# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Laurika Rauch 


Laurika Rauch is op 1 November 1950 in Pinelands, Kaapstad gebore as die jongste kind van Fritz en Rina Rauch. Sy het ‘n suster, Ingrid en ‘n broer, Johan. Haar pa was openbare betrekkingsbestuurder van Die Ou Mutual en haar ma was ‘n opgeleide maatskaplike werker wat later redaktrise van ‘n vrouetydskrif, Die Huisvrou, was. Laurika onthou haar kinderdae as besig. “Ek was altyd besig om van een eisteddfod na die volgende te gaan. Ek het klavierlesse begin neem vandat ek vyf was en het vir tien jaar in Oom Hannes Uys se Kindersangkring gesing.” Sy het ook voordrag, mimiek en elokusie beoefen. Sy beskryf haarself as ‘n stil kind. Sy het matriek aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad voltooi. Ander bekendes in die musiekbedryf wat ook alumni van dié skool is, is Randall Wicomb en Johan Stemmet.

Studentedae

Ná skool het sy drama gaan studeer aan die Universiteit van Stellenbosch. Laurika onthou hoe sy eendag by ‘n vriendin ‘n paar kitaardrukke geleer het. “Ek was onmiddellik verlief op die kitaar. Ek het daardie nag glad nie geslaap nie en heelnag die nuwe drukke geoefen op, Cripple Creek, ‘n liedjie van Buffy Saint Marie.” Daarna, vertel sy, was sy en haar kitaar onafskeidbaar.

Die vroeë dae en Kinders van die wind

Nadat sy haar dramagraad in 1972 verwerf het, het sy Afrikaans gedoseer aan ‘n opleidingskool in Kaapstad. Sy wou egter graag oorsee reis en toe sy hoor dat aankopers vir afdelingswinkels oorsee reis, het sy werk gekry as selekteerder van kinderslaapklere by ‘n bekende afdelingswinkel! “Ek was jonk,” sê sy, “en die wêreld was aan my voete.” Aan die einde van 1974 het sy die Kaap vir Gauteng (die destydse Transvaal) verruil en van 1975 tot 1976 as aktrise gewerk by Truk Speelwerk, onder Robin Malan. Dit was deel van die destydse kurrikulum dat voorgeskrewe werke vir skoolkinders opgevoer moes word en twee spanne akteurs het so van skool tot skool gereis en die voorgeskrewe werke opgevoer.
Aan die einde van die twee jaar-lange kontrak, het Laurika weer deeltyds skool gaan hou en in die aande as kelnerin gewerk om die pot aan die kook te hou. Dit was tydens een van hierdie aande dat sy Katinka Heyns en Chris Barnard by die restaurant bedien het waar sy gewerk het. “Katinka het geweet wie ek is. Sy het my net so gekyk en gekyk en blykbaar vir haar man, Chris, gesê dat ek moet sing – nie biefstuk bedien nie.”
Katinka was in daardie stadium aan die werk as regisseur vir die TV- reeks Phoenix & Kie. Jana Cilliers het ‘n rol as kabaretsangeres daarin vertolk. In ‘n stadium het Jana voorgestel dat Katinka vir Laurika kry om namens haar te sing. “En so het ek Jana se sangstem geword in die reeks. Dit was ‘n groot keerpunt vir my – die rol as ‘spookstem’ vir Jana,” sê Laurika. Die liedjieskrywer, Koos du Plessis, se liedjies is in die klankbaan van die reeks gebruik, en Laurika onthou dat haar weergawe van sy liedjie Kinders van die wind in een sessie opgeneem is. Johnny Boshoff was die verwerker en regisseur.
Ná die vrystelling van die eerste episode van die 1979-reeks, wat vir 13 weke gedraai het, was dié liedjie ‘n oombliklike treffer. Laurika het 7 plate-aanbiedings gekry. Mariana Malan van Beeld/Die Burger het op 5 Januarie 2011 geskryf hoe dit haar geraak het toe sy Laurika Rauch die eerste keerKinders van die Wind hoor sing het. Skielik was dit op die Springbokradio- en Radio 5-treffersparades, waar dit die nommer een-plek vir ‘n paar weke ingeneem het. Dit was baie uniek vir ‘n Afrikaanse liedjie. Laurika het in dié tyd ook ‘n aanbod vir ‘n vaste aanstelling as onderwyseres by ‘n skool gekry, maar op die krag van haar sukses met Kinders van die wind, kon sy eerder ‘n loopbaan in musiek volg.

Haar sangloopbaan vat vlam: “Encore! Brel” en “Met permissie gesê”

Ná die sukses van Kinders van die wind en haar Debuut-album, het die sanger en liedjieskrywer Anton Goosen haar in Oktober 1979 gevra om saam met hom te toer. Goosen was self besig om in daardie tyd vir hom ‘n naam te vestig met sy oorspronklike Afrikaanse musiek en sy treffer Kruidjie-Roer-my-nie. Voor hom is Duitse en ander liedjies dikwels vertaal en hier uitgereik, maar die oorspronklike liedjieskrywers was dun gesaai. Die toere het baie gehelp om Laurika se naam verder te vestig.
Die grand dame van teater in daardie tyd, Taubie Kushlick, het van Laurika gehoor en haar in 1980 genooi vir ‘n oudisie omdat sy iemand gesoek het om die musiek van die Vlaamse skrywer Jacques Brel in ‘n nuwe produksie saam met Ann Hamblin en Ferdie Uphof te vertolk. Kushlick het vinnig besluit dat hierdie “boeremeisie” soos wat sy altyd vir Laurika genoem het, die aangewese persoon sou wees vir haar nuwe produksie, Encore! Brel. Dit was baie suksesvol en het vir 6 maande gespeel in die Chelsea-teater in Hillbrow. ‘n Opvolgproduksie, The Best of Brel, het in 1983 gevolg.

Sy was ook in 1981 in die rolverdeling van Met permissie gesê, wat deur Hennie Aucamp geskryf is. “Dit was ‘n waterskeiding in Afrikaans – die eerste Afrikaanse kabaret, sê sy”. Janice Honeyman was regisseur en onder meer Amanda Strydom, Rina Nienaber, Gerben Kamper en Bill Curry was in die rolverdeling. Die kabaret was ‘n vorm van uitdrukking en “beskaafde protes” teen die regering van die dag.
Op persoonlike vlak het sy in 1984 met ‘n karooboer se kind en lektor (later ook professor) in ekonomie, Christopher Torr getrou. Hulle het twee kinders, Simon en Nina.

Christopher Torr ontpop as liedjieskrywer

“Toe ek Chris ontmoet het, kon hy kitaar speel, maar het nog nooit sy hand aan die skryf van liedjies gewaag nie,” vertel Laurika. Hy het egter wel in 1984 ‘n liedjie in Engels geskryf oor die bankrower André Stander, wat in Suid-Afrika ‘n byna ikoniese status gekry het, maar dit is nooit opgeneem of uitgevoer nie. Chris se kommentaar op die liedjie was dat hy nie Stander probeer verhef het tot iets wat hy nie was nie, maar dat hy met die liedjie eerder probeer kommentaar lewer het op ons reaksie op die voortvlugtige Stander se doen en late. Hoewel hy ‘n boef was, wou die meeste mense nie gehad het dat hy gevang moes word nie.
Toe iemand vir Laurika ‘n bandopname van die Duitser Udo Jürgens se musiek gegee het, het sy nie eers daarna geluister nie. “Ons het almal geglo dat ons op die maak van oorspronklike musiek en nie vertalings nie, moes konsentreer, sê Laurika.”
Chris het egter “skelm” na die Duitse liedjies gaan luister en sonder om Duits te verstaan, Afrikaanse woorde vir die een liedjie geskryf. Die gevolg, was een van Laurika se bekendste treffers, Op Blouberg se strand.
“Hy het vir my die bandjie opgesit en woorde voor my neergesit en gesê ek moet net sit en luister. Dit was so verskriklik mooi. Ek was so aangedaan toe ek besef dat my Engelssprekende man woorde kon skryf wat klink soos wat Afrikaans gepraat word. Dit was die laat tagtigs en ek het ook geweet hoe moeilik dit was om goeie liedjies in die hande te kry.” Daarna het Chris Torr vir baie van Laurika se grootste treffers gesorg.

Laurika ’n liedjieskrywer?

