# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Jacob Hendrik Pierneef

1886 - 1957

Jacob Hendrik Pierneef - oom Henk Pierneef - soos almal hom in sy laaste jare geken het - is in Augustus 1886 in Pretoria gebore en in Oktober 1957 op die leeftyd van 71 in dieselfde stad oorlede.

Almal wat hom geken het, as mens of as kunstenaar, het met sy heengaan besef dat met hom 'n tydperk in die Suid-Afrikaanse skilderkuns vir goed verby was. Vanaf die 17de eeu was daar al skilders en tekenaars wat die landskappe van Suid-Afrika afgebeeld het - vanaf die dae toe die eerste seevaarders die omtrekke van Tafelberg aanskou en dit op 'n stuk papier nagetrek het. Maar dit was meestal topografiese afbeeldings wat aldus ontstaan het, soos reisigers dit maak as persoonlike aandenkings vir diegene wat tuis agterbly en die nuwe landskappe, plante, diere en mense nog nie gesien het nie. Hierdie vroeëre tekenaars en skilders het byna sonder uitsondering die Suid-Afrikaanse landskap van die buitekant gesien en maar selde tot die siel en die gees daarvan deurgedring, hoe mooi hulle prentjies soms ook al was. Hul kleure, tone en lyne en hul opvattings was dié van die Europese skole war hulle uit voortgekom het. 

In Pierneef se tyd het dit anders geword. In die vyftig jaar van sy skilderloopbaan het hy eindeloos gesoek en geëksperimenteer, altyd met die doel om die gees van die Suid-Afrikaanse landskap, en veral dié van die Transvaal, van binne uit te verstaan, dit in eie lyne en kleure te vertolk en met liefde en eerbied weer te gee. 

Die uiterlike vorms het hy met eindelose geduld sy lewe lank bestudeer, van die digbysynde grassies tot die lyne van die berge wat in die vertes verdwyn. Dis die rede waarom Pierneef se plek in die geskiedenis van Suid-Afrika so belangrik is en daarom sal hy nimmer vergeet word nie. 

Hy het voor die Tweede Wêreldoorlog in die landelike omgewing van Pretoria groot geword. In daardie onbesorgde tydperk het sy kinderjare geval. Aanleg en liefde vir die tekenkuns het hy reeds as kind op skool en in sy vrye tyd geopenbaar. Van sy vader wat 'n uiters bekwame boumeester en vakman was, het hy geleer om behoorlik en netjies te werk. Hy het eenkeer verklaar: "Daar het ek dissipline geleer," en bygevoeg: "Daar was ander baie noodsaaklike eienskappe van 'n kunstenaar wat ek van my moeder ontvang het wat self op die platteland in die Transvaal groot geword het."

Tog was hy nie 'n boekwurm wat by die huis gesit het nie. Hoewel hy oral smet sy makkers saamgespeel en ondeunde streke uitgehaal het - waarvan hy later so smaaklik kon vertel - het hy toe reeds klippe, plante en blomme bewonder, versamel en huis toe geneem, soos ander kinders skulpies van die see meebring. Vir die meeste mense is daardie kinderlike belangstelling maar tydelik en as gewone mense groot word, bly daar min van oor. 

Die kunstenaar is nie heeltemal 'n gewone mens nie en by hom bly daar iets lewe van wat hy as kind ervaar het. So het Pierneef sy lewe lank die gawe behou om die wêreld met frisse, kinderlike oë te sien. Die klippe met hul kleure, die rotsformasies, die vorms van die boomtakke, die lyne van die berge, het hy altyd as iets besonders en met liefde beskou. Op sy laaste siekbed nog het hy die klippe te voorskyn gehaal wat hy opgetel het op sy laaste reis as skilder na die Limpopo en dit onder die water gesteek om die kleure te toon. "Die kleure op hierdie klippe," het hy gesê, "met die mos wat daarop groei, dis die kleure van die landskap waar ek hulle gekry het."

So is daar as kind reeds in sy omgang met die natuur die grondslae vir sy latere skildersloopbaan gelê, tot die oomblik dat daar 'n groot verandering in sy lewe kom - 'n verandering wat 'n beslissende invloed op sy later lewe en ontwikkeling as kunstenaar gehad het. Hy was toe omtrent 15 jaar oud. Die Tweede Vryheidsoorlog het aangebreek. Pretoria is ingeneem. Gebeurtenisse  volg snel mekaar op en die Pierneef-gesin word gewing om die land te verlaat. Hulle gaan Nederland toe waar Henk na dieselfde strenge tekenskool, die Rotterdamse Akademie, gaan waar Anton van Wouw en Frans Oerder reeds tevore so perfek hul opleiding ontvang het eer huule na Suid-Afrika  gekeer het. Daar het hy gewerk en toe die gesin weer na Pretoria terugkeer, is Henk met nuwe kennis gewapen en in die tekenkuns geoefen. As hy dan later skilderlsesse van Frans Oerder ontvang, aansluitinhg by ander kunstenaars vind en reeds hier en daar iets tentoongestel het, kom dit eindelik sover dat hy sy eerste tentoonstelling hou. Dit was in die jaar 1913 by De Bussy in Pretoria. 

In daardie tyd was dit egter heeltemal onmoontlik om met skilderkuns 'n bestaan te maak. Pierneef het toe baie soorte werk gedoen wat met kuns niks uit te make het nie. Tog moet ons dit nie betreur dat dit die geval was nie. Dit het hom tyd gegee om homself as kunstenaar te vind. Hy was jonk, vol geesdrif en het altyd geleentheid gevind om in sy vrye oomblikke te skilder en te teken. Hy het later met 'n sekere humor en trots gepraat oor die verskillende ambagte wat hy behoefen het en veral oor die feit dat hy selfs eenkeer tabakhandelaar was! Die vrugbaarste periode was toe hy as bibliotekaris in die Staatsbiblioteek in Pretoria gewerk het. Allerlei boeke  was tot sy beskikking en as hy saans werk, was hy gedurende die dag vry om te skilder.

Baie van sy werk uit dié jare het te voorskyn gekom in sy nalatenskap. Dit was 'n verassing - werk wat onbekend was, werk wat hy nooit wou verkoop nie, was nou vir almal te sien. Daar was skilderye wat reeds elemente van sy latere ontwikkeling bevat het. Dit het getoon hoe hy reeds sy vak beheers het toe hy nog 'n jong man was. Daar was onderwerpe soos stillewes en figuurstudies wat hy maar min in sy later jare geskilder het, toe hy homeintlik alleen tot die landskap in al sy vorms beperk het.

Later word hy aangestel as dosent in die kuns aan die Normaalinrigting te Heidelberg waar hy met toewyding werk tot hy hom uiteindelik in 1923 vrymaak. Hy was toe 37 jaar oud. Sy eintlike skildersloopbaan het begin.

Al dadelik begin 'n pragtige periode - die tyd toe hy in Suidwes-Afrika gewerk het. Al sy werk, veral sy fyn waterverftekeninge uit dié periode bewys dit. Dit adem opgewektheid en tevredenheid. Vir die eerste keer in sy lewe is hy as mens en as kunstenaar vry. Suidwes het hy ook nooit vergeet nie. "Dit is 'n pragtige land," het hy altyd verklaar, "die woestyn, die droogte, die eienaardige deursigtige lig daar..."

Toe maak hy weer 'n reis na Europa. Hy sien die Impressioniste, die latere Impressioniste, die Franse veral, maar ook die Hollanders - Breiner en Israels. Dit het 'n groot indruk op hom gemaak en hy het altyd met eerbied en bewondering oor hierdie meesters gepraat. 

Gedurende dié tyd het hy Kojijnenburg, 'n groot teoretikus en tegnikus, ontmoet. Kojijnenburg se idees oor komposisie, die samestelling van 'n skildery, het 'n indruk op hom gemaak en in 'n paar skilderye het Pierneef dit tot 'n sisteem uitgewerk. 

Maar hy laat dit gou vaar, hoewel hierdie nuwe ervaring tog later in sy dekoratiewe skilderye tot uiting kom. Dan is dit egter nie meer aan die buitekant nie. Pierneef se landskappe is toe reeds meer georganiseerd - dis nie meer so sigbaar en opvallend nie. Dink maar aan sy panele wat in die Johannesburgse Stasie pryk. Die reis in Europa en die kennismaking met ander kunstenaars het hom verryk en en verfris.

So het hy later ook altyd teruggekom van sy reise in Suid-Afrika - verryk en verfris. Hy het ook as mens daarvan geniet. Die mens en die kunstenaar kon hbier nie geskei word nie. Hy het altyd die gawe besit om van al die kante van die lewe te geniet - ook van eet, drink en die geselllige kontak met sy medemense. In dié opsig was hy soos die ou 17de eeuse skilders met hul positiewe, gesonde lewensgees: soos boere altyd aan die natuur verbind. Al bly hulle ook in die stad - skilders soos Jan Steen en Van Goyen - by dié soort mense sou Pierneef tuis gewees het. 

Daar is in die lewensbekrywings van die ou skilders maar min sprake van estetiek of kunsfilosofie, van die probleme van die siel en al die dinge waaroor daar vandag soveel gepraat en geskryf word. Pierneef wou ook nooit daarvan weet nie en het dit altyd ronduit gesê. Daarby was hy gul, hartlik en rondborstig. In sy bewondering van ander. So het ons hom geken in die laaste tietal jare van sy lewe - vrolik, opgewek, vol grappe, vrygewig met sy kennis en ervaring; altyd bereid om sy entoesiasme te deel, 'n propagandis vir die skoonheid van sy land, wat deur sy gesprekke endeur sy werk ook mense wat in hierdie land gebore was, geleer het om dit te sien. 

Dit het hom nie aan waardering ontbreek nie; hy het baie bewonderaars gehad. Navolgers was daar egter min - die oorspronklikheid van sy werk kan niemand benader nie. 

Hoe ook al die kuns in Suid-Afrika verder ontwikkel, Pierneef het 'n heel uitsonderlike plek in ons kunsgeskiedenis verower. 

Anton Hendriks

Ons Kuns