# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Klein Riet-alleen-in-die-roerkuil

Die eerste boodskapdraer by Gammadoekies was die geel Boesmantjie Riet-alleen-in-die-roerkuil. Sy ta se ta, ou Heitsi-eibib, het hom so genoem toe hy nog in die dra-vel sit. Hy kon so vinnig hol dat die stofwarreltjies onder sy hakskene uitdraai; en as hy reg-reg uithaal, dan word hy nes 'n vaal strepie in die middel van die wapad. En toe kom die groot gevaar by Gammadoekies. Ou Heitsi-eibib het in die nag kajuitraad belê, want die nood het gedruk. Hy het selfs ou Klipdas-Eenoog laat haal om te kom by sit, en hy was so oud dat sy kakebeen weggeslyt was en sy oë byna toegekrimp. Die hele nag het hulle om die vuur in die tgorra gesit, en dit was ou Klipdas-Eenoog wat die groot woord agtermekaar gesit het. En met die rooidag roep hulle vir Riet-alleen om die boodskap na Rooi Joggom te dra.

En toe hy kom , hoor hy die meide in die strooihuise skree: "Hot-gjorra!! Hot-tgorra!" En die mans is so bang dat hulle toonnaels kletter en die sweet  drup van hulle lyf in haelkorrels. Elkeen kan die vuur met een asem doodblaas. En toe die dag wit word, spring hy van Gammadoekies weg. Hy dra die uitspeelstel in die linkerhand en met die regtervuis slaat hy op sy voorkop; vir elke woord van die boodskap 'n slag met die vuis - dan kan hy nie vergeet nie. 

Die laaste woord van sy Ou Ta was: "Pas op vir Nagali: sy sal jou op baie maniere voorlê; sy het sterk toorgoed. As jy verkeerd maak, word jou lyf so styf gespan as die snaar van die groot ramkie!" Toe die son hoog was, siet hulle nog op die laaste bult die warrelwindjies onder sy voete uidraai, maar Riet-alleen self was net 'n vaal strepie in die wapad. Toe sê Klipdas-Eenoog: "Arrie! Die vonke sit in die wolf se stert." Want dit was hy wat die groot woord uitgedink het. En toe Riet nie meer sy eie skaduwee kon sien nie, kyk hy voor in die pad, en daar gewaar hy 'n skraal Boesmanmeidjie. Sy trap stadig 'n paar danstreë oor die pad. "Arrie, Ousie," sê Riet "kan jy dans?"

"My boeta!", sê sy, "wat sit jy op die miershoop neer?"

"Dis 'n beste uitspeelstel," sê Riet, en hy sit hom op die miershoop. "En wat het my ousie?" Sy vat die blou kraleband van haar nek en sit dié neer. En toe spring hulle weg veld in. Tot by die derde miershoop bly hulle bymekaar, en van daar begin die meidjie ringe om hom te dans en sy draai met 'n groot halfmaan terug na Gammadoekies. En Riet wil skree:"Dié kant toe, my ousie! dié kant toe!" maar sy asem is klein, en sy dans so vinnig dat sy die woorde voor sy mond wegwaai. En Riet se hart word klein, en hy dink:"Ek sal soheentoe haal en my uitspeelstel red." Maar toe hy wegspring, siet hy die vaal meidjie dans ver voor hom soos n dryfwolkie op die bergtop; en toe hy nog ver was, gryp sy die uitspeelstel en sit haar krale om. En hy hoor sy lag, en sy roep: "My ou boet, my vuurmaakplek is aan die bokant. Ek sal vir Nagali jou groete sê." En toe sy wegdans, toe siet hy al die tyd die warrelwind uit die groot woestyn. En toe sê hy:"Hot-tgorra! die snaar van die groot ramkie!" want die son was aan die afdraand en Rooi Joggom is ver! En hy spring weer weg, maar hy sê nie meer die boodskap nie, want die jammerte van die uitspeelstel was in sy hart. En hy eet die pad tot by die middelbergse nek. En toe gewaar hy, langs die los klip links van die pad sit 'n Boesman, en in sy hardloop hoor hy die vaal maat roep: "Wat is die treur dat my boet vandag so stadig loop?"

En Riet-alleen stuit by hom. "Kan my boeta hardloop?" vra hy. "Die meide van Jakkalsdraai het my so vertel," sê die vaal Boesman. en Riet se hart brand in hom, want hy het nog nooit een gekry wat sy stof kon asem nie. "Sal dit wees to bo-op die nek?" vra Riet-alleen. "Heitse!" sê die vaal Boesman, "die bobbejaan hol die berg uit. Nee, my boeta, dit sal wees tot by die spits klip," en hy wys terug tot onder in die leegte, en hulle staan klaar. En toe hulle wegspring, gly die vaal Boesman van  Riet weg. En Riet druk sy oë toe, en hy sien die vaal Boesman soos 'n klein stoffie ver in die wapad. En toe hy sy hand oor sy oë sit, gewaar hy dit is Nagali se oribietjie. En hy slaat op sy mond, en sy hart word sag in sy lyf. En hy draai om en spring berg uit, en hy sê net "My ta se ta!"

Dit was donker toe Riet-alleen op die wal van Moetmekaar se drif uitkom; en daar stuit hy vir die eerste maal weer. Toe die weerlig slaan, sê hy: "Heitse! dis Nagali wat lig maak om my te soek!" en hy bêre sy lyf. Van ver kon hy die swart water hoor brom, want die rivier was kwaai, en voor hom in die drif siet hy die aandlig soos die stert van 'n vis die maalwater swaai. "Deurgaan of ramkie se snaar!" sê Riet-alleen, en hy trap die water in. En oorkant, teen die wal, sit ou Nagali se Narrakierie, en Riet-alleen hoor dat sy hom uitlag. En toe sê hy: "Heitse, Ousie!" Netnou sal ons met mekaar van naby gesels. My vuurmaakplek is na die bokant!" en net daar het die groot ongeluk hom gevang. Hy het vergeet dat hulle by Gammadoekies gehoor het dat Nagali op oulaas die towerstokkie gekry het wat haar baas maak oor die krokodil. En toe Riet-alleen die wart water inloop en hy voel dit maal, toe sing hy die regmaakliedjie:

Ek vat hier en jy vat daar, O julle Geel Goed, gryp mekaar.

Maar dit kon nie help nie. Oorkant teen die wal gewaar hy die maalgat voor sy voete, en deurkom is min. En toe siet hy net langs hom die groot soetdoringstomp met een punt in die vlak water. Hy klim stadig op en hy loer waar Nagali se Narrakierie sit en hy lag lekker in die holte van sy hand. En toe voel hy die soetdoringstomp roer onder hom, en hy klou vas met al sy naels, en hy roep sy ooroupa se groot naam, drie keer. Maar dit help nie Hy hoor die Narrakierie roep: "My ouboet, watter kant is jou vuurmaakplek?" Maar hy het die antwoord vergeet. Toe gewaar hy dit is Nagali se krokodil; en toe hy hom weer kry, lê hy hoog op die sandwal waar hy vandaan gekom het; maar hy weet dit nie. En hy spring weer weg en begint weer op sy voorkop slaan, en hy onthou weer Heitsi-ebib se boodskap, en hy skiet die nag in. En voor hom siet hy die groot vuur, en hy stuit tussen hulle net met die kom van die rooidag, en hy begint sy boodskap opsê. Maar eer hy halfpad was, gryp hulle hom, en toe gewaar hy dat hy weer terug is in Gammadoekies, en dis sy einste oupa wat hom aan die linkerbeen beet het. En Heitsi-ebib sê vir ou Klipdas-Eenoog:"Ons moet hom stywer span as die snaar van die groot ramkie!"

En daar het hulle die vuurtjie doodgemaak van Riet-alleen-in-die-roer-kuil.

Eugène N. Marais

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7