# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Hoe Doris haar stem verloor het

Dis 'n baie wonderlike storie hierdie; so wonderlik dat julle miskien sal sê, "Ek glo dit nie!" Maar ek wil julle verseker dat dit werklik gebeur het.

Doris was in daardie tyd net sewe jaar oud, en sy het so goed op skool gevorder dat Moeder trots was op haar. Maar Doris het een fout gehad - sy wou altyd haar eie sin hê, al het Moeder ook wat gesê. Die moeilikheid het weer opgeduik oor die pad skool toe. Moeder wou hê dat sy 'n sekere pad moes loop, maar Doris wou 'n ander pad loop.

Eendag het Moeder gesê: "Doris ek wens dat jy nie meer daardie kortpad deur die agterstrate wil loop nie. Sommige van die seuns daar is baie ongepoets, en ek wil nie hê dat jy in moeilikheid beland nie. Loop liewer met die hoofstraat, en dan sal alles reg wees."

"Maar, Mammie," het Doris gesê, "die pad wat ek loop is heeltemal veilig. Daar is gewoonlik nooit iemand op daardie strate nie. En as ek daarlangs loop, kom ek baie gouer by die skool."

"Wel, ek wens dat jy liewer met die hoofstraat wil loop; dit sal jou minder as vyf minute langer neem, en dan weet ek dat jy veilig is.  "Jy mag dit nie insien nie," het Moeder gesê, "maar ek wil hê dat jy met die hoofstraat moet loop."

Doris is toe weg skool toe. Omdat Moeder se woorde nog in haar ore geklik het, het sy die langer pad gekies. Maar toe sy daardie middag huis toe kom, het sy weer gevoel dat Moeder verkeerd en sy reg was.

"Ek kan nie verstaan waarom Moeder nie wil hê dat ek met die korter pad moet loop nie," het sy vir haarself gesê. "Moeder verstaan nie. As sy 'n klein dogtertjie was wat moeg en honger is soos ek, sou sy ook die kortpad kies; ek weet sy sou."

So het sy geredeneer, en eindelik het sy haarself oortuig dat die kortpad daardie middag heeltemal veilig sal wees. En dit was. Daar was feitlik niemand op straat nie. Doris het heeltemal tevrede met haarself tuisgekom, maar sy het Moeder nie vertel met watter pad sy geloop het nie.

Die volgende dag was dit weer so, en die volgende en die volgende. Soms het Dors selftevrede geglimlag wanneer sy daaraan dink hoe bang Moeder was vir die agterstrate. "Sy weet net nie," het Doris gedink; maar sy het Moeder darem nie vertel dat sy nie met die hoofstraat geloop het nie.

En toe, een middag, het dit gebeur - die einste ding wat Moeder gevrees het. Terwyl Doris onderweg huis toe was, het sy 'n groep seuns voor 'n winkel gesien. Maar aangesien hulle so lekker gespeel het, het sy haar nie veel aan hulle gesteur nie. Toe sy naby hulle kom, het sy gesien dat hulle met 'n taamlik rowwe speletjie besig was. Eintlik word dit met 'n sagte bal gespeel. Een uit die groep word aangewys, en die ander probeer om hom raak te gooi met die bal; dis sy werk om te koes dat hulle hom nie raak gooi nie. Maar ongelukkig het daardie seuns nie 'n bal gehad nie, en hulle het sommer met alles en nog wat gegooi, en geskreeu: "Koes!"

Toe het hulle vir Doris gesien wat aan die anderkant van die straat verbygestap het.

"Koes! Koes!" het hulle vir haar geskreeu en begin gooi. Doris het begin hardloop, maar dit het nie gehelp nie, want soos 'n klomp wolwe het hulle haar agterna gesit en  met alles gegooi wat hulle in die hande kon kry - leë blikke, vrot tamaties, en selfs klippe.

Die arme Doris se rok het sommer baie gou naar gelyk! Niemand wou haar natuurlik seermaak nie, maar, skielik het sy gegil, haar keel vasgehou, en in die straat neergeval.

Die seuns het na haar toe gehardloop en gewonder wat gebeur het.

"Kyk, haar keel bloei; iemand moet met 'n klip gegooi het," het die grootste seun gesê.

