Liesbeth slaap uit

henriette grove

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

VERTELLERS
DEEL TWEE


DEUR MERWE SCHOLTZ

Dit was Corrie Booyens wat die ding begin het. Sy het met die rympie van die nagmaal af gekom: verlief, verloof, verlore!

Verlief, verloof, verlore, en dit was nog nie Dinsdag nie of die letter-uitkanselleerdery was dwarsdeur die skool, ook nie net by die groot meisies nie - hulle het die laaste boekoortreksel bekrap tot die meneer hulle belet het - maar selfs juffrou Smit se klelintjies het skuins strepe deur hul name en seuns s'n getrek.

Dit was Lettie Vermaak en Piet Gouws; Andriea Louw en Karel Lansberg. Speeltye het al wat 'n dogter was, na die doringsloot deuskant die skool gepyl. Daar was vroeër 'n pad en plek-plek was die blad nog so hard dat 'n mens maklik met 'n boomdoring daar kon skryf. Eers die name mooi onder mekaar. Nou die eerste letters doodkrap. Dan werk 'n mens uit: verlief, verloof, verlore. Kom dit so dat dit op 'n "verloof" uitkom, trek jy 'n hart met 'n pyl rondom die name En sê nou maar die eindwoord is "verlore", dan moet jy 'n doodskis ... Ag, maar niemand het dit ook geteken nie. Dit was te maklik om gou 'n handvol sand oor die geskryf te vee en 'n ander seun se naam onder joune te krap.

Dis hoe Corrie Booyens en Kotie Bronkhorst stry gekry het. Corrie het haar naam met Diek Brink s'n gekoppel en toe sê sy sy kry 'n hart op die end. Dit was nie waar nie; dit was "verlore", vir enigeen om te sien. Kotie en Diek s'n het reg uitgewerk, probeer maar self. En buitendien, Diek het nooit na Corrie gekyk nie, nooiot nie, al het hy naby haar gesit. Maar toe Kotie so vir Corrie wys, het dié geskreeu: "Ou jannetjie, ou jannetjie", en toe Kotie nog iets wou sê, klap sy haar reg deur die gesig.

Andriesa het Kotie se kant gekies, Tienie ook, maar die spul Grobbelaars het bankvas agter Corrie gestaan. Dit was 'n propperse bakleiery soos in g'n jare in Koedoeslaagte se skool nie. En as Meneer nie tussenbeide gekom het nie, weet ek nie waar dit sou geëindig het nie. Hy het die ding net daar gesmoor, morsdood. En toe was dit ook tap-toe met die naamkanselleerdery. Hy wou dit nooit weer sien op die terrein nie: "Verstaan goed, nooit weer nie." En die dogter wat hy van! "Sies, so vroegryp!"

Die meisies was eers vreeslik kwaad vir corrie, maar toe bring Miems Klopper die Vrydag haar klein kewpie skool toe met 'n hele stel kleertjies, En toe wou almal weer mal word oor popgoed maak.

Liesbeth Basson - sy was die meneer se kind - het ook by h aar ma aangehou oor 'n kewpie en toe haar pa op Mooihoogte gaan pos haal, het hy vir haar enetjie saamgebring.

Liesbeth het een hele middag gesit met die kleertjies; sy was nogal oulilk met 'n naald, maar so teen vyfuur het sy haar werk gebêre en toe loop sy na die skool se kant toe. Sy het eers met haar bal op die sementblokke van die stoep gespeel: ho-hop-hop ... rus. Dan 'n blok oorslaan, dan oorkruis. Maar baie lekker was dit ook nie. So alleen kon 'n mens te maklik kul. Toe loop sy na die ou pad toe tussen die bome.

Sy het om haar gekyk. Die bloekombome se skaduwees het al tot by die windpomp gelê. En as sy haar hand voor haar oë hou, kon sy nog net die Rousseaus se ver skuur uitmaak. Nee, haar pa was nêrens op die skoolwerf nie. Sy gaan hurk by 'n harde kol en teken sommer met die duimnael: allerhande slange en kruise en strepe. Toe kyk sy op na die bome om haar. Die son het die onderste blare gevang en die goudgeel klossies. Dit was baie stil daar in die doringplaat en sy druk haar nael diep in die sand: Elizabeth Erna Basson, skryf sy in drukletters, en daaronder: Diederik Gerhardus Brink.

Sy kyk 'n tyd na die letters. Toe begin sy verskriklik haastig kanselleer: die e's, die a's. In Diek s'n alleen was 'n u. Haar hande bewe, Verlief, verloor, verlore. As dit op 'n kis sou uitkom, soos Corrie s'n! Sy buk nog laer.

Hy het skuins voor haar gesit in die klas. Hy was eintlik in standerd vyf, een klas voor haar, maar vir die Geskiedenis en Aardrykskunde was hulle saam. Dan was dit òf hy òf sy wat altyd geantwoord het, net partykeer Kotie ook. Eendag het hy haar gepootjie to sy langs sy bank verbyloop. Verloof! Liesbeth lag. Sy teken 'n hart, 'n mooi gekrulde hart. Dit was sommer 'n propperse pootjie. Al die ander meisies kon dit sien. En toe krap sy die pyl dwarsdeur die name. Sy kyk lank daarna. Toe gaan haal sy van die fyn grond onder die doringbome. Daar was blare en baie fyn saadjies in. Haar ma het dit altyd gebruik vir die varings vir die groei. Sy strooi dit ook die geskryf. Dit was baie lig, en as 'n mens dit wegblaas, kon jy weer die groot hart sien.

Die volgende middag toe sy gaan kyk, was dit nog daar. Sy het dit net weer 'n bietjie duideliker getrek, maar daardie selfde nag het dit gereën. Sy het vroeg, nog lank voor dit tyd was, opgestaan en daarheen gehardloop. Maar die los sand was oral op die harde blad in walle gespoel, so hard was die reën, en die geskryf was weg.

Sy sluk twee keer vinnig. Toe vee sy haar hand driftig oor haar mond. Diek het haar tog gepootjie. Hy het, hy het! En as 'n seun 'n meisie pootjie?

Verlief! Dit was 'n snaakse woord - verlief, lief, liefde! In Duits was dit Liebe. Sy het goed geweet, want dit het op die prent in haar kamer gestaan: Glaube, Liebe, Hoffnung - in sulke snaakse, hoekige letters. Die Glaube en die Hoffnung was kleiner. Maar die Liebe, so mooi! 'n Mens kon sommer weet dis die beste. Dit het ook reg onder die engel met die harp gestaan. Bokant die ander twee was ook engele, maar hulle het net gesing. Die middelste een het die harp gehad, 'n regte hemelse een, sodat sy kon speel en speel van die liefde: Eilannah, I love thee truly, I love thee ... ee! Liesbeth se stem gaan skril in die hoogte in: I love thee ... eee!

Toe word sy ineens bloed-bloedrooi en hardloop so vinnig as sy kon terug na waar haar ma-hulle al besig was om te eet.

In hulle huis - dit was die skool s'n - was net twee slaapkamers. Haar ma en pa het in die grote geslaap, dié met die twee vensters. Hare was die stoep-een. Haar kamer was baie mooi. Op die bed was 'n sprei met 'n wydgepofde val en al haar meubels was blou geverf. Dan was daar natuurlik nog die prent van die drie engele met die harp. Dit was regter 'n besondere prent, want die engele het so half uit die prent uitgekom, nes hulle van versiersuiker gemaak was en hulle hare was regte hare.

Altyd as daar van haar pa se skoolkinders saam met haar na haar kamer toe gekom het, het hulle lank na die prent gekyk. Partykeer h et hulle op 'n stoel geklim om aan die regte menshare te vat. So iets het Koedoeslaagte se kinders nie geken nie.

"Dis om jou ma Duits is, Liesbeth," het Kotie Bronkhorst een speeltyd gesê nadat sy weer met haar vinger oor die engele gestryk het, "dis dié."

"Is nie!" Liesbeth het rooi geword. Sy het maklik rooi geword, want haar vel was so wit.

"Is!" en Kotie spring van die stoel af. "Kyk jou hare en jou inrygvoorskoot en daardie kantvalletjies en jou kamer - nes 'n voorhuis. En die engele." Sy trek ineens haar neus op: "Ons het ook 'n prent."

"Ek weet," raai Liesbeth, "Bloedrivier."

"Verkeerd," jou Kotie terug, "dis van twee hande wat mekaar vashou."

"Net so die hande?" Liesbeth lag, "dis soos in 'n spookstorie."

"Die een is 'n meisieshand," verweer Kotie haarself driftig, "en die ander 'n man s'n. Hulle hou mekaar styf vas."

Liesbeth voel hoe die rooi opgaan in haar gesig: "Regtig, Kotie?"

"En weet jy wat is daaronder geskryf?"

"Nee," sluk Liesbeth.

"Trou tot in ewigheid!"

"Trou tot in ewigheid?"

"Hoe's dit vir jou?" Kotie gooi haar vlegsels agteroor.

Liesbeth kyk na die middelste engel. Sy sien kompleet hoe die wit hand die snare vat. Dit tril en skiet dan weg: Eilannah, my true, true love ... Nes Bill Richards s'n as hy die Hawaiïese kitaar speel. 'n Mens se kop word so lig daarvan. Eilannah, van nou af tot in ewigheid. Twee hande. "Kan ek kom kyk?" vra sy dan.

"Jou ma sal nooit nie."

"Sy sal," antwoord Liesbeth, "sy sal, sy sal."

"Vir wat gaan jy so te kere? Vra is vry en weier ook. Kom, ons gaan hoor."

Amalia Basson was nie een vir die uitslapery nie. 'n Mens het tog 'n eie huis en jou eie kamer. Maar die kind het so aangehou. Sy het byna gehuil en dit net om na die Bronkhorste toe te gaan. Toe het sy maar haar klere bymekaar gepak en die middag toe die donkiekarre om die draai verdwyn, was Liesbeth op die agterste bankie van die Bronkhorste s'n.

Sy het vir haar ma gewaai, lank gewaai tot Kotie sê: "Sy sien jou tog nie meer nie." Toe draai sy om en kyk vorentoe.

Hulle was nou by die steil bult. Die donkies het stadiger begin draf. Jan Botha - hy het Kotie-hulle se kar gedryf - het opgestaan ind ie bak. "Hier, Manel," skree hy en lê lat in op die traag bewegende agterstelle. "Julle bokkers." 

Met dié ruk die kar vorentoe sodat Liesbeth met albei hande moet klou. "Jan, jou duiwel," skree Kotie, "as my ma jou moet hoor..." Maar sy lag. Hulle lag almal, Liesbeth so veel dat sy naderhand hik en toe sy en Kotie by die laaste steil entjie moet afklim om die donkies kans te gee, kon sy nog byna nie loop van die lag nie.

Kotie trek haar aan die arm: "Komaan jong, ek is honger."

Liesbeth voel nou ook dun: "My ma-hulle eet vandag Berliner-bolle."

"Wat se goed?"

Liesbeth bloos: "Sulke bruin bolle wat in olie gebak word."

"Hm, Duitse kos," en Kotie trek haar neus op.

"Dis bai, baie lekker. Daar kom suiker op en pypkaneel. My pa sê dis die lekkerste kos wat hy ken."

"Duitse kos," koggel Kotie, "Duitse kos." Toe skop sy 'n klip uit die pad: "Is jou pa lief vir jou ma?"

Liesbeth staan stil: "Hulle is dan getroud."

"Dit weet elke swaap. Maar hou hy van haar?" Kotie se gesig is baie naby Liesbeth s'n. Sy kan haar hoor asemhaal.

Liesbeth dink 'n bietjie: "Hy noem haar Lilebchen en hy hou haar hand vas en hy vryf haar hare deurmekaar. Ek weet nie." Ineens sien sy die middelste engel so duidelik, so duidelik.

Kotie snork: "Sulke lawwigheid." Sy gooi haar boeksak dat hy so trek deur die lug. "Ag, maak ook nie saak nie."

Toe was  hulle by die kar. Hulle klim in. Nou sit hulle met hul bene onder deur die rugleuning sodat hulle agtertoe kyk, af op Koedoeslaagte onder hulle. 'n Rokie hang bokant die skoolhuis maar die huis self is toe tussen die bloekombome. Hoe klein lyk die werf, en so ver! Daar was die windpomp in die doringplaat.

Dit was so 'n mooi hart. As die reën nie gekom het nie. Verlief, verloof. Die karretjie skud heen en weer, heen en weer. Ver teen die blou lug hardloop jjakkalsies, al saam met die rondte, al saam.

"Wa!" en Kotie klap haar hande by Liesbeth se oor.

"Donnerwetter!" sonder om te dink en toe klap sy haar hand voor haar mond. "O," en sy voel hoe die rooi opgaan.

"Jy moet g'n vir my op Duits vloek nie," waarsku Kotie, maar sy skud soos sy lag. Jan Botha lag ook. Die leisels hang nou slap. Die donkies draf vinnig die hoogtetjie af.

"Sê vir Arend Höll sy ... sy ... sy." Kotie bly veelseggend stil, "sy, sonder die deelteken."

Jan proeslag: "Moet ek regtig?" Hy knipoog vir Liesbeth, maar sy draai haar kop weg. "Stiekop!" sê hy vererg en hy raps die linkerdonkie, "dink mos sy is die enigste een wat asemhaal."

Liesbeth sluk, maar dis Kotie wat antwoord: "Skei uit, Botha."

"Vir wat? Net om haar ma 'n Duitser is. Hulle dink mos ons ander het pes. Toe, miss Bronkhors, sê my hoekom plant hulle daardie spul bome om die skoolwerf, dwarson. Dis die Duitser se werk."

"Dis vir die wind," verdedig Liesbeth.

"Wind, ba!" Jan snork. "Net 'n Duitser is so dom. Die wind sny amelewe oor die bult nes die snylem van 'n oesmasjien. Hom uithou! Gaan vertel dit vir jou grootjie. En die bessies dat so danig! Ek sê vir jou dis net daar geplant om nie die opstalle in die leegte te sien nie. Dis om jou ma geen truk met die ander mense wil hê nie." Hy plek sy hoed in sy oë en trek sy skouers krom.

"My ma het die bessies geplant om haar bolle te beskerm, duur bolle wat sy van Gross ... van my ouma af gebring het. So whê."

Maar Jan kyk net voor hom: Ek hoor niks, niks. Kamstig 'n dennekrans bokant die deur met Kersfees en drie kerse, nes die nonnas."

"Dis adventkerse!" Liesbeth skreeu dit uit. "Hoor jy? Advent, advent!"

"Advent se end." Hy pluk die leisels op sodat die donkies se koppe in die lug ruk. "Vat, Kotie, hier klim ek af."

Korie klim oor vorentoe. Hy spring en skep sy hoed met 'n swierige swaai af. "Tot siens, mam se kindjie!" roep hy vir oulaas.

"Mistvieh," skreeu Liesbeth, "Mistvieh!"

"Onthou net ou Dick hou nie van babas wat nog in die luiers lê nie. Hy lief sterker kos," en hy spoeg 'n straal oor die ploegwiel van die kar.

Liesbeth kyk na haar maat toe hulle wegtrek: "Wat bedoel hy, Kotie?" Haar stem bewe, "wat het dit met Dick te doen?"

"Shit," sê Kotie, "donkieshit." Sy kap die boud van Manel met haar haksteen oor die dwarsplank. Die twee diere trek lui vorentoe. Toe stut sy haar elmboë op haar knieë en laat haar ken in haar palms rus. Die leisels hang slap om haar een pinkie gehaak: "Lief jy vir Dick, Lilesbeth?"

"Ek haat hom."

"Gerda en Corrie en Amy is almal danig oor hom."

Liesbeth knoop en strik, knoop en strik die inrygbande van haar voorskootrok: "Hy't g'n maniere nie; pootjie 'n mens sommer."

"Aag, dit?" Kotie gee 'n linkerse pluk aan die leisels sodat die donkies uit die grootpad in 'n maersandslootpad indraai. Hulle ry nou tussen die mielies deur. As 'n mens jou hand uitsteek, kan jy byna aan die saadkoppe vat. Die sand kraak onder die wiele en die son is reg op hulle nekke. Liesbeth voel hoe die sweetdruppeltjies onder haar kraag inrol.

"Lief jy vir Dick, Kotie?" Liesbeth hoor byna self nie wat sy sê nie.

"Ons name het op 'n hart uitgekom," antwoord Kotie kortaf.

Liesbeth skuif 'n bietjie weg en hou haar nek toe met die een hand.

"Mag, maar daardie Booyens-meisiekind is darem orig," begin Kotie weer, "as hy net by haar verbyloop, maak sy of hy al klaar geprop het. Hy sal tog na haar kyk met sy pa skoolraadslid en al. Miskien vir een aand."

"Hoekom  net vir vir een aand?" Liesbeth kom weer nader.

"Sommer, sy is daardie soort."

Liesbeth was nog nie tevrede nie: "Wat se soort?"

Kotie kyk skuins: "Mamma se ou ooilammetjie, mamma se hanslam." En dan sommer so dwars-anderster: "Het jy al vir Dick op 'n perd gesien?"

Liesbeth skud haar kop.

"Skote," sê Kotie, "skote. 'n Duiwel is 'n mooi een, sonder saal, net met 'n toom. Dis al, en dan is dit een van daardie befoeterde swart merries. Kap, steier! Boetjie, maar hy sit, soos 'n neet. Dan speel daardie merrie darem met haar kop. Storm, vassteek. Ag, vadertjie tog!"

"Waar was dit, Kotie?"

"B y die boeresport. Julle kom  mos nie daar nie." Sy bly skielik stil en kyk lank na Liesbeth. "Dis jou ma; sy hou nie daarvan nie."

Liesbeth antwoord nie.

"Bang vir piep." Kotie se oë trek nou. "Piep. Maar sy kan maar kom. Dis lekker daar, die heeldat sport en resies hardloop, en koek en koeldrank, en die aand dans die grootmense saam op ou Bill Richards se konsertina tot rooiword noe: Jippie jou, Siena, ek is lief vir jou; Siena, ek is lief vir jou. Here, jy moes vir ou Jors Bouwer gesien het met sy groot maag, en dan klouo hy vir Hester Rens so styf vas. Ek en Diek het ons slap gelag. Die twee skud-skud so al aan op die wyse van 'Malie my hartlam', en as hy eers sy een wang teen hare druk..."

"My maag voel snaaks!" Liesbeth hou haar mond toe.

Kotie druk haar kop hard af tussen haar knieë: "Sit so. Nog. So ja. Dis die son. Voel jy nou beter? Nee jong, as daar weer sports is, moet jy jou ma vra, dan kom julle ook. Dis 'n groot grap."

"Het jou ma ook gedans?"

"Nee."

"En jou pa?"

Kotie antwoord nie.

"Hê, Kotie, jou pa het seker?"

"Hoekom sê jy so?" Nou was dit Kotie wat bloedrooi word.

"Sommer."

"Wat my pa doen, is sy saak. Skei uit met die gevraery." Sy bly stil en ná 'n tyd sê sy vriendeliker: "Jy weet mos wat met nuuskierig gebeur het."

Liesbeth bloos. Sy kyk stip voor haar in die pad. "Daar is 'n hek," sê sy.

"Dis ons grenshek." 

"Daar kom iemand. Sien jy, sy maak oop?"

Kotie kyk op. Toe gryp sy die sweep en begin die donkies ongenadiglik slaan sodat hulle verward begin galop. Die karretjie swaai van die een kant na die ander.

"Oppas, Kotie," roep Liesbeth bang, maar haar maat staan nou regop in die bak. Die ploegwiele draai skaars, word sommer so saamgesleep in die sand. Die stof damp op. Kotie slaan sonder ophou. Hulle donder deur die hek.

"Hou jou gehekoopmakery vir jouself," skreeu Kotie in die deurjaag. "Niemand het jou iets gevra nie."

Liesbeth waag dit om haar kop effens te draai, maar haar hande kramp nog om die leuningbalk. Dit was 'n meisie wat langs die hek gestaan het. Sy het gelag, oopmond gelag met 'n stel spierwit tande Ineens het Lilesbeth haar onthou.  "Dis Johanna Bamm," sê sy en draai na Kotie toe, "Johanna wat voorverlede jaar in standerd ses was."

Maar Kotie lê net meer vorentoe. "Manel," skreeu sy, "jou helsem, ek slaan jou nog dood, vrek, vrek." Sy huis byna. "Slegte optelmerrie."

"Kotie," Liesbeth soebat nou. "Kotie, Kotie!" Maar dit was eers toe hulle by die Bronkhorste se dam verbyry dat Kotie begin bedaar het. Sy het op die bank gaan sit. Haar asem het nog gejaag, al was sy nie meer so rooi nie. Maar sy het nie 'n woord gepraat voor hulle van die kar af was nie en binne-in die kombuis nie.

Sy het nie eers haar ma gegroet nie, sommer weggeval met: "As daardie Johanna Bamm weer vir my die hek oopmaak, maak ek haar sowaar dood."

Die vrou by die stoof draai om. Haar hande was vol stronke. "Was sy dan weer daar?"

"Sy soek my. Sy soek my." Kotie gooi haar boeksak op die vloer en toe sak sy met haar kop op die tafel. Sy begin onbedaarlik huil.

Liesbeth het net so in die deur bly staan. Sy kyk na die meisie en haar skouers wat aanamekaar ruk, toe na die vrou by die stoof. Die voorste gat was nog oop en die stronke het swart gerook. Sy skuif 'n groot waterketel op. Daarna steek sy die pook deur die rooster en roer die gloeiende kole deurmekaar. Die stronke smeul, smeul en vat dan vlam. Toe kom sy regop: "Skaam jou, Kotie, skaam jou. En dit voor die vreemde kind."

Kotie lig haar kop op: "Dis Pa se skuld. As hy nie... Sowaar, as..."

"Sal jy stilbly!" Mieta Bronkhorst praat met Kotie, maar sy kyk na Liesbeth. "Wie is die kind?"

Kotie spring op: "Dis Liesbeth, Meneer s'n. Sy slaap vanaand by ons. Sy het die prent van die hande kom kyk. Ek het haar daarvan vertel. Ma weet nos? Die een in die vrykamer."

"Ja," sê die vrou, "ek weet." En toe maak sy haar hande skoon aan haar voorskoot. "Dag, Liesbeth, jy is seker honger?"

Liesbeth neem die vrou se hand. Sy knikbuig beleefd.

Die vrou glimlag, maar Kotie kraai dit uit: "Ou knikkertjie, ou knikkertjie. Doen jy dit so, Liesbeth?" En sy maak die buiging na.

Die kind bloos en Kotie gaan aan: "Weet Ma, dis die eerste keer dat sy van die huis af slaap, die heel eerste keer."

"Toe nou, Kotie," en die vrou haal 'n bak kos uit die kas uit. "Eet nou eers."

Daar was brood en koue vleis en pampoen. Die Bronkhorste het in die aand warm geëet. Liesbeth het van die brood en vleis geneem; Kotie het vir haarself pampoen ingeskep. Sy het daar suiker oorgestrooi, toe pypkaneel. Toe maak sy dit in  ronde balleltjies met haar vurk. "Berliner," sê sy, "of hoe sê jy nou weer?"

Liesbeth neem 'n happie brood. "Berliner," sê sy, "Berliner Pfannkuchen." Maar toe kon sy ineens nie sluk nie. Dit was of die kos vassit; sy het so vreeslik verlang na haar ma en na hulle huis. altyd as haar ma bolle gebak het, was daar 'n olile- en pypkaneelruik in die huis. Sy stoot haar bord weg: "Ek het genoeg geëet."

Kotie neem 'n pampoenbal op haar vurk: "My ma sê ons kan vanaand in die vrykamer slaap."

"By die prent?"

"Ja," en sy sluk. "Ma sê dis oor jy Meneer se kind is."

"Ek is bly, bly. Kom ons gaan kyk nou."

Kotie kou, haar mond is vol pampoen. "Daar langs die voorhuis." Sy beduie met haar vurk. "Loop jy solank."

Liesbeth tel haar tassie op. Sy kyk na Kotie en dan na die voorhuis se deur. Toe begin sy loop, voetjie vir voetjie.

"Skud op," roep Kotie met 'n vol mond, "jy loop soos 'n kakkerlak op 'n warm stoof. Dis daar deur, ja, man, ons byt mos nie."

Liesbet stoot die deur oop. dis heeltemal donker binne en as sy ingaan, moet sy voel-voel met haar hande. Iets is glad en koud, met 'n skerp rand. Dis 'n wastafel. Dan vat sy oor die rondheid van die lampetbeker. Sy ruik die ou water daarin. sy ruk terug en stamp haar elmboog teen die bedstyl. "Eina!" kerm sy en vryf die seerplek. Haar oë word vol trane. Hulle loop oor haar wange. Sy knip-knip haar oë, maar hulle word al meer.

"Wat's dit met jou?"

Liesbet skrik vir Kotie so naby haar.

"Hoekom maak jy nie lig nie?" sê die ouer kind weer en skuif die gordyne oop. "Haai, ou tjankbalie, verlang jy al?"

"Nee, sê Liesbeth, "ek het my elmboog gestamp." Sy vryf die plek.

"Daar's die prent, bokant die bed. Sien jy?"

Eers toe onthou Liesbeth dit. Die prent, ja. Sy sluk nog om die knop uit haar keel te kry. Toe tel sy haar kop op. "Dis baie mooi," sê sy sag en sy vou haar hande.

"Gaan nader." Kotie stoot haar aan. "Sien jy daardie een is die vrou s'n, die een met die ring. Smaart, hê?"

Nou klim Liesbeth met haar knieë op die bed. sy hou met die een hand aan die styl vas. Met die wysvinger van die ander hand trek sy die letters oor: Trou tot in ewigheid.

"Sien jy nou?" vra Kotie trots.

"Ja, sê Liesbeth, "ja." Sy spring ineens van die bed af. "Kom ons gaan speel." Sy was bly, opgewonde. Sy trek Kotie aan die arm: "Kom, resies tot by die dam."

"Nou toe nou." Kotie trek haar voorkop op 'n plooi. "Wat het jou nou gebyt?" Maar sy pyl tog deur die kombuisdeur: "Resies, resies!"

Hulle val in 'n hoop in die sagte damkweek neer. Hulle rol heen en weer. Die gras kielie hulle gesigte sodat hulle skater van die lag. Op die water swem 'n eend. Hy lig sy kop op om na die kinders te kyk. Kwaak, sê hy, kwaak, en swem vinnig weg sodat sy streep blink agter hom lê.

'n Wilger hang met slap takke oor die water. Lliesbeth spring op. Sy trek die tak laer en pluk 'n paar latte af. Toe vleg sy vinnig 'n krans soos haar ma haar geleer het.

"Wat is dit?" wil Kotie weet.

"'n Maikränzchen." Nou pluk sy geel mosterblommetjies by die uitloop en steek hulle tussen die blare in. Toe sit sy dit op haar kop. "Der Mai ist gekommen," sing sy hoog, skerp.

"Bruilof," skreeu Kotie, "kom ons speel bruilof." Sy ruk die kransie van Liesbeth se kop af en sit dit op die kweek neer. "Wag hier," beveel sy, "ek gaan klere haal. Jy kan die bruid wees."

Liesbeth maak intussen haar vlegsels los. Toe Kotie terugkom, help sy haar om die doek te vou. Hulle speld dit om haar kop. toe sit hulle die kransie op.

"Loop nou," sê Kotie.

Liesbeth gee 'n paar treetjies.

"Hou jou sleep vas, man," raas haar maat," dit word vol stof." Met dié vat sy die punte bymekaar en stop dit in Liesbeth se hand. Toe beskou sy haar met die kop skuins eenkant toe. "Jou boekei," sê sy weer en sy spring teen die wal af. Sy nael stoep toe na waar 'n katjiepiering in 'n blik blom. Sy pluk drie knoppe en een wat al aan die oopgaan was.

Toe Liesbeth dit neem, druk sy die blomme teen haar neus. Dis heerlik soet.

"Nou vir my," sê Kotie tevrede. Sy bine haar hare styf agter haar kop vas. "Is dit reg so?" vra sy.

Liesbeth knik.

"Nou nog Pa se baadjie." En toe Kotie dit aan het, haak sy by Liesbeth in. "By die wilgerboom is die kansel."

Hulle begin stadig aanstap.

"Here comes the bride, all fat and wide," sing Kotie.

"Nee!" Liesbeth ruk vererg los.

"Oraait," en Kotie neem haar weer aan die arm.

By die wilgerboom gaan hulle staan, Liesbeth dood-doodstil. Kotie loop 'n draai en klim op 'n klip: "Geliefde gemeente..."


Nou klim Liesbeth met haar knieë op die bed. sy hou met die een hand aan die styl vas. Met die wysvinger van die ander hand trek sy die letters oor: Trou tot in ewigheid.

"Sien jy nou?" vra Kotie trots.

"Ja, sê Liesbeth, "ja." Sy spring ineens van die bed af. "Kom ons gaan speel." Sy was bly, opgewonde. Sy trek Kotie aan die arm: "Kom, resies tot by die dam."

"Nou toe nou." Kotie trek haar voorkop op 'n plooi. "Wat het jou nou gebyt?" Maar sy pyl tog deur die kombuisdeur: "Resies, resies!"

Hulle val in 'n hoop in die sagte damkweek neer. Hulle rol heen en weer. Die gras kielie hulle gesigte sodat hulle skater van die lag. Op die water swem 'n eend. Hy lig sy kop op om na die kinders te kyk. Kwaak, sê hy, kwaak, en swem vinnig weg sodat sy streep blink agter hom lê.

'n Wilger hang met slap takke oor die water. Lliesbeth spring op. Sy trek die tak laer en pluk 'n paar latte af. Toe vleg sy vinnig 'n krans soos haar ma haar geleer het.

"Wat is dit?" wil Kotie weet.

"'n Maikränzchen." Nou pluk sy geel mosterblommetjies by die uitloop en steek hulle tussen die blare in. Toe sit sy dit op haar kop. "Der Mai ist gekommen," sing sy hoog, skerp.

"Bruilof," skreeu Kotie, "kom ons speel bruilof." Sy ruk die kransie van Liesbeth se kop af en sit dit op die kweek neer. "Wag hier," beveel sy, "ek gaan klere haal. Jy kan die bruid wees."

Liesbeth maak intussen haar vlegsels los. Toe Kotie terugkom, help sy haar om die doek te vou. Hulle speld dit om haar kop. toe sit hulle die kransie op.

"Loop nou," sê Kotie.

Liesbeth gee 'n paar treetjies.

"Hou jou sleep vas, man," raas haar maat," dit word vol stof." Met dié vat sy die punte bymekaar en stop dit in Liesbeth se hand. Toe beskou sy haar met die kop skuins eenkant toe. "Jou boekei," sê sy weer en sy spring teen die wal af. Sy nael stoep toe na waar 'n katjiepiering in 'n blik blom. Sy pluk drie knoppe en een wat al aan die oopgaan was.

Toe Liesbeth dit neem, druk sy die blomme teen haar neus. Dis heerlik soet.

"Nou vir my," sê Kotie tevrede. Sy bind haar hare styf agter haar kop vas. "Is dit reg so?" vra sy.

Liesbeth knik.

"Nou nog Pa se baadjie." En toe Kotie dit aan het, haak sy by Liesbeth in. "By die wilgerboom is die kansel."

Hulle begin stadig aanstap.

"Here comes the bride, all fat and wide," sing Kotie.

"Nee!" Liesbeth ruk vererg los.

"Oraait," en Kotie neem haar weer aan die arm.

By die wilgerboom gaan hulle staan, Liesbeth dood-doodstil. Kotie loop 'n draai en klim op 'n klip: "Geliefde gemeente..."

Liesbeth kyk na die katjiepierings in haar hand. Die blaartjies is stokstyf en pragtig wit. Dis soos namaakwasblomme, so mooi. As 'n mens 'n hele so 'n ruiker kon hê, 'n regte bruilof-een. Eilannah, I love thee.

Sy skrik op toe Kotie 'n klippie teen haar skoen gooi met 'n "Haai, let op." Sy word rooi.

"Ek kom nou by: 'Gee mekaar die regterhand'."

Kotie kom staan weer langs Liesbeth: "Gee mekaar die regterhand." Sy buk skielik en pluk 'n biesie uit wat by hulle voete groei. Sy maak ' n lis, trek die knoop styf en byt die twee punte af. Liesbeth steek khaar hand uit en Kotie stoot die ring oor haar vierde vinger. Toe hou hulle mekaar se hande vas.

"Dats Heeren zegen op u daal."

Liesbeth se hand is wit en fyn met die kantvalletjie van haar bloes daarom. Kotie s'n is bruin en sterk, byna soos 'n seun s'n. Sy kyk na Kotie. "Nes die prent," fluister sy, "trou tot in ewigheid."

"Ja, knik Kotie. Hulle roer byna nie.

Toe ineens ruk Kotie haar hand weg en sy pluk die baadjie uit: "Dit ruik na pyp en twak. Ga, ga!" Sy gooi  hom eenkant en met dié gryp sy die katjiepierings by Liesbeth. "Ga," skreeu sy. Sy ruk die blaartjies woes uit en vertrap dit onder haar voete. Toe trek sy die kransie van Liesbeth se kop af en gooi dit in die water.

Liesbeth se onderlip begin bewe. "Kotie," sê sy bang.

Maar die meisie staan doodstil na die water en kyk. Die eend swem in 'n wye kring om die kransie en pluim sy nekvere. Dan duik hy weg; die krulstertjie wikkel bokant die water. Hy trap met sy pote. As hy weer uitkom, pyl hy op die kransie af. Hy stoot daaraan met sy geel snawel en pluk dit heen en weer Kwaak, kwaak. Die krans gly om sy nek. Hy skud sy kop ergerlik - skud, skud.

"Ha," skree Kotie, "ha, hier kom die bruid. O, ek sterf van die lag," en sy rol langs die damwal af, af tot in die duik met die biesies. Sy steek 'n stengel in haar mond en n á sy dit fyn gekou  het, spoeg sy die groen slymsel in 'n boog uit. "Ek gaan nie eendag trou nie, Liesbeth."

Nou eers waag die ander kind dit om nader te kom. Sy gaan sit styf en regop en trek haar rompie reg. "Dan gaan jy soos Minna Gouws word," sê sy koel, "dan moet jy jou suster se kinders oppas en ou klere dra, en dan bid jy ook so vreeslik lank by die biduur."

Kotie snork: "Nie ek nie, boeta."

Liesbeth trek haar voorkop op 'n plooi: "Hoekom bid sy so lank, Kotie, en steun sy so en gaan haar stem so op? Weet jy,  tant Hester Douw moes haar nek natmaak met laventel voor sy wou amen sê."

Kotie se lip krul o m: "Dis om sy nooit 'n man kon kry nie."

Liesbeth skuif weg. "Is nie," sê sy met weersin. "Oom Maans sê sy stry, dis dié."

"Stry se voet. Ou mister beterweter. Dan het hy nog nooit 'n uitgehongerde teefbrak dopgehou nie."

"Wat?"

"Ag, jy weet ook niks. Komaan."

Maar Liesbeth sit doodstil, of sy diep dink. Dan praat sy: "Ek gaan eendag trou."

"Met wie nogal?"

Liesbeth bloos.

"Hê, Liesbeth?"

Liesbeth rol nou om op haar rug. Sy kyk op in die lug. "Die wolke lyk soos uitgepluisde kapok," sê sy dromerig. "Kyk daar, soos 'n kasteel, so duidelik met die torinkies."

"Waar?" Kotie skuif aan tot sy langs haar lê.

Liesbeth wys  met haar vinger: "En daar is haar kamer, die prinses s'n. Net bokant die water. Sien jy die stuk diepblou, dis die water."

"Ja," antwoord Kotie, "ek sien."

"Dis 'n sloot, 'n diepe, want die prinses is daar opgesluit."

"Wie't haar opgesluit?"

Liesbeth maak haar oë op 'n skrefie sodat die kasteel en die diep grag nader kom. 'n Wit wolkie dryf verby. Sy sit ineens regop. "Die prins, Kotie," juig sy, :"kyk in 'n bootjie. Hy kom haar red. Sy gaan saam met hom. Daar is sy land, daar by die baie wolke. Daar gaan hulle vir ewig bly, vir ewig en altyd."

"Ek sien niks," kla Kotie. "Waar is die prins?"

Liesbeth staan op: "Daar, man, by die rots se punt."

Kotie kyk oor haar skouer, maar 'n laatmiddagwind kom op oor die mielieland. Dit riffel die water van die dam en die kasteel en die grag en die droombootjie pluis uitmekaar.

"Sien jy," sê Kotie.

"Ek gaan trou," antwoord Liesbeth beslis, "en ek gaan vir altyd en altyd gelukkig wees."

Kotie se lip krul om: "As jy net weet..." Maar toe begin sy ineens huil. Sy druk haar kop in die gras.

"Wat is dit, Kotie?"

"Los my uit," sê die meisie tussen die huil deur, "los my uit."

Om sewe-uur het hulle geëet. Dit was weer net die vrou en die twee kinders. Kotie het 'n tafeldoek oor die onderste helfte van die tafel gegooi. toe sit sy 'n halwe kers op 'n blaker in die middel neer. Liesbeth kom staan by haar en kyk na die uitgeskropte helfte van die tafelblad en die halfdonker kamer om haar. Dit was nou groter as voorheen. Sy skuif nader na die stoof se kant toe waar die vrou besig was om op te skep. Dis stowevleis en die stukkies dryf so tussen die donkerbruin sous. Nadat sy vier borde op die tafel neergesit het, sê sy: "Kotie, gaan roep jou pa."

Die meisie maak die bodeur oop en leun  uit. "Eet," roep sy skerp, "kom eet."

Liesbeth loop tot by haar en kyk ook uit. Dis feitlik donker. "Pa," skree Kotie so hard as sy kan, "Pa!" Maar daar kom geen antwoord nie en haar stem raak sommer so weg in die aand.

"Hou jou mond," vererg die vrou haar. "Jy hoor mos hy's nie hier nie." Sy neem die bord met die meeste kos daarop terug stoof toe en sit dit bo-op 'n kastrol met warm water Toe k om sy sit: "Laat ons die seën vra. Kom, Kotie."

Maar die kind roer nie: "Ek wens die Here slaan haar met die pes."

Die vrou stamp met haar vurk teen die tafel: "Sal jy jou mond hou." Nou is dit stil: "Here, vir spys en drank..." Maar toe sluk die vrou. "Eet maar," sê sy naderhand.

Kotie km nou ook sit. Hulle eet. Die water in die kastrol kook. Dit laat die bord ratel. Kotie staan op en skuif die kastrol weg. "As hy nie sy tyd ken nie..."

Die vrou kyk op. "Dis jou pa," sê sy.

Hulle eet klaar.

"Nou was." Kotie gooi die ketel se warm water in 'n skottel. Daarna haal sy 'n handdoek agter die deur af. Sy gaan sit en smeer haar voete seep.

Die vrou dek af. Sy praat niks.

Kotie vryf haar enkels met die binnekant van haar hande. "Ma," begin sy toe," Ma kan ook Berliner bak, né?"

Die vrou trek die tafeldoek af: "Wat?"

"Berliner, dis deegkoekies wat mens in vet bak."

"Vetkoeke?"

"Nee." En nou is dit Liesbeth wat praat. "Jy rol die deeg uit en dan braai jy dit in die olie." Ineens sien Liesbeth haar ma voor die kastrol warm vet staan, haar hoë wange rooi van die hitte. Haar pa kom in. "Berliner," sê hy in 'n bly stem. Hy sit sy arm om haar ma se lyf. Die bolle sis in die vet.

Die vrou skud haar kop: "Ek ken dit nie."

"Maar dis vreeslik maklik, Ma," beduie Kotie. "En as dit klaar is, kom daar pypkaneel en suiker op."

"Solank dit nog warm is, ja." Dit was weer Liesbeth. "Dan smelt die suiker sommer so weg."

"Liesbeth sê haar pa is baie lief daarvoor."

"Ja," sê die vrou en vou die tafeldoek op.

"Hoekom maak Ma dit dan nie?"

Die vrou staan en uitkyk die donkerte in. Kotie staan nou regop in die skottel: "Hoekom maak Ma dit dan nie?" En as die vrou nog nie antwoord nie, begin sy haar bene driftig droog vryf. "As Ma net iets wou doen, maar die gestaan. Weet Ma wat sê Corrie Booyens?"

"Ja?" Maar die vrou draai nie om nie.

"Sy sê almal praat daarvan. Sy sê hulle wil dit voor die kerkraad bring."

Die vrou druk die tafeldoek teen haar bors vas Liesbeth kon sien hoe sy bewe. "Hy's 'n goeie man," sê die vrou eindelik, "hy's net vriendelik; hy hou van jongmense. Daar is niks, Kotie, regtig nie."

'n Oomblik staan Kotie doodstil. Dan klim sy uit die water uit. "Nou jy," sê sy vir Liesbeth, "of is jou voete nog skoon?" Jy't mos skoene aangehad."

Die kind knik. Kotie neem die vuurhoutjies. "Nag, Ma," sê sy.

Die vrou maak die agterdeur toe. Daar is trane in haar oë. Liesbeth loop sonder nagsê vinnig agter Kotie aan. Hulle trek uit. Niemand sê iets nie.

"Is jy reg?" Kotie blaas die kers dood.

Liesbeth skuif reg. Kotie lê nog op haar rug,  haar arms onder haar kop.

"Bid jy nie?" vra Liesbeth.

"Nee."

Liesbeth vou haar hande: Jesu Christu mein..."

Nou sit Kotie regop: "Bid jy tog nie in Duits nie?"" en Liesbeth hoor die lag in haar stem. "Dis 'n rot taal: Troempel en boempel. Ek gaan slaap." Sy draai reg.

Liesbeth lê nou met groot oop oë in die donkerte en kyk. die gordyne is dig voor die venster. Sy luister na Kotie se asem. As dit heeltemal egalig is, weet sy dat sy slaap.

'n Lilggie gaan verby die halfoop deur. Dis die vrou wat gaan slaap. Liesbeth hoor hoe sy heen en weer beweeg in haar kamer. 'n Hele tyd sien sy die ligstreep onder die deur. Dan is dit skielik weg. Nou is dit heeltemal stil in die huis. Die getik van die slingerhorlosie in die voorkamer word al harder. Liesbeth probeer haar ore toedruk. Tik-tak, tik-tak.

Sou die vrou al slaap? Sy steek haar kop bokant die laken uit. Toe voel-voel sy na Kotie en vat liggies aan haar skouer Die meisie vroetel onrustig en mompel in haar slaap. Dan trek Lilesbeth haar hand terug. Sy druk haar palms teen haar gesig. Sy haal byna nie asem nie. Tok, klop haar hart; tok, saam met die groot horlosie. "Kotie," fluister sy, "Kotie." Maar die meisie roer nie eers nie.

Dan skuif sy bietjie vir bietjie die bolanken weg. Sy klim  uit. Die aaklige donkerte. Eers as sy 'n vuurhoutjie getrek het, durf sy weer asemhaal. Sy hou die vlammetjie op om die prent te kan sien. Maar dit hang bokant die bed en sy is bang om te naby te gaan. As sy omdraai om die halfgebrande houtjie in die blaker dood te druk, sien sy die weerkaatsing in die agteroorleunende spieël Dis baie dof en ver weg Sy trek nog 'n vuurhoutjie. In die glas sprei die vlam en word al groter en groter. Maar die hande gaan verder die donkerte in. Sy druk haar kop tot teen die glas en eers as die vlam haar brand, laat sy die vuurhoutjie los.

Sy trek weer een. Sy laat die spieël vorentoe swaai, dan agtertoe. Dis of hulle wink, die hande wat mekaar vashou, styf vas: die sagte vrouehand met die dun vingers en die man s'n wat dit druk en druk.

Haar kop voel lig. Sy kyk na haar eie hand. Sy hou dit op. Dit weerkaats ook in die spieël. Sy roer die vingers, een na die ander. Toe gooi sy die vuurhoutjie in die blaker en slaan albei haar arms om haar bors. Sy druk dit vas om die warmte styf te hou.

'n Deur gaan weer oop. Sy hoor voetstappe. Dis Kotie se pa; aan die loop hoor mens dit. Daar is lig onder die deur.

Die vrou roep. "Koos," sê sy, "Koos!"

Die man antwoord nie. Nou staan sy op; Liesbeth hoor haar in die voorkamer. Sy is kwaad: "Abjan Bamm was vanmiddag hier."

"Ek weet."

"Hy wou jou sien."

"Hy het my gesien."

Die vrou huil: "Ag Koos, hoekom laat jy nie die meisie met rus nie?"

Liesbeth hoor hoe die man 'n stoel agteruit skuif. "Sy was dan voorverlede jaar nog in die skool - die kind van 'n bywoner. Jy's tog getroud, Koos. Almal praat al."

"Laat hulle praat." Sy stem is nors. "Ek wens hulle stik. Ek wens..." Hy word al kwater: "Spul skinderbekke."

Liesbeth sak op haar hurke neer. Sy druk haar ore toe om nie die vrou te hoor huil nie. Maar sy hoor nog; sy hoor alles.

"Wat sien jy in haar?" Ag, Koos."

"Mieta," sê hy en Liesbeth kon hoor dat hy bang is, "Abjan sê sy gaan 'n kind hê."

"Nee!" Die vrou roep so hard dat Kotie haar arms uitgooi.

"In Februarie. Hy sê hy gaan my voor die hof bring."

"Februarie, Februarie," kerm die vrou. "En jy't trou beloof voor die kansel. Maar hulle sal trap, vannag nog. Hoor jy? Abjan en sy kapaas. Sy ook. Ek sal haar wegjaag, vannag nog." Sy ruk die buitedeur oop. Sy lag en huil deurmekaar.

Toe voel Liesbeth Kotie se hand op haar skouer: "Wat doen jy?" Kotie ruk haar heen en weer. "Wat doen jy?"

Die kind klim terug in die bed. Sy trek die lakens oor haar kop. Sy antwoord nie.

"As jy ooit iets sê" dreig Kotie, maar Liesbeth bly stil.

Sy het ook nie gepraat die volgende môre toe hulle klaarmaak vir die ry nie. 'n Paar keer wou Kotie iets sê, maar die kind was so bleek en stil dat sy dit maar gelaat het.

Toe hulle skool toe ry, was dit ook net Kotie en Jan Botha wat gesels het. Anderkant die mielielande het hulle by die ander karretjies aangesluit, dié van die Viljoens en die Steyns. En al soos die donkies aangedraf  het, het daar 'n stofwolk oor die pad gekom..

By die skoolhek het Liesbeth afgeklim: "Ek gaan eers huis toe."

"Ja," antwoord Kotie, maar sy kyk anderpad.

Liesbeth stap aan. Sy swaai haar tassie sonder omkyk. Sy kry haar ma in die kombuis. "Elizabeth!" roep dié bly en sy hou haar teen haar vas. "Du kleine."

Die kind staan stokstyf, nog met die tassie in haar hand.

"Ek het vir jou twee Berliner gebêre. Is jy nie bly nie?" Eh sy haal 'n bakkie van die rak af.

"Ja, Mutter," antwoord die kind. Sy neem die ronde balletjies met die fyn poeiersuiker bo-op. Sy blaas dit af. Ineens hardloop sy na haar slaapkamer. Sy klim op 'n stoel voor die engeleprent. Sy voel oor die gesigte, die skerp neuse, die wange. Sy streel die mensehare en pluk die goue snaar. Glaube, Hoffnung, Liebe, en die grootste daarvan is die Liebe.

Sy neem 'n hap uit die oliebol. Sy kou. Sy ruik die soet anys en pypkaneel. Sy trek haar asem diep in. Sy gee weer 'n hap. Sy wil dit insluk, die hele een met suiker en pypkaneel en al. Maar 'n galsmaak stoot op in haar keel. Haar mond word vol daarvan. Sy probeer dit teëhou. toe kom dit, die geelgroen slym. Haar maag trek inmekaar en sy hoor die skoolklok lui.

Henriette Grove

Vertellers 2

Die tweede groot verhaalboek

deur Merwe Scholtz 

Radio Kuber Kontrei is 'n gratis Afrikaanse Agtergrond musiek kanaal. Kliek op ► links en luister via TuneIn. Maak asb. die ♥ rooi! deur ons as 'n FAVOURITE te merk. Vind ons APP op Google Play