# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Hoe't ons ou Koos Crous se hawerland sommer in 'n japtrap omgeploeë het

Dit was nog sommer vroeg die more toet ons op Morriesberg aankom. En is die dorpie dié more van de mense! "Dit moet Nagmaalnaweek wees, " sê Herklaas. "Kyk net de waens en de karre!"

"Vendusie", se ou Kemeel. "Morriesberg is mofskaapwêreld en so dié mense vendusie kin hou is nie maklik nie." Ewentewil, ons wag nog aan't ietspanne oener 'n soetdoring hier eenkant, waar die tennisbane en dinge vandag daar is, toe staan 'n paar jong kêrels nader. Nader gestaan, en ek siet hier iet die kant van 'n oog iet siet ek't hulle vir my en vir Herklaas aan't deurkyke is. Jy sil sweer ons is twee moframme en hulle is kopers. 

Ek sê toe naens vir een van hulle - so 'n ou grote; hy dra sy twee hanne so weg van sy lyf af, soos twee varkhamme - sê ek vir hom: "More. Is daar altemits iets wat ons vir julle kin doen?" "Ja, more, ja", seg hy. "Kyk ons speel vanmiddag speel ons teen Aberdeen se Kraaie en ons is twee man kort. Hoe lyk't, wil julle twee nie vir Morriesberg ietdrawwe nie?" "Ietdrawwe?", seg ek. "Ek dog ek en broer Herklaas kom rus die naweek en nou will julle hê t ons moet drawwe." Die ou grote vee sy snorbaarte mee' die agterkant van sy hand plat en hy sê: "Jy verstaan nou seker nie mooi nie - ons wil nie drawwe nie. Ons speel voetbol, Aberdeen se Kraaie het ons laasjaar iet die aarde iet geloop en vanjaar is dit ons beurt. En nou sit ons mee' twee man kort." Na't die klein misverstand toe iet die weg iet geruim is, wôre oor en weer bekend gestel en oor't toe nie hoër of laer kin nie, wô ons dorp toe genooi vir iets te ete en te drinke en voor lank gesels ek en Herklaas en die anner dertien soos ou vrinne en ons praat taktiek en ons oefen skrum en doen, en mee' die druk ons nog sommer so 'n halfwas bloekomboompie oenerstebo ok. 

Dit was die middag nog nie eenuur nie toe sit Morriesberg se mense en 'n klomp wat van Aberdeen af oorgekom het, sit hulle rigsom in die voetbolveld op paalsteiers ingeryg soos vinke om 'n koringland. Toe is daar vir g'n muis meer plek om die veld nie. Ek sê nou veld, maar eenklik was dit ou Koos Crous se hawerland wat die jaar braak gelê het, met net so hier en daar 'n kolletjie wat groen ietslaan waar die duiweltjiedorings die geilste gegroei het, en dan nou ok mee' genog van daardie harde rône Krooklippertjies wat jy maar ammelee op so 'n land kry. Hier eenkant het die tuisspan so 'n stuk  van tien, twaalf beesblase netjies op 'n hoop gegooi en die kaptein - die ou grote mee' die hamhanne - waarsku nog vir my en Herklaas ons moet net sôre 't  ons die bol heeltyd in die lug hou. Want, seg hy, raak hy grond, sien jy net 'n stoffie so' hy afblaas en dan moet eers weer nuwe blaas ingeskop wôre.

