Afrikanerhart - Die Trekpad van 'n Nasie

Mejuffrou Gouvergeet


Evelyn was 'n klein woelwater soos 'n mens seker nie elke dag sal kry nie. Haar broer het gesê dat sy soos 'n springende kriekie is, want sy was gedurig met iets doenig: en haar Pappie het gesê dat sy soos 'n bos klappers was wat die een na die ander afgaan.

Maar Moeder het ook 'n naam vir haar gehad. Sy het gesê dat Evelyn se naam eintlik "Mejuffrou Gouvergeet" behoort te gewees het, omdat sy altyd vergeet het wanneer sy 'n werkie moes doen.

Byvoorbeeld het Moeder gesê: "Kyk Evelyn, wees nou 'n soet dogtertjie; moet nie alewig rondspring en tekeregaan nie; dit gee 'n mens hoofpyn." Dan was Evelyn so vir 'n rukkie stil, maar daar het nog skaars tien minute verbygegaan of die lawaai was weer aan die gang. Plof! plof! plof! het Evelyn se voete gegaan soos sy rongespring of gehardloop het.

Wanneer Moeder haar dan berispe en sê: "Maar Evelyn, het ek jou nie gesê om nie so te raas nie?" het Evelyn ewe verleë gesê: "Ek is jammer, Moeder, ek het vergeet." En dit het sy maar altyd gesê: "Ek is jammer, Moeder, ek het vergeet." Moeder kon eintlik nooit besluit of sy gestraf moes word of nie, want Evelyn se bedoeling was darem nie om moedswillig ongehoorsaam te wees nie - sy was maar net vergeetagtig, alhoewel dit op almal se senuwees gewerk het.

Eendag het Moeder vir Evelyn 'n skoon rokkie aangetrek, en ook 'n pragtige voorskootjie. Moeder het haar haartjies in die oulikste krulletjies gedraai, sodat Evelyn soos een van die blommetjies gelyk het. "Luister nou mooi," het Moeder gesê: "Wees soet en kyk hoe lank jy jou mooi skoon kan hou."

"Ja, Moeder," het Evelyn opgeruimd gesê. "Ek sal die hele dag skoon bly."

"Ek hoop so," het Moeder gesê, maar sy het gewonder.

Evelyn is 'n paar oomblikke later buitentoe en daar in die tuin het sy gesien dat haar broer die sproeier aangesit het om die grasperk nat te maak. Dit was 'n warm more, en dit het gevoel asof die son elke oomblik warmer geword het. Die water wat daar uitgespuit het, het vir haar so koel gelyk.

"Hoe aangenaam sal dit wees om die koel water op my handjies te voel," het Evelyn gemymer. Sy het toe nader gestaan en haar handjies uitgestrek sodat die water op hulle kon val. Hoe heerlik koel was dit! Sy het 'n bietjie nader gegaan sodat van die druppels ook op haar gesiggie kon val - net 'n paar druppels natuurlik.

Maar toe Evelyn haar kom kry, was sy besig om lekker daar rond te dans terwyl die water op haar gereent het. Eindelik was haar hare, voorskootjie, rokkie, skoene en kouse sopnat. 'n Paar minute later het sy iemand hoor skreeu. Dit was Moeder wat by die vensster uitgeleun het. Moeder kon haar oë byna nie glo nie.

Was dit Evelyn wat daar, sopnat, so onder die water heerlik rondgedans het op die grasperk? Is dit dieselfde dogtertjie wat netnou nog so mooi aangetrek was? Moeder kon dit skaars glo, maar dit was tog Evelyn.

"Evelyn!" het Moeder geroep, en haar stem het taamlik stroef geklink; "kom dadelik hier!"

Evelyn het gekom, en nou het sy nie meer gelag nie.

"Wat beteken dit, Evelyn?" het Moeder gevra. "Het jy  my  nie belowe dat jy jouself die hele dag sou skoonhou nie?"

"Ja, Moeder, maar ek het v-e-r-g-e-e-t."

"O, jy het weer vergeet, né?" het Moeder gesê. "Wel, dan sal ons 'n plan moet kry om jou te laat onthou."

Moeder het vir Evelyn na die badkamer geneem, en nie te lank nie of daar is snaakse geluide gehoor, en dit was sekerlik nie iemand wat gelag het nie.

Toe is Moeder se stem gehoor: "Jy gaan nou dadelik bed toe, Evelyn, en daar sal jy bly totdat jou klere en skoene weer droog is."

"Moet ek in die bed bly terwyl die son so heerlik daar buite skyn?" het Evelyn mistroostig gevra.

"Ja," het Moeder gesê, "jy moet daar bly totdat jou klere en jou skoene heeltemal droog is."

Hoe lank het daardie skoene tog nie geneem om droog te word nie! En terwyl Evelyn daar alleen in die kamer was, het sy oor en oor vir haarself gesê dat sy sal probeer om nie weer so gou te vergeet nie. 

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell