# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Liefde en Haat

Lise lê in haar bed en kyk na die donker skaduwees teen die mure. Iewers tjank 'n hond. Iewers kriek 'n kriek. Iewers jaag 'n motor. 

Sy kan nie slaap nie. Sy is bang. Bang hulle kom. Bang hulle kom vannag as sy slaap. Bang hulle vermoor haar vannag...en haar pa en haar ma en haar suster ook.

Maar gelukkig het haar pa 'n rewolwer. As hy skiet, skrik hulle dalk en gaan na 'n huis waar die mense nie vuurwapens het nie. Sy moet wakker bly. Sy moet die hele nag lank wakker bly sodat sy vinnig na haar ma en pa se kamer kan gaan. Haar pa is vir niks bang nie. Hy sal sorg dat hulle haar nie kry nie. Sy sal in 'n kas of onder die bed wegkruip.

Die huis waar die gesinsmoord gepleeg is, het mure en 'n dak, volvloermatte, linnegordyne in die sitkamer en wasbare gordyne in die slaapkamers, badkamers en kombuis.

Op die buffet in die eetkamer is 'n gesinsfoto. Die man, vrou en drie kinders - twee tienermeisies en 'n kleuterseun - glimlag reg in die kamera. Die gesin lyk of hulle tandepaste of melk adverteer.  Op die koffietafel in die sitkamer is tydskrifte soos Sarie, Garden & Home en die AA se motortydskrif. Die viooltjies in die mandjie by die venster blom in skakerings van pienk en pers. 

Deur die venster sien Lise 'n middeljarige vrou in die kombuis van die buurhuis wat hoër geleë is. Die vrou staan vir haar en kyk. Dis Lise wat eerste wegdraai. Die kombuis is netjies. Op die wasbak staan 'n leë botteltjie waarin 'n verdowingsmiddel was. Op die vensterbank is 'n plakket met 'n Indiaanse gebed: Great Spirit, grant that I may not criticize my neighbour until I have walked a mile in his moccasins. 

Daar lê 'n pienk laken met 'n donkerrooi bloedvlek in die gang. Bokant die laken is 'n bloedkol teen die muur. 

Die eerste slaapkamer is dié van die kleuterseun. Op die boekrak is 'n Kinderbybel, 'n versameling van Grimm se sprokies, Liewe Heksie-boeke en 'n laphanswors. Motors en ander speelgoed is in 'n plastiekhouer in die hoek. Die beddegoed is deurmekaar en die kussing bebloed. Daar is ook bloedspatsels aan die lakens en komberse sowel as teen die muur bokant die koppenent. Die tienermeisies het 'n groter slaapkamer. Teen die mure is plakkate en foto's wat uit tydskrifte geskeur is van Johnny Depp, Tom Cruise, A-Ha, Johnny Clegg en Jason Donovan. 

Die bed naaste aan die venster is ook bebloed, maar die ander bed is onbevlek. Die kombers lê op die mat asof iemand haastig uit die bed opgespring het. Op die bedtafeltjie is 'n Bybel met 'n leeromslag. Langs die Bybel twee kettingoorkrabbertjies met sterretjies, 'n halfgedrinkte glas water en 'n opgefrommelde sneespapier. 

Het die meisie gisternag wakker geword en is sy kombuis toe om iets te gaan eet, of wou sy badkamer toe gaan? Was sy wakker toe haar pa inkom? Het sy haar ouers hoor gesels? gehoor wat haar pa beplan? En het haar ma saamgestem?

'n Streep lig teen die donker gangmuur wanneer die sitkamerdeur oopgaan. Die lig verdwyn. Lise hoor  haar ma se stem. Haar ma klink bang. 

"Maar as die polisie hulle nie kan keer nie. As ons wakker word en hulle is in die straat...in die tuin..."

Haar pa se stem, sterk en oortuigend. "Moenie bang wees nie. Ek sal jou en die kinders nie in hulle hande laat nie. Ek sal julle skiet as dit nie anders kan nie. God sal verstaan dit uit liefde gedoen is,  nie uit haat nie."

In die hoofslaapkamer flits die kameras. Lise gaan nie in nie. Van die deur af kan sy die bebloede beddegoed sien. Sy sê vir Louis dat sy met die buurvrou gaan gesels. 

Dis warm buite. Baie warm. Die lug dril soos slap jellie en die geluide van bye, wespe en insekte irriteer haar ore soos die tandarts se boor. Skaars het sy geklop, of die deur word oopgemaak, asof die vrou agter die toe deur vir haar staan en wag het. Sy lyk so karakterloos soos 'n vrou in 'n seeppoeier advertensie. Sy sê sy is mevrou Venter en nooi Lise na die sitkamer met blomme in vase en ornamentjies agter glas. 

"Ek kan dit nie glo nie. Ek kan dit waaragtig nie glo nie. Nie hulle nie."

Lise het dié sentiment  die afgelope twintig jaar in haar werk al heelwat moes aanhoor. Niemand kan glo dat iets slegs met hulle, hul vriende of die bure kan gebeur nie. Is dit nie ons behoud nie? wonder sy. Die gedagte dat verskriklike dinge net met onbekendes gebeur. As dit vir ons 'n werklikheid was dat ons kan verongeluk, aangerand word, in 'n opstand omkom of vermoor word, sou ons hoegenaamd nog soggens kon opstaan? Nee, dis soveel veiliger, soveel draagliker om te glo dit gebeur net met ander mense. 

Mevrou Venter se mond trek of sy wil huil, maar haar oë is nuuskierig, asof sy Lise ingenooi het omdat sy self meer inligting verlang. 

"Ek kan dit nie glo nie. Hulle was so lief vir mekaar, almal van hulle. En altoos saam, nes druiwekorrels aan 'n tros."

"Wat van probleme?"

"So twee maande gelede het ek vir Erna in die supermark raakgeloop en sy het bedruk gelyk. Sy sê toe hulle het probleme met geld. Gawie het vir homself gewerk. Hy was 'n makelaar of iets. Maar daarna het hulle by ons geëet en niks daarvan gesê nie. Wat dink die polisie?"

Lise sê niks van Bosman se brief nie. 

Daar is geen uitkomkans nie. Ons gaan alles verloor. Erna wil hê ek moet haar en die kinders ook saamneem sodat ons as gesin bymekaar kan bly. Dis net een sprong van die lewe, wat maar net 'n stadige dood is, na die dood wat die ewige lewe is...veilig in Jesus se arms. Vergeef, Here, vergeef. 

"Blerrie fokken donner," sê Louis toe hy wegtrek. "As hy nie wil lewe nie OK, maar hoekom sy vrou en kinders ook saamsleep?" Louis ry vinnig. Hy sit agter die stuurwiel asof hy die motor as 'n wapen teen die wêreld wil gebruik. Hy vertrou niemand anders op die pad nie en wonder wat dié donner of daai bliksem nou gaan doen. Hy wens hy het 'n rewolwer by hom gehad - om verkeersoortreders se wiele pap te skiet. 

"Dink jy sy vrou het geweet wat hy gaan doen, of sê hy sommer so om van sy skuld ontslae te raak?"

Lise trek haar skouers op.

"Ek sweer hy lieg. As my pa so mal sou wees om dit te probeer, het my ons kinders gegryp en weggehardloop."

Lise lê in die donker en luister na die stilte waar haar ma en pa naby haar kamerdeur staan. (Staan hulle by die venster en uitkyk na die donker tuin en die enkele straatlamp met die ligkol soos 'n stralekrans?)

Iewers roep 'n uil.

Is die gesprek klaar? Gaan haar ma niks sê nie? Nie huil nie?

Maar nou ja, haar ma sê nooit iets as haar pa sy praat gepraat het nie. Haar ma se gesig skroef net op soos iemand wat uit die donker in die lig kom. (dan kry sy 'n migraine en gaan lê in haar kamer met 'n nat lappie op haar kop.)

In stilte loop haar ma en haar pa na hul kamer toe. Lise hoor hulle daar rondbeweeg. Later hoor sy hulle in die badkamer. Sy hoor hulle in hul onderskeie beddens klim en die lig afskakel. Sy hoor die beddens liggies kraak soos wat hul liggame goeie slaapposisies soek. Dan is dit stil. Hoewel hulle met die vensters oop ry, sweet Lise so dat dit voel asof haar rug aan die ruglening vasgelym is. Die hitte slaan op Louis se bolip en op sy voorkop uit.

"Ek weet wat die donner gisteraand vir sy seuntjie gesê het. Hy het vir hom gesê: 'Drink hiervan, dit sal jou lekker laat slaap.' En die outjie het eenvoudig gehoorsaam, nie vir 'n oomblik gewonder hoekom hy skielik medisyne moet drink om te slaap nie."

Hulle ry 'n rukkie in stilte. Toe praat Louis weer. "My pa was soos 'n god vir my. Ek het geglo hy sal sorg dat niks slegs met my gebeur nie. En toe eendag, ek was so tien elf, lees ek 'n artikel oor meteoriete. By die artikel was 'n foto van 'n meteoriet wat in 'n kinderkamer iewers in Amerika geval het. Die meteoriet het net mooi tussen die twee kinders se beddens geval terwyl hulle geslaap het. As dit 'n voet hierdie kant toe of 'n voet daardie kant toe geval het, was een van hulle vermorsel, want die rots was byna so hoog soos 'n man.

"En saam met die meteoriet het my pa aarde toe geval. Van daardie dag af het ek geweet hy's ook maar net 'n mens." Die glimlag op Louis se gesig word onnatuurlik soos 'n clown se lag. Sou hy ander tye onthou? Toe hy nie eens van sy pa gehou het nie?

Die woorde bars meteens oor sy lippe asof hy hulle te lank binnegehou het, byna soos gistende gemmerbier die prop van 'n bottel afskiet as dit te styf ingedruk is. "Die bastard dink die Here sal hom vergewe, maar as daar 'n hiernamaals is, sal hy sweerlik tot in alle ewigheid in die hel brand."

Lise kyk na die profiel van sy intense, jong gesig. Na die wit kneukels op die stuurwiel. Sy onthou sy het eenkeer in die fotograwe se ateljee vir Louis hoor vertel wat hy aan 'n man wil doen wat 'n kind verkrag en vermoor het - die man se ledemate lit vir lit met 'n byl afkap en sy geslagsorgane ook. Die beslistheid waarmee hy dit gesê het en die spanning en kragdadigheid in sy liggaam het haar laat vermoed dat hy daartoe in staat is. Soos Bosman wil hy hom die reg toe-eien om oor ander mense se lewens te besluit. 

Hoekom?

Sy vermoed die antwoord. Hy dink hy is reg. Dis so eenvouding.

Ek het dit nooit geweet nie, dink sy, dis soos hierdie mense dit doen. So maklik. Louis se stem sny deur haar gedagtes. "Die donner het seker gesê dit uit liefde gedoen, maar ek sweer hy haat hulle. 'n Mens g'n dood wat jy liefhet nie, net wat jy haat."

"Abraham het sy geliefde seun Isak op die altaar vasgebind omdat hy geglo het God wil dit so hê."

"God het Isak van die offerdood gered."

"Maar later het God sy eie Seun as offer gegee. En Hy het dit uit liefde gedoen. Het Hy 'n vinger verroer om sy Seun se lyding te versag? "Miskien het Bosman gedink hy red hulle van die vernedering van armoede. Of miskien het stres 'n chemiese wanbalans in sy brein veroorsaak sodat begrippe soos 'Hierdie lewe wat maar net 'n gestadigde dood is' en ''n gejaag na wind' soos 'n deuntjie in sy kop bly draai het. 'n Deuntjie wat alle rasionele gedagtes verdring het. Of anders kon hy nie die gedagtes verdra dat sy vrou en kinders 'n lewe van hul eie kon hê nie.

"Maar wat weet ons eintlik van dié mense, Louis? Buiten die bloedspore het hulle niks weggegee wat hulle anders maak as hul bure nie."

Louis kyk vlugtig-nuuskierig na haar voor hy weer na die pad kyk. "Dit klink of jy weet van dié mense. Navorsing gedoen?"

Lise kan nie baie van daardie nag onthou nie. Was dit met Sharpeville? Daarna? Maar wat sy helder onthou, is dat sy so nat was van die sweet asof sy pas uit 'n bad water geklim het. Sy was bewus van elke gespanne spier in haar liggaam en haar keel het haar gewurg. 

Sy het lê en luister. Lê en wag vir die geluid van die opstand. Want wanneer die hordes swartes kom, moes sy reg wees. Reg wees om die venster met 'n stoel stukkend te slaan en uit te spring in die pangaswaaiende massa. Miskien is daar vir haar genade. Miskien is die swartes se haat nie so fel soos haar ouers en onderwysers haar vertel nie. Maar as sy haar misgis het, as sy ewe seker van hulle haat gaan ontkom as van haar pa se liefde, dan sal sy haar berus. Maar sy sal moet spring, want sy is baie banger vir haar pa se liefde as vir die swartes se haat. Haar pa sal haar nooit laat wegkom nie. Daarvoor is hy te lief vir haar. 

Corlia Fourie

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7