# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Hendrik Stephanus Hertzog van Blerk

Hendrik Stephanus Hertzog van Blerk, oftewel, oom Hendrik, is gebore op 27 November 1915 in Johannesburg en gaan vir die eerste keer skool op Heidelberg (Transvaal). Daarna het hy 12 ander skole besoek voordat hy in Standerd 6 vir goed klaar was met die skoolbanke.

Hy was dus nie 'n 'boek-geleerde' man nie, maar dit het hom nie weerhou om as Joernalis sy lewenservaring sy wysheid as nalatenskap vir die Boerevolk daar te stel nie. 

Hy sterf op 25 Desember 2010 op die ouderdom van 95 jaar en word in die Verwoerdburg-begrafplaas begrawe. Hy word deur sy vrou Nel, dogters Petra en Maryna en seuns Willem en Hennie, en kleinkinders oorleef. 

Oom Hendrik was een van ons mees bekende en begaafste Afrikaanse skrywers en digters - maar ook 'n diamantdelwer (spoeldiamante van Lichtenburg), houtryer (vanaf Marico aangery), soldaat, fabriekswerker, padmaker (rioolslote gegrawe) en mynwerker (aan die Rand) van beroep. 

Sy eerste boek, Dit blom tussen die bantoms, is in 1949 uitgegee. Hy het honderde romans (meer as 30), jeugverhale, kortverhale asook feitelike boeke oor die geskiedenis van die Afrikaner die lig laat sien. Van sy werk sluit boeke oor die Slag van Majuba in. Hy het ook onder die skuilnaam Meit Froneman geskryf. Die Roos van Ruimtevlei is leesvreugde op sy beste!

In June 1942 word hy as Stormjaer van die Ossewa Brandwag weens sabotasie ter dood veroordeel. Hy was 28 dae in die dodesel waarna sy straf na lewenslank versag is. Dit was in die gevangenis, waar sy lewensfilosofie sy beslag gekry het, naamlik "My Volk gaan ten gronde weens 'n gebrek aan kennis, (Hosea 4:6).  Hy word ses jaar daarna vrygelaat nadat die Nasionale Party in 1948 aan bewind kom. 

Gedurende die tydperk in die tronk ontdek hy sy besondere skryftalent. Na sy vrylating word hy eers graangradeerder, toe joernalis en later skoolbuskontrakteur en skrywer.

Prof. PD van der Walt van die Potchefstroomse Universitiet het tydens die viering van Oom Hendrik se 70ste verjaarsdag, oor die egtheid en opregtheid waarmee Oom Hendrik sy boeke skryf gesê: "U is tot ons groot vreugde en agting, 'n egte en eerlike woordkunstenaar, maar totaal onpretensieuse storieverteller", want "...u skep eie ervaring, waarneming, lewensinsig om tot kuns, verhaalkuns wat besonder pakkend en toeganklik is."

Hy meld verder: "U het besef, dalk intuïtief, omdat u 'n gebore verteller is...dat 'n goeie storie ook betroubare en interssante inligting moet verskaf, die leser se kennis moet verryk. En ook dat 'n goeie roman meer as net inligting gee, dat dit 'n probleemgebied betree, bv. ekonomies, sosiaal - dat só aan die verhaal 'n algemene geldige idiële dimensie gegee word."

Vandag ken elke opregte Boer reeds die naam van een van ons geliefdste volkshelde, HS van Blerk, die skrywer wat na homself verwys het as 'n "Boerevolkaktivis." Die skrywerstalent wat hy in die gevangenis ontdek en ontwikkel het, het hy ten volle ingespan om op sy manier die volk te probeer fokus op ons vryheidsideaal in ons mooi land. Sy eerste boek, Dit Blom tussen die Bantoms, wat verhale uit sy kinderdae op die delwerye vertel het, het hy reeds in 1948 geskryf, en in die 65 jaar sedertdien het daar al honderde romans, jeugverhale en kortverhale verskyn. 

Oom Hendrik van Blerk het meer van menswees geleer gedurende die swaakry van sy kinderdae, as wat vandag se gemiddelde volksgenote in 'n leeftyd kan leer. Hy het in die 'Armblanke' tydperk na die 1914 Rebellie, gedurende die 1922 Mynstakings en Depressiejare opgegroei. Maar ten spyte van talle terugslae, het hy sy Godgegewe talente van 'n ryk verbeeldingskrag en unieke skryfvermoë, gebruik om met denkbeeldige karakters en situasies uit te styg tot een van die beste verhaalkunstenaars wat ons volk nog opgelewer het.

In Oom Hendrik se woorde: "Die Boerevolk onderskei homself reeds vir byna twee eeue van die res van Afrika se inwoners, as dié etniese groep wat as volk, sy heil, sy vryheid en sy selfbeskikking, van sy Vader alleen afsmeek. Geen volk kan egter bly voortbestaan, as sy jeug nie voortdurend in die kultuur, norme en waardes wat eie is aan daardie volk, geskool word nie."

Vir Oom Hendrik was die Boerejeug 'n teer saak, baie na aan sy hart. Daarom het het sy lewe daaraan gewy om sy volk in te lig oor die bose aanslag teen sy enigste volk naas Israel van ouds, met wie die Almagtige God van hemel en aarde, 'n Verbond gesluit het. Die datum, 27 Februarie 1881, was al sedert die skrywer se betrokkenheid by die Ossewa Brandwag, vir hom as jong man net so 'n belangrike datum in ons Volkgsgeskiedenis, as Geloftedag. Die miskenning daarvan, het hom gekwel en gegrief. Daarom was dit sy groot ideaal. Om hierdie datum weer tot sy reg te laat kom.

Oom Hendrik was 'n persoon wat uitgestaan het as 'n held en 'n rolmodel vir die Boerevolk, van hoe 'n Boer sy liefde vir sy volk behoort uit te leef. Hierdie nederige, klein van postuur omie met sy lang wit baard, het die moed en deursettingsvermoë van 'n ratel gehad. Hy het eiehandig meer vir die Boerevolk gedoen en beteken as wat baie van die "groot party-politieke leiers" saam kon beteken. 

Die vyftien jaar voor sy dood het hy sy lewe en skryfwerk voltyds in diens van sy volk gewy. Hy was die stigter en Eerste Trustee van die Majuba Boerevolktrust. Hy het hierdie trust met die uitsluitlike doel tot stand gebring, om te sorg dat daardie deel van ons geskiedenis en Boerevolksmonument, as erfpag vir ons nageslag bewaar sal bly. Op Majuba self het hy alles in sy vermoë gedoen om die gedenkterrein van die veldslag, die bewys van ons Vader se bevestiging van Sy Verbond met die Boerevolk, vir ons nageslag te bewaar. Hy het die volle opbrengs van sy geskiedkundige verhale op Majuba aangewend, daarom sal die naam H.S. van Blerk altyd onthou word vir sy onbaatsugtige ontwikkeling van infrastruktuur, maar veral ook vir die voorbeeld wat hy vir die Boerejeug gestel het, om in verset te kom teen die 'Satanistiese moorkampanje op die volksiel, wat teen ons kinders woed' en teen die vernietiging van ons erfenis, deur die Boerevolk se vyande.

Deur sy talente as storieverteller en verhaalkunstenaar, wat oor meer as 60 jaar ontwikkel was, daarvoor in te span, kon Oom Hendrik die koue geskiedkundige feite so aanbied, dat sy verhale altyd boeiend en begeesterend op elke leser kan inwerk. Toe hy sy heel laaste verhaal, "As die Wekroep Weerklink", op bykans 94-jarige leeftyd geskryf het, was dit om 'n jarelange begeerte te bevredig. Om die reeks oor Danie Theron se Verkenners nog volledig af te handel. Met hierdie verhale het Oom Hendrik gepoog om 'n klein gedeelte van die ryk heldegallery wat ons God aan die Boerevolk geskenk het, aan ons jeug bekend ste stel. 

Oom Hendrik, self een van ons langslewende en geliefde volkshelde, se ideaal was dat ons jeug, die sentrale boodksap uit elkeen van sy geskiedkundige romans hul eie sal maak en lewenslank sal uitleef tot voordeel van hulle volk en hul eie nageslag. 

"Leer eers uit die heldedade van duisende Bittereinders, en die duisende Boere-kinders en -vrouens wat hul lewens vir die vryheid van hul volk en vaderland afgelê het, wat dit beteken om jouself 'n Boer te mag noem, alvorens jy jouself hierdie eretitel sommer ligtelik toe-eien. Leer ook uit die smaad van verraad, wat dit beteken om hierdie eretitel te minag of onwaardig te bejeën."

Op Saterdag 27 Februarie 2010, toe die eerste druk van "As die Wekroep Weerklink" daar op Majuba vrygestel was, het Oom Hendrik besluit dat hy nog 'n paar gedagtes met 'n dieperliggende boodskap oor hierdie datum en die Paardekraal Verbond in die volgende druk van sy laaste verhaal wou invoeg, met die gevolg dat die hersiene uitgawe daarmee bygewerk is. Hy het beself dat hy nog tyd sou oorhê om 'n volgende verhaal te skryf en hy wou onder andere hierdie heruitgawe aan Clive Derby-Lewis en aan ons Boerekrygsgevangenis opdra, wat toe reeds sewe jaar vir die sogenaamde Boeremagverhoor deur ons volk se huidige vyande as gyselaars in die tronk aangehou was. 

Dit was egter die wilsbesluit van ons Almagtige Vader, om hierdie opregte Boer op Kersdag 2010 te kom haal. Op Oujaarsdag moes die Boerevolk in die OB-Helde akker op Verwoerdburg, finaal afskeid neem van hom wat met woord en daad sy volk probeer aktiveer het, om as apartgetelde blanke volk, die land wat deur ons Vader aan die Boerevolk gegee was, weer tot Sy eer te herstel. In Sy alwysheid het ons Vader ook twee maande later besluit om vir Tannie Nel van Blerk ook te kom haal. Vir ons wat agter gebly het, sal Hy op Sy tyd openbaar maak, waarom Hy besluit het om haar op Sondag 27 Februarie, presies 130 jaar nadat Hy, juis op 'n Sondag, Sy Verbond met die Boerevolk op hierdie selfde berg bevestig het. 

Kersfees 2010 sal egter in die geskiedenis van die Boerevolk aangeteken word, as die dag waarop van die Boerevolk se grootste seuns oorlede is.

Sy werke sluit 'n baie wye spektrum in. Hy skryf spannende fiksie verhale, hy skryf vir die jong kinders, vir die jeug, hy skryf oor die grensoorlog, oor die toestande in die myn. As patriot, skryf hy veral oor die geskiedenis van die Boerevolk. Dit ondervang onder andere die depressie, die Anglo-Boere oorlog, Majuba, die lewe op die delwerye, die Ossewa-Brandwag, en die lewe op 'n Boereplaas. In kort, daar is aan sy vermoë en diversiteit, geen gelyke nie. 

Hy het 'n vol lewe geleef. Hy het alles feil gehad vir sy God en vir die Boerevolk. 

Koos Human, oud uitgewer en indertyd joernalis, onthou van Blerk só: "Hy en ene Visser het tydens die Tweede Wêreldoorlog 'n bom na Benoni se poskantoor (of so iets) gegooi en 'n verbyganger is dood, vandaar die doodstraf van albei. Later, na talle petisies is dit versag tot lewenslank en in 1948 deur die Nattes kwytgeskeld."

"My herinnering is dat Van Blerk en Visser in die tronk die Bybel van 'n kant af deurgewerk het: "Hoeveel woorde, letters in elke hoofstuk, in elke boek. In elke Evangelie. Wat is die middelste woord, die middelste letter, ensovoorts. Al hierdie gegewens is na hul vrylating pragtig deur 'n letterkunstenaar op papier (perkament?) oorgedra en geraam." 

Dit is oorhandig aan die Transvaalse sinode van die NG Kerk. Ek was as verslaggewer van Die Vaderland in 1951 by die sinodesitting in Pretoria teenwoordig waar dié artikels oorhandig is."

John Kannemeyer vertel in sy Afrikaanse literatuurgeskiedenis Van Blerk se lesers is aan die nuwe werklikheid van die diamantdelwer voorgestel in Dit blom tussen die bantoms, die houtryer in Los donkies (1950) en die mynwerker in die Randse goudmye in Daarom is die wind dreun diep (1951), 'n titel wat ontleen is aan Totius se Trekkersweë, Reën van erbarming (1952), Twee stuiwers vir 'n mossie (1959), Die mynramp (1964) en Son van geregtigheid (1965). 

In al die werke word die leser getref deur die homrealistiese uitbeelding van die minderbevoorregtes wat blootgestel is aan die verleidings van hul omgewing, onder meer deurdat die dialoog met die spraakwerklikheid die bont mosaïek van hul lewe weergee, vertel Kannemeyer. 

"Van Blerk", vertel hy, " het ook 'n aantal deurlopende verhale geskryf wat 'n sterk spanningslyn openbaar en meestal die Suid-Afrikaanse geskiedenis as agtergrond het: Geboorteplaas (1959) en Broer oor die visier (1963), albei oor die Randse mynstaking van 1922, en driemaal kraai die haan (1968), 'n mynverhaal wat tydens die Tweede Wêreldoorlog afspeel, en 'n hele reeks romans waarin hy die gebeure in die tyd van die Anglo-Boereoorlog situeer, onder meer verhale oor die verkenners van Danie Theron. Die Eerste verkenner (1969) en Boerespioen (1971). Hy is ook die skrywer van die romans Soos gras in sy dae (1955) en Die tollenaar van Tiekiedraai (1956). Nog in 2008 verskyn Braakland van die bose."

Petra van Blerk het in 1984 met die digbundel Skerf gedebuteer. Sy woon in Engeland. Sy sê hul gesin was "bevoorreg om iemand soos hy te hê wat ons van kleins af lief gemaak het vir die geskrewe woord, en nie net in Afrikaans nie."

"Hy het van die mees dramatiese tye van ons geskiedenis eerstehands beleef. Beide sy ma en sy skoonma was as jong meisies in die konsentrasiekampe in die Vrystaat. Sy pa se familie het hul plaas verloor nadat dit afgebrand is tydens die Anglo-Boereoorlog, waarna hule dit nie weer kon herwin nie. Dit het aan hom 'n rykdom van geloofwaardige inligting verskaf wat later weerklank gevind het in baie van sy boeke."

"As 14-jarige het hy die skool verlaat om te gaan werk om sy familie te onderhou; later was hy een van die baie, jong, werklose Afrikaners wat myne toe is as die enigste uitkoms. Met sy heengaan op Kersdag het hy verseker dat ons hom altyd op dié dag sal onthou: nie met hartseer nie, maar met vreugde omdat sy lewe en voorbeeld die grootste geskenk is waarvoor ons ooit kon wens."

Oom Hendrik van Blerk

Boeke

Enkele van Van Blerk se boeke:

Bewaker van die oerbos, 1988

Biegverse uit die dodesel

Boerespioen-reeks

Die Eerste Verkenner (deel 1: Verkenners van Danie Theron), 1969

Boerespioen (deel II : (Verkenners van Danie Theron), 1971

  Boeta gaan op kommando, 1977 

  Braakland van die bose, 2008

  Broer oor die Visier (verhaal uit die           staking van 1922), 1963

  Dé, wêreld, hier´s ´n kind vir jou, 1995

  Die Blou Tartare - Die wonderperd

  Die Blou Tartare - Ou Meisiewagter

  Die Blou Tartare - die spooklig

  Die Blou Tartare - die renperd

  Die Blou Tartare - Faan speel Kupido

  Die Blou Tartare - Faanman slaags met   terroriste (no 6)

Die Edelvalk van Donkerkruin, 1986 (jeugverhaal)

Die kronieke van Asjas, die esel (jeugverhaal) verskyn in "Drielaag" van 1964 (Saam met Mikro, Dolf van Niekerk).

Die Mynramp, 1964

Die Stellalander 1972 (Anglo-Boereoorlog roman)

Die tier van Ruigberg (jeugverhaal), 1973

Die tollenaar van Tiekiedraai, +-1956

Die treinstelers

Die Tweebeenjagter en ander kinderstories, 1965

Die verklikker, 1963

Die wilde Ier, 1953

Dit blom tussen bantams, 1948

Drielaag - 1964 (Saam met Mikro, Dolf van Niekerk). Die titel van H S van Blerk se storie is: Die Kronieke van Asjas, Die esel

En daarom is die winddreun diep

En drie maal kraai die haan, 1968 (1989 uitgereik as Stormjaer)

Geboorteplaas, 1959

Kas Plesie se hartseerdae, 1966

Los donkies, 1950

Majuba -reeks (7 boeke)

   Blydevooruitzicht

   Bo-Op Majuba Brand ‘n Lig

   Die Kolonialer

   Tuin Van Herinnering

   Kroniek Van Die Kampkinders

   Rebel Sonder Roer

   Wraak Van Die Renegate

My God My Volk My Land, Suid-Afrika, 1996

'n Sot op ‘n plot

Nag oor Nineve, 1968

Oorlogsavonture van klein Ben

Plek van die dooie geeste, 1982

Reën van embarming

Roman en Robyn, 1964 (kinderstorie)

Sakman staan vas, 1982

So ver na Mooigelegen, 1971

Son van geregtigheid

Soos Gras is sy Dae, 1955

Stad van die dooie geeste

Stormjaer - 1989 (aanvanklik uitgegee in 1968 as "En drie maal kraai die haan")

Swart Oktober, 1980

Tuin van herinnering, 1982 (Anglo-Boereoorlog roman) - vervolg op Die Stellalander

Twee stuiwers vir 'n mossie

Vegter vir Vryheid, 1963