# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Gustav gaan speel

Die manier waarop ek hom ontmoet het, moes my gewaarsku het dat dit moontlik is. Maar dan ook slegs dat dit moontlik is. Die hoe ek Pieterse leer ken het: Hulle was besig om 'n sloot te grawe, reg voor my huis. Maar naweke werk die slootgrawers nie. Hulle het hulle uitgrawing net so gelaat, darem met tekens omhein om te waarsku dat die volgende vyftig tree net eenrigting verkeer kan dra.

Skielik gebeur dit toe die Saterdagmiddag. 'n Bus en 'n motor kom staan kop aan kop in die bottelnek en altwee bestuurders weier om agteruit te ry. Goud is daar 'n tou aan elke kant. Maar iewers uit die niet kom 'n man en begin die verkeer reël. Beduie hier, beduie daar. En binne vyf minute vloei die verkeer weer normaal. Waarom so hy so iets doen? Is dit 'n oordrewe gevoel van eie belang? Of was dit bloot die daad van 'n toevallige samaritaan? Dit was egter nog die een nog die ander. Aandagtig het die man die verkeer 'n rukkie dopgebou. Maar die twee strome het nou sonder wrywing deurbeweeg. Die kinders begin weer met hulle speletjies en die man gaan toe tussen die oorkantste heining en die werkers se sleepwa staan in 'n tipiese houding: sy bene wyd van mekaar, hande voor hom en oë op die grond. Toe hy weer heellyf uitkom, hardloop en buitetoe: "Ekskuus meneer, hoekom het jy nou net daar staan en fluit?" Hy was besig om liggies te voel of sy gulp goed toe is. Hy het sy skouers opgetrek en gesê: "Jy begaan 'n fout, kêrel, ek was besig om hande te was." ek het agter uit my keel gelag en hom genooi vir koffie. So het ek Gustav Pieterse leer ken. Hy was seniorlektor aan die universiteit, in staatsleer. Vroeër vanjaar het sy vrou hom verlaat. Dit het hom oënskynlik nie veel ontstel nie. 

"Ons was buitendien in twéé wêrelde, het hy glo eenkeer gesê. (Later was dit alles in die koerant). Ek onthou daardie middag en aand nog. Ons het koffie gedrink. En dit was eers veral ék wat gepraat het. En het hom aan Dora voorgestel en ons het begin wyn skink en oor ou romans gesels. In die asbak langs sy stoel het 'n tennisbal gelê. Ek onthou hoe hy dit kort-kort hanteer het - terwyl ons meer en meer sit en luister - en so 'n paar keer voor hom laat spring het. en dat het hy verder gepraat. Die hele aand. Hy het heelwat vertel, skerp en indringend, soos iemand wat los kom uit sy probleme. 

Hy het gepraat oor die etiese implikasies van juridiese verskille, van die Lumpenproletariaat as neweproduk van 'n kapitalistiese stelsel, oor die leë sosiale waardes van sy kollegas en skoonfamilie. Maar - ek onthou dit goed - telkens het hy - heeltamal op 'n ander toon, iets vertel van sy jeug.

Iets was omtrent so: (Gustav praat:)

"My pa was 'n bakker en ek het ook brood gebak, kleines. Man, ek onthou so goed: bruin, rog, wit, Bremer. En ek dink ek kon beter bak as hy. Snaaks né? Syne het so dikwels verbrand omdat hy lank saam met my in die agterplaas kom vlieërs vlie het. En as dit reën, dan het ons in die meelkamer dambord of bal gespeel. Ek sou so 'n pa wou wees. Dit het ek vanmiddag besef; in al my frustrasies en probleme is dit my enigste begeerte."

Gustav het ek nooit weer gesien nie behalwe, miskien, gisteraand. 'n Maand na ons ontmoeting is hy dood. Hy het bo van die tandheelkundegebou se dak afgespring. Gisteraand was ons by die Van Rensburgs. Eintlik is hulle vriende van Dora. Hulle woonstel is op die agtiende verdieping. Ons het drankies gedrink en Van Rensburg het oor potplante gepraat. Daarom het ek meer drankies as gewoonlik gedrink. Teen tienuur het hy my sy nuwe aankoop op die vensterbank gaan wys. Hy het weer 'n bietjie daaroor gesels, en sy uitsig bewonder. Toe sê hy. "Ek hoor Dora sê julle het die klein Pieterse 'n ruk gelede ontmoet? Ek het sy pa goed geken. Hy't so ses weke gelede voor sy seun se dood verongeluk. Net hier, sien jy daar op die hoek." Ek het by die venster uitgeloer en Gustav se gesig was na my gedraai. Ek kon sy oë sien toe hy verbyval. Hy het weggeraak soos wat iemand wegraak as hy aan sy kleindae probeer dink al verder en verder, nader aan sy geboorte. 

JOHN MILES                                                                                                       

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7

MAJUBA

Die slag van Majuba, Charlestown, Natal, in die Drakensberge, 27.2.1881

Die magtige berg rys somber uit die grond:

Majuba! Heerser oor alles wat voor hom lê.

Soos Megiddo van ouds wat hoog en koeëlrond

Oor die Jisreëlvlakte sy mag en roem aansê!

‘n Muur van God se gepantserde, hardste rots,

Rye van gesteente in opgestapelde laag,

Waar vlermuise, dassies en slange met aasvoëls bots,

En die moedigste rotsklimmers altyd uitgedaag.

Die Boere rus op die vlakte in hul kamp.

Moeë Boere oë beoog die skemerige krans.

„Ná die stryd sal ons twee die hoogtes daar bekamp!”

Beloof Piet. Sy neef se oë vonkel en dans!

Onder die sluier van die nag bekruip ‘n volkevampier

En nestel op die kruin van God se mooiste berg.

„Nou lê die wêreld voor ónse voete hier!”

Die Britte staan daar bo en lag en terg!

Skerp Boere oë het die skemerlig deurdring:

Daarbó soos Sisera van ouds oorheers die vyand!

Daarónder soos Barak van ouds beding:

„Die indringer moet nou weg uit onse land!”

Grimmige Boere oë het die storm gelei,

Agter klippe beskerm. Die kim het Albion uitgelewer!

Die vyand het gevlug en die slag was gou verby -

‘n Segeloon vir ons lofwaardige strewe.

Geen sterfling kon díe sege alleen verkry.

Filistyn van ouds en Britse Ryk eweseer:

„Gee ag hoekom ons Land is nou weer vry -

Die Steenrots van ons Heil is God die Heer!”

         © Pieter Cohen Hamburg