Laurika skud haar kop as ’n mens vra of sy ooit self haar hand aan die skryf van ’n liedjie gewaag het. “Nee,” sê sy “maar ek het wel ’n hele paar gedigte getoonset wat opgeneem is, soosNalekokers en Niks hang so rooi soos wingerdblaar by Hexrivier van Boerneef, Ballade van ‘n koningsdogter van ID du Plessis en Windliedjie en Toemaar die donker man van Ingrid Jonker. Ek kan nie self woorde skryf nie, maar as ek ‘n goeie liriek beetkry, skryf die liedjie homself as ‘t ware. ”

Albums

Sedert sy in 1979 met Kinders van die wind byna oornag ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika geword het, het verskeie albums en hoogtepunte gevolg. Haar eerste album, Debuut, het ook in 1979 verskyn.
“Dit was nie aldag maklik om voltyds ’n oorspronklike kunstenaar in Suid-Afrika te wees nie,” onthou sy van ’n pad wat sy dikwels self voetjie- vir- voetjie moes uittrap.
“Die musiekbedryf was nog ’n onbekende terrein en ons het niks geweet van goed soos musiekregte en tantieme nie. Dit was dikwels maar ’n harde leerskool.” ‘Groep 2′ en Sonja Herholdt was natuurlik die voorlopers en baanbrekers en op daardie stadium die enigste sangers op die toneel wat soortgelyke musiek gemaak het.

Tesame met kompilasies het Laurika reeds 23 albums op die rak laat verskyn, waarvan enkele hoogtepunte hieronder verskyn. (Vir die volledige lys, sien Albums.)

Vinielplate

“Debuut”(1979), “ ’n Jaar in my lewe” (1980), “Vir Jou” (1981), “jy is te dierbaar” (1983) “Laurika op versoek” (1985) “Encore! Laurika” (1988)

Al hierdie albums (vinielplate) het van Laurika se grootste treffers
opgelewer. Op “Debuut” en “’n Jaar in my lewe” het Anton Goosen steeds baie van die skryfwerk gedoen, onder meer die snitte Neanderdalman en Vergeet om my te vergeet/onthou om te onthou. Kupido, wat later eintlik bekendheid as countrysanger verwerf het, se Jy is te dierbaar enLied van die natuur is het op haar 1983 album, “Jy is te dierbaar”, verskyn.

Dit was met Encore! Laurika wat Chris Torr vir die eerste keer sterk op die voorgrond as liedjieskrywer getree het met die snitte Miekie en Die ballade van Jakob F de Beer. Dit was egter syOp Blouberg se strand, die Udo Jürgens-vertaling, wat veral by die publiek byval gevind het.

Stuur groete aan Mannetjies Roux (1990), Die gang (1992) en daarna

Stuur groete aan Mannetjies Roux lê Laurika veral na aan die hart omdat dit in meer as een opsig ’n baanbreker was. “Dit was my eerste Afrikaanse album wat platinum-status bereik het én dit was die eerste Afrikaanse album wat in Suid-Afrika op CD verskyn het.” ‘n Groep sakemanne van Bronkhorstspruit, waaronder hulle vriend Piet de Jager, vervaardiger van ‘Roepman’, het dit vir Laurika moontlik gemaak om die album op CD vry te stel in ’n tyd toe CD-tegnologie in Suid-Afrika nog haas onbekend en duur was. Chris Torr het gesorg vir die immergewilde titelsnit oor die legendariese rugbyspeler Mannetjies Roux.
Die gang (1992) was eweneens ’n soort waterskeiding omdat dit die eerste album was wat sy onafhanklik in die naam van haar eie platemaatskappy. Laurika Rauch Produksies, uitgegee het.
Die aangrypende titelsnit van die album Hot Gates van 1995, ook een van Chris se komposisies, bly een van Laurika se grootste treffers wat vandag nog dikwels as toegif by haar optredes aangevra word. Sy het ‘n SAMA vir die album ontvang.
Met The Brel Album (1997) het sy teruggekeer na van Jacques Brel se grootste treffers.

Hoewel daar al voorheen ander baie suksesvolle grootste treffers- kompilasies was, kon haar 19 Treffers van 21 jaar (1999) terugkyk op ’n loopbaan van 20 jaar. Hierdie kompilasie het ook dubbele platinum-status bereik (120,000) en bly steeds ‘n goeie verkoper.
Die titelsnit van Vier Seisoene Kind (2002) uit die pen van Gian Groen het homself ook gevestig as een van haar grootste treffers.
My ou tante Koba (2004) is vir ’n SAMA benoem en met haar jongste album, Tweeduisend-en-tien!(2010), het sy onder meer ’n duet opgeneem met Kurt Darren (Slang in die gras) en die Robbie Wessels-liedjie Skouspel 2010, oor ’n bobbejaan wat moles maak in ’n hotelkamer, is een wat die lagspiere kielie met bobbejaangeluide deur die musikant Leon Ecroignard.
Haar eerste en enigste vollengte-DVD van ’n optrede, met Deon de Bruyn as regisseur en Louis Brittz as musiekregisseur, met die titel LAURIKA RAUCH: Grootste treffers LIVE, het in 2006 verskyn.

Loopbaanhoogtepunte en toekennings

(Vir ’n volledige lys sien haar uitgebreide biografie.)
Laurika erken dat dit moeilik is om loopbaanhoogtepunte uit te sonder omdat daar so baie was!
Nadat sy in 1980 ’n Sarie-toekenning ontvang het as die mees belowende sangeres, het baie ander gevolg. Sy was byvoorbeeld die eerste ontvanger van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se erepenning vir haar bydrae tot ligte Afrikaanse musiek in 1997 en Huisgenoothet haar in 2006 bekroon met ‘n toekenning vir haar lewenslange bydrae.
Van Berlyn tot Bapsfontein, saam met Jannie du Toit in 1988, was vir haar ‘n hoogtepunt. “Ek sonder graag die Huisgenoot Skouspel, wat in 2000 begin het, uit vir die manier waarop dit Afrikaanse musiek op ’n swierige manier jaarliks as ’n groot konsert aanbied en sangers se loopbane verstewig,” sê sy. Sy het in 2000 vir die eerste keer aan hierdie geleentheid deelgeneem met verdere optredes in 2001, 2002, 2003, 2006, 2007, 2008, 2009. Sy was ook betrokke by die Huisgenoot se Kaapse Jol in 2007, en Skouspel Plus in 2009 en 2010. Daar was verskeie oorsese optredes, met onder meer ‘n konserttoer in België in 1985 (‘n dokumentêr vir televisie is ook tydens die toer opgeneem), twee optredes in Nederland in 1993 en 1994, drie optredes in Londen (2002 – 2004) by die Ukkasie-fees, twee optredes in Praag (1997 en 1998) en ‘n optrede in Antwerpen in 2006.
Sy sonder ook die produksie Samekoms/Kopano saam met Vusi Mahlasela in 1998/99 uit as ’n hoogtepunt. Laurika was die aanbieder en ook sanger en Deon Opperman die regisseur.
In 2011 het haar man, Christopher Torr, die musiekspel, Stuur groete aan Mannetjies Roux, voltooi, en vier uiters geslaagde speelvakke in die Atterbury-teater in Pretoria, die Kunstekaapteater in die Kaap, Emperor’s Palace in Johannesburg en die Sand du Plessisteater in Bloemfontein, is vanaf Mei tot die einde van Julie voltooi. Bykans elke vertoning was totaal uitverkoop. Nie alleen was van haar gewildste liedjies in die produksie gebruik nie, maar sy het self ook gesing en ‘n rol daarin vertolk. Die stuk, met ‘n rolverdeling van 12 akteur/sangers, het alle verwagtinge – artistiek en by die loket – oortref.

Laurika bly steeds in aanvraag by die publiek en tree gereeld by gesamentlike en in solo-vertonings op.

Laurika Rauch

 CD's Op Die Rak

23. Wals, Wals Willemien 2014

22. Laurika sing Mannetjies Roux 2011

21. Tweeduisend-en-tien 2010

20. 'n Lekker verlang liedjie 2007

19. Chris se Trefferliedjies 2005

18. Die Nuwe Treffer Album 2004

17. My Ou Tante Koba 2004 

16. Vier Seisoene Kind 2002

15. Hei Mevrou Brown 2000

14. Die mense op die Bus 1999

13. 19 Treffers van 21 Jaar 1999

12. The Brel Album 1997

11. Grootste Treffers Vol. 2 1996

10. Hot Gates 1995 

 9. Die Gang 1992

 8. Grootste Treffers Vol.1  1991

 7. Stuur Groete aan Mannetjies Roux 1990

 6. Encore! Laurika 1988

 5. Laurika op Versoek 1985

 4. Jy is te Dierbaar 1983

 3. Vir jou 1981

 2. 'n Jaar in my Lewe 1980

 1. Debuut 1979