Die Nasionale Party aan bewind, 1948 - 1961

Die oorwinning wat die Herenigde Nasionale Party in Mei 1948 by die stembus behaal het, was 'n belangrike keerpunt in die geskiedenis van Suid-Afrika. Waar die land tot in daardie stadium 'n dominium van die Britse Statebond was en deur talle bande aan Brittanje verbind was, het die nuwe regering syvisier op 'n onafhanklike republiek gestel. Waar daar voorheen 'n neiging was om in die rigting van 'n veelrassige staat beweeg en aan die nie-blankes groter verteenwoordiging in die wetgewende liggame te gee, het die nuwe regering die een apartheidswet ná die ander in die wetboek geplaas. Die regering se oogmerke was om 'n republiek tot stand te bring en sy apartheidsbeleid uit te voer.

Die Nasionale Party: eenheid en groei

Die nuwe eerste minister, dr. D.F. Malan, was reeds 'n man van 74 jaar toe hy by Smuts oorgeneem het. Hy het nie Smuts se internasionale aansien gehad nie, maar was 'n ervare politikus en iemand wat die vertroue van die Afrikaanssprekendes geniet het. Hy het sy loopbaan as 'n predikant begin, maar in 1915 ingewillig om redakteur van 'n nuwe Kaapse dagblad, De Burger, te word. In 1924 het hy 'n lid van Hertzog se kabinet geword, maar toe Hertzog en Smuts in 1934 ooreenkom om hul partye saam te smelt in die Verenigde Party, het Malan met 'n klein groepie ondersteuners geweier om saam te gaan. Van 1934 tot 1948 was hy as leier van die Nasionale Pasrty ook leier van die opposisie - aanvanklik tydens Hertzog se bewind en later, gedurende die oorlogsjare, tydens Smuts se bewind. Hy het in die loop van sy lang politieke loopbaan indruk gemaak as 'n grondige denker, 'n koersvaste leier en 'n bekwame parlementariër. Hy was nie iemand vir die vinnige antwoord, die spitsvondige tussenwerpsel of die behendige systap nie, maar het in 'n besondere mate oor die vermoë beskik om die korrels van die kaf te skei, sy gedagtes helder te formuleer en sy gehoor met hom mee te voer. As redenaar het hy in sy tyd geen gelyke in Suid-Afrika gehad nie.

Malan het die leier van die Afrikanerparty, N.C. Havenga, in sy kabinet opgeneem en hom Minister van Finansies gemaak. Die ander ministers wat hy aangestel het, was E.G. Jansen (Naturellesake), J.G. Strijdom (Lande), C.R. Swart (Justisie), P.O. Sauer (Vervoer), S.P. le Roux (Landbou en Bosbou), E.H. Louw (Mynwese en Ekonomiese Ontwikkeling), A.J. Stals (Onderwys, Gesondheid en Volkswelsyn), T.E. Dönges (Binnelandse Sake en Pos- en Telegraafwese), F.C. Erasmus (Verdediging) en B.J. Schoeman (Arbeid en Publieke Werke). Jansen is sowat twee jaar later bevorder tot Goewerneur-generaal en in sy plek is dr. H.F. Verwoerd as Minister van Naturelle sake aangestel. Die kabinet is terselfdertyd vergroot van 12 tot 14 lede en Malan het J.F.T. Naudé en J.H. Viljoen as nuwe ministers aangestel. Die aanstelling van Viljoen het meegebring dat die Afrikanerparty 'n tweede verteenwoordiger in die kabinet gekry het.

Ná die verkiesing van Mei 1948 het die regering 'n m eerderheid van slegs vyf in die Volksraad gehad as die drie Naturelle-verteenwoordigers by die opposisie getel word. Dit het beteken dat die Herenigde NP op die steun van sy bondgenoot, die Afrikanerparty, aangewese was, want hierdie party het nege verteenwoordigers in die Volksraad gehad. As dié nege besluit het om die opposisie te steun, sou die Herenigde NP nie aan bewind kon gebly het nie. Die Herenigde NP se posisie het nietemin gaandeweg sterker geword. In Mei 1949 het hy die kiesafdeling Vereeniging in 'n tussenverkiesing verower. In Augustus 1950 het hy al ses setels in die verkiesing in Suidwes-Afrika verower.

Die Herenigde NP was toe nie meer op die Afrikanerparty se steun aangewese nie, maar die twee partye het nogtans sonder enige noemenswaardige wrywing bly saamwerk. Die twee leiers, Malan en Havenga, het goed oor die weg gekom - só goed dat hulle in Augustus 1951 besluit het om hul partye saam te smelt in die Nasionale Party. Die weglating van die woord Herenigde voor die naam Nasionale Party het beteken dat teruggekeer is na die ou naam wat die party van sy stigting in 1914 tot 1939 gehad het.

In die algemene verkiesing van April 1953 het die Nasionale Party sy setels in die Volksraad opgestoot van 85 (die 6 verteenwoordigers van Suidwes-Afrika ingesluit) tot 94, terwyl die VP se setels gedaal het van 64 tot 57 en dié van die Arbeidersparty van 6 tot 4. Die NP het ook 'n groter getal stemme op hom verenig as in Mei 1948, maar die 49% wat hy gekry het, was nog minder as die 50,2% van die Verenigde Demokratiese Front - d.w.s. die bondgenootskap wat bestaan het uit die VP, die Arbeidersparty en die Torch Commando.

In Oktober 1954 het Malan, wat reeds 80 was, aangekondig dat hy aan die einde van die daaropvolgende maand as Eerste Minister sou uittree. Op die vraag wie hom moes opvolg, is twee name genoem: Havenga en Strijdom. Havenga, die eertydse vertroueling van Hertzog en politieke teenstander van Malan, was 'n man van 72 jaar, leier van die NP in Natal en Minister van Finansies. Strijdom, die vurige nasionalis wat in 1934 saam met Malan van Hertzog weggebreek het, was 61 jaar oud, leier van die NP in Transvaal en Minister van Lande en Besproeiing. Malan se keuse was Havenga. Hoewel Havenga van 1934 tot 1951 aan 'n ander party behoort het en dus 'n betreklik nuweling in die NP was, het hy sedert Mei 1948 lojaal by Malan gestaan. Hy was inderdaad in die tydperk 1948-1954 besonder na aan Malan - veel meer as Strijdom. Strijdom het vóór en ná die verkiesing van Mei 1948 herhaaldelik oor belangrike beleidspunte met Malan gebots. So was Malan in 1947 t.g.v. 'n koalisie met die Afrikanerparty; Strijdom was daarteen. Malan wou 'n republiek binne die Britse statebond hê; Strijdom daarbuite. Malan en Havenga het die standpunt gehuldig dat 'n tweederde-meerderheid verkry kon word om die Kleurlinge op 'n aparte kieserslys te plaas, dit nie langer nodig sou wees om die geskil oor soewereiniteit van die parlement verder te voer nie; Strijdom wou die soewereiniteit van die parlement tot elke prys verseker. Die ekstremistiese houding wat Strijdom telkens ingeneem het, het verwydering tussen hom en Malan gebring.

Malan was daarvan bewus dat Strijdom 'n sterker aanhang in die koukus gehad het as Havenga en dat hy beslis verkies sou word as hy voorgestel word. Met die doel om te verhinder dat Strijdom in die koukus voorgestel word, het Malan 'n kabinetsvergadering vir 18 November 1954 belê. Hier hiet hy, in die afwesigheid van Havenga en Strijdom, o penlik kant gekies vir havenga. Hy het Havenga geloof as 'n m edebouer van Afrikanereenheid en na hom verwys as 'n groot nasionale in internasionale figuur. Na Strijdom het hy verwys as Havenga se junior en iemand wat herhaaldelik 'n klip in die weg van Afrikanereenheid gerol het. Hy het vervolgens 'n beroep oop die kabinet gedoen om te verseker dat slegs een man, dié van Havenga, aan die koukus voorgelê word. Hiermee was Strijdom se ondersteuners nie gediend nie. Verwoerd, S.P. le Roux en Ben Schoeman het laat blyk dat hulle nie van plan was om aan die Eerste Minister se versoek gehoor te gee nie. Die gevolg was dat sowel Havenga as Strijdom op 30 November 1954 in die koukus benoem is. Havenga het besef dat hy geen kans het om verkies te word nie en sy uittrede uit die politiek aangekondig. Strijdom is daarop eenparig verkies tot Eerste Minister.

Die nuwe eerste minister was 'n vurige republikein, 'n voorstander van apartheid en bekend vir sy onverdraagsaamheid wat on-Afrikaanse en liberale gedagtes betref. Vir hom was apartheid sinoniem met blanke baasskap. Hy was beginselvas en het alle kompromieë afgewys. Die kragdadigheid en strydvaardigheid waarmee hy sy taak gestel het, het sy gehoor meegevoer en sy ondersteuners het met trots na hom verwys as "die Leeu van die Noorde".

Strijdom het sy voorganger se ministers behou en slegs enkele veranderinge in die toekenning van portefeuljes gemaak. Die twee vakatures wat a.g.v. Malan en Havenga se uittrede ontstaan het, is deur J.J. Serfontein en Jan de Klerk gevul.

In die verkiesing van April 1958 was die apartheidsbeleid weer eens in die middelpunt van die stryd. Die VP het aangevoer dat dit 'n beleid is wat nie in die praktyk kan werk nie.

Die NP het verklaar dat dit kán werk en dat dit sekuriteit bied vir die blankes se voortbestaan in Suid-Afrika. Die uitslag van die verkiesing het getoon dat die steun vir die NP steeds toeneem. Die party het sy getal setels opgestoot van 94 tot 103, terwyl die VP" s'n gedaal het van 57 tot 53 en die Arbeidersparty al 5 sy setels verloor het. Die NP het nou ook vir die eerste keer meer stemme as die VP" gekry - 55,1 teenoor 43,3%.

Ná die algemene verkiesing het Strijdom twee nuwe ministers aangestel in die plek van J.H. Viljoen, wat in Desember 1957 oorlede is, en S.P. le Roux, wat in Mei 1958 bedank het. Die twee nuwelinge was M.D.C. de Wet Nel en P.M.K. le Roux.

Strijdom was nie bestem om lank die amp van Eerste Minister te beklee nie. Ná 'n dienstermyn van 'n bietjie meer as drie jaar,  is hy in Augustus 1958 oorlede. Oor sy opvolger het daar nie eenstemmigheid bestaan nie en drie persone is in die NP se koukus voorgestel: C.R. Swart, dr. T.E. Dönges en dr. H.F. Verwoerd. Swart was 'n veteraan-politikus, leier van die NP in die Vrystaat en Minister van Justisie. Dönges was 'n bekwame parlementariër, leier van die NP in Kaapland en Minister van Binnelandse Sake. Verwoerd was die jongste van die drie kandidate, 'n vertroueling van Strijdom en Minister van Naturellesake. In die eerste stemming was die uitslag: Verwoerd 80, Dönges 75 en Swart 41. Met Swart uitgeskakel, is weer gestem en hierdie keer het Verwoerd 98 en Dönges 75 stemme gekry. Die 57-jarige Verwoerd het dus die sesde premier van Suid-Afrika geword.

Die nuwe eerste ministers was 'n Hollander van geboorte en het as 'n kleurter met sy ouers na Suid-Afrika geëmigreer. Ná die voltooiing van sy skoolloopbaan is hy na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy 'n doktorsgraad in die Sielkunde behaal het. Hy is daaroop vir verdere studie na Duitsland en met sy terugkeer in Suid-Afrika het hy 'n professor aan sy ou universiteit geword. In Januarie 1937  aanvaar hy 'n aanbod om redakteur van Die Transvaler te word. Met die bewindsoorname van die NP in Mei 1948 is hy as senator aangestel. In die Senaat het hy voorstanders en teenstanders beïndruk met sy kennis, logika en welsprekendheid. Hy het met groot bekwaamheid die regering se omstrede apartheidsbeleid verdedig en riglyne vir die toekoms uitgestippel. In Oktober 1950 het Malan hom dan ook in dr. E.G. Jansen se plek aangestel as Minister van Naturellesake, in welke amp hy 'n sleutelrol gespeel het met die toepassing van die apartheidsbeleid. Hy was die vindingryke argitek wat die beleid in besonderhede uitgespel het, die ywerige verkoopsman wat die wêreld probeer oortuig het dat dit 'n regverdige beleid was en die bekwame administrateur wat die beleid in die praktyk begin toepas het.

Onder Verwoerd se leiding het die NP verder gegroei. In die referendum van Oktober 1960 het 52% van die kiesers hul steun toegesê aan die NP se plan om Suuid-afrika van 'n monargie in 'n republiek te omskep. In die verkiesing van Oktober 1961 het die NP se stels in die Volksraad van 103 tot 105 vermeerder.

Waarom het die kiesers in die verkiesings van 1953, 1958 en 1961 in steeds toenemende getalle vir die NP gestem? Een rede is ongetwyfeld dat die kiesers gunstig beïndruk was deur die NP se apartheidsbeleid. Die feit dat die res van die wêreld die beleid veroordeel het as onprakties, onregverdig en onchristelik, het op die meerderheid kiesers geen indruk gemaak nie. Hulle was tevrede dat dié beleid hulle teen die nie-blankes se mededinging sou beskekrm en sou verseker dat die blankes nie die politieke mag verloor nie. 'n Tweede rede vir die groeiende gewildheid van die NP was die feit dat die party hom in toenemende mate geïdentifiseer het met die Afrikanervolk. Die opvatting het gaandeweg begin veld wen dat 'n Afrikaner wat werklik 'n Afrikaner is, slegs aan die NP kan behoort. Dat hierdie identifisering van die NP met die Afrikanervolk toenemende steun vir eg. verseker het, word duidelik as 'n mens in gedagte hou dat daar heelwat meer Afrikaans- as Engelssprekendes in Suid-afrika is (sowat 60% tenoor 40%); dat die Afrikaanssprekendes vinniger aanwas as die Engelssprekendes; en dat die afbakening van kiesafdelings die platteland, waar die meerderheid Afrikaanssprekendes gevestig is, bevoordeel. As 'n derde rede vir die groei van die NP kan genoem word dat die party op die golf van Afrikanernasionalisme gery het. Dit was 'n golf wat in die vyftigerjare steeds aangegroei en die NP met hom saamgedra het. Die idealisme, geesdrif en doelgerigtheid wat kenmerkend van nasionale bewegings is, het die NP sterk bevoordeel.

Die opposisie: struweling en agteruitgang

Terwyl die NP in die jare 1948-1960 van krag tot krag gevorder het, is die VP deur inwendige twiste benadeel. Die uiteenlopende elemente wat in die VP byeen was, het op belangrike punte nie altyd saamgestem nie. Soms i s daarin geslaag om die barste toe te smeer, maar ander kere het die minderhede weggebreek en hul eie partye gestig.

Die eerste tekens van onenigheid in die VP het reeds enkele dae ná die verkiesingsuitslag verskyn. Op 31 Mei 1948 het senator Andrew Conroy op 'n vergadering van oud-ministers, waar Smuts nie teenwoordig was nie, 'n beroep op Jan Hofmeyr gedoen om te bedank as voorsitter van die VP se Uitvoerende Raad. Ander konserwatiewe lede van die party het dieselfde menign gehuldig. volgens hulle was dit Hofmeyr se liberale uitlatinge wat hulle die verkiesing laat verloor het. Hofmeyr was na hul mening 'n verleentheid vir die party en geheel en al onaanvaarbaar as Smuts se opvolger. Smuts het sy bekwame luitenant verdedig, maar het besef dat dit nie in belang van die VP sou wees as hy in daardie stadium die leisels aan Hofmeyr oorhandig nie. Die bejaarde Smuts, wat reeds 78 was, het dus as leier van die VP aangebly.

Hofmeyr sou egter nie lank 'n verleentheid vir die VP bly nie. In Desember 1948 is hierdie begaafde man in die ouderdom van 54 jaar oorlede. Hy was Smuts se bekwaamste luitenant, 'n briljante administrateur, 'n toegewyde werker en iemand met hoë morele beginsels. "He was," het Smuts met sy heengaan geskryf, "in a sense the conscience of south Africa."(1)

(1) W.K. Hancock: Smuts, vol. 2, p. 516

Smuts het Hofmeyr nie lank oorleef nie. In September 1950, nie 'n volle twee jaar ná Hofmeyr se dood nie, is hy in die ouderdom van 80 jaar oorlede. Vir die VP was dit 'n groot verlies. Hoewel Smuts reeds 'n ou man was en ietwat verdwaas gelaat is deur die nederlaag van Mei 1948, was sy leierskap vir die VP van onskatbare waarde. Hy was 'n Afrikaner wat ten volle deur die Engelssprekendes vertrou is, 'n heroïese figuur uit die Anglo-boereoorlog, 'n skerpsinnige en ervare politikus en 'n staatsman van wêreldformaat.

Smuts is as leier van die VP opgevolg deur J.G.N. Strauss. Die nuwe leier was 'n bekwame poliltikus, maar hy het uit die staanspoor op weerstand in sy eie party gestuit - deels omdat hy sulke uiteenlopende elemente in sy party moes bymekaar hou; deels omdat hy n ie in staat was om dieselfde agting as Smuts af te dwing nie.

