# Jou Hart. My Taal. Ons Stem!

Hoe die koeie huis toe gekom het

Die diens was verby. Ek het stories aan die kinders vertel, vir die grootmense gepreek, almal by die deur 'n handdruk gegee, en ek het baie moeg gevoel. Toe die kerk heeltemal leeg was, het ek besluit om binne 'n bietjie te gaan sit en rus.

Toe het daar iets baie aangenaams gebeur.

Ek was net klaar om my oë toe te maak en te ontspan, toe ek klein voetjies hoor aankom. Ek het gedink dat dit iemand was wat 'n Bybel of liedereboek in die kerk vergeet het, en dat ek nie gehinder sou word nie.  Maar nee, die voetsappies het al nader gekom, en eerlank het 'n dogtertjie my genader; sy het 'n baie mooi Sabbat-rokkie aangehad. Ek sou sê dat sy ses of miskien sewe jaar oud was, en ek was nie ver uit nie.

Sy het skugter gestap na die bank waar ek sit. "Oom," het sy gesê, "ek wil vir oom 'n storie vertel."

"O, dis baie gaaf," het ek gesê. "Maar vertel my eers wat jou naam is."

"My naam is Margie," het sy gesê.

"Maar dis 'n baie mooi naam," het ek gesê, "en hoe oud is jy?"

"Ek is sewe," het sy geantwoord, "En ek wil oom vertel van my ouma en haar koeie."

"Wat het met die koeie gebeur?" het ek toe gevra.

"Wel, Oom, eendag toe ek op die plaas was en Ouma se koeie opgepas het, wat dink Oom het ek gesien?"

"Nee, ek weet nie," het ek gesê.

"Wel, toe ek by die kombuisvenster uitkyk," het  sy gesê, "het ek gesien dat een van Ouma se koeie by die hek uitgaan na die grootpad. Iemand het vergeet om die hek toe te maak."

"Dit is vreeslik," het ek gesê, "en wat het toe gebeur?"

"Wel, Oom, toe het nog 'n koei en nog 'n koei uitgegaan totdat almal op die grootpad was en aangestap het."

"Maar wat sou hulle dan makeer het?" het ek gevra. "Hulle wou seker winkel toe gaan."

"Nee, hulle wou nie," het sy met 'n glimlag gesê.

"En wat het jy toe gedoen?" het ek baie sedig gevra.

"Ek het uitgehardloop so vinnig as ek kon, maar toe ek by die pad kom, was die koeie al 'n hele ent weg. Ek het agter hulle aan geskreeu, maar hulle het hulle nie aan my gesteur nie. Hulle het maar voortgestap."

"En wat het jy toe gedoen?"

"Daar was niks wat ek kon doen nie," het Margie gesê. "Al het ek ook hoe vinnig gehardloop sou ek nooit die koeie kon inhaal om hulle te keer nie."

"En toe?"

"Weet Oom wat ek toe gedoen het?"

"Nee, ek kan glad nie raai nie."

Toe het Margie met 'n fluisterstemmetjie gesê: "Oom, ek het op my knieë geval daar langs die grootpad, my oë toegemaak en gebid, "Liewe jesus, laat daardie stoute koeie asseblief huis toe kom!"

"Wel, dit was 'n baie verstandige ding om te doen, en wat het toe gebeur?"

"Weet Oom, toe ek my oë oopmaak, sien ek dat daardie koeie omgedraai het en besig was om huis toe te draf. Hulle het verby my gedraf by die plaashek in, nes of iemand hulle aangejaag het. Toe hulle almal weer binne was, het ek gehardloop en die hek toegemaak."

"Mooi so," het ek gesê, "en toe?"

"Toe het ek huis toe gehardloop en Ouma alles vertel en hoe Jesus my gebed verhoor het."

Ek sal seker nooit daardie prentjie vergeet nie wat Margie vir my geskilder het van 'n dogtertjie wat langs die grootpad neergekniel, haar ogies styf toegemaak en gebid het: "Liewe Jesus, laat daardie stoute koeie asseblief huis toe kom!"

Geloof soos daardie sit al die engele in die hemel aan die werk vir ons, en God sal nooit weier om 'n gebed soos die van Margie te  verhoor nie!

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell