# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

La promenade en chien

In die môre ontwaak Madame en besef haar bui vir die dag. As sy uit haar bed opstaan, weet sy presies watter kleed by watter hond sal moet pas. Want Madame het 'n kleed vir elke stemming en, natuurlik eweveel verskillende honde. 

Soms dra sy die wit gaas wat haar net so hoogmoedig en skraal op haar hoë hakke laat wieg as die wit Borzoi wat homself verwerdig om sy syige koppelriem vooraf te gaan; op ander dae 'n wakker swart-en-wit geruite kostuum om by die foksterriër te pas; en soms ook die gewaagde swart affêre wat haar 'n tergende aand-houding gee, en haar net so verruklik verspot laat lyk as haar Franse poedel met sy fietse lyfie kaalgeskeer in onverwagte plekke. 

Wanneer Madame aldus in voortreflike harmonie met haar hond aan sy riem deur die strate wandel, dink die verbygangers dat Madame haar toilet gekies het om by haar hond te pas. Maar die teenoorgestelde is ook waar.

Natuurlik het Madame meer om te doen as net bloot onberispelik te wandel, maar dié feit word beswaarlik vermoed in die groot saal van die honde. Daar wag elke hond kwynend in die donker van sy hok op die ylhoofdige wandeling. Daarvoor alleen bestaan elke hond.

Die oomblik dat Madame die saal binnekom en hulle die geheimsinnige ruis van haar kleed hoor, gaan 'n rilling deur elke hond en druk hy sy neus teen die hout van sy deur, en snuif hy en huil en slaan sy stert teen die donker mure van sy hok. Maar alles omtrent Madame is vol geheim, bowe-al die gril van haar keuse.

Van al die honde dra die klein swart-en-wit foksterriër teleurstelling en verlange die brandenste in sy hart. Omdat hy die kleinste van hul almal is, is hy in staat om sy neus en oë in die spleet onder sy deur te woel. Hierdie pynlike posisie vergun hom 'n mate van geleentheid tot sien en ruik.

Vandaar sien hy die soom van een van Madame se klede soms in 'n vreemde en lieflike ruik verbybeweeg, en eenmaal het hy ook vier pote soos syne rond en bont gesien warrel. Maar die aanblik daarvan het hom 'n hele dag lank siek en verwilderd laat voel, wants selfs al weet die foksterriër uit hul ruik en geblaf van die ander honde, kan hy nie begryp waarom Madame vir 'n ander hond as hyself sal kom nie. 

Die foksterriër is geen filosoof; elke emosie wat van Madame na hom kom is onmiddellik en geheim. En elke keer as Madame sy deur verbygaan, laat hy sy gefolterde kop op sy pote sak, en begryp dit nie. 

Maar as Madame eendag, onverklaarbaar en tog so vanselfsprekend soos sy wag op haar, eindelik voor sy deur kom staan en dit open en glimlag teen hom en daar staan in 'n kleed met wit en swart stroke, voel die foksterriër se klein hartjie of dit kan breek van vreugde. Dan tuimel hy uit, hygend en bewend, vurig met trots op homself, op die leerriem wat sy meesteres om sy nek bevestig, en op die mooi kleed wat so baie op hom lyk. Die hele verlede is vergeet: hy is geheel en al vertroue en vreugde, geheel en al foksterriër, ontploffende oomblik.  

Jan Rabie

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7