# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

 
 
SA Topsites ::

Het olifante elmboë?

Sy kyk vir my met bruin oë; sy sê: “Het hy elmboë?” Sy’s so agt jaar oud. Sy’s ernstig en sy’s vuil. Ek neem aan sy praat van die olifant anderkant die draad. “Hoe moet ek nou weet?” vra ek terug, want ek weet regtig nie. “Hulle maak sy voet vas.” Dis duidelik ‘n ontdekking oor die beheer van groot diere wat nou in haar spook. Sy sê dit nie net vir my nie, maar vir die versamelde bondeltjie mense teen die draad. Die sirkus kom staan by tye in Pretoria-Wes. Langs die skouterrein. Die olifante paradeer dan aan die ander kant van die draad en ek stap soms daar verby. By uitgrawings en olifante staan ek stil om eers te kyk. Sy blykbaar ook. Dit lyk nie of sy te veel was, of gewas word nie. Daar’s ‘n skurwe plek agter haar oor en tussen haar wysvinger en duim lê daar ‘ winterskurfte. Haar kaal voete het al in die ryp geloop en haar enkelkneukels is donkerbruin. “Kry jy koud?” “Nee,” sê sy, “ek het ‘n jas.” Sy het hom nie aan nie, en dis bloot die onnodigheid van my bekommernis wat sykonstateer. Sy vleg haar handjies deur twee diamante van die draad. Anderkant, by die betaalhek, begin daar ‘n tou mense inval.Gaan jy kyk? Vra ek. “Ek weet nie. Ek dink ek gaan inslip.” “Jy mag nie. Ek sal vir jou betaal.” “Ek mag nie geld vat nie.” Daarmee is ek afgehandel en verby. Afgehaal. Ek dag ek wil goed doen aan die kind. Ek het seker so gelyk, want haar oë bly half bejammerend op my. Nou kry sy my jammer! Dêmmit, wat gaan aan? “As jy gaan kyk, sal ek jou binne kry.” Sys ê dit met sekerheid. Asof ek sal gaan, en asof sy daar sal wees. Want sy hol al daar om die draai en haar voetjies lig hoog agter. Sy hardloop goed. Ek sien in haar hardloop en in haar eiesinnigheid die lesse van agterstrate. ‘n Middag by die sirkus sal my een laat artikel en twee leuens vir en deur my sekretaresse kos oor afsprake wat verpas is. Daarom koop ek ‘n kaartjie en gaan sit. In die middag. In die sirkus. Omdat ek deur ‘n vuil agtjarige verwerp en gedaag is. Wanneer laas het ek die onrus van wag gevoel? Wanneer jy onseker is of ‘n meisie vir ‘n tentatiewe afspraak sal opdaag. Wanneer jy die vooruitsig besweer met die skynbedrog dat sy tog nie sal kom nie; wanneer jy die hoop nie kan onderdruk nie en die naderkom van die afspraaktyd vrees omdat dit dalk ‘n teleurstellende waarheid sal word.

Maar nie dene nie. Sy daag tussen my bene op van onder die stellasie waarop ek sit. Sy kruip deur en kom sit op my skoot. “Is jy nie bang hulle gooi jou uit nie?” “Jy’t dan ‘n suit aan,” sê sy en sy gee haar oor aan die gebeure. Ek moet die sirkuswonders aanskou deur links en regs van haar oliehare verby te kyk. Dit sal eendag mooi hare wees as sy skoongewas by die Hamburger Hut opdaag. Ek versit haar skerp boudtjies van been tot been en sien haar lyfie jubel met elke ding wat gebeur. Die dwergies en die nar kom vermaak die mense. Hulle val. Die mense lag en die kinders skree van plesier. Dit duur ‘n rukkie voor ek agterkom die lyfie op my knie het stil geword. “Ek gaan nou loop,” sê sy. Sy glip onder my hande uit tussen die sitstellasie se planke deur. Daar is trane in haar oë, sien ek, en ek has my na buite . sy’t van agter die tent af gekom, dit vermoed ek, en ek sien haar langs die agterheining wegloop. Ek haal haar in waar die draad ‘n verkeerd-om hoek maak. “En nou?” vra ek. Sy staan voor my en ek kan nie uitmaak of sy kwaad is nie. Naderhand, eers naderhand, sê sy: “Ek wil nie ‘n olifant wees nie.” Nog later: “Hoekom lag die mense vir dwergies?” Hemel kind, dag ek, moet dit nie sê nie, en moenie trane in jou blink jong oë daarvan kry nie. Sy draai om en kruip deur ‘n gat in die draad. “Dis my gat”, sê sy met die deurkruip. Toe hol sy weer. Ek weet ek kan haar nie meer volg nie. Dis haar gat en ek moet vir ‘n sekretaresse gaan verskoning aanbied dat ek weg was. By die kantoor lyk die mure na diamantdraad. Ek wonder of ek moet ophou geld vat, dalk soms inslip en ‘n gat van my eie in die draad bewerk. Ek sal, omdat ek nie meer anders kan nie, dan maar ophou om vir die dwergies te lag. Dis te laat om nie meer ‘n olifant te wees nie. 

P.G du Plessis