Die wetsontwerp wat die regering in Maart 1951in die Volklsraad ter tafel gelê het om die Kleurlinge van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder en op 'n aparte kieserslys te plaas, het tot gevolg gehad dat die VP 'n nuwe bondgenoot bygedkry het - die Torch Commando. Dit was 'n organisasie wat d.m.v. fakkeloptogte, protesvergaderings en petisies teen die regering se wetsontwerp geprotesteer het en op die hoogtepunt van sy bestaan byna 'n kwart miljoen lede gehad het. Die stigters van die beweging was 'n aantal oud-soldate wat 'n sterk ooreenkoms gesien het tussen die idees van die regering en dié van Adolf Hitler en Benito Mussolini, teen wie hulle in die Tweede Wêreldoorlog geveg het. Hulle het dit veral gehad teen die regering se beheptheid met apartheidswetgewing, sy ophemeling van Afrikanernasionalisme, aantasting van minderheidsregte, minagting vir die konstitusie en onverskilligheid jeens kritiek. Die wetsontwerp om die Kleurlinge van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder, was volgens hulle verteenwoordigend van al hierdie euwels. Wat hulle veral ontstel het, was die regering se voorneme om die wetsontwerp sonder 'n tweederde-meerderheid deur die parlement te loods. Dit was vir hulle 'n verkragting van die grondwet en hulle was vasbeslote om die wetsontwerp teen te staan.

In Mei 1951 het hierdie oud-soldate gevolglik 'n aantal protesvergaderings in Johannesburg, Port Elizabeth en Kaapstad gereël. Die reaksie was so bemoedigend dat daar kort daarna 'n War Veterans Torch Commando, wat spoedig verkort is tot Torch Commando, gestigis om landwyk druk op die regering uit te oefen. Die leier was A.G. (Sailor) Malan, 'n oud-vlieënier wat tydens die Tweede Wêreldoorlog beroemdheid verwerf het vir sy rol in die Britse lugmag. Hy het dit duidelik gestel dat die Torch Commando nie 'n politieke party wou wees nie, maar slegs 'n drukgroep wat die regering wou dwing om sy wetsontwerp oor die Kleulrlinge se stemreg te laat vaar. Die regering het hom nie veel aan die proteste gesteur nie en voortgegaan met sy plan om die Kleurlinge m.b.v. 'n gewone meerderheid van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder. Die Torch Commando het daarop besluit dat daar dan net een uitweg oorbly en dit was om die amptelike opposisie te help om die regering met die volgende verkiesing uit die kussings te lig. Die VP het hierdie steun van die kant van die Torch Commando verwelkom. "The are," het Strauss verheug verklaar, "General Smuts' boys. They are our friends. They are good material, and their program is a good one."(2) Die Torch Commando en die VP het gevolglilk al nader aan mekaar beweeg. In April 1952 is bekend gemaak dat die Torch Commando, die VP en die Arbeidersparty 'n United Democratic Front gevorm het met die doel om die regering met die verkiesing uit die kussings te lig. Hierdie samesnoering van kragte het weinig gehelp. In die verkiesing van April 1953 het die getal setels van die VP en Arbeidersparty verder gedaal - die VP s'n van 65 tot 57 en die Arbeidersparty s'n van 6 tot 4. Die Torch Commando jhet dus geheel en al misluk in sy poging om die regering tot 'n val te bring.

Op die vraag waarom die Torch Commando die kiesers eerder afgeskrik as aangetrek het, kan meer as een antwoord gegee word. Een rede is dat die organisasie te oorwegend Engelssprekend was. Die leiers was in groot mate Engelssprekende oud-soldate wat vol lof vir Brittanje was. Hul voortdurende verwysings na hul aandeel ind ie oorlog en die stryd wat hulle vir die demokrasie gestry het, het diegene wat teen Suid-Afrika se deelname aan die oorlog was verder afgestoot. Afrikaanssprekendes het die Torch Commando as die Engelse ekwivalent van die Ossewa-Brandwag gesien en wou niks daarmee te doen hê nie. As 'n tweede rede kan gemeld word dat die Torch Commando se semi-militêre aard, dreigemente teenoor die regering en botsings met lede van die NP en die polisie die indruk by sommige kiesers gewek het dat dit 'n militante, anargistiese en gewelddadige organisasie was. 'n Derde rede vir die Torch Commando se onvermoë om die kiesers te beïndruk, was die feit dat die lede van die organisasie oor verskeie belangrike punte nie saamgestem het nie. Sommige wou die Kleurlinge as lede toelaat, andere wou nie. Daar was enkele lede wat werklik bekommerd was oor die Kleurlinge se regte, maar die meerderheid het koud daarteenoor gestaan. Die Natalse lede wou die reg hê om van die Unie van Suid-Afrika weg te breek as hulle dit verkies, maar Sailor Malan e.a. lede van die organisasie was nie gelukkig daaroor nie.

Die nederlaag wat die VP in die verkiesing van April 1953 gely het, het tot gevolg gehad dat drie nuwe partye gestig is: die Liberale Party, die Unie-Federale Party en die Konserwatiewe Party.

Die Liberale Party is in Mei 1953 in Kaapstad gestig. Onder die leidende persone daarin was mev. Margaret Ballinger, L.V., haar eggenoot, sen. Willion Ballinger, die bekende skrywer Alan Paton, dr. O. Wolheim, Leo Marquard, Patrick Duncan (seen van 'n voormalige goewerneur-generaal) en die swart joernalis Jordan Ngubane. Heelwat later, in die sestigerjare, het oud-senator Edgar Brookes ook amptelik by die party aangesluit.

Die beleid van die Liberale Party was feitlik in elke opsig presies die teenoorgestelde van dié van die NP. Waar die NP 'n beleid van rasseskeiding voorgestaan het, wou die Liberale Party alle skeidslyne tussen rasse verwyder. Die party het gestreef na 'n veelrassige staat met gelyke politieke regte vir almal. De klem het swaar op die vryheid van die individu geval. Die individu moes vry wees om na goeddunke te handel - met die enkele voorbwehoud dat hy nie inbreuk maak op die regte van ander nie. Hy kon woon waar hy wou, werk waar hy wou, aanbid waar hy wou, trou met wie hy wou - ongeag ras, kleur of geloof. Hiermee het die NP - en in 'n mindere mate ook die VP - radikaal verskil. Die klem wat die Liberale Party op vryheid gelê het, het ook geïmpliseer dat hy sterk gekant was teen enige vorm van diktatuur - of dit nou fascisme of kommunisme was.

Die Liberale Party het homself gesien as 'n brug tussen blank en nie-blank, maar weinig blankes en nie-blankes was bereid om mekaar op hierdie brug te ontmoet.

Die blankes het die beleid van die party as te radikaal beskou. Die idee van 'n veelrassige staat met gelyke politieke regte vir almal was vir hulle totaal onaanvaarbaar. In die verkiesing van April 1958 is die Liberale Party se drie kandidate gevolglik verpletterend verslaan. Die enigste lede van die party in die parlement was diegene wat as Naturelle-verteenwoordigers gekies is - in die Volksraad mev. Margaret Ballilnger (sedert 1937) en Walter Stanford (sedert 1954; in die Senaat William Ballinger (sedert 1948) en dr. Leslie Rubin (sedert 1954). Hierdie vier lede van die Liberale Party is egter in Junie 1960 ontsetel toe die Wet op Bevordering van Bantoe-selfbestuur (No. 46 van 1959) die verteenwoordiging van swartes in die parlement beëindig het.

Waar die blankes die Liberale Party se beleid as te radikaal van aard beskou het, was die nie-blankes weer van mening dat die party nie radikaal genoeg was nie. In 'n poging om groter nie-blanke steun te verkry en die polarisasie van nie-blankes in swart organisasies soos die ANC teen te werk, het die party daarop verder links beweeg. Dit blyk o.m. uit die agtereenvolgende antwoorde wat die party gegee het op die vraag wie almal mag stem - alle volwassenes of net beskaafde volwassenes? Op die party se eerste kongres in 1953 is daar by Cecil Rhodes se "equal rights for all civilized men" aangeknoop en 'n vorm van gekwalifiseerde stemreg is voorgestaan. Hierdie beleid is gekritiseer omdat dit 'n onderskeid getref het tussen eersteklas- en tweedeklasburgers. Op die party se tweede kongres in 1954 is gevolglik besluit dat algemene stemreg die einddoel is, maar dat daar moontlik aanvanklik, as 'n tussentydse maatreël, gekwalifiseerde stemreg sou wees. Ook hierdie toegewing het sommige lede nie bevredig nie. Tydens die kongres van 1960 is nog verder gegaan en bepaal dat alle volwassenes, beskaaf en onbeskaaf, die stemreg sou kry.

Die Liberale Party het van sy stigting tot sy ontbinding 'n sukkelende bestaan gevoer. Die totale getal lede (blank en nie-blank) het nooit 5 000 oorskry nie. In Mei 1968 is die party ontbind omdat die Wet op die Verbod van Politieke Inmenging (No. 51 van 1968) 'n verbod geplaas het op politieke partye wat veelrassig is.

In dieselfde maand dat die Liberale Party gestig is (Mei 1953), het senator Heaton Nicholls en 'n aantal ondersteuners van die VP weggebreek en die Unie-Federale party gestig. Hulle was t.g.v. die toekenning van groter magte aan die provinsies sodat die Engelssprekendes in Natal hul eie sake kon reël. Die ondersteuners van hierdie party was hoofsaaklik Engelssprekende Natallers wat hulle wou verset teen die toenemende invloed van Afrikaanssprekendes en die plan om 'n republiek in Suid-Afrika tot stand te bring. Hulle wou die reg hê om, indien 'n republiek tot stand kom, van die ander provinsies weg te breek en binne die Britse Statebond te blyl Hierdie U-FP kon egter nie eens daarin slaag om 'n setel in die Natalse Provinsiale Raad te wen nie. Dit was so goed as doodgebore.

In die somer van 1953-1954 is die VP verder verswak toe eers vier en later twee Volksraadslede teen die partyleiding in opstand gekom het. Hierdie ses rebelle, Bailey Bekker, Blaar Coetzee, Frank Waring, dr. Abraham Jonker, Arthur Barlow en dr. Vernon Shearer, was van die VP se konserwatiewe vleuel en het Strauss se onversetlike houding teenoor die regering se voorgenome verwydering van die Kleurlinge van die gemeenskaplike kieserslys afgekeur. Hulle was bereid om met die NP oor 'n k ompromis te onderhandel. Toe Strauss nie daartoe wou instem nie, het hulle uit die VP bedank. Daarna het hulle aanvanklik na hulself verwys as die Onafhanklike Verenigde Party, maar later die naam Konserwatiewe Party aangeneem. Uiteindelik het drie van hulle - Waring, Coetzee en Jonker - hulle by die NP aangesluit. Shearer het weer teruggekeer na die VP en Bekker en Barlow het uit die politiek verdwyn.

Die ontevredenheid in die geledere van die VP met Strauss se leiding, het gaandeweg toegeneem. Daar is vergelykings getref tussen hom en Smuts. Sommige het die skuld vir die afsplintering van die weerbarstige groepe op hom gepak. Andere het beweer dat hy nie die persoonlikheid vir 'n leier het nie. Hierdie kritiek, wat nie altyd heeltemal billik was nie, het daaroop uitgeloop dat die VP se Uniale kongres in November 1956 eenparig besluit het om Strauss deur sir De Villiers Graaff te vervang. Die nuwe leier was 'n jong man van 43 jaar, lid van 'n ou en gerespekteerde Kaapse familie, innemend van geaardheid, hoflik teenoor almal en waardig in sy optrede. Hy het egter nie oor die vermoë beskik om die massa te inspireer nie. Die nuwe leier kon ook nie voorkom dat die VP in die verkiesing van April 1958 verder veld verloor nie. In die Volksraad het die party se setels afgeneem van 57 tot 53.

In Augustus 1959 het nog 'n skeuring in die VP plaasgevind - hierdie keer veel ernstiger as die vorige kere. Dit was 'n skeuring tussen die konserwatiewe en die liberale. Op die VP se kongres in Bloemfontein het twee vrae opgeduik waarop antwoorde gegee moes word. Die eerste was: Moes die swartes se parlementêre verteenwoordigers d.m.v. 'n gemeenskaplike of aparte kieserslys verkies word? Die tweede was: Moes bykomende grond aangekoop word vir die swart tuislande? Die kongresgangers het verskillende antwoorde gegee. Wat die eerste vraag betref, het dr. Louis Steenkamp voorgestel dat die VP as beleid neerlê dat die swartes se parlementêre verteenwoordigers d.m.v. 'n aparte kieserslys verkies word. Dit was die bestaande stelsel wat in gebruik was sedert Hertzog se 1936-wette. Die konserwatiewe was dit eens met dié voorstel. Die liberale het beswaar gemaak. Hulle wou die deur oop hou vir 'n gemeenskaplike kieserslys waarvolgens blank en nie-blank vir dieselfde kandidate kon stem. Toe die aangeleentheid tot stemming gebring word, was die konserwatiewe ver in die meerderheid. Wat die tweede vraag betref, het die Natalse leier, Douglas Mitchell, voorgestel dat die VP hom moes uitspreek teen die aankoop van verdere grond vir die swart tuislande. As rede het hy aangevoer dat die NP se nuwe beleid van onafhanklike swart tuislande twee groot euwels tot gevolg sou  hê - die verbrokkeling van Suid-Afrika in 'n aantal klein staatjies en die skep van state wat 'n vyandige houding teenoor Suid-Afrika kon inneem. Die konserwatiewe het met hom saamgestem. Die liberale het so 'n beleid as suiwer opportunisme bestempel en verklaar dat dit in stryd was met die standpunt wat die VP sedert die aanvaarding van Hertzog se 1936-wette ingeneem het. Die leier van die VP, Graaff, het met die liberale saamgestem, maar hy kon nie verhinder dat die kkonserwatiewe 'n meerderheid behaal nie.

Die liberale minderheid was bitter ontevrede oor die koers wat die VP onder druk van die konserwatiewe meerderheid ingeslaan het. Vir hulle het dit voorgekom of die konserwatiewe daarop uit was om die rassistiese beleid van die NP te probeer oortref. Wanneer iets tot voordeel van die swartman geag is (soos die aankoop van verdere grond vir die swart tuislande), dan bestry die konserwatiewe dit. Die liberale het nie hulle weg oopgesien om langer met die konserwatiewe saam te werk nie en verskeie liberale, waaronder 12 Volksraadslede, het gevolglik uit die VP bedank.

In November 1959 het hierdie rebelle die Progressiewe Party gestig. Die leier van die nuwe party was dr. Jan Steytler, die voormalige leier van die VP in Kaapland. Een van diegene wat by die party aangesluit het, was die bekende en invloedryke sakeman Harry Oppenheimer.

Die Progressiewe Party het uitgegaan van die standpunt dat daar een Suid-Afrikaanse nasie is en dat daar binne hierdie nasie verskillende groepe onderskei kan word. Elke groep was geregtig op deelname aan die land se regering. Ten opsigte van die nie-blankes het die Progressiewe Party sy plek tussen die VP en die Liberale Party ingeneem. Dit was minder radikaal as die Liberale Party in die sin dat waar die Liberale Party een mens een stem as doelwit gestel het, die Progressiewe Party 'n vorm van gekwalifiseerde stemreg voorgestaan het. Dit was meer radikaal as die VP in die sin dat waar die VP blanke leierskap voorop gestel het, die PP toegegee het dat sy beleid tot 'n swarat regering kan lei.

Van 1959 tot 1961 het die PP oor 12 verteenwoordigers in die Volksraad beskik, maar in die verkiesing van Oktober 1961 is hulle op een na almal uitgeskakel. Slegs mev. Helen Suzman het daarin geslaag om 'n kiesafdeling (Houghton) vir die PP te verower.

Die agteruitgang van die VP in die vyftigerjare kan aan verskillende redes toegeskryf word. Een van die vernaamste redes is ongetwyfeld dat die kiesers nie genoegsame vertroue in die party se nie-blanke beleid gehad het nie. Die VP het wel 'n beleid van blanke leierskap verkondig, maar in die lig van die toenemende ontevredenheid onder die nie-blankes in Suid-Afrika en elders in Afrika, het die kiesers 'n duideliker, fermer en konsekwenter beleid verkies. Die NP se apartheidsbeleid het na hul mening groter sekuriteit vir die blankes gebied as die VP se beleid van blanke leierskap. 'n Tweede rede vir die VP se agteruitgang, lê in die party se onvermoë om genoegsame steun van die Afrikaanssprekendes te verkry. Die Afrikaanssprekende kiesers was en is aansienlik meer as die Engelssprekende kiesers en 'n party wat nie hulle steun het nie, kan nooiot in Suid-Afrika aan bewind kom nie.

Die stryd oor Kleurlingstemreg

In Maart 1951 het die Minister van Binnelandse Sake, dr. T.E. Dönges, 'n wetsontwerp by die Volksraad ingedien wat voorsiening gemaak het vir die verwydering van die stemgeregtigde Kleurlinge in Kaapland van die gemenskaplike kieserslys. Die sowat 47 000 Kleurlinge, wat maar slegs 3,1% van die totale aantal kiesers in Suid-Afrika uitgemaak het, sou op 'n aparte kieserslys geplaas word. Hulle sou die reg hê om vier blanke verteenwoordigers vir die Volksraad, een blanke verteenwoordiger vir die Senaat en twee blanke of bruin verteenwoordigers in die Kaapse Provinsiale Raad te kies. Hierdie Wetsontwerp of Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers, wat die kwalilfiserende Kleurlinge van 'n kieserslys verwyder het waarop hulle reeds vir 'n eeu was, het 'n hewige stryd ontketen - 'n stryd wat byna ses jaar geduur het.

Waarom wou die regering die Kleurlinge op 'n aparte kieserslys plaas? Die eerste en vernaamste rede was ongetwyfel 'n vrees dat die Kleurlinge met verloop van tyd die politieke mag uit die blankes se hande kon neem. Hoewel die stemgeregtigde Kleurlinge in 1951 slegs sowat 3,1% van die totale aantal kiesers in Suid-Afrika uitgemaak het, was die regering van mening dat hulle in die toekoms 'n bedreiging vir die blankes kon word. As bewyse vir hierdie standpunt is aangevoer dat daar in 1951 in Kaapland reeds 183 552 bruin kinders op skool was, teenoor slegs 170 223 blanke kinders; dat die Kleurlinge 'n veel hoër geboortesyfer as die blankes het; en dat die getal Kleurlinge dus van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder, sou verseker word dat die politieke mag in die hande van die blankes bly. Die opposisie het nie met hierdie standpunt saamgestem nie. Die Kleurlinge was vir hulle geen bedreiging nie, maar bondgenote van die blankes. En ter ondersteuning van hul standpunt het die opposisie hulle o.m. op die uitsprake van genl. J.B.M. Hertzog beroep. Hertzog se mening was dat daar 'n noue verbintenis tussen die Kleurling en die blanke was en dat die Kleurling daarom dieselfde politieke regte as die blanke behoort te hê.

Daar was ook 'n tweede rede waarom die regering die Kleurlinge op 'n aparte kieserslys wou plaas. Dit was omdat die Kleurlinge, wat niks wou weet van apartheid nie, in die reël nie die NP ondersteun het nie. In die provinsiale verkiesing van Maart 1949 het die VP m.b.v. die Kleurlinge twee setels van die NP verower. Die voorkeur wat die Kleurlinge vir VP" getoon het, was dus vir die regering 'n verdere aansporing om hulle op ' n aparte kieserslys te plaas. Dit sou verseker dat hulle geen verdere faktor in die blankes se politiek sou wees nie.

Toe die regering sy Wetsontwerp op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers voor die Volksraad lê, was hy daarvan bewus dat artikels 35 en 152 van die Zuid-Afrika Wet vereis dat enige verandering aan die Kleurlinge se stemreg alleen kon geskied d.m.v. 'n tweederde-mneerderheid in 'n gesamentlike sitting van die Volksraad en die Senaat. Daar was egter vooraanstaande regsgeleerdes in Suid-Afrika en in die buiteland wat gemeen het dat artikels 35 en 152, die sg. verskanste artikels,  nie meer verskans was nie. Hulle het verskeie argumente vir hul standpunt aangevoer. In die eerste plek het hulle beweer dat die Statuut van Westminster die Unie van Suid-Afrika in 1931 soewerein onafhanklik gemaak het. Die parlement van die Unie van Suid-Afrika het dus die reg verkry om die grondwet na willekeur te wysig - met of sonder 'n tweederde-meerderheid. Tweedens is aangevoer dat die Appèlhof in 1937 in die saak van Ndlwana vs. Hofmeyr bevind het dat die Suid-Afrikaanse parlement soewerein is, dat die parlement wetgewing langs die weg van enige prosedure, d.w.s. met of sonder 'n tweederde-meerheid, kon aanneem en dat geen hof die bevoegdheid besit om oor die geldigheid van 'n wet van die Suid-Afrikaanse parlement te beslis nie. Ten derde is betoog dat die bepaling van 'n tweederde-meerderheid nie in hierdie geval ter sake was nie, aangesien die Kleurlinge se stemreg hulle nie ontneem word nie, maar nul name  slegs op 'n aparte kieserslys geplaas word. 

Enkele regsgeleerdes het egter nie met hierdie argumente saamgestem nie. Een van hulle was prof. D.V. Cowen van die Universiteit van Kaapstad, wat van mening was dat die verskanste artikels in die grondwet nog steeds van krag was en dat daar dus 'n tweederde-meerderheid nodig was om die Kleurlinge van die gemeenskaplike kieserslys te verwyder. In stryd met die mening van die meerderheid regsgeleerdes, het hy verklaar dat die Statuut van Westminster nie die verskanste klousules opgehef het nie en dat die Appèlhof se uitspraak in die saak van Ndlwana vs. Hofmeyr  verkeerd was. Die regering was egter vol vertroue dat sy regsadviseurs, wat op die mening van verskeie buitelandse gesaghebbendes gesteun het, reg was en die wetsontwerp is dan ook op die gewone wyse by die Volksraad ingedien.

Die leier van die opposisie, J.G.N. Strauss, het sonder versuim teen die prosedure beswaar gemaak. Hy het daarop bewys dat die wetsontwerp deur artikels 35 en 152 van die Zuid-Afrika Wet geraak word, wat impliseer dat dit deur 'n gesamentlike sintting van die Volksraad en die Senaat bespreek moes word en slegs met 'n tweederde-meerderheid aangeneem kon word. Die speaker, J.H. Conradie, het 'n lang uitspraak, wat swaar geleun het op die menings van Britse regsgeleerdes, die leier van die opposisie se standpunt verwerp. Hy het beslis dat die wetsontwerp op die gewone wyse deur die parlement geloods kon word. Die regering het dit dan ook gedoen en nòg die teenkanting van die opposisie, nòg die besware van die Kleurlinge en die proteste van die Torch Commando kon verhinder dat die Wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers (no. 46 van 1951) aangeneem word.

Die opposisie wou nie daarmee genoeë neem nie en het die wet in die naam van vier Kleurlingkiesers hof toe geneem. In Oktober 1951 het die Kaapse Hooggeregshof bevind dat die Appèlhof se 1937-uitspraak in die saak van Ndlwana vs. Hofmeyr hom verplig om die geldigheid van die betrokke wet te erken. Die Kaapse Hooggeregshof was trouens nie by magte om 'n beslissing van die Appèlhof tersyde te stel nie. Die opposisie het die wet daarom na die Appèlhof in Bloemfontein geneem. Vyf regters - hoofregter A. van de Sandt Centlivres en appèlregters Greenberg, Schreiner, Van den Heeven en Hoexter - het ses dae lank na die argumente van die advokate geluister. In Maart 1952 het die Appèlhof sy opspraakwekkende uitspraak gegee Die eenparige bevinding was dat die betrokke wet ongeldig was, aangesien die parlement nie die korrekte prosedure gevolg het nie. Die Appèlhof het ten eerste bevind dat die Statuut van Westminster geen uitwerking op artikels 35 en 152 van die grondwet gehad het nie. Die betrokke artikels was steeds van krag en daarom kon 'n wysing rakende die Kleurlinge se stemreg slegs deur 'n tweederde-meerderheid in 'n gesamentlike sitting van die Volksraad en die Senaat aangebring word. Die Appèlhof het ten weede ook die 1937-uitspraak in die saak van Ndlwana vs. Hofmeyr verwerp omdat die regters toe sondeer meer aangeneem het dat die Statuut van Westminster artikels 35 en 152 herroep. Ten derde het die Appèlhof verklaar dat hy nie die argument kon aanvaar dat die betrokke wet geen aantasting van die Kleurlinge se regte was nie. Hierdie argument het volgens die Appèlhof daarop neergekom dat iemand van sy eiendom beroof mag word solank die rower bereid is om i ets van gelyke waarde in die plek daarvan te gee. Die Alppèlhof het dus bevind dat die Kleurlinge alleen op 'n afsonderlike kieserslys geplaas kon word as 'n tweederde-meerderheid in 'n gesamentlike sitting van beide huise van die parlement so besluit.

Die uitspraak het groot opslae gemaak. Die Eerste Minister, dr. D.F. Malan, het onmiddellik verklaar dat die regering die nodige stappe sal doen om die soewereiniteit van die parlement te verseker. Dit was vir hom ondenkbaar dat 'n wet van die parlement deur 'n hof ongeldig verklaar kon word. In 'n gesamentlike verklaring op 24 Maart 1952 deur die vier provinsiale leiers van die NP is na die grondwet verwys as "wetgewing deur 'n Britse parlement" en die VP is daarvan beskuldig dat hy die volk in 'n "toestand van konstitusionele slawerny" wou hou deur op die bepalinge in die grondwet te wys. Die vier leiers het dit duidelik gestel dat die regering nie by die uitspraak sou berus nie. "Staan saam." was hul wekroep, "in hierdie nuwe wending van die Vryheidstryd. Die geveg sal enduit gevoer word ... Geen kompromis is moontlik nie."(3)

(3) Die Transvaler, 25 Maart 1952, p. 2

Sowat 'n maand ná die uitspraak van die Appèlhof het dr. T.E. Dönges 'n wetsontwerp aan die Volksraad voorgelê waarin voorsiening gemaak is vir 'n Hoë Hof van die Parlement. Hierdie nuwe hof wat uit die lede van die Volksraad en die Senaat sou bestaan, sou die bevoegdheid besit om wette wat deur die Appèlhof ongeldig verklaar is, weer geldig te verklaar. Die opposisie het hierdie wetsontwerp met alle mag bestry, maar hulle kon nie verhinder dat die Hoë Hof van die Parlement 'n werklikheid word nie. In Augustus 1952 het die Volksraadslede en senatore van die NP in Pretoria as die Hoë Hof van die Parlement byeengekom en die Appèlhof se uitspraak oor die Wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers nietig verklaar. Enkele dae later is die Hoë Hof van die Parlement op sy beurt deur die Kaapse Hooggeregshof nietig verklaar. Die regering na die Appèlhof geappelleer, maar die appèkl is in November 1952 verwerp. Die Appèlhof het bevind dat die Hoë Hof van die Parlement geen geregshof kon wees nie, o.m. omdat sy lede nie regskwalifiskasies besit het nie. En bowendien was die Hoë Hof van die Parlement in stryd met die regsbeginsel dat niemand sy eie regter mag wees nie.

Hierdie uitspraak was 'n swaar slag vir die regering, maar nie die einde van die stryd oor die Kleurlilngstemreg nie. Die ontevredenheid wat omstreeks hierdie tyd in die VP ontstaan het oor die leiding wat Strauss gegee het, het die regering laat glo dat daar 'n moontlikheid bestaan dat hy die regtervleuel van die VP kon oorreed om sy saak te steun. In Julie 1953 het Malan gevolglik by 'n gesamentlike sitting van beide huise van die parlement 'n wetsontwerp ingedien met 'n drieledige doel: om die Wet op Afronserlike Verteenwoordiging van Kiesers geldig te verklaar; om die grondwet sodanig te wysig dat die nie-blankes se stemreg nie langer deur 'n tweederde-meerderheid verskans sou wees nie; en om die bevoegdheid van geregshowe te omskrywe.

Die regering se verwagting om die steun van die VP se regtervleuel te verkry, is egter nie bewaarheid nie. Met die finale stemming in September 1953 was daar 16 stemme kort vir 'n tweederde-meerderheid. In die maand daarop, Oktober 1953, het die regering weer probeer. Hierdie keer is die bepalinge oor die wysiging van die grondwet en die bevoegdhede van die geregshowe uit die wetsontwerp weggelaat. Voor die tweede lesing is die wetsontwerp egter na 'n gekose komitee verwys ten einde die kloof tussen die opposisie en die regering te probeer oorbrug. In Mei 1954 het die regering vir die derde keer 'ng esamentlike sitting van beide huise van die parlement belê om 'n tweederde-meerderheid vir sy wetsontwerp te probeer verkry. Hoewel die regering nou op die steun kon reken van die ses lede wat onder die leiding van Bailey Bekker van die VP weggebreek het, het in die finale stemming nog 9 stemme kortgekom vir 'n tweederde-meerderheid.

Nog was dit nie die einde van die uitgerekte stryd oor die Kleurlinge se stemreg nie. Malan is in Novermber 1954 deur Strijdom opgevolg en die nuwe eerste minister het laat blyk dat hy vasbeslote was om die stryd voort te sit. Daar is nou met die nuwe plan gekom om sowel die Appèlhof as die Senaat te vergroot. In Mei 1955 is die Wet op die Kworum van die Appèlhof (No. 27 van 1955) aangeneem. Dit het die aantal appèlregters van vyf tot 11 vermeerder wanneer oor die geldigheid van 'n wet beslis moes word. Die regering het blykbaar gemeen dat die ses nuwe appèlregters sy saak gunstiger gesind sou wees as die bestaande vyf. In Junie 1955 is ook die Senaatwet (No. 53 van 1955) in die wetboek geplaas. Hierdie w et het nie alleen die aantal senatore van 48 tot 89 vermeerder nie, maar ook die samestelling van die Senaat sodanig verander, dat die regering in die nuwe Senaat 77 senatore sou hê teenoor die opposisie se 12. Dit sou die regering van 'n tweederde-meerderheid verseker. Die taktiek wat die regering gevolg het om sy doel te bereik, het hewige reaksie uitgelok. Die opposisie het die vergroting van die Senaat bestempel as 'n verkragting van die grondwet. En selfs in die geledere van die NP was daar persone wat nie die regering se taktiek goedgekeur het nie. In Pretoria het 13 universiteitsdosente, almal ondersteuners van die NP, 'n petisie teen die vergroting van die Senaat geteken. Die proteste het niks gehelp nie. 

Met behulp van die vergrote Senaat en die vergrote Appèlhof kon die regering nou daartoe oorgaan om die Kleurlinge van die gemeenskaplike keiserslys te verwyder. In Februarie 1956 is 'n gesamentlike sitting belê en 'n wetsontwerp ingedien om die ongeldige Wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers  geldig te verklaar en artikels 35 en 152 in die grondwet so te wysig dat die nie-blankes se stemreg nie langer deur 'n tweederde-meerderheid verskans sou wees nie. Die Wet tot Wysiging van die Suid-Afrika Wet (No. 9 van 1956) is met 173 stemme teen 68 aangeneem 'n duidelike tweederde-meerderheid. Eindelik, ná 'n lang en bitter stryd van byna ses jaar, het die regering sy doel bereik. Die Kleurlinge is in vier kiesafdelings verdeel - Outenikwa, Karoo, Boland en Skiereiland - en die Kleurlinge het die reg verkry om in elkeen van hierdie vier kiesafdelings een blanke verteenwoordiger te kies. Terselfdertyd is die grondwet sodanig gewysig dat die Kleurlingstemreg nie langer verskans was nie. Enkele maande later het die regering ook die Wysigingswet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers (No 30 van 1956) op die wetboek geplaas. Hierdie wet het bepaal dat slegs blankes voortaan die Kleurlinge in die Kaapse Provinsiale Raad mag verteenwoordig en dat die Uniale Raad van Kleurlingsake uit 12 gekose en 15 benoemde lede (almal Kleurlinge) sou bestaan.

Die opposisie wou egter nog nie die stryd oor die grondwet laat vaar nie. Namens twee Kleurlingkiesers is sowel die Senaatwet as die Wet tot Wysiging van die Suid-Afrika Wet hof toe geneem. Daar is vervolgens na die Appèlhof in Bloemfonteion geappelleer, maar in November 1956 het ook hierdie hof met 'n meerderheid van 10 teen een beslis dat die twee wette geldig is. Slegs appèlregter O.D. Schreiner was 'n ander mening toegedaan. In sy minderheidsuitspraak het hy geredeneer dat die doel waarvoor die Senaatwet daargestel is, nl. die omseililng van artikels 35 en 152 in die grondwet, nie geregverdig kan word nie en daarom is sowel die Senaatwet as die Wet tot Wysiging van die Suid-Afrika Wet ongeldig. Die meerderheid appèlregters kon egter geen fout vind met die prosedure waarvolgens die twee wette daargestel is nie. Dit was die einde van die konstitusionele stryd - 'n lang, duur en bitter stryd wat die land baie skade berokken het.

Apartheid

Die apartheidsbeleid wat dr. D.F. Malan se regering in Mei 1948 in Suid-Afrika begin toepas het, was nie 'n nuwe beleid nie. Dit was 'n ou beleid wat teruggespoor kan word tot in die tyd toe Jan van Riebeeck as kommandeur van die verversingspos aan die Kaap l'n laning wilde amandelbome geplant het om die grens tussen die Hottentotte en die blankes aan te dui. En tog was die apartheidsbeleid van vóór 1948 en die apartheidsbeleid van ná 1948 nie heeltemal dieselfde nie. Die verskil was geleë in die doelgerigtheid, konsekwentheid en meedoënloosheid waarmee hierdie beleid voortaan in Suid-Afrika toegepas is. Wat voorheen in groot mate ongeskrewe gebruike was, is deur Malan, Strijdom en Verwoerd se regerings m.b.v. wette afgedwing. Hierdie wette, wat apartheid op verskeie terreine van die samelewing toegepas het, kan onder die volgende hoofde bespreek word: maatskaplike apartheid, residensiële apartheid, kulturele apartheid, ekonomiese apartheid en politieke apartheid.

Op maatskaplike gebied was een van die regering se eerste stappe die daarstelling van wetgewing om bloedvermenging van blank en nie-blank teen te gaan. Die Wet op Verbod van Gemengde Huwelike (No. 55 van 1949) het huwelike tussen blankes en nie-blankes, waarvan daar nooiot meer as 100 per jaar was nie, verbied. Indien 'n blanke dus voortaan met 'n nie-blanke in die huwelik wou tree, kon dit alleen buite die grense van Suid-Afrika geskied. Hierdie wet is gevolg deur die Ontugwysigingswet (No. 21 van 1950), wat verbod geplaas het op buite-egtelike geslagsverkeer tussen blankes en nie-blankes. Die verbod wat die Hertzogregering in 1927 ingestel het op buite-egtelike geslagsverkeer tussen blankes en swartes is dus uitgebrei om ook Kleurlinge en Asiate in te sluit. Die opposisie het verskeie besware teen hierdie twee geopper. Een beswaar was dat bloedvermenging nie 'n saak is wat deur wetgewing belet kon word nie. Nog 'n beswaar was dat sulke wette moeilik toegepas kon word omdat dit soms onmoontlik was om te sê of 'n persoon 'n blanke of 'n nie-blanke is. Die regering se mening was egter dat 'n streep tussen blank en nie-blank getrek moes word - hoe moeilik dit ook al mog wees.

Ten einde duidelikheid te verkry oor die ras waartoe 'n persoon behoort, is die Bevolkingsregistrasiewet  (no. 30 van 1950) in die wetboek geplaas. Hierdie wet het voorsiening gemaak vir 'n sentrale bevolkingsregister waar alle persone ingedeel sou word in die volgende drie groepe: blankes, Kleurlinge en swartes. Die laaste twee groepe, die Kleurlinge en die swartes, sou elk weer verder verdeel word in etniese groepe. So is die Kleurlinge onderverdeel in Kaapse Kleurlinge, Kaapse Maleiers, Griekwas, Indiërs. ens. Dié indeling van sommige persone het, soos te begrype is, probleme opgelewer. So was daar gevalle waar broers en susters of ouers en kinders verskillend ingedeel is. Sulke gevalle het soms tot veel verdriet aanleiding gegee.

Die regering het ook beoog om 'n groter mate van residensiële apartheid te bewerkstellig. Daar moes, m.a.w., aparte woonbuurte vir die verskillende rasse wees. So iets was natuurlik niks nuuts in Suid-Afrika nie. Dit was 'n ou beleid wat reeds herhaaldelik in wetgewing neerslag gevind het. Die vinnig groeiende stede het egter tot gevolg gehad dat die woonbuurte van blank en nie-blank weldra vas teen mekaar gelê het. Die Indiërs het ook in baie stede en dorpe sake-ondernemings in blanke gebied gehad. En in die stede was daar 'n groot getal nie-blanke bediendes in die woonstelgeboue woonagtig. So 'n toestand, waar blank en nie-blank deurmekaar gewoon het, het nie die regering se goedkeuring weggedra nie.

As 'n eerste stap is die Wet op Groepsgebiede (No. 41 van 1950) aangeneem. Dit het voorsien gemaak vir die proklamering van 'n bepaalde gebied vir 'n bepaalde rassegroep. Geen lid van 'n ander rassegroep sou in so 'n gebied mag grond besit, woon of handeldrywe nie. En as daar reeds lede van 'n ander rassegroep in so 'n gebied was, kon hulle met verloop van tyd verplig word om pad te gee. Hierdie wet is later aangevul deur verskeie ander wette wat die beoogde residensiële apartheid moes afdwing.

Een hiervan was die Wet op die Hervestiging van Naturelle (No. 19 van 1954), wat dr. H.F. Verwoerd laat aanneem het om die sg. "swart kolle" uit die westelike gebied van Johannesburg te verwyder. Hierdie "swart kolle" was die woonbuurte Sophiatown, Martindale en Newclare, waar sowat 100 000 swartes is oorbevolkte, onhigiëniese en demoraliserende omstandighede gewoon het. Blankes in die aangrensende woonbuurte het daarop aangedring dat die betrokke swartes na 'n ander gebied verskuiwe moes word sodat die swart woonbuurte, wat eerder as agterbuurte bestempel kon word, opgeruim kkon word. Die stadsraad van Johannesburg het reeds etlike jare vantevore daartoe ingestem, maar niks aan die saak gedoen nie. In April 1951 het Verwoerd aangekondig dat hy die "swart kolle" in Johannesburg gaan opruim. Die inwoners sou na die gebied Meadowlands, sowat 25 km verder, verskuif word. Maar anders as in Sophiatown, Martindale en Newclare, sou die inwoners geen eiendomsreg in Meadowlands kry nie. Hulle sou die nuwe huise daar slegs kon huur. Hierdie beleid van die regering het onmiddellik teenstand gekry. Die stadsraad van Johannesburg het geweier om in sulke omstandighede met die regering saam te werk, die VP het die verskuiwing teengestaan en die ANC het protesvergaderings gehou teen die verskuiwing na Meadowlands. Verwoerd het hom nie laat afskrik nie en voortgegaan met sy plan. In Februarie 1955 is die eerste swartes verskuiwe - heeltemal gewillig om hul krotte in Sophiatown, Martindale en Newclare te verruil vir die beter huise in Meadowlands.

Nog 'n wet wat residensiële apartheid afgedwing het, was die Naturelle (Stadsgebiede) Wysigingswet (No. 16 van 1955 wat gerig is teen die "lokasies in die lug" - d.w.s. die huisvesting van nie-blanke bediendes in woonstelgeboue. Hierdie wet het bepaal dat voortaan nie meer as vyf nie-blanke bediendes in 'n woonstelgebou gehuisves mag word nie. Die gevolg van dié bepaling was dat die aantal nie-blankes aansienlik afgeneem het in die dig bevolkte voorstede met baie woonstelgeboue.

Die regering het ook wetgewing ingedien om apartheid op kulturele vlak toe te pas. Dit is verkeerd, so het die voorstanders van apartheid verklaar, om die witman se kultur aan die swartman op te dwing. Die twee kulture moes apart van mekaar beoefen word. En daarom sou dit ook verkeerd wees om aan die swart kinders diselfde onderwys te gee as aan die wit kinders. Daar moes twee soorte onderwys wees: onderwys vir die blankes en onderwys vir die swartes. Hierdie gedagterigting lê dan ook ten grondslag aan die Wet op Bantoe-onderwys (No. 47 van 1953), wat alle swart onderwys onder beheer van die Departement van Naturellesake gebring het. Toe Verwoerd die wetgewing in sy hoedanigheid as Minister van Naturellesake in due Volksraad verduidelik, het hy o.m. gesê: "Die rasseverhoudinge (in Suid-Afrika) kan nie verbeter nie as daar verkeerde onderwys aan die naturelle verskaf word. Dit kan nie verbeter nie as die resultaat van naturelle-onderwys is die skepping van gefrustreerde mense, wat a.g.v. die onderrig wat hulle ontvang, verwagtings het van die lewe wat die lewe in Suid-Afrika nie dadelik vir hom kan bring nie, wanneer dit mense skep wat oopgelei is vir beroepe wat nie vir hulle toeganklike is nie, wanneer dit mense is wat 'n vorm van kulturele opleiding gekry het wat hul begeertes tot witboordjieberoepe sterker maak as wat sulke beroepe beskikbaar is."(4) Die oogmerk van die wetgewing was, soos W.A. Maree dit in die Volklsraad gestel het, om "goeie Bantoes" te lewer, "in plaas van n a-apers van Westerse beskawing".(5) 

(4) Debatte van die Volksraad, 17 Sept. 1953, kol. 3824

(5) Debatte van die Volksraad, 17 Sept. 1953, kkol. 3856

Hierdie gedagterigting is deur die opposisie gekritiseer as 'n gedagterigting wat daarop ingestel is om die swartman se ontwikkeling te vertraag ten einde hom in 'n permanente toestand van ondergeskiktheid te hou. Hoewel die uitlatinge van dr. H.F. Verwoerd e.a. ondersteuners van die NP inderdaad grond vir so 'n beskuldiging gebied het, het die toepassing van die omstrede wet sekerlik nie die ontwikkeling van die swartes vertraag nie. Daar was trouens niks minderwaardig aan die leerplanne wat later opgestel lis nie. Die betrokke wet het ook verskeie voordele ingehou. In die eerste plek het die beheer wat die Departement van Naturellesake oor die onderwys van swartes verkry het, 'n einde gemaak aan die chaotiese toestand wat voorheen bestaan het toe die beheer oor die onderwys van swartes hoofsaaklik in die hande van kerke was. Ten tweede het die ouers 'n groter mate van seggenskap oor die onderwys van hul kinders gekry. Ten derde het die aantal skoolgaande kinders sterk vermeerder - van 883 896 in 1953 tot 1 582 395 in 1961.

Die beleid van kulturele apartheid is 'n stap verder gevoer met die Wet op Uitbreiding van Universiteitsopleiding (JNo. 45 van 1959) wat aan die swartes, Kleurlinge en Indiërs hul eie universiteitskolleges gegee het en die sg. "oop universiteite", d.w.s. Kaapstad en die Witwatersrand, verbied het om voortaan lede van dié groepe as studente te aanvaar as die kursus wat hulle wou neem, deur hul eie universiteitskollege aangebied is. Toe J.J. Serfontein as Minister van Onderwys, Kuns en Wetenskap die wetgewing in die Volksraad verduidelik het, het hy o.m. verklaar: "Dit is die uitdruklike doel van hierdie maatreël om nie mense van hulle volkseie te verneem nie. Dit is fataal en dit sal altyd fataal bly, om van 'n nie-blanke te probeer 'n blanke maak en andersom om van 'n blanke te probeer 'n nie-blanke maak, en daarom moet sorg gedra word dat rassegroepe geskie word op rassegrondlsag en dat hulle opgevoed word om aan te pas by hul eie volksraad ... Hierdie maatreël is 'n positiewe apartheidsmaatreël ... Dit is deel van die Regering se beleid van aparte ontwikkeling."(6)

(6) Debatte van die Volklsraad, 8 April 1959, kol. 3341 en 3344.

Daar is vyf sulke universiteitskolleges geopen: die Universiteitskollege van Zoeloeland naby Empangeni (vir die Zoeloes),;die Universiteitskollege van die Noorde naby Pietersburg (vir die Sothos); die Universiteitskollege van Durban-Westville in Durban (vir die Indiërs); die Universiteitskollege van Wes-Kaapland in Bellville (vir die Kleurlinge); en die reeds bestaande Universiteitskollege van Fort Hare naby King William's Town (vir die Xhosas). Al vyf kolleges sou voorlopig onder toesig van die Universiteit van Suid-Afrika funksioneer. Die wet het verder bepaal dat die sg. "oo universiteite", Kaapstad en die Witwatersrand, in die reël nie langes nie-blankes as studente mag aanvaar nie. Hierdie bepaling het sterk kritiek uitgelok. Dit is beskou as 'n ernstige aantasting van die beginsel van akademiese vryheid, omdat univrsiteite die reg behoort te hê om self te besluit oor wie daar mag studeer en wie nie. Hierdie argument kon die regering nie van sy ingeslane koers laat afsien nie.

Die regering het ook op ekonomiese gebied die reeds bestaande apartheidsmaatreëls verder uitgebou. Die Wet op Naturelle-arbeid (Beslegting van Geskille (No. 48 van 1953) het geregistreerde vakbonde verbied om swartes as lede aan te neem en swartes verbied om te staak. Die Wet op Nywerheidsversoening (No. 28 van 1956) het bepaal dat geen verdere "gemengde" vakbonde - d.w.s. vakbonde met blankes, Asiate en Kleurlinge as lede - geregistreer mag word nie. Die bestaande "gemengde" vakbonde is ook verplig om aparte takke vir die verskillende groepe te vorm.

Die toepassing van apartheid op politieke gebied het m eegebring dat die mate van verteenwoordiging wat die nie-blankes in die provinsiale rade en parlement gehad het, weggeneem is en aan hulle in die plek daarvan 'n groter mate van beheer oor hul eie, meer plaaslike, sake gegee is. Hierdie aspek van die apartheidsbeleid het alle Indiërs, Kleurlinge en swartes in 'n meerdere of mindere mate geraak.

Wat die Indiërs betref, het die Wysigingswet op Asiatiese Wette (No. 47 van 1949) die beperkte verteenwoordiging herroep wat die Wet op Grondbesit van Asiate en Verteenwoordiging van Indiërs (No. 28 van 1946) twee jaar vroeër aan hulle toegestaan het. Die Indiërs sou dus weer, soos vóór 1946, geen verteenwoordiging in die provinsiale rade en die parlement hê nie. Hulle het ook niks in die plek gekry van die reg wat hulle ontneem is nie, want die regering se standunt was dat hulle besoekers in Suid-Afrika was en na Indiër behoort terug te keer. In 1961 het die Verwoerd-regering van standpunt verander en besluit om die Indiërs voortaan as 'n vaste deel van die Suid-Afrikaanse bevolking te aanvaar. En in 1964, 16 jaar ná die verteenwoordiging van die Indiërs in die provinsiale rade en die parlement afgeskaf is, is die Suid-Afrikanse Indiërraad aangestel om as skakel tussen die regering en die Indiërs te dien.

Die Kaapse Kleurlinge is deur die Wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers (No. 46 van 1951) van die algemene (blanke) kieserslys verwyder en op 'n aparte (Kleurlling-) kieserslys geplaas. Terselfdertyd is ook voorsiening gemaak vir ';n Raad van Kleurlingsake wat as skakel tussen die regering en die Kleurlinge moes dien. Die hewige verset waarop hierdie wet gestuit het, en die konstitusionele stryd wat daaruit gespruit het, is reeds breedvoerig bespreek.

Die feit dat die swartes, anders as die Indiërs en Kleurlinge, oor tuislande beskik het, het die toepassintg van poliltieke apartheid  op hulle makliker en meer sinvol gemaa as op diegene wat oor geen aparte tuisland beskik het nie. Die swartes in die tuislande was trouens in 'n aparte gebied waar 'n groter mate van selfbestuur sonder enige probleem aan hulle gegee kon word in ruil vir die afskaffing van verteenwoordiging in die blanke parlement.

Die eerste sta in dié rigting was die Wet op Bantoe-owerhede (No. 68 van 1951). Die wetgewing het twee dinge beoog: die afskaffing van die Naturelle Verteenwoordigende Raad en die uitbreiding van selfbestuur in die swart tuislande. Die Naturelle Verteenwoordigende Raad is in 1936 deur genl. J.B.M. Hertzog in die lewe geroep om die regering te adviseer oor sake rakende die swartes. Dit het uit 22 lede bestaan, waarvan 16 swartes was en 6 blanke amptenare van die Departement van Naturellesake. Mert verloop van tyd het die swartes in die liggaam egter toenemend begin aandring op meer politieke regte vir die swartes. Die eise wat hulle ná die Tweede Wêreldoorlog begin stel het, was van so 'n radikale aard, dat genl. J.C. Smuts nie daaraan wou voldoen nie. Vanaf November 1946 was daar geen verdere samewrking tussen die Naturelle Verteenwoordigende Raad (NVR) en die Smuts-regering nie. Die Malan-regering het gevolglik besluit om die NVR af te skaf. Die Minister van Naturellesake, dr. H.F. Verwoerd, was van mening dat so 'n oorkoepende liggaam geen sukses kon wees nie: "Solank soos die naturellegemeenskap n ie ervaring het van bestuur op kleinder skaal nie, kan hy nie omvattende bestuursliggame hanteer nie. Dit is daarom dat ek die proses wil omkeer en van onder af wil begin deur eers bestuurservaring in stamgebiede te gee en dan die bestuurservaring op die hoër liggame in te span namate die rypheid ontwikkel."(7)

(7) Debatte van die Senaat, 7 Junie 1951, kol. 5696

Die toepassing van politieke apartheid is 'n stap verder gevoer met die Wet op die Bevordering van Bantoeselfbestuur (No. 46 van 1959). Hierdie wet het die verteenwoordiging wat die swartes in die Volksraad gehad het, afgeskaf en verdere riglyne neergelê vir die ontwikkeling van die regeringstelsels in die tu islande. Die vergunning wat die swartes in 1936 van genl. Hertzog gekry het om drie blankes as hul verteenwoordigers na die Volksraad te stuur, was volgens Verwoed nie langer te versoen met dié beleid nie. Een van die grondbeginsels van die apartheidsbeleid was nl. dat die swarte geen seggenskap in die blankes se sake mag hê nie. Daarom kon hulle nie toegelaat word om langer verteenwoordier sin die Volksraad te hê nie. Die drie verteenwoordigers - in daardie stadium mev. Margaret Ballinger, Walter Stanford en Lee Warden - het gevolglik in Mei 1960 opgehou om as sodanig te funksioneer.

Swart tuislande

In die apartheidsbeleid is van die begin af 'n belangrike rol aan die swart tuislande toegeken. Hierdie gebiede moes die nasionale tuistes van alle swartes in Suid-Afrika word - ook van daardie swartes wat in die blanke gebiede gewoon het. Die stroom swartes uit die tuislande moes nie alleen getstuit word nie, maar omgekeer word sodat hulle uit die blanke gebiede kon terugstroom na hul tuislande. So iets sou vanselfsprekend alleen kon gebeur as daar in duie tuislande voldoende werkgeleenthede vir die swartes was. Die ekonomiese ontwikkelling van die tuislande het dus vir die regering 'n saak van dringende belang geword.

In April 1950 het die Minister van Naturellesake, dr. E.G. Jansen, in die Volksraad aangekondig dat die regering 'n kommissie gaan aanstel om ondersoek in te stel na die metodes waaroop die tuislande ontwikkel kon word. Die aanstelling van Jansen kort daarna as Goewerneur-generaal, het die verloop van gebeure ietwat vertraag, maar in November 1950 het die nuwe Minister van Naturellesake, dr. Verwoerd, die aanstelling van 'n Kommissie vir die Sosio-Ekonomiese Ontwikkeling van die Bantoegebiede aangekondig. As voorsitter van die kommissie is 'n bekende landbou-ekonoom, prof. F.R. Tomlinson, aangestel.

Terwyl die Tomlinson-kommissie met sy ondrsoek besig was, het Verwoerd nie stilgesit nie. Hy het die ekonomiese ontwikkeling van die tuislande as baie belangrik beskou en dit onmiddellik begin versnel Aanvanklik is veral op die landbou gekonsentreer en is op groot skaal kontoerwalle gegooi, draad gespan, damme gebou, boorgate gesink en gras geplant. In die uitvoering van dié projekte is die mederwerking van die swartes sover moontlik verkry. Verwoerd het uitgegaan van die gedagte dat die swartes in die tuislande verantwoordelikheid vir die onderhoud van hierdie projekte moes aanvaar.

Die reeds vermelde Wet oop Bantoe-owerhede (No. 68 van 1951) het, naas die afskaffing van die NVR, ook voorsiening gemaak vir 'n g roter mate van selfbestuur in die tuislande. Die bestuurservaring wat hierdie wet aan die swartes gegee het, sou op drie vlakke plaasvind: eerstens was daar die stamowerheid, wat uit die hoofman en sy raadslede bestaan het; tweedens was daar die streekowerheid wat uit 'n aantal stamowerhede bestaan het; en derdens was daar die gebiedsowerheid, wat op sy beurt 'n aantal streeksowerhede omvat het. Hierdie owerhede, wat in opeenvolgende stadiums in die lewe gebring sou word, sou slegs swartes as lede hê. "Die grondgedagte," het Verwoerd in die Volksraad verklaar, "is dwarsdeur Bantoebeheer oor Bantoegebiede."(8)

(8) Debatte van die Volksraad, 18 Junie 1951, kol. 1000

Een van die opvallende aspekte van die stelsel van Bantoe-owerhede was die belangrike rol wat die hoofmanne in al drie bestuursvorme gespeel het. Verwoerd se regverdiging daarvoor was dat hy die bestuur van die tuislande op die swartes se tradisionele regeringstelsel wou baseer. Dit was egter net deel van die waarheid. Deur die stamstelsel, wat besig was om te verbrokkel en die hoofmanne wat besitg was om hul te verloor, weer in ere te herstel en met mag te beklee, wou Verwoerd seker maak dat hy die hoofmanne se steun verkry vir die bestuurstelsel wat hy wou invoer.

Verwoerd was ook wys genoeg om nie sy stelsel van Bantoe-owerhede aan die tuislande op te dwing nie, maar die besluit oor die aanvaarding of verwerping daarvan aan die tuislande oor te laat. Die eerste tuisland wat daarom gevra het, was Witsieshoek (tans Qwa-Qwa) naby Harrismith. Daarna het verskeie tuislande in Transvaal gevolg, maar een van die belangrikste tuislande van almal , Transkei, het steeds bly aandring op groter verteenwoordiging in die blanke parlement. Daar was egter ook enkele persone in die Bunga, soos Transkei se wetgewende fergadering genoem is, wat t.g.v. Verwoerd se stelsel van Bantoe-owoerhede was. Een van hulle was Kaiser Matanzima. In November 1955 het die Transkei die eerste tuisland geword wat 'n gebiedsowerheid - die derde vlak van selfbestuur in die stelsel van Bantoe-owerhede - ontvang het.

Die Tomlinson-kommissie, wat in Novemb er 1950 met sy werksaamhede begin het, het sy verslag in Oktober 1954 voltooi en aan die regering voorgelê. Die lywige verslag van meer as 3 000 getikte bladsye is daarna aansienlilk verkort en in 1956 gepubliseer as U.G. 61/1955. Die kommissie se uitgangspunt was dat 'n beleid van integrasie tot rassewrywing sou lei en dat dit daarom beter sou wees om die blanke en nie-blanke bevolkingsgroepe afsonderlik te ontwikkel. 'n Beleid van afsonderlike ontwikkeling sou egter alleen kon slaag as die swart tuislande op groot skaal ontwikkel word. Die kommissie het gevolglik  verskeie aanbevelinge in dié verband gedoen - sommige is aanvaar, ander is verwerp.

Een van die kommissie se aanbevelinge was dat daar in die loop van die volgende 10 jaar 'n bedrag van £104 miljoen aan die ontwikkeling van die tuislande bestee moes word. Hiermee het die Minister van Naturellesake nie saamgestem nie. Verwoerd was dit met die kommissie eens dat die saak belangrik genoeg was om die besteding van 'n groot bedrag geld te regverdig, maar aangesien die omvang en tempo van die ontwikkeling in die tuislande nie vooruit bepaal kon word nie, was die regering nie bereid om vir langer as een jaar vooruit te begroot nie 'n Bedrag van £3 miljoen is gevolglik as voldoende beskou vir die komende jaar.

'n Verdere aanbeveling van die kommissie waarmee Verwoerd nie saamgestem het nie, was dat blanke ondernemers toegelaat moes word om nywerhede in die tuislande op te rig. Sy beswaar was dat dit sou leie tot die indringing van blankes in die tuislande - iets wat nie gestrook het met die beginsels van apartheid nie. As 'n verdere argument het hy aangevoer dat dit sielkundig verkeerd was om die swartman te veel hulp te gee. "Die Bantoe moet klein begin. Hy is sielkundig nie aangepas by die nywerheidslewe, en sekerlik nie by die ondernemerslewe, om op 'n groot skaal te begin nie. Hy sal ook nie in 'n 10 of 20 jaar in staat wees om groot nywerhede wat daar ontwikkel is, oor te neem as hy net altyd daarteenoor staan as die ontvanger en die buitestaander .... Alleen as hy sy eie geld in hoofsaak spandeer, met matige hulop ... het hy 'n kans om hom aan te pas by die eise van die industriële lewe; maar nie as hier weer die lepelvoedingstelsel, wat so verdoemend was op landelike gebied in die verlede, toegepas word nie"(9)

(9) Debatte van die Volksraad, 14 Mei 1956, kol. 5582

Onder die aanbevelinge van die tomlinson-kommisie wat Verwoerd wel aanvaar het, was dié i.v.m. grensnywerhede. Verwoerd was van mening dat die oprigting van nywerhede net buite die grense van die tuislande 'n uitstekend eplan was om die stroom van swart werkers na die blanke stede te stuit. Die idee was dat die swartes in hul tuislande moes woon en daagliks oor die grens moes reis om in die nywerhede te gaan werk. Om die oprigting van sulke grensnywerhede aan te moedig, het die regering gevolglik daartoe oorgegaan om verskeie aanloklike konsessies te bied aan nyweraars wat bereid sou wees om 'n nywerheid op ';n voorgeskrwe plek op te rig. Teen 1961 was reeds by 15 plekke met grensnywerhede 'n begin gemaak - o.m. by Pietermaritzburg, by Hammersdale tussen Durban en Pietermaritzburg en by Rosslyn by Pretoria.

Nog 'n aanbeveling wat hy aanvaar het, was dié oor die noodsaaklikheid van 'n ontwikkelingsliggaam wat die inisiatief kon neem met die oprigting van swart nywerhede in die tuislande. Die stigting in Mei 1959 van die Bantoe-beleggingskorporasie van Suid-Afrika Beperk (B.B.K.), was 'n uitvloeisel van hierdie aanbeveling. Die korporasie het met betreklik geringe kapitaal van £500 000 begin, d.w.s. nie eens 1% van die £104 miljoen wat die Tomlinson-kommissie in die tuislande wou inpomp nie.

Die voorstanders van die apartheidsbeleid het herhaaldelik beklemtoon dat daar aan die swart tuislande 'n groter mate van selfbestuur gegee sou word. OIp die vraag hoe ver hierdie selfbestuur sou strek, is egter in die tyd vóór en ná Verwoerd  Eerste Minister geword het, verskillende antwoorde gegee. Tydens die bewind van Dr. D.F. Malan (1948-1954) en J.G. Strijdom (1954-1958) was daar nooit enige sprake dat die tuislande tot onafhanklike state sou ontwikkel nie. Sowel Malan as Strijdom het die standpunt ingeneem dat die blankes as voog oor die swartes optree en dat dit tot in die verre toekoms so sou bly. Selfs Verwoerd, wat as Minister van Naturellesake ';n groter mate van selfbestuur aan die tuislande gegee het, het in Mei 1951 uitdruklik ontken dat sy beleid op onafhanklike swart state afstuur. Hy het beklemtoon dat selfbestuur binne 'n gebied totaal iets anders was as om te sê dat Suid-Afrika uin 'n reeks onafhanklike state verdeel gaan word. Kort nadat Verwoerd in September 1958 Eerste Min ister geword het, het hy egter begin toegee dat sy beleid kon lei ot die totstandkoming van 'n aantal onafhanklike swart state in Suid-Afrika. Dit sou natuurlik die uiteidnelike verbrokkeling van Suid-Afrika beteken. Verwoerd het hierdie uitvloeisel van sy beleid aanvanklik baie versigtig gestel, geen voorspelling oor die datum van die beoogde onafhanklikwording van die eerste swart staat gewaag nie en die voorwaarde gestel dat die swartman eers bewys moes lewer dat hy oor die vermoë beskik om h omself te regeer. Die feit dat hy egter wel in beginsel toegegee het dat sy beleid tot onafhanklike swart state kon lei, was verreikende betekenis. Die opposisie het nie in gebreke gebly om hierdie beleid, wat op die verbrokkeling van Suid-Afrika sou afstuur, te kritiseer nie. Verwoerd het sy beleid verdedig met die argument dat hy 'n klein wit Suid-Afrika bo 'n groot swart Suitd-Afrika verkies. "Dan kies ek met ope gemoed en in die beste belang van die blanke van Suid-Afrika 'n versekerde blanke staat ... liewer as om my volk te laat opneem in een gemengde staat waaroor die Bantoe uiteindelik heerskappy moet voer."(10)

(10) Debatte van die Volksraad, 20 Mei 1959, kol. 6522

Die toekenning van bykomende magte aan die Bantoe-werhede in die tuislande is 'n stap verder gevoer met die Wet op die Bevordering van Bantoeselfbestuur (No. 46 van 1959) - dieselfde wet wat, soos reeds aangedui, die stelsel van parlementêre verteenwoordiging vir swartes afgeskaf het Hierdie wet het die swartes in Suid-Afrika in agt "Bantoevolkseenhede" ingedeel:Noord-Sotho, Suid-Sotho, Tswana, Zoeloe, Swazi, Xhosa, Tsonga en Venda. Elkeen van die volkseenhede het oor 'n eie tuisland beskik en die Xhosas het selfs twee afsonderlike tuislande, die Transkei en die Ciskei, gehad. Swartes wat nie in die tuislande gewoon het nie, maar in die blanke gebied gewerk het, is ook by die tuislande ingedeel. Hulle is as burgers van die t uislande beskou en kon ook daar stemreg kry. Die wet het verder voorsiening gemaak vir die aanstelling van blanke kommissarisse wat as skakels tussen die regering en die swart volkseenhede moes dien. Hierdie kommissarisse, wat eintlik ambassadeurs van die Suid-Afrikaanse regering was, moes hulle in die tuisland vestig.

Die stelsel van Bantoe-owerhede en die hervormings wat daar op landbougebied aangebring is, is nie sonder teenstand in die tuislande aanvaar nie. Die teenstand het van twee kante gekom. Aan die een kant was daar die geleerde, ontstamde en verwesterse swartes van die ANC en die Pan Africanist Congress (PAC), wat die stelsel van Bantoe-owerhede verwerp het omdat dit die stamstelsel en die hoofmanne weer in ere wou herstel, die swart bevolking in etniese eenhede versplinter het en die swartman se aanspraak om verteenwoordiging in die land se sentrale regering geïgnoreer het. Aan die ander kant was daar die ongeletterde, primitiewe en konserwatiewe landbouers en veeboere wat nie van die nuwe maatreëls t.o.v.  oorbeweiding, gronderosie en veevermindering gehou het nie. Die teenstand teen die stelsel van Bantoe-owerhede en die hervormings op landbougebied het in sommige tuislande op brandstigting, geweld en moord uitgeloop. In Mri 1958 het ernstige onluste in Sekhukhuniland voorgekom en daartoe gelei dat meer as 300 mense gearresteer is. Sommige is van moord aangekla en 16 het die doodstraf gekry, maar die vonnisse is later versag. In Junie 1960 het die pollisie op 'n aantal opstandelinge by Nguzakop in Pondoland gevuur en 11 het omgekom. Dit het egter nie die verset in Pondoland beëindig n ie. In weerwraak het die opstandelinge verskeie hoofmanne e.a. persone wat met die owerheid saamgewerk het, om die lewe gebring. Dit het nog etlike jare geduur voor die ontevredenheid in Pondoland bedaar het.

Verset

Toe die Nasionale Party in Mei 1948 aan die bewind kom, was daar by die geleerde nie-blankes reeds vir 'n geruime tyd groot ontevredenheid oor die talle diskriminerende maatreëls wat hulle in Suid-Afrika in 'n toestand van ondergeskiktheid gehou het. Die toeassing van die apartheidsbeleid, wat uitgegaan het van die beginsel dat in 'n nog groter mate tussen blanke en nie-blank gediskrimineer moes word, het die ontevredenheid verder laat toeneem. En saam daarmee het die druk toegeneem wat op die regering uitgeofen is om die bestaande wette te verander. Organisasies soos die ANC, die All African Convention, die Indian Congress en die Kleurlinge se African Peoples Organisation, het in toenemende mate begin aandring op veranderinge. Hierin is hulle heelhartig deur die Kommunistiese Party gesteun.

Die grootste en invloedrykste van dié organisasies, die ANC, het in Desember 1949 'n "Programme of Action" aanvaar wat hom vir die eerste keer sedert sy stigting in 1912 verbind het tot openlike verset teen die wette van die land. In die "Programme of Action" is die beëindiging van "blanke oorheersing" in die vooruitsig gestel m.b.v. "immediate and active boycott, strike, civil disobedience, non-cooperation and such other means as may bring abut the accomplishement and realisation of our aspirations".(11)

(11) T. Karis en G.M. Carter: From Protest to Challenge, vol. 2, pp. 337-8

Onder leiding van dr. J.S. Moroka, wat in Desember 1949 vir dr. A.B. Xuma as president van die ANC opgevolg het, is sonder versuim begin met die uitvoering van dié program. Die ANC kon staat maak op die steun van die Kommunistiese Party (KP) asook dié van ander nie-blanke organisasies. In Maart 1950 het die ANC  en sommige van sy bondgenote 'n "freedom of Speech Convetion" in Johannesburg gehou waar dr. J.S. Moroka as voorsitter opgetree  het. By die geleentheid is ook aangekondig dat 1 Mei 1950 as 'n "Freedom Day" beskou sou word en ddie nie-blankes is gevra om op dié dag nie te gaan werk nie. Aan die Witwatersrand het sowat die helfte van die swartes aan die versoek voldoen. Die ander helfte, wat wel gaan werk het, is deur die polisie teen die wrewel van die stekers beskerm. Dit het aanleiding gegee tot 'n botsing tussen die polisie en die stakers waarin 18 swartes gedood is. Die ANC het daarop met die medewerking van die KP, die Indian Congress en die African Peoples Organisation 'n beroep op alle nie-blankes gedoen om 26 Junie 1950 as 'n "National Day of Protest and Mourning" te beskou en op dié dag nie te gaan werk nie. Aan die Witwatersrand het baie minder swartes tuis gebly as oop 1 Mei 1950, maar in Port Elizabeth en Durban, waar die ANC oor goeie organiseerders bekik het, het 'n groot getal nie gaan werk nie.

Die toenemende onrus het die regering laat besluit om wetgewing voor te berei vir die onderdrukking van die kommunisme. Die onrus, so het die regering beweer, is hoofsaaklik die werk van kommunistiese agitators wat die nie-blankes aanmoedig tot verset. Hoewel hierdie bewering onjuis was in die opsig dat nie-blanke nasionaliste en eliberaliste net so hewig geprotesteer het teen hul ondergeskikte posisie in hul geboorteland, was die regering nie heeltemal verkeerd nie. Die KP het hom trouens reeds baie jare lank bewyer vir die verbeteromg van die nie-blankes se ekonomiese posisie, die vermeerdering van hul politieke mag en die uitskakeling van rassediskriminasie. Dit was kommuniste wat dikwels as verteenwoordigers van die nie-blankes na vore gekom het. In die bestuur van die vernaamste nie-blanke organisasies het besielde kommuniste gesit - soos Moses Kotane, J.B. Marx en Dan Tloome in die ANC en dr. Y.M. Dadoo, dr. G.M. Naicker en Y.A. Cachalia in die Sout-African Indian Congress. Selfs in die Senaat, Volksraad en die Provinsiale Raad van Kaapland was daar onder die verteenwoordigers van die swartes oortuigde kummuniste - soos H.M. Basner, wat in 1942 as senator verkies is; Sam Kahn, wat in 1948 sy plek in die Volksraad ingeneem het as een van die drie Naturelle-verteenwoordigers; en Fred Carneson, wat in 1949 verkies is tot een van die twee Naturelle-verteenwoordigers in die PR van Kaapland. Dit was egter veral in die vakbonde, blank sowel as nie-blank, dat die kommuniste 'n stewige greep verkry het. In sommige vakbonde was die leidende figure kommuniste - soos Solly Sachs in die Klerewerkersunie (met blanke en nie-blanke lede) en J.B. Marks in die African Mine Workers Union.

Hierdie insypeling van kommuniste in die nie-blankes se poltieke organisasies, die land se wetgewende liggame en die vakbonde het die regering laat besluit om wetgewing voor te berrei ter onderdrukking van die kommunisme. In Mei 1950 is die Wetsontwerp op Onwettige Organisasies in die Volksraad ter tafel gelê, maar nadat 'n gekose komitee enkele wysigings daarin aangebring het, is die titel verander na die Wetsontwerop op die Onderdrukking van Kommunisme. Die opposisie was dit volkome eens met die regering dat dit nodig geword het om kommunisme in Suid-Afrika hok te slaan, maar het twee besware teen die wetsontwerp gehad. Ten eerste was die omskrywing van die begrip kommunisme na hul mening so wyd dat selfs nie-kommuniste daaronder ingesluit kon word. Hierdie beswaar was nie sonder grond nie. Bedgrip kommunisme is o.m. omskryf as "enige of plan" wat ten doel het "die teweegbring van 'n politieke, industriële, sosiale of ekonomiese verandering binne die Unie deur die bevordering van onluste of wanorde". Onder so 'n definisie kon liberaliste en swart nasionaliste, wat die nie-blankes se politieke mag d.m.v. lydelike verset wou bevorder, ook ingesluit word. Ten tweede het die wet na hul mening te veel mag aan die Minister van Justisie verleen. Die howe, en nie die minister nie, moes besluit of iemand 'n kommunis is. Hierdie beswaar was ook nie sonder grond nie. Dit was heeltemal moontlik vir die minister om sy mag te misbruik as hy wou.

Hierdie besware het egter geen indruk op die regering gemaak nie en op 26 Junie 1950 het die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme (No. 44 van 1950) van krag geword. Dit het die KP verbied en aan die Goewerneur-generaal die mag verleen om enige ander organisasie wat die oogmerke van die kommunisme bevorder, te verbied. Dit het die propagering van die kommunisme verbied. Dit het voorsiening emaak vir die ontseteling van kommuniste in die Senaat, die Volksraad en die provinsiale rade. Dit het die Minister van Justisie gemagtig om die polilsie na enige persoon te stuur en beslag te lê op dokumente van 'n kommunistiese aard. Dit het die Minister van Justisie gemagtig om kommuniste te verbied om langer lede van pollitieke organisasies soos die ANC en van vakbone te wees. Dit het die Minister van Justisie ook gemagtig om 'n persoon in te perk tot 'n bepaalde gebied. Ten slotte het dit die Minister van Justisie gemagtig om vergaderings te verbied as hy van mening was dat die oogmerke van die kommunisme daar bevorder kon word.

Op 20 Junie 1950, enkele dae voordat die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme van krag geword het, het Sam Kahn in die Volksraad aangekondig dat die KP ontbind het. Met hierdie stap wou dié party seker maak dat sy bates nie deur die staat gekonfiskeer word nie en dat Sam Kahn en Fred Carneson hul setels in die Volksraad en die KPR kon behou. Die regering se reaksie hierop was om die jaar daarop die omskrywing van 'n kommunis in die wet sodanig te wysig dat ook persone wat vroeër in hul lewe kommuniste was, maar dit nie langer is nie, daaronder ingesluit kon word. In Mei 1952 is Sam Kahn dan ook uit die Volksraad en Fred Carneson uyit die KPR gesit. In dieselfde maand is die kommunisties-gesinde koerant The Guardian verbied. Dit het daarna weer verskyn onder name soos The Clarion, The People's World, Advance, The New Age en The Spark, maar is telkens weer verbied.

Die onderdrukking van die kommunisme het egter nie die nie-blankes se protes teen die diskriminerende maatreëls beëindig nie. Op inisiatief van die ANC het verteenwoordigers van drie organisasies, die ANC, die Indian Congress en die Franchise Action Council ('n Kleurling-organisasie in Kaapland), in Julie 1951 in Johannesburg byeengekom om reëlings te tref vir 'n versetveldtog teen die diskriminerende wette. By dié geleentheid is 'n "Joint Planning Council", bestaande uit dr. J.S. Moroko, J.B. Marks en W.M. Sisulu (van die AN?C) en Y.M. Dadoo en Y.A. Cachalia (van die Indian Congress), aangestel om die nodige aanbevelinge te doen. Die "Joint Planning Council" se aanbeveling was soos volg: Die regering moes voor 29 Februarie 1952 die volgende wette herroep: die paswette, die Wet op Groepsgebiede, die Wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers, die Wet op die Onderdrukking van Kommunisme, die Wet op Bantoe-owerhede, en die regulasies t.o.v. veevermindering in die tuislande. As die regering weier, sou 'n landswye versetveldtog teen die betrokke wette van stapel gestuur word. Die versetveldtog sou nie gewelddadig wees nie, maar die vorm aanneem van 'n grootskaalse oortreding van sommige wette. Twee moontlike datums vir die aanvang van die versetveldtog is voorgestel: 6 April en 26 Junie - eg. die dag waarop Europese koloniste in die land aangekom het "followed by colonial and imperialist exploitation which has degraded, humiliated and kept in bondage the vast masses of the non-white people" en lg. die dag waarop "we commemorate the National Day of Protest held on 26th June, 1950 ... one of the first steps towards freedom".(12)

(12) T. areis en G.M. Carter: From Protest to Challenge, vol. 2, p. 460

Hierdie aanbevelings van die "JPC" is in Desember 1951 deur die ANC op sy vergadering in Bloemfontein goedgekeur. Die president, dr. Moroka, en die sekretaris, W.M. Sisulu, het daarop 'n brief aan die Eerste Minister, dr. D.F. Malan, gerig met die eis dat die wette voor 29 Februarie 1952 herroep moes word, anders sou die ANC op 6 April 1952 protesvergaderings hou wat 'n aanloop sou wees tot die oortreding van die "onregverdige wette". In die betrokke brief word voorts gewag gemaak van "legislation that continues to insult and degrade the African people", van "the gradual worsening of the social, economic and political position of the African people, en van "a rising tide of racial bitterness and tension".(13)

(13) T. Karis en G.M. Carter: From Protest to Challenge, vol. 2, pp. 476-7

In sy antwoord op die brief het die Eerste Minister die ANC se eis van die hand gewys. "The laws," aldus die Eerste Minister, "are largely of protective nature. Even those laws which are regarded as particularly irksome by die Bantu people have not been made in order to persecute them, but for the purpose of training them in die performance of those rights which must be fully observed by all who wish to claim rights. The fact that you refer to the betterment law (stock limitation) as being one of the oppressive lawes, is a clear indication of your failure to understand that the function of such laws is to protect the interests and the land of the Bantu community, both present and future."(14) Die Eerste Minister het die ANC voorts gewaarsku dat as hierdie organisasie daartoe sou oorgaan om die swartmense op te stook om wette te oortree, besef moes word dat die oortreders gestraf sou word en dat daar ook teen die opstokers opgetree sou word.

(14) Leo Kuper: Passive Resisstance in South Africa, pp. 237-8

Die A?NC het hom nie deur hierdie waarskuwing van koers laat bring nie en voortgegaan met sy plan. Op 6 April 1952, die dag waarop Jan van Riebeeck se aankoms aan die Kaap 300 jaar vroeër feestelik herdenk is, het leiers van die A>NC en die Indian Congress op vergaderings in die vernaamste stede hul toehoorders herinner aan die onderdrukking wat die nie-blankes van die blankes ervaar. Met die eintlike versetveldtog, wat die vorm aangeneem het van 'n grootskaalse oorteding van die apartheidsregulasies, is op 26 Junie 1952 begin. In die daaropvolgende paar maande het duisende mense, hoofsaaklik swartes, in die stede en groot dorpe daartoe oorgegaan om die paswette te oortree, wagkamers en spoorwegwaens vir blankes binne te gaan, blankes se ingange by poskantore te gebruik, die aandklokreëls te oortree, lokasies sonder 'n permit binne te gaan en op banke te sit wat gemerk was "Alleenlik vir blankes". Hierdie oortredings het dikwels gepaad gegaan met die sing van vryheidsliedere, uitroepe van "Afrika!" en die ANC se saluut. Wanneer die oortreders gearresteer is, het hull teenstand gebied nie en in die hof het hulle ook skuldig gepleit. Hulle het geweier om boetes te betaal en tronkstraf verkies.

Die leiers van die versetveldtog het aanvanklik daarin geslaag om hul volgelinge goed in bedwang te hou. Die eerste drie maande het dan ook sonder die uitbarsting van geweld verloop. Dit het egter nie so aangehou nie. Op 18 Oktober het onluste by New Brighton naby Port Elizabeth losgebars en die lwens van 4 blankes en 7 swartes geëis. Op 3 November is 3 swartes in die onluste by Denver doodgeskiet. Op 8 November het onluste ook by Kimberley uitgebreek en is 12 swartes doodgeskiet. En op 10 November het die polisie op 'n aggressiewe skare swartes by Oos-Londen begin vuur en 11 doodgeskiet, terwyl 2 blankes deur die swartes om die lewe gebring is - een van die twee was 'n vrou wat as geneesheer onder die swartes gewerk het.

Die uitbreek van geweld het die leiers van die versetveldtog se planne in die war gestuur. Ten eerste het hulle besef dat brandstigting, klipgooiery en die moord op onskuldige mense nie hul saak sou bevorder nie. Die doodmaak van onskuldige persone, soos die vrou in Oos-Londen, het die blankes geskok en die versetveldtog, wat rassewrywing laat ontstaan het, het die skuld daarvoor gekry. Ten tweede het die gebruik van vuurwapens deur die pollisie, die swaarder strawwe wat die howe begin oplê het vir wetsoortreders, die inhegtenisneming van verskeie leiers van die versetveldtog in Transvaal en die Oostelike Kaapprovinsie, en 'n proklamasie waar swaar strawwe aangekondig het vir persone wat ander aanhits om wette te oortree, meegewerk om die geesdrif vir die versetveldog te demp. Die veldtog, wat sowat ses maande volgehou is, het teen die einde van Desember 1952 heeltemal doodgeloop.

Was die versetveldtog 'n sukses of 'n mislukking? As bewys vir die welslae van die veldtog word gewoonlik gewys op die sterk toename in die ledetal van die ANC, die simpatie wat in die buiteland opgewerk is vir die nie-blankes se stryd teen diskriminasie en die eenheidsgevoel wat onder die swartes, Indiërs en Kleurlinge ontstaan het. Hierdie bewyse dra egter weinig bewig. Die onmiddellike oogmerk van die veldtog was om die regering te dwing om 'n aantal diskriminerende wette te herroep. Die wette is nie herreop nie. Hulle is inteendeel in die volgende paar jaar aangevul met verdere diskriminerende wette. Die versetveldtog was dus 'n volslae mislukking.

Een van die gevolge van die veldtog van 1952 was dat die regering by die eerste geleentheid sy magte om soortgelyke versetveldtogte te onderdruk, aansienlik uitgebrei het. Die Wet op Openbare Veiligheid (No. 3 van 1953) het die regering gemagtig om 'n n oodtoestand in enige deel van die land uit te roep as hy van mening was dat die openbare veiligheid bedreig word. In so 'n gebied kon dan noodregulasies uitgevaardig word. Die Strafregwysigingswet (No.8 van 1953) het swaar strawwe voorgeskryf vir mense wat wette by wyse van protes oortree of andere aanmoedig om dit te doen.

Die mislukte protesveldtog van 1952 en die daaropvolgende wetgewing het linksgesindes in Suid-Afrika egter nie ontmoedig nie. Hul vasbeslotenheid om die stryd voort te sit, blyk duidelik uit die ontstaan van verskeie nuwe politieke organisasies met radikale oogmerke. In Julie 1953 het 'n aantal blankes, wat bekommerd was oor die toenemende polarisasie van blanke en nie-blank in twee aparte kampe, die Liberale Party gestig. Die lede van hierdie party het sowel die apartheidsbeleid van die regering as die semi-apartheidsbeleid van die opposisie teengestaan. Hulle wou 'n veelrassige samelewing hê waarin almal - blank en nie-blank - die stemreg sou hê, In hierdie opsig het hulle dus met die kommuniste saamgestem, maar in ander opsigte het hulle radikaal met die kommuniste verskil. Onder die mees prominente lede van die Liberale Pary was die bekende skrywer Alan Paton en mev. Margaret Ballinger, een van die drie Naturelleverteenwoordigers in die Volksraad. 

In September  1953 is die Coloured People's Organisation (later Coloured People's Congress) gestig om die standpunt van die Kleurlinge, wat deur die regering op 'n aparte kieserslys geplaas sou word, te stel. Een maand later, in Oktober 1953, het die Congress of Democrats tot stand gekom om ' n politieke verhoog te bied aan blankes wat, net soos die Liberale Party, aan nie-blankes algemene stemreg wou gee. Anders as die Liberale Party, was hierdie organisasie sterk kommunisties-gesind en onder sy ondersteuners was daar etlike kommuniste. In dieselfde jaar waarin al hierdie organisasies gestig is, het die verbode KP, wat in werklikheid nooit in Junie 1950 heeltemal ontbind het nie, ondergronds weer begin roer.

Hoewel die linksgesinde organisasies verskillende sienwyses oor sekere sake gehad het en met agterdog teenoor mekaar vervul was, het hulle op een punt saamgestem en dit was dat die nie-blankes dieselfde regte as die blankes moes kry. Op voorstel van prof. Z.K. Matthews, leier van die ANC in die Kaapprovinsie, het die ANC, die SA Indian Congress, die Congress of Democrats en die Coloured People's Organisation besluit om 'n groot volkskongres te hou waarin linksgesindes kon aandui watter veranderinge hulle in Suid-Afrika wou hê. Op 26 Junie 1955 het daar gevolglik in Kliptown, naby Johannesburg, 'n "Congress of the People" byeengekom wat deur 2 844 afgevaardigdes van oor die hele land bygewoon is. In die afwesigheid van Albert Luthuli, die president van die ANC, en dr. Y.M. Dadoo, die president van die SAIC, wat deur inperkingsbevele verbied is om die byeenkoms by te woon, is 'n blanke, Pieter Beyleveld van die Congress of Democrats, tot voorsitter gekies.

Op die byeenkoms is 'n "Freedom Charter"* aangeneem waarin 'n sosialistiese demokrasie met gelyke regte vir alle rasse geëis is. Dié dokument begin soos volg: "We, the people of South Africa, declare to all our country and the world to know: that South Africa belongs to all who live in it, Black and White, and that no Government can justly claim authority unless it is based on the will of all the people; that our people have been robbed of their birthright to land, liberty and peace by a form of government founded on injustice and inewualilty; that our country will never be prosperous or free  until all our people live in brotherhood, enjoying equal rights and opportunities; that only a democratic State based on the will of all the people can secure to all their birthright without distinction of colour, race, sex or belief."(15) In die res van die dokument word die veranderinge wat in Suid-Afrika beoog word, in meer besonderhede uiteengesit. * (Vryheidshandves)

(15) L.E. Neame: The History of Apartheid, p. 133

Hoewel die "Freedom Charter" vry was v an kommunistiese terminologie en denkbeelde, was dit nogtans 'n dokument wat radikale, inderdaad rewolusionêre, veranderinge in Suid-Afrika gepropageer het.

