roberts se bewegings om Cronjé se linkervleuel vir die Boere geskep het - almal behalwe Piet Cronjé self - was vasgeroes aan die stelling by Magersfontein bly le het. Ook pres. Paul Kruger, baie myle daarvandaan in Pretoria, kon uit die oorlogsberigte aflei dat deur Cronjé se kortsigtigheid en sy verknogtheid aan die Magersfonteinstelling die doodsklok oor die Republiek begin lui het:

"Het helpt u niets te Magersfontein met uwe groote macht te bljven wanneer de vijand die OV Staat intrekt of Kimberley ontzet", sein hy op 13 Februarie aan Cronjé. "Ik versta dat gij 500 man tot versterking geznden hebt doch wat beteekent dit tegenover zoo een groote macht waar geen gevestigde psities zyn zoals te Magersfontein? Waar de posities zoo goed zyn, is het gemakkelijker voor een burger om mogelyk 25 of 30 van die vijand te keeren dan op een klae vlakte een."

Cronjé moes dus dadelik met sjy hele mag aanvallend optree en die vyand voorsny sodat hy nie na Kimberley toe deurdruk nie, het Kruger beveel. Dit was baie verstandige raad. Die vayand was nog teenoor Cronjé se oostelike flak en as hy daardie selfde nag nog met al sy burgers op French se flank sou toegesak het, kon hy miskien die uitgeputte kavallerie uiteengedryf en noordooswaarts ontkom het. 

Cronjé het sy leer, wt teen die tyd byna uitstutend uit voetgangers bestaan het (alle burgers met rybae perde is reeds uitgestuur om Christiaan de Wet te ondersteun) egter as onslagvaardig beskou vir offensiewe optrede - en dit bloot omdat hulle nie oor perde beskik nie. 

Eers nadat die kavallerie na Kimberley deurgebreek en dit ontset het - iets wat met gemak voorkom kon gewees het as Cronjé Magersfontein die nag van die 12de ou verlaat het om hom by die burgers om Kimberley te voeg - het Cronjé besef in watter gevaarlike toestand sy leer verkeer, en het hy met die Modderrivier langs ooswaarts gevlug. Die wyse waarop hy daarin geslaag het om ongemerk met sy immobiele leer vlak voor lord Roberts se voetvolkdivisies verby te trek en na 'n geveg die volgende dag lord Roberts se krygsmag van hom af te skud, kan notans nie anders om bewondering te wek nie. 

Dat hy dit nie reggekry het om met sy hele krygsmag na Bloemfontein of 'n gunstige verdedigingstelliing soos dié by Abrahamskraal te ontsnap nie, was slegs te wyte aan sy versuim van 'n paar dae tevore om te keer dat die kavallerie Kimberley bereik en ontset. Na die ontsetting van Kimberley het die kavalleriste naamlik onmiddellik op lord Roberts se bevel suidooswaarts geswai. Hulle het die hoogtes noord van die Modderrivier bereik toe Cronjé se waens ingespan gestaan het om by die Vandisiedrif oor die rivier te trek. Die eerste wat het Vandisiedrif juis genader toe die Britte, tot almal se verwondering, met kanonvuur reg in Cronjé se rug op die Boere losbrand. Pogins om hom terug te dryf, was tevergeefs. Hulle het die Boere op die noordelike oewer by die drif bly vashou totdat lord Roberts se hoofmag vanuit die weste opgedaag en die laer aan die suide-, ooste en westekant omsingel het.

Vir Cronjé het daar niks anders oorgely as om net waar  hy was, vas te skop en die Britse krygsmag (drie divisies voetvolk en 'n berede divisie) van sy lyf te hou totdat 'n toereikende burgermag kon opdaag om hom te ontset nie. Van dié taak het hy hy hom met eer gekwyt Toe die Britse strydkragte na 'n swaar bombardement sy burgers se stelling op die 18de bestorm met die doel om hom te oorrompel, het hy hulle so heftig vanuit sy stellings langs die rivieroewer laat beskiet, dat hulle sy stellings nie kon bereik nie. Hy is gesteun deur Chritiaan de Wet, wat met sy burgers op Oskoppies in die suide stelling ingeneem en van daar vuur op die troepe aan die suidelike rivieroewer onderhou het. Die gevolg van dié swaar weerstand was dat die vyand met 'n ontsaglike verlies van byna 1,300 man aan gesneuweldes en gewondes teruggedryf is tot buite trefaftand van die Boere se geweervuur. Lord Roberts het daarop verdere pogings van dié aard om Cronjé te oorrompel, laat vaar.

Roberts het hom vervolgens daarop toegelê om Cronjé se burgers deur afmatting tot oorgawe te dwing. Sy omsingelingslinie is nouer getrek en dag na dag is 'n geweldig swaar vuur op die burgers onderhou wat in loopgrawe, slote, gate en tonnels in die riviermoot skuiling geneem het. Cronjé se groot moeilikheid was dat hy en Christiaan de Wet, wat hom probeer losveg het, deur die modderrivier van mekaar geskei was. Die rivier het sterk afgekom ten gevolge van oorvloedige reëns en was volstrek ondeurwaadbaar. De Wet se pogings om aan die suidelike rivieroewer die vyand te verdryf, sou dus tevergeeefs wees, tensy Cronjé met sy leër deur die rivier kon kom.

Die nag van 24 Februarie het Danie Theron met die grootste moeite deur die digte, breë vyandelike omsingelingslinie gekruip om Cronjé aan te sê dat hy die rivier moes oorsteek en na De wet toe moes deurbreek. Dié sou sy terugtog probeer dek. Dit was 'n haas onmoontlike onderneming, maar Cronjé was gewillig om dit te waag. Die meeste van sy offisiere, gedemoraliseer deur die ellendige toestand waarin Cronjé na die weeklange Britse bombardement verkeer het, het egter geweier. Al hul perde was reeds afgemaai en die stank in Cronjé se posisies was ondraaglik. Cronjé, Theron en ander gewillige offisiere het die hele dag lank onder hulle en hul burgers rondgegaan om hulle to probeer beweeg om dit te doen - egter tevergeefs. Die meerderheid was so gedemoraliseer dat hulle nie meer omgegee het om in Britse hande te val nie. Sommige het selfs gedreig om hulle aan die vyand te gaan oorgee as Cronjé probeer uitbreek.

Ook aan dié dreigement het die eiesinnige ou generaal hom nie gesteur nie. Hy het die volgende dag met taaie volharding begin met die bou van 'n handbrug oor die vol rivier. Tente, stukke seil en selfs die bokke van waens is vir die doel gebruik, maar toe die vyand die gewerk aan die brug gewaar, het hulle dit beeïndig deur die brug met hul kanonne stukkend te skiet. 

Ondertussen het die vyand die Boerrestelling daagliks nouer ingesluit, sodat hulle die oggend van 27 Februarie 1900 slegs 'n paar honderd tree van die Boereposisie af was. Die posisie van die verdedigers was hopeloos. Vurige pleidooie van Cronjé by sy offisiere die aand tevore om minstens nog net tot die 27ste uit te hou en land en volk die vernedering van 'n oorgawe op Majubadag te bespaar, was tevergeefs. Die offisiere het eenparig verklaar dat as Cronjé die wit vlag nie die volgende oggend teen sonsopgang sou hys nie, hulle dit self sou doen, en hulle het hul dreigemente uitgevoer. Toe genl. Smith-Dorrien na 'n geveg van 'n kwartier lank op die 27ste 'n oproep op die burgers doen om hulle oor te gee, het die een na die ander 'n wit sakdoek in die lug gehys as teken van oorgawe en Cronjé daarmee gedwing om die wit vlag oor sy stelling te hys en die stryd gewonne te gee. Daarmee is sy loopbaan as aanvoerder beëindig. 

Die dapper wyse waarop Cronjé en sy burgers lord Roberts se oormag vir tien dae onder die allerongunstigste omsandighede weerstaan het, het die bewondering van vriend en vyand afgedwing. Lord Roberts se eerste woorde aan Cronjé toe laasgenoemde na hom gebring is, was: "You have made a gallant defence, sir." Ook de Wet het getuig dat die wêreld eerbied sou hê "voor den grooten generaal en zijjne dappere burgers."

Dat genl. Piet Cronjé 'n dapper krygsman was, 'n man van durf met 'n byna bomenslike uithoevermoë en daarby 'n vurige patriot, kan nie ontken word nie. Dit was hierdie eienskappe wat hom so gewild by die burgers gemaak het. Ten spyte van hierdie eienskappe wat van hom 'n uitmuntende kryger gemaa het, het die eienskappe wat 'n goeie aanvoerder kenmerk, almal by Cronjé ontbreek. Hy het nie oor die vermoë beskik om te ontleed wat die oogmerke van die vyand met hul onderskeie opersaies was nie en nog minder oor die talent om korrekte beplan hoe sy eie leër moes maneurvreer om die beplanning van die vyand te dwarsboom en die maksimum-sukses by Magersfontein het die wanopvatting by hom laat wortelskiet dat die vaynd slegs deur defensiewe optrede oorwin kon word. Die gevolg was dat hy die kanse wat hy gekry het om die vyandelike planne deur aanvallende optrede te dwarsboom almal deur sy vingers laat glip het. 

Daardie oorwinning het tewens die geloof by hom laat posvat dat hy 'n aanvoerder van besondere formaat was en dat ander aanvoerders hom niks kon leer nie. Gevolglik het hy liewer staatgemaak op wat hy homelf oor die Britse leër ingebeeld het - bv. dat dit nie vir 'n oomblik van die spoorweg kon afwyk nie, dat kavallerie geignoreer kon word, en so meer - as op die gesonde advies van offisiere soos die graaf Villebois de Mareuil en graaf Sternberg, wat gesaghebbend oor daardie leër kon praat. 

Na sy gevangeneming is Cronjé na die eiland St. Helena geneem, waar hy die res van die oorlog deurgebring het. Weens sy nederlaag by Paardeberg is hy na die oorlog egter grotendeels as 'n uitgeworpene behandel, en hy het sy brood selfs 'n tyd lank verdien deur op te tree in 'n Amerikaanse sirkus. Daar moes die eens trotse Boeregeneraal die Amerikaners wys hoe goed die Boere kon perdry en skiet. 

As eensame en verbitterde man het hy sy laaste asem of 4 Februarie 1911 uitgeblaas - verwerp deur die volk wat hy op sy eie hardkoppige manier, maar tog met soveel oorgawe, probeer dien het. 

M.C.E van Schoor

Beroemde Suid-Afrikaanse Krygsmanne

Rubicon Pers, Kaapstad

ISBN 0 947 00606 0