# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Kortverhaal

Daar was eendag 'n man met die naam van Lukas Percy Vermoken. Wel - om die waarheid te sê - hy was eers 'n fetus en toe 'n baba en nog verder aan 'n seun voordat hy verander het in 'n man.

Hy is om 01h36 in die voornag verlos en by geboorte reeds was sy hande rooierig. Hy het vir sy dertiende verjaardag 'n trapfiets present gekry en sy bynaam was Peertjies. Daar was 'n lint gebind óm die stuurstang van die fiets. Enkele jare nadat hy begin werk het as klerk (by 'n verpakkingsfirma), het hy in die huwelik getree. Sy vrou se een voortand was gestop met goud. Sy tweede dogter se naam was Magriet.

As stokperdjie het hy posseëls versamel wat hy met sy rooierige vingers in albums gerangskik het, onder deursigtige papier, en honde of katte in die huis het hom hooikoors gegee.

Tydens 1965 het hy saam met sy vrou en hul jongste seun die Krugerwildtuin besoek. Die 12de Maart 1969 is hy bevorder tot assistent-personeelbestuurder, sy salarisaanpassing terugwerkend tot die 1ste Januarie. By sy aftrede sou hy teen teen een 'n silwer polshorlosie ontvang, met iets gepas gegraveer op die rugkant. Met vakansie by skoonfamilie in Wiliston het hy aan hartversaking beswyk. Gebraaide hoendermagies was een van sy geliefkoosde geregte. 

"Ons stort 'n traan stil maar weet dis als God's wil, ja al sien ons u nie meer weet ons u is veilig by die Heer." Diep betreur deur Hannetjie, Lukas (Boy), Sunara, Magriet en Freddie (skoonseun). Charles en Elefteria, swaers en suster. Begrafnisreëlings deur Human en Pitt. 

Breyten Breytenbach

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7