Die propagering van hierdie rewolusionêre denkbeelde het die regering nie aangestaan nie. In September 1955 het die polisie die huise van honderde linksgesindes deursoek en op 'n groot aantal dokumente beslag gelê. Die dokumente is sorgvuldig bestudeer en meer as 'n jaar later, in Desember 1956, is 156 persone, blanke en nie-blank, op aanklag van  hoogverraad in hegtenis geneem. Onder hulle was Albert Luthuli (president van die ANC), prof. Z.K. Matthews, Oliver Tambo, Walter Sisulu, Nelson Mandela (almal leidende figure in dieselfde organisasie), dr. G.M. Naicker (president van die SAIC), L.B. Lee-Warden (Naturelle-verteenwoordiger in die Volksraad) en etlike ander vooraanstaande linksgesindes. Die aanklag was dat hulle ander opgestook het om die regering d.m.v. geweld omver te werp. Die beskuldigdes is op borgtog vrygelaat, maar verbied om politieke vergaderings by te woon. Ná 'n voorlopige verhoor wat langer as 'n jaar gesloer het, het die staat sy aanklag teen 65 van die beskuldigdes teruggetrek. Die verhoor van 30 van die oorblywende 91 het eers in November 1960 begin.  In Maart 1961, meer as vir jaar nadat die beskuldigdes vir die eerste keer in die hof verskyn het, het regter Rumpff uitspraak gelewer. Hy het bevind dat daar geen bewyse was dat die beskuldigdes die regering op gewelddadige wyse wou omverwerp nie en het hulle gevolglik ontslaan. Daarop is ook die aanklag teen die oorblywende 61 mense teruggetrek. Dit was die einde van een van die langste hofsake in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Die verloop van die hoogverraadsaak van 1956-1961 was gunstig vir die regering, maar ongunstig vir die land. Die getuienis wat in die loop van die saak gelewer is, het die regering se hande gesterk in die sin dat dit vir die blanke kiesers, wat die regering daargestel het, duidelik geword het dat daar in linkse kringe hard gewerk word vir 'n rewolusie in Suid-Afrika. In die daaropvolgende verkiesing van April 1958 het die regering 'n nog groter meerderheid behaal. Die arrestasie van soveel mense, die lank uitgerekte hofsaak en die uiteindelike uitslag het egter Suid-Afrika se aansien in die buiteland geskaad. Die reeds vyandige buiteland het in die hoogverraadsaak 'n bewys gesien dat die Suid-Afrikaanse regering sy mag misbruik in 'n poging om sy teenstanders te diskrediteer. Die buiteland se simpatie was duidelik by die beskukldigdes. In Brittanje is selfs £173 000 ingesamel vir die "Defence and Aid Fund" wat gestig is om die beskuldigdes se regskoste te betaal.

In November 1958 het 'n aantal ekstremistiese nasionaliste of "Africanists" van die ANC weggebreek en enkele maande later, in April 1959, die Pan-Africanist Congress gestig. Die aanloop tot hierdie gebeure kan teruggespoor word tot die tydperk van die Tweede Wêreldoorlog toe Anton Lembede die eerste geluide van 'n swart nasionalisme in die ANC begin maak het. "It is," het hy verklaar, "only African Nationalism or Africanism that can save the African people."(16) In 1944 was hy een van die stigters van die Youth League in die ANC en hierdie Youth Leage was sterk nasionalisties ingestel. Anton Lembede is in Julie 1947 oorlede, maar sy idee van 'n eng en ekstremistiese swart nasionalisme het bly voortleef in die ANC. 

(16) T. Karis en G.M. Carter: From Protest to Challenge, vol. 2, p. 316

Dit is egter in bedwang gehou deur gematigde leiers soos dr. A.B. Xuma, dr. James Moroka, Albert Luthuli (agtereenvolgens presidente van die ANC) en prof. Z.K. Matthews, wat besef het dat dit in belang van die swartes was om met die Kleurlinge, Indiërs en simpatiekgesinde blankes saam te werk. Selfs van Anton Lembede se eertydse geesgenote in die YL, soos Walter Sisulu, Oliver Tambo en Nelson Mandela, het mettertyd besef dat die ondersteun van die Indiër, Kleurlinge en simpatiekgesinde blankes nie te versmaai was nie. Hoewel die ekstremiste of "Africanists" altyd 'n minderheid in die ANC was, het hulle bly protesteer teen die idee van 'n breë Suid-Afrikaanse nasionalisme waarin daar vir alle rasse plek was. Hulle wou niks weet van samewerking met die Indiërs, Kleurlinge en blankes nie, omdat dit nie in belang van die swartman sou wees nie. Die belange van die swartman moes eerste kom. Hulle wou niks weet van 'n regering waarin die mag gedeel word nie, want die swartes is in die meerderheid en daarom moet hulle regeer. Die doel, aldus Robert Sobukwe, moes wees "government of the Africans, by the Africans, for the Africans".(17

(17) R.P. 51/63, Verslag van die Paarl-Kommissie van Ondersoek oor die gebeure op 20 tot 22 November 1962 te Paarl, p. 5, par. 51. Die kommissie het bestaan uit regter J.H. Snyman.

Hulle wou niks weet van ideologieë soos die liberalisme, sosialisme of kommunisme nie, want hierdie ideologieë sou slegs verdeeldheid in die geledere van die swartes bring. Die enigste ideologioe wat die swartman in Suid-Afrika kon bevoordeel, is nasionalisme - 'n eng, ekstremistiese en onverdraagsame swart nasionalisme. Soos Hertzog in 1912 van Botha weggebreek het om die Nasionale Party te stig, en Malan in 1934 van Hertzog weggebreek het om die enger, meer ekstremistiese en onverdraagsamer Herenigde NP  te stig, so het Robert Sobukwe en sy volgelinge nou van die ANC weggebreek om die PAC te stig.

Onder leiding van Robert Sobukwe het die PAC so vinnig gegroei dat die organisasie binne 'n jaar byna net so sterk soos die ANC was. In streke waar die ANC sterk was, soos in Natal en Oos-Kaapland, het die PAC nie veel opgang gemaak nie, maar in Orlando (by Johannesburg), in Sharpeville e.a. woonbuurte naby Vereeniging en in die Wes-Kaapland, het dit baie aanhangers gehad. Die wedywering tussen die ANC en die PAC het daartoe gelei dat die een nie by die ander wou agter staan wat betref verset teen die blanke bewind nie. Toe die ANC in Desember 1959 besluit om op 31 Maart 1960 met 'n versetveldtog teen die paswette te begin, het die PAC besluit om 10 dae vroeër, op 21 Maart 1960, met 'n soortgelyke protesveldtog te begin.Dit sou, volgens Sobukwe, net die begin wees van 'n versetveldtog wat in hewigheid sodanig moes toeneem dat die PAC die regering van die land binne drie jaar kon oorneem.

In opdrag van die PAC het groepe swartes in verskeie dele van die land op 21 Maart 1960 hul passe verbrand en toe na die naaste polisiestasie gegaan en gevra om gearresteer te word. In die meeste woonbuurte het die protesveldtog vreedsaam verloop en het die polisie die betrokke swartes òf gearresteer òf beveel om pad te gee. In Sharpeville naby Vereeniging en Lange naby Kaapstad het die protesveldtog egter op bloedvergieting uitgeloop.

In Sharpeville het sowat 10 000 swartmense om die polisiestasie  saamgedrom. Die polisie het hulle bedreig gevoel en met masjiengewere losgebrand. Die skare het wild begin vlug. Toe die skiettery ophou, was daar 69 dooies en 178 gewondes. Die nadoodse ondersoek het aan die lig gebring dat die meerderheid van diegene wat aan skietwonde oorlede is, van agter geskiet is, d.w.s. terwyl hulle reeds aan die vlug was.

Ook in Langa het die polisie op dieselfde dag op die betogers geskiet, Die dodetal hier was egter veel kleiner - twee swartes is doodgeskiet.

Die gebeure by Sharpeville het 'n hewige reaksie in die buiteland uitgelok. Dit is veroordeel as onnodige geweld deur die polisie. Ook in Suid-Afrika is die gebeure by Sharpeville betreur. Die president van die ANC, Albert Luthuli, het 'n beroep op alle swartmense gedoen om op 28 Maart 1960 tuis te bly as teken van roiu oor diegene wat by Sharepeville en Langa doodgeskiet is. Die versoek is wyd gehoorsaam en meer as drie-kwart van die swartes in die omgewing van Johannesburg, Kaapstad en Port Elilzabeth het die betrokke dag nie gaan werk nie.

In die woonbuurte Langa en Nyanga naby Kaapstad het die inwoners die daaropvolgende dae ook nie gaan werk nie. Die atmosfeer in hierdie woonbuurte, waar die PAC veel invloed uitgeoefen het, het steeds gespanne gebly. Op 30 Maart 1960 het 'n jong student met die naam Philip Kgosana 'n optog van sowat 30 000 swartes tot in die hart van Kaapstad gelei. By die polisiestasie op Caledonplein het hy op 'n onderhoud met die Minister van Justisie aangedring. Die bevelvoerende offisier het onderneem om die versoek oor te dra. Op versoek van die polisie het Philip Kgosana daarop oor die luidsprekers 'n beroepop sy volgelinge gedoen om uiteen te gaan. Die skare swartes het gehoorsaam en na Langa en Nyanga teruggekeer.

Die versetveldog was egter nog geensins verby nie. Op verskeie ander plekke, veral in die omgewing van die stede, is betogings gehou. Die aantal persone wat daaraan deelgeneem het, was meer as in enige vorige soortgelyke veldtog. Dit was sonder twyfel die ernstigste krisis van hierdie aard wat die land nog ervaar het. Op 9 April 1960 het 'n verdere skok die land getref toe 'n blanke met die naam David Pratt 'n aanslag op die lewe van die Eerste Minister, dr. H.F. Verwoerd, gemaak het. Met twee koeëls in sy kop het die Eerste Minister egter op wonderbaarlike wyse aan die dood ontkom.

Die regering het op die bedreiging van die wet en orde gereageer deur 'n noodtoetand in 122 van die land se 265 distrikte uit te roep (30 Maart - 11April); sowat 11 500 swartes is gearresteer; eenhede van die burgermag op te roep om die woonbuurte Langa en Nyqanga van die buitewêreld af te sny; en die Wet op Onwettige Organisasies (No. 34 van 1960), wat die ANC en die PAC verbied het, aan te neem (8 April 1960).

Hierdie maatreëls het die gewenste uitwerking gehad. Die versetveldtog het gaandeweg afgeneem. Teen die middel van Mei 1960 is die noodtoestand in 'n twintigtal plattelandse distrikte opgehef en die meeste gevangenes is vrygelaat. Teen die einde van Augustus is die noodtoestand oor die hele land beëindig. Die leiers van die PAC is voor die hof gedaag op aanklag dat hulle andere aangehits het om hul pasboeke te vernietig. Robert Sobukwe is drie jaar tronkstraf opgelê en van sy luitenante is ook tronk toe gestuur. Die leier van die ANC, Albert Luthuli, is skuldig bevind op die klag dat hy sy pasboek verbrand het en hy is tot R200 of een jaar tronkstraf gevonnis.

Die verklaring tot verbode  organisasies van die ANC en die PAC het meegebring dat die swartes nie langer oor 'n politieke organisasie beskik het wat namens hulle kon praat nie. Om in hierdie leemte te voorsien, het 'n veertigtal swart leiers in Desember 1960 in Johannesburg besluit om 'n kongres te belê wat met die regering moes onderhandel. Op die All-In African Conference wat in Maart 1961 in Pietermaritizburg byeengekom het, is besluit om die regering te versoek om 'n nasionale konvensie byeen te roep wat 'n nuwe grondwet vir Suid-Afrika moes opstel. As die regering weier, sou op die swartes 'n beroep gedoen word om op 31 Mei 1961 (Republiekdag) en ook die twee dae daarna nie te gaan werk nie. Die regering se reaksie was om alle politieke vergaderings van 19 Mei tot 26 Junie 1961 te verbied, eenhede van die bugermag op 'n gereedheidsgrondslag te plaas en die swart leiers wat die staking moes organiseer, in hegtenis te neem. Hierdie teenmaatreëls het die gewenste uitwerking gehad. Van die beoogde staking het niks gekom nie - slegs in Johannesburg en Port Elizabeth het enkele swartes op 31 Mei 1961 nie gaan werk nie.

Die pogings wat die nie-blankes aangewen het om di e regering d.m.v. vertoë, protes-veldtogte en stakings van koers te laat verander, het geen sukses gehad nie. Die feit dat die regering nie die geringste toegewings gemaak het nie, het by sommige nie-blankes en linksgesinde blankes die oortuiging laat posvat dat 'n ander taktiek gevolg moes word. As die regering, of liewer die blankes in Suid-Afrika, dan nie d.m.v. vreedsame protes tot 'n ander insig gebring kon word nie, moes oorgegaan word tot gewelddadige verset. Hierdie nuwe fase in die versetveldtog van radikale elemente teen die politieke opset in Suid-Afrika word in die volgende hoofstuk behandel.

Suid-Afrika en die V.V.O.

In die vorige hoofstuk is gemeld dat by die V.V.O. se eerste byeenkoms in November 1946 skerp kritiek op Suid-Afrika se rassebleid uitgespreek is. Dit was ook die begin van 'n langdurige vete tussen Suid-Afrika en die V.V.O. Aanvanklik, van 1946 tot 1951, het die geleentheid vir kritiek hom voorgedoen wanneer in die V.V.O. oor die lot van die Suid-Afrikaanse Indiërs en die administrasie van Suidwes-Afrika gepraat is. In 1952 is Suid-Afrika se apartheidsbeleid egter as 'n aparte item op die V.V.O. se agenda geplaas. Sedeertdien is die land se rassebeleid elke jaar by drie afsonderlike geleenthede aangeval. Hier is ons slegs geïnteresseerd in die kritiek op Suid-Afrika se optrede teenoor sy Indiër-onderdane en op die apartheidsbeleid - die dispuut oor Suidwes-Afrika word in hoofstuk 22 bespreek.

Soos in 1946 en 1947, was Suid-Afrika se behandeling van sy Indiër-onderdane in 1948 weer op die V.V.O. se agenda. Indië het weer eens geprotesteer teen die behandeling van Indiërs in Suid-Afrika en is toe ook sterk gesteun deur Pakistan, wat pas die jaar tevore lid van die V.V.O. geword het. Eric Louw, die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger, se verweer was dieselfde as dié van Smuts in 1946, nl. dat dit 'n huishoudelike aangeleentheid was waaroor die V.V.O. hom nie behoort uit te laat nie. Die meerderheid lande in die Algemene Vergadering het nie met Louw saamgestem nie. 

In Mei 1949 het die V.V.O. 'n broep op Suid-Afrika en Indië gedoen om hul geskil om 'n konferensietafel te bespreek. Die twee lande het ingewillig en oor die agenda vir so 'n konferensie begin onderhandel. Hulle het ooreengekom om die volgende twee punte te bespreek: die vermindering van die aantal Indiërs in Suid-Afrika; en die verwydering van maatreëls wat teen die Indiërs in Suid-Afrika diskrimineer. Die onderhandelinge oor die konferensie was nog aan die gang toe die inhoud van die Wetsontwerp op Groepsgebiede in Suid-Afrika bekend gemaak is. Indië en Pakistan het versoek dat Suid-Afrika met hierdie diskriminerende maatreëls moes wag tot ná die beoogde konferensie. Die Suid-Afrikaanse regering het geweier. Indië het hom daarop aan die onderhandelinge oor 'n konferensie onttrek en die V.V.O. versoek om die lot van die Indiërs in Suid-Afrika weer op die agenda te plaas. In 1950 en 1951 is die aangeleentheid dus weer bespreek en 'n beroep is telkens op Suid-Afrika gedoen om  nie teen sy Indiër-onderdane te diskrimineer nie.

In Desember 1952 het die V.V.O. 'n kommissie met drie lede - 'n Kubaan, 'n Siriër en 'n Joego-Slaaf - aangestel om as bemiddelaar tussen Suid-Afrika, Indië en Pakistan op te tree, maar Suid-Afrika het geweier om die kommissie te erken. Tussen 1952 en 1961 het die V.V.O. elke jaar 'n beroep op sowel Suid-Afrika as Indië en Pakistan gedoen om die geskil tussen hulle te skik. Geen gehoor is aan die versoeke gegee nie.

Aangesien die behandeling van die Indiërs in Suid-Afrika ten nouste verband hou met die apartheidsbeleid, was dit te voorsien dat die V.V.O. vroeër of later die soeklig spesifiek op Suid-Afrika se apartheidsbeleid sou rig. Dit het in September 1952 gebeur toe 14 state versoek het dat die apartheidsbeleid as 'n punt van bespreking op die agenda geplaas word. As rede het hulle aangevoer dat "the race conflict in the Union of South Africa, resulting from the policy of apartheid, is creating a dangerous and explosive situation which contributes both a threat to i nternational peace and a flagrant violation of basic principles of human rights and fundamental freedoms which are enshrined in the Charter of the United Nations".(18)

(18) J. Barber: South Africa's Foreign Policy, 1945-1970, p. 72

Suid-Afrika het die voorstel teengestaan. Die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger het hom, soos Smuts in 1946, beroep op artikel 2(7) van die V.V.O. se Handves, waarin bepaal word dat die organisasie in die huishoudelike sake van 'n land mag inmeng nie. Hy het die argument dat Suid-Afrika se apartheidsbeleid 'n bedreiging vir die sg. wêreldvrede is, verwerp as 'n kwaadwillige bewering. As dit die geval was, het hy verklaar, dan moet alle tariewe, immigrasie, handel en soortgelyke kwessies van internasionale aard 'n veel groter bedreiging vir die wêreldvrede wees. Hy het ook die argument dat artikel 2(7) nie van toepassing is waar menseregte op die spel is nie, verwerp as 'n verkeerde vertolking van die Handves. Daar was na sy menign geen regverdiging in die Handves vir so 'n standpunt nie.

In die daaropvolgende stemming is Suid-Afrika se standpunt, dat die V.V.O. geen reg het om Suid-Afrika se apartheidsbeleid te bespreek nie, met 45 stemme teen 6 verslaan. Die lande wat Suid-Afrika gesteun het, was Australië, België, Frankryk, Portugal en Luxemburg. Agt lande het buite stemming gebly.

Die V.V.O. het daarop 'n drieman-kommissie - bestaande uit Herman Santa Crux (Chili), Dantes Bellagande (Haïti) en Henri Langier (Frankryk) - aangestel om die rassetoestand in Suid-Afrika te ondersoek. Die Suid-Afrikaanse regering het geweier om die kommissie in die land toe te laat of van enige inligting te voorsien. Dit het die lede van die kommissie nie van stryk gebring nie. Hulle het voortgegaan en alle inligting wat in die buiteland bekombaar was, versamel. Hulle het ook etlike getuies aangehoor, waaronder eerw. Michael Scott, E. Sachs en John Hatch, wat al drie Suid-Afrika se apartheidsbeleid verdoem het. Die drie rapporte wat dié kommissie in 1953, 1954 en 1955 uitgebring het, het elkeen 'n uiters ongunstige beeld van Suid-Afrika se apartheidsbeleid gegee. In sy eerste rapport het die kommissie bv. bevind dat "four-fifths of the population are thereby reduced to a humiliating level of ingeriority which is injurious to human dignity". Telkens wanneer hierdie rapporte in die V.V.O. bespreek is, het die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger sterk beswaar gemaak teen die inmenging in sy land se binnelandse sake en die rapporte verwerp as onjuis, partydig en misleidend.

In November 1955 het die Suid-Afrikaanse regering sy verteenwoordiger by die V.V.O. teruggeroep uit protes teen die aanhoudende inmenging in die land se huishoudelike sake. Toe Suid-Afrika se apartheidsbeleid die jaar daarop weer op die agenda geplaas word, het die Minister van Buitelandse Sake, Eric Louw, persoonlik na New York gegaan om sy land se standpunt te stel. In November 1956  het hy die V.V.O. meegedeel dat Suid-Afrika nog lid van die organisasie sal bly, maar nie langer aktief aan die verrigtinge sal deelneem nie. Suid-Afrika sal slegs by wyse van "a token representation" verteenwoordig word. In 1957 het Suid-Afrika dus uit protes teen die inmenging in sy binnelandse sake nie aan die verrigtinge in die V.V.O. deelgeneem nie. Suid-Afrika se binnelandse beleid is gedurende die jaar weer bespreek en weer veroordeel, maar volgens Eric Louw was die kritiek minder kras as die vorige jare. Syns insiens het die klimaat in die V.V.O. gunstiger vir Suid-Afrika geword. Op sy aanbeveling het die Suid-afrikaanse regering dus besluit om weer aan die verrigtinge deel te neem.

As daar enige grond was vir die bewering dat die klimaat gunstiger geword het vir Suid-Afrika, dan was dié gunstige klimaat van korte duur. In 1960 was die aanvalle op Suid-Afrika hewiger as ooit tevore. Die gebeure by Sharpeville (21 Maart 1960) is 10 dae later in die Veiligheidsraad bespreek - die eerste keer dat die stryd teen Suid-Afrika se apartheidsbeleid tot in hierdie liggaam gevoer is. Die Suid-Afrikaanse verteenwoordiger het hom weer eens op artikel 2(7) in die Handves beroep. Die argument dat die apartheidsbeleid 'n huishoudelike aangeleentheid was, is egter deur die Veiligheidsraad verwerp, en wel om die volgende redes: eerstens omdat die Algemene Vergadering reeds herhaaldelik beslis het dat artikel 2(7) nie op Suid-Afrika se apartheidsbeleid van toepassing is nie; tweedens omdat die skending van menseregte in Suid-Afrika so ernstig was dat die Veiligheidsraad dit nie kon ignoreer nie; derdens omdat die apartheidsbeleid tussen rasse diskrimineer en dus die vrede in Afrika bedreig. Die Veiligheidsraad het daarop met 9 stemme teen 0 besluit dat Suid-Afrika versoek moet word om af te sien van sy apartheidsbeleid. Twee lande, Frankryk en Brittanje, het buite stemming gebly.

Ná die gebeure by Sharpeville en Lange het al meer lande in die V.V.O. hulle teen Suid-Afrika begin keer. Selfs Brittanje, wt voorheen Suid-Afrika se vertolking van artikel 2(7) gesteun het, het omgeswaai en verklaar dat Suid-Afrika se apartheidsbeleid nie langer as 'n suiwer binnelandse aangeleentheid beskou kon word nie. In 1960 is vir die eerste keer voorgestel dat sanksies teen Suid-Afrika in werking gestel moes word. Die voorstel is deur die meerderheid lande gesteun, maar kon nie die vereiste tweederde-meerderheid behaal nie.

In Januarie 1961 het die sekretaris-generaal van die V.V.O. Dag Hammerskjöld, die toestande in Suid-Afrika persoonlik kom ondersoek. Die samesprekinge wat hy met dr. H.F. Verwoerd gehad het, was in 'n welwillende gees, maar het geen ooreenkkoms tot gevolg gehad nie. Hy en Verwoerd het albei die hoop uitgespreek om in die toekoms verdere samesprekings te voer. Voor dit egter kon gebeur, het Hammerskjöld in September 1961 in 'n vliegtuigongeluk in Zambië gesterf.

Tydens die 1961-sitting was daar weer die gebruiklike aanvalle op Suid-Afrika. Eric Louw, Suid-Afrika se Minister van Buitelandse Sake, het Suid-Afrika se standpun gestel en soos gewoonlik, hárd toegeslaan. In Suid-Afrika, het hy verklaar, word meer gedoen vir die welvaart, huisvesting, gesondheid en onderwys van die swartes as in enige ander staat in Afrika. Eric Louw se toespraak hket die verteenwoordiger van Liberië so omgekrap, dat hy gevra het dat dit nie in die notule opgeneem moes word nie. Die toespraak was volgens hom nie net 'n belediging vir elke Afrikaan nie, maar ook vir elkeen met verstand. Die verteenwoordiger van Ethiopië het die versoek gesteun, maar ander lede het beswaar gemaak. By wyse van 'n kompromis is daarop voorgestel dat Eric Louw se gewraakte toespraak onder sensuur geplaas word. Dié voorstel is met 67 stemme teen 1 aangeneem, terwyl 29 lande buite stemming gebly het. Hierdie optrede teenoor Eric Louw, wat ongeëwenaard in die geskiedenis van die V.V.O.  is, toon hoe vyandig die gevoel teen Suid-Afrika teen 1961 geword het.

Ekonomiese groei

Ná 2948 het die rassevraagstuk die Suid-Afrikaanse toneel in so 'n mate oorheers, dat ander belangerike ontwikkelinge maklik die aandag van die geskiedskrywer kan ontsnap. Een van dié belangrike ontwikkelinge is die vooruitgang op ekonomiese gebied. Die netto nasionale inkomste het toegeneem van minder as R2 000 miljoen in 1949 tot meer as R4 000 miljoen in 1961 - dit het m.a.w. meer as verdubbel. As die waardeverminding van die geld oor dié tyd in ag geneem word, was daar 'n reële groeikoers van ongeveer 5% per jaar oor die tydperk van 14 jaar.  En as die toename in bevolking in ag geneem word, het die inkomste jaarliks met meer as 2% per kop toegeneem.

Wat hierdie vooruitgang op ekonomiese gebied nog merkwardiger maak, is dat dit plaasgevind het ondanks voortdurende probleme met die betalingsbalans. by vier geleenthede, 1948-9, 1953-4, 1957-8 en 1960-1, was daar aansienlike tekorte op suid-afrika se betalingsbelans en 'n gevolglike daling van die land se goud- en buitelandse valutareserwes. Die eerste drie tekorte, diê van 1848-9, 1954-4 en 1957-8, was h oofsaaklik te wyte aan oormatige invoer en 'n te geringe uitvoer. In 1948-9 het die invoer die uitvoer in so 'n mate oortref, dat selfs 'n kapitaalinvloei van R173 miljoen in 1948 en R151 miljoen in 1949 nie die tekort op die betalingsbalans kon uitwis nie. Die Minister van Finansies, Havenga, het gevolglik streng invoerbeher ingestel. Dit het die gewenste uitwerking gehad en die betalingsbalans het verbeter. In 1953-4 en 1957-8 is die betalingsbalans weer versteur deur oormatige invoer. Die tekort op die betalingsbalans van 1960-1 het egter geen verband met die buitelandse handel gehad nie. Dit is deur poolitieke gebeurtenisse veroorsaak. Die gebeure by Sharpeville (Maart 1960) en Suid-Afrika se uittrede uit die Britse Statebond (Mei 1961) het so 'n toestand van onsekerheid geskep dat daar binne 'n jaar R160 miljoen aan private kapitaal uit die land onttrek is. Hierdie grootskaalse kapitaalonttrekking was die ernstigste krisis van dié aard sedert die Groot Depressie van 1930-2. Die krisis was egter van korte duur. Teen Februarie 1962 het die land se goud- en buitelandse valutareserwes reeds sterker gestaan as vóór die gebeure by Sharpeville.

Van die drie vernaamste sektore van die volkshuishouding - die fabrieksnywerheid, die mynbedryf en die landboubedryf - het die fabrieksnywerheid in die jare ná die Tweede Wêreldoorlog die grootste vooruitgang getoon. Waar die fabrieksnywerheid se bydrae tot die bruto binnelandse produk, d.w.s.  die totale waarde van alle goedere en dienste wat in 'n gegewe jaar in Suid-Afrika geproduseeer is, in 1946 op 17% gestaan het, het dit in 1960 tot 21% geklim. A.g.v. 'n verandering wat in 1955 aan die samestelling van die nywerheidstatistiek gemaak is, i s dit nie moontlik om die gjroeikoers oor die hele tydperk van 1948 tot 1961 te bepaal nie, maar van 1945 tot 1955  het die waarde van die bruto opbrengs toegeneem van R608 miljoen tot R2 221 miljoen, en die aantal werkers het vermeerder van 361 000 tot 652 000 - d.w.s. hulle het in 10 jaar byna verdubbel. Die groeikoers in die tydperk 1955-61 was effens stadiger, maar nogtans buitengewoon hoog. Enkele hoogtepunte in die ontwikkeling van die fabrieksnywerheid in die ná-oorlogse jare is die volgende: in 1952 het Yskor se staalfabriek by Vanderbijlpark begin produseer; in 1955 het Foskor met die produksie van fosfaat by Phalaborwa begin; en in dieselfde jaar het Sasol by Sasolburg begin om petrol  uit steenkool te vervaardig.

Hoewel die mynbedryf nie so skouspelagtig gegroei het as die fabrieksnywerheid nie, was daar nogtans op hierdie gebied ook groot vooruitgang gedurende die jare 1948-1961. Die goudproduksie het verdubbel en die waarde daarvan het toegeneem van R200  miljoen in 1948 tot R575 miljoen in 1961. Vir hierdie buitengewone groei is daar meer as een rede. Een van die vernaamste redes is dat die Vrystaatse goudvelde, wat in die veertigerjare ontdek is, in 1951 begin produseer het. Nog 'n rede is dat metodes ontwikkel is om goudmyne tot oop 'n dieper vlak te ontgin. Een in die laaste plek is die goudmyne ook sterk bevoordeel deur die devaluasie in 1949 van die Suid-Afrikaanse geld, wat die goudprys laat styg het van R17,25 per fyn ons tot R24,83. Goud was in hierdie tyd nog verreweg die belangrikste delfstof in Suid-Afrika, ofskoon die ander delfstowwe al hoe belangriker geword het. Die gesamentlike waarde van die ander delfstowe het toegeneem van R62 miljoen in 1949 tot R318 miljoen in 1961 - 'n toename wat dié van goud oortref het. Een van die redes vir die toename is die feit dat uraan ná die Tweede Wêreldoorlog 'n belangrike delfstof geword het.

Die derde enlaaste sektor van die volkshuuishouding wat vermelding verdien, is die landboubedryf. Hoewel dié bedryf se bydrae tot die bruto binnelandse produk gedaal het van 13% in 1946 tot 12% in 1960,  het die omvang van die l andbouproduksie nogtans in die jare 1948-1961 sterk toegeneem. Waar die waarde van die produksie in 1948 slegs R374 miljoen belooop het, het dit in 1961 op R854 miljoen gestaan. Hierdie vooruitgang moet veral toegeskryf word aan die toenemende meganisasie, beter beplanning en verbeterde saadtipes en veestapels.

Die triomf van afrikanernasionalisme

'n Ander belangrike aspek van die Suid-Afrikaanse geskiedenis gedurende die jare 1948-1961, is die oorwinning wat Afrikanernasionalisme oor sy ou vyand, Britse imperialisme, behaal het. Die regerings van Malan, Strijdom en Verwoerd het onverstoorbaar voortgegaan om die een na die ander oorblyfsel van Britse imperialisme in Suid-Afrika te verwyder.

In 1948 het die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap (No. 44 van 1949) die ou Britse onderdaanskap afgeskaf en aan Suid-Afrikaners 'n eie burgerskap gegee. Die reg van appèl na die Geheime Raad in Londen i s in 1950 beëindig omdat so iets nie in ooreenstemming met Suid-Afrika se status as 'n onafhanklike staat was nie. In 1951 is 'n lid van die republilkeinse NP, dr. E.G. Jansen, as Goewerneur-generaal aangestel. Die ou strydvraag oor die deelbaarheid van die kroon is in 1953 beëindig toe die Wet op die Koninklike Naam en Titels (No. 6 van 1953) die kroon inderdaad "verdeel" het en die koningskap, in soverre dit Suid-Afrika betref, 'n Suid-Afrikaanse aangeleentheid geword het. Daar is dus voortaan onderskei tussen die koningin van Suid-afrika en die koningin van Groot-Brittanje. In 1957 is daar op voorstel van Arthur Barlow besluit dat die Union Jack nie langer een van Suid-Afrika se twee vlae sou wees nie en dat die Unievlag voortaan die enigste amptelike vlag sou wees. In dieselfde jaar is weggedoen met God save the Queen en is die Stem van Suid-Afrika tot die enigste volkslied verklaar. In 1957 het Suid-Afrika ook die vlootbasis Simonstad van Brittanje oorgeneem en daarmee is die beheer beëindig wat Brittanje nog altyd oor dié stukkie Suid-Afrikaanse grond gehad het. Met die afskaffing van die Britse geldstelsel en die ingebruikneming van die desimale geldstelsel in 1961, is die kop van die Britse vorstin ook van die Suid-afrikaanse geld verwyder. Daarmee het een van die laaste Britse simbole van die Suid-Afrikaanse toneel verdwyn.

Hierdie sinvolle beleid, waarvolgens alle Suid-Afrikaanse instellings en simbole wat 'n stempel van onderhorigheid aan Brittanje gedra het, in ooreenstemming gebring is met die land se onafhanklike status, is soms egter so ver gevoer dat selfs ingeburgerde benaminge van Engelse oorsprong vervang is deur Nederlandse benaminge wat meer as 'n halwe eeu in onbruik was. Enkele voorbeelde hiervan is die vervanging van die benaming magistraat deur landdros en die rang luitenant deur veldkornet.

Een ideaal van baie Suid-Afrikaners was egter nog steeds onvervul: 'n Republiek van Suid-afrika. Malan en Strijdom het hulle tydens hul ampstermyne steeds vir 'n republiek beywer, maar hulle het besef dat die meerderheid van die blanke bevolking tevrede was met die bestaande monargale staatsvorm. Met verloop van tyd het die ondersteuners van 'n republikeinse staatsvorm egter steeds aangegroei. Verwoerd het gedurende sy ampstermyn besluit dat die tyd vir 'n republiek ryp was. Hy het 'n referendum oor die aangeleentheid gelas en op 5 Oktober 1960 het die blanke bevolking na die stembus gegaan. Die uitslag was dat 850 458 (52%) t.g.v. 'n republiek was, terwyl 771 878 (48%) die monargale staatsvorm wou behou. Die regering het dus toestemming van die kieserskorps verkry om die Unie van suid-Afrika, wat pas sy 50ste verjaarsdag gevier het, in 'n republiek te omskep.

In ooreenstemming met sy belofte dat die republiek binne die Britse Statebond sou wees, het Verwoerd in Maart 1961 na Londen gegaan om formeel op die Konferensie van Statebondspremiers kennis te gee dat Suid-Afrika sy staatsvorm van 'n monargie na 'n republliek gaan verander en om gelyktydig daarmee aansoek te doen vir verlof om binne die Britse Statebond te bly. So 'n versoek sou normaalweg sonder enige probleme toegestaan gewees het, maar in Suid-Afrika se geval het dit op hewige teenstand gestuit. Die rede was nie die konstitusionale verandering nie, maar Suid-Afrika se apartheidsbeleid. Die premiers van verskeie Statebondslande, waaronder val dié van die nie-blanke state, het suid-afrika se apartheidsbeleid heftig gekritiseer. Verwoerd het daaroop sy land se aansoek om lidmaatskap van die Britse Statebond teruggetrek.

Op 31 Mei 1961 het die Republiek van Suid-Afrika tot stand gekom. Die grondwet het weinig verskil van dié van die Unie van Suid-Afrika. In die plek van die Goewerneur-generaal was daar nou die Staatspresident, maar hy het nie oor dieselfde magte beskik as die staatspresidente van die twee boererepublieke van die 19de eeu nie. Aan die roer van sake was nog steeds die Eerste Minister. Tog was die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika die finale triomf van Afrikanernasionalisme oor Britse imperialisme.

B.J. Liebenberg

Onder redaksie van Prof CFJ Muller

500 Jaar Suid-Afrikaanse Geskiedenis

Derde Hersiene en Geïllustreerde uitgawe

ISBN 9780686743134