Jackie se heelgemaakte Seiljag

Jackie het so ongelukkig gevoel dat hy sommer kon doodgaan. Selfs die teenwoordigheid van  Chummie, sy hondjie, het hom nie laat beter voel nie.

Julle sien, daar was 'n taamlik groterige dammetjie in Jackie se tuin - met genoeg water om met sy jag te speel, en Jackie en Dickie - dis die seuntjie langsaan - het al baie lekker daar saamgespeel.

Eendag het Jackie 'n pragrtige nuwe seiljag gebring wat sy Pappie vir hom gekoop het, en natuurlik wou Dickie ook daarmee speel. Jackie het op selfsugtige wyse geweier, en baie gou het daar 'n rusie ontstaan. Toe was daar 'n bakleiery oor die jag. Terwyl hulle so handgemeen was, het hulle te na aan die wal  van die dam gekom, en toe hulle huulle weer kon kry, het hulle albei met 'n groot geplas in die water beland!

Sopnat en vol modder het hulle eindelik weer by die wal uitgeklouter!

Ongelukkig was dit 'n taamlike koue dag toe hulle in die water geval het, en albei die seuns het koue gevat, en moes 'n hele paar dae in die bed deurbring.

Sy mooi seiljag was stukkend. Hy het baklei met sy beste vriend, Dickie. Hy het 'n kwaai verkoue gehad en lelik gehoes, en sy Mammie het gesê hy vir 'n hele week nie sal opstaan nie. En nog die ergste van alles, die dokter het hom elke dag besoek, en hy het glad nie daarvan gehou nie, want die dokter het sy koors gemeet, in sy keel gekyk, en op sy bors geklop asof dit 'n tamboer was!

"O, liewe tyd!" het hy gesug, "sal ek ooit weer gesond word? Sal ek ooit weer in die tuin kan gaan speel? Hoe spyt is ek dat ek met Dickie gebaklei het oor daardie seiljag! Waarom het ek hom nie maar ook daarme laat speel nie? Dickie sal seker nooit weer na my toe kom nie?"

Terwyl hy so sit en dink en baie sleg voel, het hy hom verbeel dat hy iemand sy naam hoor fluister.

"Jackie, sjuut!"

Hy het die gordyn opsy getrek en uitgeloer. Daar onder sy venster was Dickie. Dickie het dus gouer as hy gesond geword, en het nou teruggekom om hom te sien.

"Maak oop die venster," het Dickie gefluister. "Moenie raas nie, want hulle sal ons hoor. Ek moes regtig nog nie hierheen kom nie, maar ek kon nie meer wag nie."

Jackie het eers rondgekyk om seker te maak dat daar niemand was om hom te sien nie, en toe het hy die venster versigtig oopgemaak.

"Gooi vir my 'n stukkie tou," het Dickie gefluister. "Ek het iets vir jou."

"Hier is nie 'n stukkie tou nie," het Jackie gesê. "Soek 'n stukkie," het Dickie gesê. "Miskien is daar iets anders wat goed sal wees."

Jackie het weer gesoek, en al wat hy kon kry, wat 'n rolletjie lint in Moeder se werkmandjie. "Sal dit goed wees?" het hy vir Dickie gefluister. "Ja," het Dickie gesê. "Hou die een ent vas, en gooi die ander vir my."

Jackie het die lint afgegooi na Dickie, en hy het gewonder wat dit was wat Dickie na hom toe wil opstuur.

Daar was 'n kort puse terwyl Dickie onder iets vasgebind het.

"Trek nou op," het hy gefluister, "ek hoop alles sal nou weer reg wees." Toe het hy net so stilletjies weggesluip as wat hy gekom het.

Jackie het die ding opgetrek, en stel julle voor hoe verbaas hy was toe hy sien dat dit sy mooi seiljag is. Dit was heelgemaak, al die seile was reg, net soos op die dag toe hy dit present gekry het.

Hoe bly was hy nie! En om te dink dat Dickie dit gedoen het, en dat Dickie glad nie meer vir hom kwaad was nie. Net toe hy die jag deur die venster trek, het hy iets agter hom gehoor.

"Jackie," het Moeder geroep, wat doen jy daar by die oop venster? Jy sal weer opnuut koue vat. Is jy nie lank genoeg al siek nie-?

Toe het sy die jag gesien.

"En hoe kom dit hier? het sy verbaas gevra.

"Dickie het dit gebring," het Jackie opgewonde gesê. "Ja, Dickie  het dit gebring! Hy het my seker vergewe omdat ek so kwaad vir hom was. Nou kan ons weer saamspeel, kan ons nie?"

Jackie was baie gelukkig, en skielik het hy ook so beter gelyk dat Moeder heeltemal vergeet het van die oop venster en haar lint wat nog daar by die venster uitgehang het.

"Ek hoop dat jy na hierdie sarsie nooit weer met iemand sal rusie maak nie," het Moeder gesê.

"Ek sal nie; ek sal nooit weer nie," het Jackie opgewonde gesê, en Chummie het sy stertjie so vinnig geswaai asof hy alles wou beaam.

Slaaptyd stories
Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell