# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Jagters, herders en landbouers 

Argeologiese navorsing dui daarop dat Suid-Afrika sowat 8,000 jaar lank - van die Holoseen tot sowat 2,000 jaar gelede - slegs deur wydverspreide groepe jagter-versamelaars bewoon is. Hul nageslag het omstreeks die begin van ons jaartelling met Khoi-Khoi veeherders begin kennis maak. Die Khoi-Khoi wat later na Namakwaland gemigreer het, het die benaming San aan hierdie mense gegee. Uit die wedersydse interaksie tussen Khoi-Khoi  en San het langs die Kaapse kusgebied en in die binneland 'n heterogene samelewing ontwikkel, maar oor die aard daarvan bestaan nog geen absolute helderheid nie.

In die afgelope drie dekades het geleerdes nogtans tot belangrike nuwe insigte gekom oor die samelewing aan die Kaap voor die koloniale tydperk. Die toenemende gebruik van die name San (i.p.v. Boesman), Khoi-Khoi (=manne der manne" of opregte mense, die sg. Hottentotte se naam vir hulself) en Khoisan (vir die twee groepe saam) is deels aan dié insigte te danke. 

Argeologiese, antropologiese en linguistiese navorsing het getoon dat 'n streng rasse onderskeid tussen die twee groepe in stryd is met die ware prekoloniale samelewingsopset in Suider-Afrika, en tans vertolk historici die geskiedenis van die Khoi-Khoi en San al hoe meer in terme van die veranderinge wat hul samelewing voor en tydens Blanke kolonisasie ondergaan het. 

Die oorsprong van die Khoi-Khoi herders

Die afgelope paar dekades het geleerdes oortuigend begin aantoon dat die Khoi-Khoi herders uit jagter-versamelaarsgemeenskappe in Suider-Afrika ontwikkel het. In die proses het hulle as 'n minder heterogene gemeenskap van die binneland na die weivelde van veral die Kaapse kusgebied versprei. Die historikus Richard Elphick het op grond van taalkundige en antropologiese  navorsing met taamlike sekerheid vasgestel dat die voorouers van die historiese Khoi-Khoi reeds teen omstreeks 500 v.C. in die omgewing van Noord-Botswana as jagter-versamelaars van die laat steentydperk moes rondgeswerf het. Vergelykende linguistiese studies het getoon dat die Tshu-Khwe-tale van die San in Sentraal-Botswana tot vandag toe nog verbasende ooreenkomste met bestaande Khoi-Khoi dialekte soos Nama en Korana toon, wat op 'n gemeenskaplike herkoms van dié tale op Suider-Afrikaanse bodem dui. Daarenteen vind die San van Sentraal-Botswana die ander Santale tussen die bolope van die Limpopo en Suid-oos-Angola (met inbegrip van die Kalahari) heeltemal onverstaanbaar.

Hierdie linguistiese kompleksiteiet sny na twee kante: Dit versterk enersyds die teorie dat die jagter-versamelaars van Suider-Afrika al duisende jare lank nie meer 'n homogene groep is nie, en andersyds die beskouing dat die Khoi-Khoi taal uit 'n San-taal moes ontwikkel het. Die skepping deur geleerdes van die samevoeging "Khoisan" is deels 'n poging om  verwantskap tussen die San-tale en die Khoi-Khoi dialekte  aan te dui en duidelik te onderskei van die Bantoetale, wat weer eie gemeenskaplike kenmerke toon. 

Die samevoeging "Khoisan" dui egter ook op 'n komplekse proses van bloedvermenging, akkulturasie en assimilasie oor 'n tydperk van eeue tussen swerwende San-jagter-versamelaars en migrerende Khoi-Khoi veeherders. Daarom vind fisiese antroploë 'n streng rasse-onderskeiding tussen San en Khoi-Khois nie houdbaar nie. Eweneens stem hulle nog nie saam oor die redes vir die verskille in liggaamsbou tussen die historiese San en Khoi-Khoi nie. Sommige meen dat

P.V Tobias

Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika 

In Woord en Beeld

Hoofredakteur: Trewhella Cameron

Adviserende Redakteur: S.B Spies

ISBN 0 7981 1977 2