# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Suid-Afrika se Oerverlede

Suid-Afrika huisves 'n skatkis van oorblyfsels uit die oertye wat getuig van die ontstaan en ontwikkeling van die Aarde, met inbegrip van die vorming van die eerste landmassa, die eerste lewensvorme en die verskyning van die mens tot by vandag se landskappe en samelewings. Suid-Afrika se ontplooiing tydens verskillende prehistoriese tydperke het nie net die verloop van die koloniale geskiedenis nie, maar ook die onlangse verlede en selfs die hede beïnvloed. Die oorblyfsels van vroeë Suider-Afrikaanse landskappe, mense en hul kulture is dus 'n waardevolle erfenis.

Die mensdom se geskiedenis begin met die vorming van die heelal, die sterrestelsels en die planeet Aarde wat volgens wetenskaplike berekeninge gedurende die tyd tussen 13,700 miljoen jaar en 4,600 miljoen jaar gelede ontstaan het. Verskillende natuur- en geesteswetenskappe word gebruik vir die datering, beskrywing, rekonstruksie en interpretasie van ons verlede. Onder die natuur- en geesteswetenskappe waarmee die verlede bestudeer word, tel die fisika, sterrekunde, geologie, paleontologie, geografie, antropologie, argeologie, geskiedenis en kultuurgeskiedenis. 

Die geskiedenis van die die Aarde word ingedeel in verskille hooftydperke of eons. Eons word op hul beurt weer in kleiner tydperke opgebreek. Die oudste hooftydperk was die Argaïese eon, wat sowat 4,600 miljoen jaar gelede begin het met die ontstaan van die aarde. Tydens hierdie eon is die basiese geologiese samestelling, asook die kern, mantel en kors, van die Aarde gevorm. 

In hierdie tyd het die hidrosfeer (die water op die Aarde se oppervlak) in vorme soos vroeë oseane, mere en riviere ontstaan en het die atmosfeer ook om die Aarde begin vorm. Hierdie omgewingselemente, tesame met sonlig en bepaalde weers- en klimaatstoestande, was noodsaaklike voedingsbronne vir die ontwikkeling en voortbestaan van lewensvorme. Die eerste elemêntere lewensvorme soos bakterieë het tydens die Argaïese eon in seewater ontwikkel. Die tweede hooftydperk was die Prosterosoïese eon, wat van ongeveer 2,500 miljoen jaar tot 545 miljoen jaar voor die hede geduur het. Dié eon word onderverdeel in drie opeenvolgende eras. Die Proterosoïese eon is veral gekenmerk deur die vorming en gragmentering van verskeie agtereenvolgende oerkontinente en die bestaan van lewensvorme soos bakterieë en alge.

Die Fanerosoïese eon is die eon waarin die mensdom hom tans bevind en wat volgens wetensaplike berekeninge sowat 545 miljoen jaar gelede begin het. Dié eon word ingedeel in verskillende eras wat weer verdeel word in periodes en die periodes in verskillende epogge. Tydens die Fanerosoïese eon het vandag se kontinente, oseane, klimaatstoestande en 'n groot verskeidenheid lewensvorme op die Aarde ontwikkel. Gedurende die afgelope 65 miljoen jaar - die Senosoïse era van die Fanerosoïese eon - het die bestaande  landskappe, asook die huidige plant- en dierelewe, geleidelik vorm aangeneem, terwyl talle ander plant- en dierespesies uitgesterf het. 

Die vroegste mensagtige wesens en die eerste mense het sowat 4 tot 2 miljoen jaar in Oos- en Suider-Afrika verskyn, aan die einde van die Plioseeneopog en in die vroeë Pleistoseenepog. Daarna het die mense mettertyd oor die wêreld heen versprei.

Die oorsprong van die Heelal

Ruimteteleskopiese en ruimtefotografiese dokumentasie van die kenmerke en bewgings van sterre- en sonnestelsels het aanleiding gegee tot verskillende sterrekundige teorieë oor die ontstaan en ontwikkeling van die heelal. Die heelal is die totale hemelruim, insluitend alle sterrestelsels en ruimteverskynsels. Volgens die oerknalteorie het die heelal én tyd ongeveer 13,700 miljoen jaar gelede ontstaan weens die ontploffing van 'n enkel oorsprongsbron van materie met oneindige digtheid - moontlik 'n reuse neutrokern.

