# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Hoe John sy Pappie gered het

Nadat hy in Slaaptydstories, deel 3, gelees het van die wonderlike wyse waarop kindergebede al verhoor is, het 'n ou vriendin aan my die volgende verhaal gestuur:

Met  haar eggenoot en klein seuntjie woon sy in 'n afgeleë deel van Nieu-Suid-Wallis in Australië. 'n Endjie van die plaashuis af loop 'n rivier. In gewone tye was hierdie rivier nie gevaarlik nie, maar soms, na swaar reëns, het dit so vol geword dat dit verspoelings en groot skade veroorsaak het.

Eentyd het dit weer vir dae aaneen gereën, en John het gewonder of hy ooit weer die son sou sien. Ook Vader was onrustig, want hy het geweet wat so baie reën kan beteken. Die rivier het al voller en voller geword. Sou die reën ophou voor die rivier sy walle oorstroom?

As Moeder maar net tuis was, het John en sy Pappie gedink, sou hulle nie so onrustig gevoel het nie. Maar Moeder was weg om 'n siek vriendin te gaan verpleeg. Daar was die twee alleen, en hulle het gewag en gewag, en gewonder en gehoop.

Skielik het Pappie uitgeroep.

"Kyk, daar kom die water!"

Die rollende vloedwater was nog 'n half myl van hulle af, en hulle kon sien hoe dit aangerol kom. Die beeste, die skape, die hoenders?  Wat sou gebeur as die water verbykom?

Daar kan nie 'n oomblik versuim word nie. "Bly hier op die veranda!" het Pappie vir John geskreeu. "Ek sal nou weer terug wees." Bruisend het die water by die plaashuis verbygestroom.

John het op die veranda gestaan, byna uitasem van opgewondenheid, en baie baie bang. Waar was Pappie? Wat het met hom gebeur?

O, daar's hy! Hy kon nou sy Pappie sien, halflyf in die water wat nog altyd gestyg het.

Maar kyk! die water slaan sy voete onder hom uit, en hy moes vreeslik spartel; die stroming was al te sterk, en hy moes sien hoe beeste, hoenders en opdrifsels deur die water meegevoer word. Stukke van skure en huise wat die water hoër op reeds weggespoel het, het verbygedryf.

John was hulpeloos en verboureerd.

Maar skielik, in sy benoudheid, het hy aan Jesus gedink, en hoe Moeder hom geleer het om te bid in "tye van nood."

Sou Jesus hom nou help?

"Jesus!" het hy benoud geroep. "Jesus! moenie laat Pappie verdrink nie! Asseblief, moenie laat Pappie verdrink nie! Asseblief, moenie laat Pappie verdrink nie!"

Hy het sy hande gewring, en die trane het gerol. Toe het daar 'n vreemde ding gebeur. Juis op die oomblik toe dit gelyk het of die water sy Pappie sou meusleur, het daar 'n gaffel met 'n lang steel op die water verbygedryf  by die plek waar sy Pappie staan; hy het die gaffel gegryp en die tande daarvan diep in die grond ingedruk, en dit het hom gehelp om nie sy balans te verloor nie. Toe die water weer begin sak, het hy aangesukkel tot by 'n draadheiding waarvan die pale net bokant die water uitgesteek het, en dit het hom verder gehelp om uit die gevaar te kom.

En was John nie bly toe hy weer sy Pappie veilig sien nie!

"Dit was sommer toeval," sal sommige seker sê. Wel, John, en sy Pappie, en sy Mammie dink nie so nie. Hulle sien daarin nog 'n vervulling  van Psalm 34:8: "Die Engel van die Here trek laer rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit," want Jesus verhoor graag die gebede van klein seuntjies.

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell