# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

 
 
SA Topsites ::

Krugersdorp Tussenverkiesing

Vir baie van ons is tussenverkiesings iets onbekend. Veral die jonger geslag. Maar daar is talle van ons wat nog dit onthou. Die vergaderings tydens 'n verkiesing om stemme te werf. Met die verkiesing van 2014 om die draai, het ek biejtie gaan kyk wat in die verlede gebeur het. My eerste besoek is aan Krugersdorp, 'n setel wat aan die Nasionale Party behoort het. Die datum. 3 April 1987. NP Leon Wessels. KP Clive Derby-Lewis. PFP Geen kandidaat. 

Die vergadering op 3 April 1987 was rof. Ouder gewoonte het die oproermakers hulle eers met lawaaiwater versterk voordat hulle die saal ingestroom het. Onmiddelik nadat die vergadering met gebed geopen is, het die molesmakers van die AWB begin skre: "Stel jou beled, jou kafferboetie!"

Thinus Prinsloo van Beeld het die volgende dag só in die koerant verslag gelewer oor die vergadering:

Gisteraand het 'n byna onwerklike toneel hom op 'n politieke vergadering in die stadsaal van Krugerdorp afgespeel. 'n Tannetjie van 78 jaar, grys en effens vooroorgeboë met 'n nekstut, het die AWB-voorman op Krugersdorp behoorlik op sy plek gesit en hom soos 'n stout skoolseun van voor in die saal na sy stoel in die middel van die saal teruggejaag. Dit was inderdaad die aand van tant Allie van Staden van Jack Cotton woonstel nr. 9...en van Advokaat Leon Wessels, die NP-kandidaat en LP van Krugersdorp. Vandat die vergadering om 7:30 begin het, het AWB-lawaaimakers hard probeer om Minister Pietie Du Plessis dood te skreeu en te jil. By tye het dit gelyk of die vuiste gaan klap.

Die vergadering is kort kort onderbreek en toe mnr. Chris Viljoen, AWB-voorbok op Krugersdorp, skuins voor nege vir die soveelste keer opstaan, het daar 'n ligte gestoei naby hom ontstaan.

Te midde van groot alawaai het hy tot voor in die saal gestap om 'n vraag aan Minister Du Plessis te vra. Terwyl mnr. Viljoen, wat ook 'n stadsraadslid van Krugerdorp is, besig was om sy vrae te vra, het tant Allie hom hier van die linkerkant van die saal stormgeloop. Sy het haar tenger gestalte reg voor hom geplant en terwyl die verbaasde mnr. Viljoen na haar afkyk, het sy hom begin terugstamp in die rigting van sy stoel. 

Mnr. Viljoen het gou-gou voor tant Allie se dreigende wysvinger geswig, omgedraai en na sy stoel gestap met tant Allie agterna. Dit was asof 'n vonk van die NP-geesdrif deur die saal stu. Advokaat Wessels  het die mikrofoon gevat en 'n besielende toespraak gehou. Hy is telkens luid toegejuig en na sowat twintig minute het hy 'n staande ovasie van die oorgrote deel van die gehoor gekry. Die saal was vol. Advokaat Wessels het sy toespraak begin deur aan die AWB's te sê: "Julle kan my doodskreeu, maar dit waarvoor ek staan, kan julle nooit doodskreeu nie."

Wat die NP vir homself opeis, gun hy aan elke swart persoon, Indiër en Kleurling. Toe die AWB's hul groot Geloftefees-saamtrek by die Paardekraal-monument  gehou het, het swart mense hulle perde vasgehou en die terrein skoongemaak. As swart mense goed genoeg is om dit te doen, is hulle ook goed genoeg om regte te kry. 

Advokaat Wessels het onder luide toejuiging gesê hy daag elke KP- en AWB lid uit om hulle beleid te begin uitleef: Ontslaan julle swart werkers. Begin jul werk self doen. Laat KP-sakemanne bordjies voor hulle winkels hang dat net blankes daar toegelaat word.

Advokaat Leon Wessels vertel self: "Die reaksie op die verkiesingsuitsalg van 6 Mei 1987 was 'n belewenis. Almal wat gewerk het en almal wat gestem het en almal wat familie, vriende en kennisse aangespoor het om te stem, het die oorwinning vir hulleself opgeëis: Ons het dit moontlik gemaak!" 

"Ons kon hoor hoe die KP-ondersteuners buite die lokaal braaivleisvure aansteek en hulle gereed maak vir 'n oorwinningsfees. Die NP se ondersteuners was gespanne. Hulle het oor die radio gehoor hoe die buurkiesafdelings in die hande van die KP val. Hulle het bly hoop vir die beste, maar het hulle begin staal vir 'n NP-nederlaag. 

In die stemlokaal kon landrros Eksteen egter uiteindelik 'n Nasionale Party-oorwinning met 55 stemme aangekondig. He en sy span het hulle werk so deeglik gedoen dat niemand dit kon bevraagteken nie. Daar is net een keer getel. Toe Eksteen uitstap om die uitslag aan te kondig, het die lyftaal van die kandidate en dié van hul medetellers die uitslag verraai. Binne 'n oogwink het die atmosfees verander. die KP's het stert tussen die bene verkas om elders hulle wonde te gaan lek. So hier en daar het een van die KP's geskreeu: "Volgende keer gaan ons julle kry."

Wessels vertel verder dat 'n politikus wat na 1994 tot die politiek toegetree het en slegs volgens proporsionele verteenwoordiging tot die parlement toegetree het, sal die kiesafdelingstryd en kiesafdelingsdinamika glad nie verstaan nie. Met ie nuwe stelsel waar jou hoogste lojaliteit jou politieke meesters is en nie die kiesers nie, is ons politiek armer gemaak. In so 'n stelsel is daar geen ruimte vir individue of 'n kiesafdeliing se eisoortigheid nie, want die proses word gedryf deur die hoofstroom van die groot party se propagandamasjien. 

Paul Joubert

Vereeniging: Die Onvoltooide Vrede

Leon Wessels

ISBN 978 1 4152 0121 3