# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Japie Greyling

’n Heldedaad wat vandag deur die wêreld bekend is, is verrig op ’n afgesonderde Vrystaatse plaas gedurende die Driejarige Oorlog tussen Engeland en die Boere van die Transvaalse en Vrystaatse Republieke. Die seun aan wie die eer toekom, se naam is Japie Greyling en hy was toe maar elf jaar oud. Hy is op 28 Junie 1890 as een van 'n tweeling gebore.  Hy het grootgeword op die plaas Smaldeel in die Hoopstad-distrik waar sy vader, kommandant Barend Greyling geboer het.  Hy was een van dertien kinders. 

Gedurende die Anglo-Boereoorlog was Japie se vader en 2 ouer broers op kommando om teen die Engelse te veg.

’n Paar jaar ná die oorlog het die seun se dapperheid en trou aan sy volk bekend geraak. Die Afrikaanse digter, Jan Celliers, het hom gaan besoek en van sy moeder en ’n bediende met die naam van Sanna, wat alles gesien het, al die besonderhede gekry. Jan Celliers het toe sy bekende en roerende gedig “Japie Greyling” gemaak en daardeur die naam en daad van hierdie seun verewig vir ons volk en ons nageslagte.

’n Aantal jare gelede het die Engelse offisier wat destyds as kaptein Seeley (later generaal) verantwoordelik was vir wat gebeur het, die gebeurtenis beskrywe in ’n boek oor sy oorlogsherinneringe [J.E.B. Seeley: Fear and be Slain] Generaal Seeley swaai die seun groot lof toe vir die edele, dapper en bewonderenswaardige optrede van daardie dag.

Die Engelse kommando het omtrent dertig myl gelê van die plaas waar Japie met sy moeder en susters gewoon het. ’n Spioen het berig gebring aan die Engelse laer dat daar ’n Boerekommandant saam met ’n paar ander dié nag op die plaas is. Hulle wou baie graag die Boere en veral die besondere kommandant vang, en kaptein Seeley gaan toe in die middel van die nag met twintig gewapende en uitgesoekte Engelse soldate daarheen om te probeer om die Boere te betrap. Hulle het die hele nag deur gery en so teen die rooidag kom hulle eindelik naby die plaas, wat hulle mooi in die skemeroggend kan sien. Toe verdeel hulle in twee groepe om die plaas te omsingel en so die Boere vas te keer.

Maar wat, die Boere was vir hulle te gou. Toe die Engelse naby kom, sien hulle drie ruiters van die plaas wegry. Hulle probeer om die Boere te keer, maar verniet. Die drie ruiters se perde was te vinnig en jaag skoon onder die Engelse uit. Die Engelse sit hulle agterna so vinnig as wat hul kan, maar sien die Boere naderhand ver voor hulle oor die rantjies jaag.

Kaptein Seeley ry toe vinnig na die plaas toe om te sien wie nog daar is en uit te vind waar die kommando van die Boere is. Japie het dié oggend douvoordag opgestaan en die vuur in die kombuis aangesteek om koffie te maak. Hy sien die Engelse troepe aankom en gaan na buite. Daar kry die Engelse hom. Die spioen by die Engelse kon Afrikaans praat en hy vra toe vir die seun wat sy naam is.

“Wie is jy?”

“Ek is die seun van my pa, wat hulle nie kon vang nie.” Kaptein Seeley sê dat hy nie anders kon nie as om die dappere houding van die jong seun te bewonder wat daar tussen twintig van die vyand staan.

“Waar is die Boere heen?” vra hulle hom weer.

“Na hul kommando toe.”

“Dit weet ek,” sê kaptein Seeley, “maar waar is die kommando? Wys vir my waar is hulle.”

Die seun kyk voor hom op die grond vir tien tellings; toe kyk hy op en antwoord: “Dit kan ek nie vertel nie.”

Die Engelse offisier vererg hom en besluit om enige ding te doen om die seun sy mense te laat verklik. Hy dink dat die maklikste manier is om die seun bang te maak totdat hy vertel. Maar hy het verkeerd gereken as hy gedink het om deur dreigemente en bangmaak die Boereseun sover te kry dat hy sy eie volk sal verraai.

Kaptein Seeley stap toe tot by Japie en sê kwaai vir hom:

“Jy moet my vertel anders sal ek jou laat doodskiet.”

Japie kyk die offisier vas in die oë en sê weer:

“Nee, ek sal nie vertel nie.”

Dit was nie na die offisier se sin nie, en hy het nie lus gehad om lank met die seun te staan en lol nie, anders kon hy en sy manskappe nog dalk deur die Boere daar gevang word.

“Nou ja,” sê hy vir Japie, “as jy nie wil vertel nie, sal ons jou teen die muur sit en jou doodskiet.”

Dit het nog nie vir Japie bang gemaak nie en hy weier beslis om hulle te sê wat hulle wil weet.

“Skiet my maar dood,” sê Japie.

Die offisier sê vir sy sersant om ses troepe reg te laat staan met hul gewere. Japie word deur twee Engelse geneem en teen die muur geplaas. Die ses troepe kniel op die grond neer en laai hul gewere wat nou reguit op die arme seun gemik word. Kaptein Seeley sê hy het saggies vir die sersant gesê dat hulle nie regtig moes skiet nie, maar hy is seker daarvan dat die seun dit nie geweet het nie.

Die Engelse offisier is nou haastig en hy wil Japie dwing om te praat.

“Kom, vertel my nou gou waar is die Boere se kommando!”

Daar staan Japie teen die muur en hy kyk in die lope van ses gewere wat na hom korrel. As hy maar net wil sê waar die kommando is, sal hulle hom laat loop en niks sal hom oorkom nie. As hy weier om te vertel, sal daardie ses gewere netnou gelyk losbars en die wrede koeëls sal sy ou lyfie stukkend skiet. Wat sal hy doen? Moet hy sy eie lewe red en die Boere, sy eie mense, verraai? Of moet hy dapper wees en weier om dit te doen al word hy doodgeskiet?

Hy is maar ’n seuntjie van elf jaar en sy hele lewe lê voor hom. Sy pa is weg op kommando en hy moet hier op die plaas vir sy moeder en susters help met die boerdery.

Wat ’n vreeslike versoeking vir so ’n jong seun wat die dood voor hom sien in die bekke van die Engelse se gewere! Japie het nie getwyfel nie. Daar was vir hom maar net een pad oop. Hy sal nie ’n verraaier wees nie. Hy skud sy kop vir die Engelse offisier.

“Laai jul gewere!” skree die offisier hard. Die ses man trek die slotte van hul gewere reg.

“Staan klaar!”

Die ses gewere word na die skouers gebring en die soldate vat korrel op Japie.Die seun staan doodstil en roer nie en praat niks nie. Hy skud net weer sy kop. Sy moeder en susters staan dit verslae en verstom in die grootste angs en aanhoor. Die offisier stap weer 'n tree vorentoe en sê parmantig: “Toe sê my nou gou voor hulle skiet.”

Die dappere houding van die seun was wonderlik en kaptein Seeley vertel in sy boek dat hy toe een van die pragtigste dinge gesien het wat hom nog ooit in sy lewe te beurt geval het. Die seun se gesig het geglinster van vaderlandsliefde en toewyding. Hy lig sy hoof op, kyk die offisier in die gesig, sit sy hande agter die rug en sê met 'n helder en harde stem:

“Ek sal nie sê nie.”

Dit was eenmaal te veel vir die Engelse. Die trou en moed van hierdie elfjarige kind uit die Boerevolk het hulle gewen. Die offisier stap vorentoe tot by die seun en lig sy hand op. Japie dink dat die man hom ’n klap gaan gee, maar toe neem die offisier sy hand en sê: “Ek hoop ek sal jou weer eendag ontmoet.”

Daarna spring die Engelse op hul perde en jaag weer weg van die plaas terug na hul eie kommando. Hoor wat sê generaal Seeley dertig jaar ná die gebeurtenis daardie vroeë oggend op die Vrystaatse plaas:

“Solank as wat ek lewe, sal ek nooit daardie wonderlike oomblik vergeet nie, toe liefde vir vader, huis en land getriomfeer het oor ’n dreigende en vir hom gewisse dood; nooit sal ek die uitdrukking op die gesig van daardie Boereseun vergeet nie, toe hy met sy hoof regop en met glinsterende oë vir my gesê het:

‘Ek sal nie sê nie!’”

Tydens 'n besoek aan Suid-Afrika in 1931 het hy probeer om Japie op te spoor, maar Japie wou nie die kaptein ontmoet nie.  Na sy terugkeer in Brittanje het Seeley sy assistent, luit AA Hawkins gestuur om Japie op te spoor.  Deur bemiddeling van Japie se prokureur op Bethlehem, waar hy op daardie stadium op die plaas Sonderhout, geboer het, het Hawkins by Greyling uitgekom en die boek wat Seeley geskryf het aan hom oorhandig.Japie Greyling het nooit van sy heldedaad gepraat nie. 

Toe sy seun op laerskool een keer 'n boek uitneem wat oor kinderhelde handel moes hy by sy onderwyser uitvind dat een van die kinderhelde sy eie vader was.  Hy was baie verbaas daaroor en toe hy sy vader daaroor uitvra, het hy gesê dat hy mos reeds die storie ken.  Hy was baie beskeie daaroor en het gevra dat die voorval nooit as propaganda teen die Britte gebruik moes word nie.  Hy het gesê dat 'n mens dikwels tydens 'n onnatuurlike situasie soos 'n oorlog, iets doen wat jy nie onder normale omstandighede sou doen nie.

Japie Greyling