Oor't ek sulke lang treë ko' gee, sit hulle my die dag op vleuel en Herklaas het hulle net so een kyk gegee, toe sê vir hom: "Jy druk voor - jy en Balie de Klerk en Yster Wilkens sak voor in die skrum. En a' julle gesak het,hou julle net koppe laag en julle loop mee' hulle. Ons maak dië speul Kraaie vandag eers voorlaens sag en a' hulle gô uit is, hol ons kringe om hulle..." So, afgespreek, en wat die skeidsregtertjie ok op sy fluitjie blaas, vlie ons oener die Kraaie in en jy siet net klippers spat soos ons spook en beur  en trap en skop om oener die bal in te kom. Glo my, a' 'n wedstryd al oo't warm beginne het, dië dag het hy vuurwarm beginne. Sommer mee' die eerste stormloop druk Morriesberg die Kraaie oener die pale  mee' skeidsregtertjie en al oor die lyn, sommer bo-oor die dooilyn ok en teenaan die kerkof se muur vas. En wat ons teen die muur stuit,hoor ek net die kaptein brul: "OP DIE BLAAS, MANNE! OP HOM!" En mee' die druk ons sommer die hele bonder Kraaie mee' beesblaas en al oener 'n lap duiweltjiedoring in't jy net hier en daar 'n hand of been sien ietsteek. 

En wat die skeidsregtertjie die stof en die sweet iet sy oë uitgevee het, sil hy dan nie "All hênds!" skrou nie. Dit moet hy noooi't gesê het nie, want toe moet jy weet, toé vat Morriesberg vlam! Hulle het vir ons 'n nuwe beesblaas van die kantlyn af ingeskop en ons val trug agter die middellyn en die Kraaie se outjie skop af. Dit was nog g'n vyf minute nie of daar is net tien van hulle oor op die veld en Morriesberg se span het oë vir net een ding - dit is pale toe. Maar oener die wyl wat ons die Kraaie aan't ietdunne was, moet iemand die oenerste hek van die veld oopgemaak het en ou Koos Crous se Jerseybul agter die ruik van die beesblaas aan ingestorm het. Ons wis van niks. Ons is so kanend op die bal en Kraaie aan 't jag 't niemand die bul geware het nie. Nou, ek weet nie hoe't  deesdae geskrum wôre nie. Maar tyd en dae, aggen-taggen-tag daar rond, he ammel sommer ingeklim a' 'n bol los rol en daar geskrum moet wôre. En dié dag is dit toe ok so: dit is vyftien Morriesbergers diekant en tien, twaalf kraai daardie kant - twee van die kroks was toe al weer trug op die veld - en die manne klim in en jy hoor net maermerries kraak 't jy sil sweer dit is 'n trop boerbokke wat deur 'n lap droë olieboom breek. Ewentewil, dit was ok net wat ons mee' mening sak, hoor ek die Kraaie se agsteman roep boontoe en hulle kapteintjie skrou: "Vorentoe, manne, vorentoe..."

En reken, mee' die  't  hy "vorentoe" skrou, beginne die Kraaie mee' ons loop! Jie laer ons sak en jie meer ons druk, jie meer loop hulle mee' ons. Teen dié tyd brul die Kraaie se agsteman al soos 'n bees en dit proes en doen en ons gooi wal, maar dis so goed of ons een van hierdie nuwerwetse stootskrapers voor ons het. Hulle het ons naens oenr ons eie pale, oor die lyn en agter die pale, en daar loop swaai hulle die skrum en hulle sit diekant toe af mee' ons, trug na hulle eie pale se kant toe. Ons trap vaas en steek ysterklou in die grond en ons druk. Ons ploeg eenklik net sulke diep mote in die harde grond, maar hou kin ons hulle nie hou nie.

Hulle stoot ons die dag tien, twaalf keer veld op en veld af en dit is eers hier na die dertiende keer't ons breek - eenklik  meer om die skeidsregtertjie reg te sien, breek ons. En toe sil ons eers agterkom wat aan 't gebeure is: Sil die befoeterde bul van ou Koos Crous dan nie sy twee horings oener die broeksbene van die Kraaie se agsteman ingesteek en ons die wêreld vol rondgestoot het nie!

Ek sil noo' 't vergeet nie: die agstemannetjie had nog so 'n lang, rooi flennieoenerbroek aangehad. Reken, ons ploeg ou Koos Crous se land die dag vir hom so deeglik om 't hy die volgende Maandag net hawerpitte ko' insit. Ek het afterna gehoor die ou had dié jaar nogal 'n skaflike oes gehad!

W.O. KUHNE