Ja, een het, maar wie - dit sou 'n geheim bly. Maar wat help dit ook nou om daaroor te redeneer, die kwaad is gedoen.

Hulle het vir Doris gevra wat makeer, maar sy kon nie praat nie. Toe het die seuns regtig bang geword, en een het 'n konstabel gaan roep. Hy het Doris opgetel en huis toe gedra.

"Doris! Wat makeer?" het Moeder uitgeroep toe sy die deur oopmaak. "Doris! Wat het gebeur?"

Maar daar was geen antwoord nie. Moeder het haar keel gewas en verbind, maar Doris kon geen woord praat nie. Sy het geprobeer om te praat, maar sy kon  geen geluid uitkry nie. Moeder het nou baie onrustig geword, en die dokter ontbied. Na die dokter haar ondersoek het, het hy gesê dat 'n klip haar op die stemkas getref het, en dat sy  moontlik nooit weer sal kan praat nie.

Later het hulle haar na 'n spesialis geneem, en hy het bevestig wat die dokter gesê het. Moeder en Doris is toe baie hartseer huis toe.

Die gedagte dat Doris moontlik nooit weer sal kan praat nie was te veel vir Moeder, en dit het haar baie ongelukkig gemaak. Doris het nou besef hoe dwaas sy was dat sy nie na haar Moeder geluister het nie. Wat 'n verskriklike prys het sy nou betaal vir haar ongehoorsaamheid!

Maande het verbygegaan, en die wond aan Doris se keel het genees, maar sy was nie in staat om 'n woord te sê. Moeder het in alle erns begin glo dat sy nooit weer haar liefling-dogterjite se stem sal hoor nie.

Toe, eendag, is daar aan die voordeur 'n geklop. Moeder het die deur oopgemaak en daar het 'n man gestaan wat boeke verkoop.

"Nee, dankie; nie vandag nie," het Moeder aan hom gesê.

"Maar ek verkoop kinderboeke," het hy gesê. "U het seker 'n seuntjie of dogterjie-"

Moeder het aan Doris gedink, en die man toe ingenooi.

Die man het sy boeke te voorskyn gehaal - ek sou graag wil glo dat dit Slaaptydstories was - en hulle aan Doris gewys. Hy het haar gevra wat sy van die prente dink, maar daar was geen antwoord nie. Uit die veld geslaan het hy hom tot Moeder gewend, en Moeder het haar vinger voor haar lippe gehou en haar hoof geskud.

"O, ek is jammer," het die man gesê. Ek het nie geweet nie. Is daar enige hoop?"

"Daar is geen hoop nie," het Moeder geantwoord. "Ons het die beste spesialiste geraadpleeg."

"Daar is iemand wat moontlik kan help," het die man gesê.

"Wie?" het Moeder belangstellend gevra.

"Die Groot Geneesheer," het die man gesê. "Het u Jesus al gevra?"

"Nee," het Moeder verleë geantwoord, "ons het nie."

"Sal ek Hom vra?" het die man aan die hand gedoen.

"Ek sal nie omgee nie," het Moeder gesê; "doen dit maar."

Toe het die vreemdeling daar by Doris se bedjie gekniel, en in baie eenvoudige taal vir Jesus gevra om haar in Sy groot liefde weer gesond te maak en haar stem weer terug te gee as dit ooreenkomstig sy wil mag wees.

Toe het die man opgestaan, hulle gegroet, en verder gegaan. Maar voor hy weg is, het Moeder hom gevra om van sy boeke te bring.

Sowat 'n week later het hy weer na die huis gestap. 'n Dogtertjie het hom tegemoet gehardloop - dit was Doris!

"Ek is so bly dat u weer gekom het!" het sy gesê terwyl sy sy hand vat. "Ons het die hele week al gewag dat u moet kom."

"Maar jy kan mos weer praat!" het die man opgewonde uitgeroep. "O, ja ek kan," het Doris opgewonde gesê. "Dit het gebeur net nadat u weg is. Ek het agterna gehardloop om u te vertel, maar u was toe al te ver weg."

Daar was nou trane in almal se oë terwyl hulle gesels het oor die wonderlike ding wat gebeur het. Toe het hulle almal weer op hul knieë geval en die Groot Kindervriend gedank vir wat Hy vir Doris gedoen het.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell