Hoe Ouma vir Kersfees gekom het

Uiteindelik het die dag aangebreek om die spaarbussies oop te maak! Hoe lank het dit nie geneem om hulle vol te kry nie. Dit het harde werk gekos, en die twee kinders moes van baie dinge afsien, soos lekkers, roomys, en mooi linte! Vir Hilda en Mona het dit gelyk of die dag nooit sou kom om die bussies oop te maak nie, en daar was tye toe hulle moedeloos gedink het dat dit tog nie help om geld daarin te gooi nie.

Maar eindelik het die dag tog gekom! Dit was 'n week voor Kersfees, en natuurlik wou almal geld hê vir presente, nuwe klere en goed. Hoe bly was die kinders nou dat hulle na Moeder gesluister het en die bussies nie eerder oopgemaak het nie!

Mona het haar bussie oopgesluit, en daar binne het sy die pennies, tiekies, sikspense en selfs halfkrone gesien. Sy was vreeslik opgewonde! Sy het die geld getel, en toe het Hilda dit ook getel om seker te maak dat sy dit reg getel het; en raai hoeveel was daarin? Vyftien sjielings en een pennie! Dit was sommer 'n klomp geld vir 'n dogtertjie!

"Sluit nou joune oop," het Mona gesê. "Ek wonder wie die meeste het?"

Hilda het 'n ander soort bussie gehad, en die geld het so styf daarin gesit dat sy 'n mes moes gebruik; maar nadat sy met die mes daarin gesteek het, het die geld begin uitkom - pennies, tiekies, sikspense, sjielings, en ses halfkrone. Hoe mooi het die baie geld gelyk.

"O!" het Mona gesê, "jy het baie meer as ek."

"Dit lyk so," het Hilda gesê. "Kom laat ons dit tel. Een, twee, drie. Daar is sowaar meer as vyf-en-twintig sjielings!"

Daar was, om presies te wees, vyf-en-twintig sjielings en sewe pennies. Hoe gelukkig was die twee nie. Hulle het nog nooit soveel geld gehad om te spandeer nie. Toe het die groot vraag ontstaan: Wat sal hulle koop? Baie gou het hulle besef hoe min geld hulle werklik gespaar het. Daar was so baie dinge wat hulle wou koop, die meeste waarvan meer kos as albei van hulle se geld.

Mona wou vir haar 'n mooi tabbertjie koop, maar haar geldjies was veels te min. Hilda het gedink aan 'n pragtige handsak - een van die met 'n spieëltjie, maar ook sy het nie genoeg geld daarvoor gehad nie. Toe het hulle ander dinge bespreek wat hulle graag wou hê - so baie dinge - maar hulle kon tog nie alles koop nie.

"Ek is nou al moeg gedink," het Hilda gesê. "Hierdie bietjie geld is net 'n las."

"Weet jy wat," het Mona gesê. "Ek dink die moeilikheid lê daarin dat ons net aan onsself dink."

"Kom laat ons, net vir 'n grap, dink hoe ons die geld kan spandeer op ander mense."

"Moeder, byvoorbeeld," het Hilda gesê.

"Goed. Skryf jy neer wat jy graag vir hulle wil koop, en ek sal ook."

Albei het toe potlood en papier geneem. Hilda het 'n lang lys opgestel - lank genoeg om haar geld drie of viermaal op te gebruik.

"Jy het nie veel neergeskryf nie, Mona "het sy gesê toe sy na Mona se lys kyk.

"Nee," het Mona gesê, "maar ek het aan 'n ander plan gedink. Ek het aan iets gedink wat 'n baie mooi present sal wees vir beide Moeder en Ouma."

"Laat ons hoor wat dit is," het Hilda gesê.

"Wel," het Mona gesê, "jy weet hoe Moeder verlang dat Ouma 'n bietjie moet kom kuier. Die enigste rede waarom Ouma nog nie gekom het nie, is dat nie die reisgeld het nie, en Moeder het dit ook nie om aan haar te stuur nie. Sal dit nie wonderlik wees as ons self vir Ouma die geld stuur, en haar nooi om Moeder te kom verras nie?"

"Mona, dis 'n gawe plan!" het Hilda gesê. "Ek sal dit baie eerder wil hê as 'n nuwe handsak. Kom laat ons dit dadelik doen."

"Ek is so bly dat jy van die idee hou," het Mona gesê. "Ek sal Moeder baie eerder gelukkig wil sien as om 'n nuwe tabberd te koop. Bring pen en papier en laat ons sommer nou die brief aan Ouma skryf. Sal jy skryf?"

"Goed," het Hilda gesê, "maar jy moet sê wat ek moet skryf."

Die twee het toe saam as volg vir Ouma geskryf:

"Liewe Ouma,

Ons verlang almal baie dat Ouma met Kersfees 'n bietjie moet kom kuier. Mona en ek het ons geldjies opgespaar sodat ons Ouma se reisgeld kan betaal, en ons stuur dit saam met hierdie brief. Ouma moet dit nie verloor nie; kom gou. Ons sal Ouma aanstaande week verwag.

Met baie liefde van Hilda en Mona."

"O Mona," het Hilda gesê nadat sy die brief klaar geskryf het, "wat sal Moeder sê as Ouma hier aankom?"

"Dit sal vir haar 'n groot verassing wees. Sy sal so bly en verras wees dat sy nie sal weet wat om te doen nie."

Toe het hulle die geld geneem, hulle jasse aangetrek en na die poskantoor gegaan waar hulle 'n poswissel vir £2 uitgeneem en aan Ouma gestuur het. Hulle het lekker gelag en hulle geheim vreeslik geniet. Toe is hulle weer huis toe om verwikkelinge af te wag.

Vir die volgende paar dae kon die meisies hul aandag by niks bepaal nei. Elke voetstap wat hulle buite gehoor het, het hulle van opgewondenheid laat skrik. Veral wanneer hulle die hekkie hoor oopgaan, het hulle sommer so gewip soos hulle skrik. Hulle het gevoel dat hulle iets groots en moois gedoen het.

Kort-kort het hulle geskaterlag, oënskynlik vir geen rede nie, en Moeder kon nie uitmaak wat met hulle verkeerd was nie.

Eindelik is daar 'n aan die voordeur geklop.

"Hilda, daar klop iemand," het Moeder geroep uit die kombuis. "Gaan kyk wie dit is."

Maar Hilda het geweet dat die groot oomblik aangebreek het, en sy wou graag dat Moeder die verasssing moet kry waarop hulle al so lank wag. "Ag, Moeder ek kan nie op hierdie oomblik gaan nie; sal Moeder nie asseblief gaan nie?"

Sommer net so nat van die sweet van haar werk in die kombuis, is Moeder vinnig na die deur; sy gedink dat dit die melkjong was. Sy het die deur skielik oopgemaak - en daar het Ouma gestaan, met haar koffer by haar, asof sy vir 'n hele maand gekom het.

"Wel, nou praat ek nie meer nie!" het Moeder uitgeroep. "Wat-!" Is dit nie wonderlik nie! Maar hoe het Moeder gekom? Wie kon ooit gedroom het dat Moeder vir Kersfees sou kom!"

"Maar het jy my dan nie verwag nie?" het Ouma gevra, net so uit die veld geslaan.

Toe het die twee meisiekinders uitgeskater van die lag.

Na die opgewondenheid bedaar het, het Ouma die twee kinders na haar geroep, en sy het haar koffer oopgemaak.

"My vingers is nog nie styf gewerk nie," het sy gesê, terwyl sy twee pakkette uithaal. "Hier is 'n tabbertjie wat ek vir Mona gemaak het, en hier is 'n mooi kraalhandsakkie vir Hilda."

"Hoe wonderlik!" het die twee kinders tegelyk uitgeroep, terwyl hulle verbaas na mekaar gekyk het.

"Wil jy dit na nie hê nie?" het Ouma gevra.

"Natuurlik wil ons die goed hê! Is dit nie fraai nie," het Hilda uitgeroep. "Maar hoe het Ouma geweet? Dit is net was self sou gekoop het met die geld uit ons spaarbussies."

"Weet julle, kinders," het sy gesê, "die Bybel is heeltemal reg waar dit sê: Wie hom ontferm oor die arme, leen aan die Here, en Hy sal hom sy weldaad vergelde."

Slaaptyd stories
Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell