# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Jesus het haar gesê

Die dogtertjie in hierdie storie was maar net drie jaar oud toe sy hierdie mooi ding gedoen het waarvan ek julle nou gaan vertel. Hoeveel goeds kan selfs so ''n klein dogtertjie doen!

Haar Vader was 'n belangrike sakeman - 'n baie  belangrike een, maar hy het siek geword. Hy was so ernstig siek dat hulle twee dokters ingeroep het, en die diensbodes in die groot huis waar hy gewoon het, is gewaarsku om so min geraas moontlik te maak om nie hulle meester te steur nie.

Niemand is in die siekekamer toegelaat behalwe die dokters en die verpleegsters nie. Die dokters het daarop aangedring dat hierdie reël baie streng nagekom moes word. Niemand moes toegelaat word om die pasiënt lastig te val nie, het hulle gesê. as die pasiënt net kon slaap sou daar miskien hoop vir hom wees. Maar dit was juis wat die pasiënt nie kon doen nie. Slaap kon hy nie. Uur na uur het hy rusteloos gelê, en hy het met die dag swakker geword. 

Sy toestand het eindelik so versleg dat die dokters gevoel het dat daar niks meer was wat hulle kon doen nie. Hulle gemeen dat hy dit nie meer lank sou maak nie, en hulle het die gesin gewaarsku om die ergste te verwag.

Gedurende al die tyd kon klein Gloria doodgaan van nuuskierigheid oor wat in daardie donker kamer aangaan. Sy het geweet dat haar Pappie daar siek lê, maar sy kon nie begryp waarom sy nie in die kamer kon gaan, en waarom hulle haar van hom af weghou nie.

Met tye, wanneer niemand haar sien nie, het sy op haar toontjies geloop tot by die kamerdeur, en daar het sy gestaan en luister totdat die verpleegster uitkom, en dan het sy so vinnig weg weggehardloop dat die verpleegster nie eens met haar kon raas nie.

Gloria wou vreeslik graag haar Pappie sien. Sy het gevoel dat hy haar nodig het, en dit het haar baie kwaad gemaak wanneer hulle haar belet het om die kamer binne te gaan. 

En toe, een namiddag, toe sy weer daar in die gang gestaan en wag het by die deur van Pappie se kamer, het die verpleegster uitgekom en na die badkamer gegaan. En sy het die kamerdeur laat oopstaan!

In 'n kits was Gloria binne. Sy moes eenvoudig haar Pappie sien, en julle kan haar nie blameer nie, kan julle? Maar toe sy haar Pappie sien, het sy baie hartseer geword. Hy het so bleek en moeg gelyk. "Arme Pappie!" het sy gesê, terwyl sy sy hand streel. "Ek is so jammer vir Pappie."

En toe, na 'n rukkie van stilte, het sy gesê: "Ek het Pappie baie lief." Pappie het flou geglimlag. "Ek is bly dat jy na my kom kyk het," het hy gefluister, en geprobeer om haar koppie te streel. 

Daar het trane in Gloria se ogies gekom, en skielik het sy na die venster gestap en na omhoog in die lug gekyk. Daar het sy met Jesus gepraat soos met 'n dierbare vriend. Dadelik was sy weer by haar Pappie. "Pappie", het sy ernstig gesê terwyl haar gesiggie van vreugde gestraal het, Jesus het nou aan my gesê dat Pappie gesond sal word."

Pappie het geglimlag en sy oë toegemaak. Op daardie oomblik het Gloria voetstappe gehoor. Dit was die verpleegster wat terugkom! Maar Gloria het nie nou aan weghardloop gedink nie. Dit was nou haar beurt.

"Sjuut!" het sy gesê toe die verpleegster inkom met 'n onvriendelike frons op haar gelaat. "Sjuut! my Pappie slaap. Moet hom nie wakker maak nie."

Die verpleegster het gekyk, en tot haar verbasing het sy gesien dat haar pasiënt eindelik aan die slaap was. Daardie klein dogtertjie het meer gedoen as al die dokters en verpleegsters saam.

Die arme siek man vir wie niemand meer hoop gehad het nie, het die hele nag deur geslaap - iets wat hy vir weke nie gedoen het nie. Toe hy die volgende oggend wakker skrik, was daar sulke groot beterskap dat die dokters hulle oë nie kon glo nie. En van toe af het hy sommer begin herstel totdat hy volkome gesond was.

Vandag is hy weer terug op sy kantoor, en hy word nooit moeg om te vertel hoe sy lewe gered is, nie deur die dokters nie, maar deur die gebedjie van sy eie dogtertjie, Gloria, daardie namiddag by die venster.

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell