# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

In vino Veritas

Verlede nag het my gees weggeloop Boland toe. Miskien loop jy hom raak, iewers tussen Stellenbosch en die Paarl. In 'n wynwingerd, in die son. Want dis parstyd in die wynland. Nou dat die jaar ryp geword het. Die wind en goeie weer en son het die trosse tot bekwaamheid begenadig - to parsbaarheid gesuiker in die oop hart van die sanderige aarde. 

Nou kom die hande van mense  en die ratte van masjiene en stroop die wingerdstokke van hul vrug. Rooi Pinotage. Wit Steen. Hulle is die eerstes. Dan Hermitage en Frans, eh later Colombar en Hanepoot. Teen die einde is dit Clairette Blanche en Cabernet. Mandjiesvol, lorriesvol...strate-  en paaievol. Die hart van die wynland word gekneus, gemaal, gebreek voor dit met die gis en bêre in die duisternis herbore word tot kleur en boeket en liefde vir die mens se mond. Die mens was klaar in die wingerd - om die suiker en die suur te meet wat die son en die weer en die aarde in die korrel gevorm het. Plek-plek, oral deur die wingerd, het die mensehand korrels gevat - vyf korrels sonder uitsoek om die middel van die tros. Om te meet waar die suiker lê, om die vrees vir reën te meet en die sontyd wat nog nodig is. 

Parstyd in die wynland. Wynstokke teen die hange, wynstokke op die gelyktes. Wynstokke in die oë van die wynboer, oesjaar in die hart van die wynmaker...Want oplaas is dit die mense se hand wat die gees uit die wingerd haal. Strawwe hand, onverskillige hand, of hand van liefde en wete...En as die mens hom klaar met die wyn bemoei het, bly daar nog net die tyd oor wat moet bykom; die tyd wat vanself kom, die tyd waarsonder die gees van die wingerd nie gestalte kan kry nie. Uiteindelik: die wyn se skoonste oomblik as hy in gemeenskap tree met die mens. Want sê die Skrif nie dat wyn kos is nie? Nêrens word wyn in die Skrif verdoem nie, maar dranksug word by hebsug en vraatsug as sondes van onmatigheid geskaar. 

Parstyd in die wynland....Son vir die suiker...Tyd vir die gees....

En die mens se omgang met die wyn maak dit goed. 

Dolf van Niekerk

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7

DIE REÜNIE

Vanaand gaan ons reünie vier -

Ons sien die ou gesigte weer!

Die mense staan om die klavier,

Die kamer pragtig renoveer.

Die huis is groot en vol met mense -

Vertel hul stories en grappe ook,

Hul staan so daar met groot dikpense -

Die hele huis deurtrek met rook.

Die kinders fatterig uitgedos

Jaag deur die huis en gaan te keer.

Die vrouens ruik na lavendelbos

Hul mans kyk rond en skelm begeer.

Ek drentel deur die donker gang:

Ek hoor van agter ‘n deur so dik

Hewige huil, die treurig gesang

Van sterwende kinders se laaste snik.

‘n Ander deur staan oop en wyd:

Vrouens kaalvoet, maer en vuil.

Uit donker tente dreun die geluid:

Ek hoor net weeklaag, skree en huil!

Ek skrik terug na die warm vertrek -

Nog staan die gaste daar en lag.

In ‘n hoekie sit ‘n man bedek

Hy’s oud en grys en staar en wag.

Ek sien sy sterk en edel gesig,

Sy gebiedende houding wat krag meedeel.

Ek sien sy oë so helder en lig:

Staalharde oë wat aai en streel.

My gesig word bleek. Ek kén dié man!

My oë bedou, benat my gesig.

„Oom Paul! Jy hier? Wat maak jy dan?”

„Boer!” hy grom, „gaan doen jou plig!”

By die gaste verby, ek stort uit die huis,

Ek hoor nog skaars die snater vannie aand:

„Die kêrel is so onbesuis?!”

„Veldkornet!…Ek’s hier!…My uzi draend!”

       © Pieter Cohen Hamburg