# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Inkrimp

Hulle keer die skoondogter in die gang voor. Die gang loop van die hysbak af verby die hospitaalafdeling van die outehuis tot by enkele kamers aan die punt van die verdieping. Hierdie kamers is nie deel van die hospitaal nie. Dis luukse-dubbelkamers met private badkamers en groot vensters na die noorde toe uit. En in een van hierdie kamers woon die ou, ou vrou, haar skoonmoeder.

"Ons moet met u praat, mevrou."

Sy bly staan omdat die verpleegster se stem streng klink.

"Mevrou, julle moeder sal oorgeplaas moet word na die hospitaalafdeling. Sonder versuim. Sy het nou sonder twyfel daaglikse versorging nodig. En dié kan ons alleen aan haar gee as sy hier in die hospitaalafdeling is. En daartoe moet haar kinders toestemming gee."

Sy bly stil, sonder woorde. Eindelik dus, die vonnis. Die finale inkrimping.

"Sodra daar 'n sterfgeval is, reserveer ons vir haar die kamer. Praat solank met haar daaroor."

Sy stap verder na haar skoonmoeder se kamer toe. Sy stoot die deur oop en stap binne nadat sy liggies geklop en geen antwoord gehoor het nie. Dit is tog 'n mooi kamer, dink sy vlugtig. Sy het dit self nog so ingerig, vyf jaar gelede, toe die ou vrou van die luukse-hotel af hiernatoe getrek het. Sy het probeer om die oorgang makliker te maak. Sy het die kamer met sorg en smaak probeer inrig. Met iets van die sfeer van die luukse-hotelkamer. Maar deur die jare het sy geweet dat haar skoonmoeder die verskuiwing na die ouetehuis aan haar deur gelê het. En haar dit nooit vergewe het nie - dié noodwendige, noodsaaklike inkrimping.

Die blougroen gordyne is byna heeltemal toegetrek sodat slegs 'n enkele dun sonstreep op die dik blougroen mat val. Die ligte meubels van Japanse essehout en reuk van ouderdom en verval en agteruitgang in die kamer.

"Môre, Mamma."

Die ou mens lê op die bed met haar rug na die deur gekeer. Die somersnagrokkie ontbloot die skeletagtige skouers en die geswelde bene en voete. "Moet ek nie 'n ligte dingetjie oor Mamma gooi nie?"

"Ek kry warm."

Dis nou reeds weke dat die ou mens selde meer uit haar eie praat. Sy beantwoord slegs vrae. Wanneer die skoondogter oor haar buk, weet sy dat hier sorg nodig is. Sy voel 'n magtelose verset. Dwing die woorde uit.

"Sal ek vir Mamma 'n skoon nagrokkie aantrek? En 'n lekker warm seperige waslappie bring?"

Die hande met die skewe wysvinger maak 'n afwerende gebaar. Die yl stem is verstommend beslis.

"Ek het gister 'n skoon nagrok aangetrek."

"n Bietjie tee? Het Mamma geëet vanoggend?"

"Die ontbyt wat hulle ingestuur het, was oneetbaar."

"Maar Mamma moet eet. Wat van Mamma se vitamine-drankie saans? Dié wat ek by die apteek gekoop het?"

"Ek is te moeg saans om dit aan te maak."

"Wat dan van nou 'n glasie daarvan drink?"

"Nee, dit maak my naar." Sy hoor die toenemde ongeduld in die stem. Hou tog aan.

"Ek gaan vir Mamma 'n koppie Bovril maak. Daarvan hou Mamma mos." Sy soek in die muurkas na die vleisekstrak. Sien dat dit nog presies so toegeseël is soos sy dit dae gelede daar gelaat het. Sy haal 'n koppie uit die mooi blou-en-wit Italiaanse Spode-koffie wat sy as jong meisie in haar man se moeder se huis leer ken het. Duursame, elegante koppies.

Sy help haar om regop te sit. Die borsbeen is hol en hygend en oor die gesigsbeendere span die vel styf en geel. Agt-en-tagtig somers. Eintlik agt-en-tagtig winters. Want haar jare was by uitnemendheid moeite en verdriet. En as jy baie sterk is...

Die woorde van Jacques Brel se liedjie draai in die jong vrou se kop:

Die oues praat nie meer

of hoogstens af en toe.

Die oues droom nie meer,

hul het te lank geleef...

Sy weet dat die verpleegster reg het. maar besluit ineens: dis nie haar taak nie. Tuis die aand praat sy met haar man, die ou vrou se jongste kind.

"Dis nou al tien jaar lank wat ek omsien. Maar dié keer kan ek nie. Jou suster moet kom."

"Ek sal haar laat weet."

Sy vra hom twee dae later of hy sy suster laat weet het. Sy suster moet van ver kom.

"Nee," sê hy. "Is dit dan só dringend?"

"Jy sien mos."

Sy gaan elke dag. Sy doen wat sy kan: maak aan kant, trek reg, was 'n stukkie klere. Maar haar skoonmoeder se stil verset, naweë van die ou trots, beperk haar. Dring die jare aan haar op.

Pas uit die skool en vreemd in die groot stad was sy toe sy haar man ontmoet het. Hy het haar geneem na sy moeder se huis - 'n stylvolle, ietwat verweerde huis in een van die beste voorstede. Daar was ruimte en plate en boeke en mooi porselein - die blou Spode - en goed beplande maaltye. 'n Ouer broer en suster was reeds uit die huis. Haar man was die jongste kind van die vrou wat pas na sy geboorte haar man verloor het en daarna drie kinders alleen grootgemaak het. Met beperkte middele, maar met fyn aanvoeling vir lewenstyl en sekure beplanning. Sy het van die begin af ontsag en agting gehad vir die streng, statige mens wat haar alleen-lewe met ysere dissipline gevoer het. Maar warmste gesoek en blyheid...

Veral in die laaste jare waarin sy nouer as tevore betrokke was by die ou mens. Omdat sy en haar man teruggetrek het na die stad waar haar skoonmoeder nog steeds gebly het. Eers in haar huis met die groen tuin, toe in haar luukse-hotelkamer; nou in haar mooi kamer  in die ouetehuis en binnekort...

Die dogter het so dikwels moontlik probeer kom van die ver plaas waar sy gebly het. Die oudste seun het selde gekom. Maar as hulle kom, was die ou vrou vir hulle steeds die trotse, die streng, onafhanklike mens.

"Hoe wonderlik is Moeder nie."

Van die dodelike vermoeidheid na hul vertrek en die pynlike insinkings het slegs die skoondogter geweet.

Sy het op 'n dag na 'n gesprek geluister wat die drie kinders oor hul moeder gevoer het.

Dit was die dogter wat gesê het:
"Ons sal op haar graf kan skryf; 'sy het ryker geword namate sy haar aan ander gegee het."

Die oudste broer het geantwoord:

"Sy hét haar gegee. Maar slegs aan haar kinders. Nooit aan ander nie."

Die skoondogter het geweet van die waarheid van hierdie woorde en haar verwonder oor die insig van die man wat sy moeder se huis vroeg verlaat en eintlik selde teruggekeer het.

En nou was dit sy wat die ou vrou op die laaste pylvak moes bystaan. Sy het gedink aan die Bybelse woorde. Geweet: die wedloop was straf. En probeer vergewe. Maar by haar besluit gebly. Die dogter moet kom. want sy hoor die woorde al die afgelope vyf jaar: "Julle het my nou uiteindelik hier. Maar julle moet my nooit na die hospitaalafdeling laat gaan nie. Hier in die kamer wil ek bly. Beloof my."

Daarom sou sy niks sê  van die verpleegster se woorde nie, net maar elke dag gaan en doen wat sy kan. Tot die dogter kom.

Op 'n dag keer die verpleegster haar weer voor.

"Daar was 'n sterfgeval vanaand. Môre word die kamer ontruim en uitgeverf. Oor die naweek kan julle moeder intrek."

Die aand bel sy self die dogter.

"Jy moet haar kom sê. Hierdie keer moet jy haar kom skuif. Jy moet môre op die trein klim."

Die dogter arriveer twee dae later. En van daardie dag af gaan die skoondogter nie meer na haar skoonmoeder toe nie. Sy sien dat haar skoonsuster vermoeid en hartseer lyk wanneer sy saans terugkeer om by hulle te slaap. Maar sy vra nie uit nie. Omdat sy eintlik nie wil weet nie. Buite wil staan. Eindelik, na 'n week, kondig haar man se suster aan: "Mamma is nou oorgeplaas na die klein kamer in die hospitaalafdeling. Dis 'n suidkamer. Koud. Ek het dit soos haar ou kamer probeer inrig - dieselfde mat en gordyne - alles. Maar dis so klein, so klein...Ek sal moet teruggaan na my man toe. Dis appeloestyd. Ek kan nie langer vertoef nie. Tot oormôre sal ek bly. Sy praat tog selde meer. Ek het haar gevra of sy vir my kwaad is omdat ek haar uit haar mooi kamer weggeneem het. Sy het my nie geantwoord nie. Net maar na my gekyk...Sy is tog na alles so wonderlik sterk. So trots. Wat doen 'n mens?"

"Wat 'n mens moet."

"En as ek nou weer weg is?"

"Ek sal elke dag gaan, soos ek gereeld gegaan het, met die jare. Ek weet dat jy nie langer kan bly nie. Ek sal gereeld gaan en jou laat weet. Noudat jy kom doen het wat jy moet."

Die man sit sy suster twee aande later op die trein. Hy is vermoeid en verlig toe hy van die stasie af kom.

"Nou is dit ook agter die rug. Ons moet maar vroeg gaan slaap."

Die telefoon lui om tienuur. Dit is die verpleegster.

"Julle moet kom. Moontlik moet julle moeder opgeneem word."

Tog nie dit ook nie, dink die skoondogter. 'n Vreemde, groot koue hospitaalsaal met net 'n bed en 'n bedkassie tydelik joune.

Sy gaan vir die eerste keer die nuwe kamer binne. voel die koue van 'n suidkamer. Daar is dieselfde meubels, dieselfde mat, dieselfde gordyne. Mar dis klein en oorvol. Sodat die dokter en die verpleegster en sy aan haar man beswaarlik by mekaar en by die suurstofsilinder verby kan beweeg as hul voor die bed wil kom.

Dis te vol, te verskriklik vol, weet die skoondogter. Sy sal môre moet kom om dit leër te maak. Vir die laaste pylvak is daar immers net die basiese nodig. Jare se peuterytjies en snuisterytjies en tafeltjies en boeke en foto's en vase vol blomme is nie meer van belang nie.

"Dis byna verby," sê die dokter. "Geen sin om haar weg te neem nie."

Die skoondogter kyk na die ou vrou en weet dat hierdie vermoeidheid dodeliker is, dat hierdie insinking die finale insinking is. Die dogter het vertrek. Sy is êrens in die nag op 'n voortsnellende trein.

Hulle begrawe haar dae later in 'n ou kerkhof langs haar man. Sonder wie sy twee-en-vyftig jaar geleef het.

Die skoondogter staan vlak by die graf en sy weet verwonderd: hoe klein, hoe héél klein is hierdie laaste smal omhulsel, hierdie laaste aardse woonplek.

Margaret Bakkes                                                                                                                   

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7

Boeresport Promo - Paul Joubert.mp3

Onbeskaamd Afrikaans! ♦  Kom vier saam fees op Erfenis Naweek ♦ 23 - 24 September 2017 ♦ Silverton Pretoria ♦ www.boeresportdag.co.za  ♦ Bespreek NOU! ♦ 079 219 6735 ♦ 97 Stalletjies beskikbaar ♦ Troutrek, Potjiekos en Kaskar Kompetisie ♦ Skryf gou in !!  paul@radiokuberkontrei.co.za