# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Lawaai in die Klaskamer

Daar het groot opwinding geheers in die standerd-vier klaskamer. Die onderwyseres was uit, en die meisies het opgewonde onder mekaar gesels. "Dis 'n skande!" het een gesê. "Dit behoort nie toegelaat te word nie," het 'n ander gesê. 

"My Moeder het gesê dat ek nie met haar moet praat nie," het Maggie gesê. 

"Niks met wie praat nie?" het Peggy gevra. 

"Met Helen, natuurlik," het Maggie geantwoord.

"En waarom nie?" het Peggy gevra.

"Weet jy nie dat sy 'n arm meisie is nie; sy is hier met 'n beurs. Ek dink dis 'n skande om sulke meisies in ons klas toe te laat."

"Wel, as hulle dan wil kom, moet ons eenvoudig niks met hulle te doen wil hê nie," het nog 'n meisie gesê.

"Maar waarom nie," het Peggy dapper gevra. "Is daar dan iets verkeerd met sulke meisies?" "Daar is niks met hulle verkeerd nie," het Maggie gesê. "My Moeder het gesê dat ek nie met hulle moet praat nie, en sy weet mos tog."

"Wel, van die algemene dinge wat ek gehoor het, is dit seker die gemeenste," het Peggy gesê. 

"Wat weet jy daarvan," het almal tegelyk gesê. "Maggie se Moeder weet seker beter as jy."

"Wel, ek weet wat my Moeder aan my gesê  het," het Peggy gesê, en sy was glad nie bang vir hulle nie. "En wat is kastig gesê? vertel ons bietjie, "het Maggie uit die hoogte gesê.

"As jy regtig wil weet, wal ek jou sê," het Peggy geantwoord. "My Moeder sê dat meisies wat beurse kry, dit meer verdien om hier te wees as ons. Hulle het hard gestudeer en goed deurgekom; daarom kry hulle beurse. Maar ons is net hier omdat ons Moeders die geld het om vir ons te betaal. Ek dink baie van sulke meisies. Dis nie net geld wat mense ordentelik maak nie."

"Dit het jou nie ordentelik gemaak nie," het Maggie bitsig gesê.

"Ek gee nie om wat julle vir my sê nie," het Peggy gesê" maar ek gee baie om wanneer julle onvriendelike dinge sê omtrent arm mense. Daar is niks so gemeen as om nie met iemand te wil praat net omdat sy met 'n beurs in hierdie skool is nie."

"Ga, ga ga!", het Maggie gelag. Maar dit het baie hol geklink, want sy het geweet dat Peggy heeltemal reg was, en dat van die ander meisies nou van opinie begin te verander.

"Jy kan maar sê wat jy wil, Maggie," het Peggy gesê, "maar ek sal vriende maak met Helen, beurs of nie beurs nie. Sy mag nie so goed aangetrek wees as ons nie, maar sy het 'n goeie hart, en my Moeder sê dat dit die ding is wat die meeste tel."

"Jy is heeltemal reg," het 'n welbekende stem gesê. Dit was die onderwyseres. terwyl die meisies so warm met mekaar gesels het, het sy ongemerk teruggekom. Al die meisies is dadelik na hulle sitplekke toe, en nou was hulle tjoep stil. 

"Daardie toesprakie van Peggy," het die onderwyseres gesê, "was seker een van die mooiste dinge wat ek nog ooit in hierdie klaskamer gehoor het. God is geen aannemer van die persoon nie, en waarom sal ons dan wees?"

Peggy het gebloos, en Maggie het baie skaam en verleë gelyk. En Helen, daar aan die anderkant van die klaskamer, het besluit dat sy aan Peggy die sjokolade gaan gee wat sy gespaar het om onderweg na die huis te eet. 

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell