# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

In die Hoëveld waar dit oop is

Ons het 'n rukkie op die bopunt van die wye trap gestaan en na die gebou opgekyk. Die voorkant was volmaak vierkantig sonder 'n enkele venster in die gladde blouswart graniet. Net die swaar, ysterbeslaande deure het die reserwevlak verbreek. Ek het omgekyk na die wintervaal Hoëveldse vlakte wat tot by 'n ver reeks rantjies weggestrek het, en gesien hoe nog motors onder die kop stilhou. Drie midderjarige mans en 'n meisie met 'n kniebroek was besig om teen die trap op te klim, die meisie voor. Sy het haar handsak vrolik geswaai. 

"Dis nie uitgesluit dat die weerlig nog meer skade kan aanrig nie," het Sylvana Kometsie nadenkend gesê terwyl ons na 'n ru, swart gebrande gat in die plafon van die ingangsportaal kyk. "Weerligafleiers ten spyt."

"Die geniepsige engel met die swaard wat vlam en flikker..."het eerw. Konigsberg ouder gewoonte sy sin onvoltooid gelaat.

"Gerhardus Potgieter, Hermaans Gabriël jacobs, Jakkie Brits," het Sylvana die name op die eerste brons-ererol gelees. Haar harde altstem in die hoë saal het steurend geklink.

"Dit maak nie sin as jy nie prestasie en datum noem nie. Hou liewer op." Ek het skerper geklink as wat my bedoeling was, en sy het verbaas na my omgekyk. Ek het my skouers opgehaal en na 'n tapisserie gestap wat die slag van Mosega uitbeeld. Langsaan was Boomplaats en verder Langlaagte. Bourke's Luck en Greytown. Die marmerfries wat die Botha Liebenberg-verdrag uitbeeld, was 'n lang wit venster vol ernstige sneeumanne.

In die tweede saal was 'n aantal bronsbeelde op hoekige granietblokke. Die grootste beeld was die bekende Kruger deur Van Wouw, maar daar was ook 'n dramatiese Sarel Cilliers, De Wet op Fleur, Botha, Verwoerd en 'n aantal mindere figure. Teen die hoë mure, van die vloer tot teen die dak, het skilderye en foto's van mans en vroue gehang, te veel om na te kyk, maar hier en daar was tog iemand wat elke beeltenis uiters noukeurig bestudeer en aan  'n metgesel met 'n uitgestrekte hand uitgewys het. 'n Kolom-rysleutel is op 'n strategiese plek teen die muur aangebring en daar was 'n bordjie wat besoekers na 'n alfabetiese katalogus verwys. Met sorgvuldige organisasie is verseker dat die maksimum in die beperkte ruimte van die saal besigtigbaar is, maar eerw. Konigsberg was nie beïndruk nie en het aanhoudend sinfragmente in sy grys baard gebrom.  

Na 'n ompad verby verskeie taferele het ons die oudio-visuele afdeling bereik. Ek het Sylvana en eerw. Konigsberg oortuig dat indien ons elke toespraakruimte besoek, ons ure sal vermors, en toe ondervind dat dit moeilik is om 'n keuse te maak. Uiteindelik was Sylvana se "Hy was die laaste: 'n tragiese hel" deurslaggewend. 

In die skemer saaltjie het reeds 'n aantal mense gesit toe ons binnekom. Ek het 'n paar Ghanese herken wat vroeër by die lughawe was. 'n Kollig het aangeskakel op 'n lang bleskopman op die verhogie. Die tros blaaie in sy hand het fel en onbeweeglik wit geskyn in die skerp lig. Dit was moeilik om sy gesigsuitdrukking te peil, want sy mond, wat deels vrolik was, se ander hoek het sinies afgetrek en sy oë, waarin ek naarstig na 'n vriendelike glinstering gesoek het, was genadeloos afwesig agter die blink brillense. Ja, dit was asof hy uit sy hoogte bokant die tafeltjie verby ons kyk, of deur ons; 'n gevoel dat iemand agter ons sy aandag trek, het so sterk by my opgekom dat ek wou omkyk. 

Ons het geduldig gewag dat hy moet begin praat, wetende van sy voorliefde vir die dramatiese stilte.  Hy het sy kop van kant tot kant gedraai asof hy ons bestudeer en sy hande palms na onder op die tafel vooor hom geplaas en teruggeleun.  Toe sy brillens flits, was ek seker, soos van die wette van die optika, dat hy spesifiek na my kyk, en het 'n skielike koue teen my nek gevoel.

Dit was sy Mei-toespraak en hy het kort-kort sy regtervuis opgelig en met 'n reguit vinger gewys, boontoe, vorentoe na ons toe en na homself, 'n gevaarlik-vyandige figuur om wie alles toe reeds begin verkrummel het.

Ons het al drie al die toespraak gelees en na tien minute opgestaan.  Toe ons uitstap, het die drie middeljarige mans met hul hoede in hulle hande by die deur ingekom.  Die meisie met die kniebroek was nie meer by hulle nie.

"n Goeie gelykenis van hom," het eerw. Konigsberg gesê : " Verbasende tegnologie; die spul moes miljoene gekos het."  Hy het geaarsel en na my gekyk asof hy steun soek.  "Dit was nogtans 'n sinvolle vergunning aan hulle. Dink julle nie so nie?"

"Ja," het Sylvana gesê.  "Na alles het die minderheidsgroep ook op grond van hulle bydrae sekere regte verdien.  En dié het ons goed bewaar."

Ek het dit nie in die stadium gerade geag om oor my eie bydrae te spekuleer nie.

Dit was vreemd hoe troosteloos leeg die Hoëveldse vlakte gelyk het toe ons weer buite kom.

P. J. Haasbroek

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. de Vries

ISBN 0-7981-3569-7