Onmiddellik na die ontploffing, wat ontsettend baie energie vrygestel het, het protone en elektrone uit ander subatomiese materiedeeltjies gevorm en met mekaar gekombineer om waterstof- en heliumatome te vorm. Hierdie nuutgevormde materie - die boustowwe van hemelliggame - is in gasvorm van die plofpunt as oorsporngspunt af weggeskiet. Alle materie beweeg steeds in veranderende vorm weg van hierdie oorsprongspunt.

Mettertyd vorm die gasse weens die uitwerking van swaartekrag digte newelwolke van gekonsentreerde materie. Dié sametrekking van materie tot hoë digtheid het gelei tot die vrystelling van hitte-energie en kernfusie waaruit die eerste sterre nagenoeg 200 miljoen jaar na die oerknal gevorm is. Astronomiese waarnemings toon aan dat sterre weens swaartekragtoestande en prosesse van kondensasie in die gasnewels ontstaan. Gasnewels, wat 'n verskeidenheid materie bevat, tol in die rondte en ontwikkel 'n inherente aantrekkingskrag. Dit veroorsaak weer dat die wolk kleiner word, vinniger draai, verdig en verhit om 'n toenemend gloeiende ster te vorm. 

Die res van die materie wentel om die son in 'n protoplanetêre skyf waarbinne die verdigting van materie proto- en oerplanete vorm wat later ontwikkel in volwaardige planete en hul mane. Mettertyd het ontelbare sterre en sterrestelsels ontstaan en is die heelal gevorm, terwyl ou sonnestelsels uitgebrand en nuwe sonnestelsels gevorm is.

Volgens een beskouing van die heelal bestaan dit uit stergroepe wat sterrestelsels vorm wat dan weer groepe en supergroepe van sterrestelsels vorm. Die beweging van hemelliggame word beïnvloed deur ongeïdentifiseerde "donker energie" ('n vorm van niewaarneembare energie wat wyd in die ruimte voorkom en veroorsaak dat die heelal steeds vinniger na buite uitbrei) en "donker materie'.

Donker materie bestaan volgens wetenskaplike teorie uit materiedeeltjies wat nie elektromagnetiese uitstraling afgee of reflekteer nie en gevolglik nie direk waarneembaar is nie. Die teenwoordigheid of aantrekkingskrag van donker materie oefen 'n merkbare invloed uit op die beweging van sigbare sterre en sterrestelsels. Anti-materie dra ook by tot energievrystelling. (Antimaterie is antideeltjies of antipartikels, bv. 'n positron met 'n positiewe elektriese lading, wat die teenoorgestelde is as materiedeeltjies soos 'n elektron, wat 'n negatiewe elektriese lading het. Wanneer gelykwaardige materiedeeltjies en antimateriedeeltjies met mekaar in aanraking kom, word hulle in 'n vernietigingsproses in energie omgesit.)

Die spiraalvormige Melkwegsterrestelsel, waarin die Aarde binne sy sonnestelsel aan die buiterand geleë is, bestaan volgens skatting uit 100 000 miljoen sterre en het 'n totale deursnee van 100 000 ligjare. ('n Ligjaar is die afstand wat lig in een jaar aflê teen 'n spoed van 300 000 km per sekonde.)

Die bestudering van meteoriete uit die buitenste ruimte wat op die aardoppervlak gevind word, is 'n waardevolle bron van inligting oor die ontstaan, bestaan en samestelling van materie in die heelal. 'n Meteoriet is 'n natuurlike voorwerp wat bestaan uit rots en metaal en dit is kleiner as 'n asteroïed, ook bekend as 'n planetoïed of klein planeet. 'n Asteroïed bestaan ook uit rots en metale en is in 'n wentelbaan om die son, soos die asteroïedgordel tussen die planete Mars en Jupiter.

Een van die talle meteoriete wat deur wetenskaplikes bestudeer word, is die Yamato 691-meteoriet wat in 1969 in Antartika gevind is. Dié meteoriet is volgens wetenskaplike berekeninge 4,500 miljoen jaar oud en is vermoedelik afkomstig van 'n asteroïed in 'n wentelbaan in die omgewing van die planete Mars en Jupiter. Dié meteoriet bevat minerale wat nog nooit tevore waargeneem is nie, onder meer 'n mineraal wat wassoniet genoem word en uit 'n kombinasie van titanium en swael bestaan.

Die vorming van die Aarde

Die sonnestelsel, bestaande uit die son en die planete waarvan die Aarde een is, het sowat 4,600 miljoen jaar gelede ontstaan. Asteroïede kom in wentelbane in hierdie sonnestelsel voor. Daar is 'n asteroïedgordel tussen Mars en Jupiter wat bestaan uit tussen 1,1 en 1,9 miljoen asteroïede met 'n deursnee groter as 1 km, tesame met miljoene kleiner asteroïede. Dié asteroïedgordel is moontlik oorblyfsels van 'n protoplanetêre skyf om die son.

Die Aarde met sy een maan is een van agt planete wat om die son wentel. Dié planete is (in volgorde van die son af) Mercurius, Venus, Aarde, Mars Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus. Pluto wat in vroeëre literatuur aangedui word as die negende of verste planeet van die son af, word tans geklassifiseer as 'n dwergplaneet in die Kuiper Gordel. Die Kuiper Gordel bestaan volgens meer resente inligting uit kleiner hemelliggame wat gevorm het tydens die ontstaan van die sonnestelsel. 

Die posisie van die Aarde as derde planeet sowat 150 miljoen km van die son af is 'n belangrike faktor wat noodsaaklik was en is vir die ontwikkeling en voortbestaan van lewensvorme. Dit is ver genoeg van die son om nie te warm of the koud te wees nie, en die Aarde se grootte verseker dat daar voldoende aantrekkingskrag is vir die behoud van die hidrosfeer en atmosfeer. Die feit dat die Aarde om sy eie as draai, wat sorg vir dae en nagte, en die kanteling van die planeet se as, wat seisoene en gepaardgaande weerstoestande teweegbring, is ook belangrike vereistes vir aardse lewensvorme.

Tydens die vorming van die Aarde was sy oppervlak 'n warm, gesmelte massa wat met verloop van tyd afgekoel en drie konsentriese lae gevorm het. Die buitenste, soliede kors is 10 tot 50km dik en bestaan hoofsaaklik uit graniet en basalt, hoewel graniet sover bekend nie in die oseaanvloere voorkom nie. Onder die kors is die mantel. Dit is sowat 2,900 km dik en bestaan uit warm aardmateriaal wat opstyg en kouer aardmateriaal wat afdaal, 'n verskynsel wat konveksiestrome genoem word. In die middel van die Aarde is die kern wat vanweë die hoë druk van die oorliggende aardlae baie warm is, met 'n gesmelte buitekern en 'n binnekern wat waarskynlik as gevolg van die aardruk van bo af solied is. Die voortdurende interaksie tussen die aardkors en -mantel, atmosfeer en hidrosfeer veroorsaak die vorming van verskillende rotstipes. Gesmelte rots uit die mantel wat afkoel om stollingsgesteentes te vorm, asook magma of lawa wat deur druk van onder na die aardoppervlak kom, verweer om sedimente en sedimentêre gesteentes te vorm wat verder deur aarddruk en hitte omvorm word in metamorfiese gesteentes. Dié prosesse van rotsvorming is bekend as die rotsiklus.

Die vorming van kratons (stabiele dele van die aardkors wat nie merkbaar verander het oor 'n lang tyd nie) wat as rotskoepels uit die mantel van die Aarde tot bo die seevlak verrys het, het mettertyd die eerste klein kontinente gevorm. Met verloop van tyd het hulle weens die prosesse van rotsvorming kerngedeeltes van groter kontinente geword. 

Die ontwikkeling van dié landmassas het, tesame met topografiese kenmerke, vorming van die atmosfeer, hidrosfeer, klimaats- en weerstoestande, voortdurend bygedra tot veranderende ekologiese toestande wat gunstig was vir die ontwikkeling van lewe op die Aarde. Die eerste landmassa was die mineraalryke Kaapvaal-kraton wat tussen 3,600 en 2,700 miljoen jaar gelede bo die seevlak verskyn en mettertyd 'n kerndeel van Suid-Afrika geword het.

Na die afkoeling en verharding van die buitenste lae van die Aarde het waterdamp en koolstofdioksied in die vroeë atmosfeer begin vorm, maar suurstof (wat noodsaaklik is vir lewensvorme) het nog nie bestaan nie. Waterdamp wat uit die atmosfeer gekondenseer het, het sedert sowat 3,900 miljoen jaar gelde reën laat uitsak en oseane gevorm. Tussen 3,800 en 3,500 miljoen jaar gelede het die eerste lewende organismes vanuit 'n oerorganisme ontwikkel en sowat 3,400 miljoen jaar gelede gediversifiseer as mikrobes soos bakterieë en fungi.

Fossiele van dié mikrobes is in gesteentes by Barberton in Suid-Afrika gevind en by 'n oerstrand by Strandley Pool in Wes-Astralië. Die vroeë multisellulêre voorouers van diere, plante en fungi het uit hierdie primêre lewensvorme ontwikkel.

Die Kaapval-kraton en die oorsprong van Suider-Afrika

Suider-Afrika se oorsprong kan nagespeur word tot by die Kaapval-kraton, die eerste bekende kontinent in die Aarde se geskiedenis. Die Kaapval-kraton het 3,600 tot 2,700 miljoen jaar gelede gevorm as deel van die uiteindelike Babertonse berglandskap nog lank voordat Afrika as 'n kontinent bestaan het. 

Granietrots van die Babertonse berglandskap het tussen 3,000 en 2,700 miljoen jaar gelede ontstaan en bied bewyse vir die ontwikkeling van die Kaapval-kraton. Nuwe gesteentes het voortdurend in en op die verwerende Kaapval-kraton ontstaan, met die gepaardgaande vorming van minerale soos goud, yster en mangaan. Dit is gevolg deur die vorming van die wêreldbekende Bosveld-kompleks wat o.m. bestaan uit verskillende opeenvolgende rotstipes soos graniete en vulkaniese lawas en 'n verskeidenheid van minerale soos chroom, platinum en vanadium; en die Phalaborwakompleks met koper, fosfor en vermikuliet. 

Sowat 2,023 miljoen jaar gelede het 'n asteroïed uit die buitenste ruimte die Kaapval-kraton getref. Die impak van die botsing was volgens skatting gelykstaande aan dié van 100 miljoen megaton TNT. Dit het 'n impakkrater van 300 km  in deursnee veroorsaak, die oudste en grootste bekende impakkrater op die Aarde. Die impak het 'n terugslagkoepel in die middel van die krater veroorsaak, met uitkringende skokgolwe wat gelei het tot die opligting, fragmentering en kanteling an die omliggende geologiese formasies. Die buiterand van die krater strek verby die ligging van die hedendaagse Johannesburg.

In die weste en noordweste van die krater is geologiese lae met die ryk goudinhoud in die gekantelde laagfragmente blootgelê. Die asteroïedkrater het mettertyd grootliks wegverweer, maar prosekteerders het in die 19de eeu die oorblywende goudneerslae in die kraterrand ontdek. Hierdie vondste het aanleiding gegee tot die ontwikkeling van die omvangryke Randse goudmynbedryf.

Die Vredefortkoepel is verweerde oorblyfsels van die terugslagkoepel in die middel van die asteroïed-impakkrater. Die semisirkelvormige bergreeks van die Vredefortberglandskap is oorblyfsels van die rand van die oorspronklike teruglsagkoepel en is sigbaar op satellietfoto's vanuit die buitenste ruimte. Die Vaalrivier, wat suidweswaarts deur dié berglandskap vloei, het veel later tydens die vorming van die hedendaagse kontinente ontstaan. 

As gevolg van tektoniese bewegings en vervorming van aardkorsplate het verskeie opeenvolgende superkontinente ontstaan en gefragmenteer, om weer elders as nuwe kontinente te konsolideer. Die mineraalryke Zimbabwe-kraton het verder noord ontstaan, met die Kaapval-kraton gebots en permanent 'n enkele landmassa saam met die Kaapval-kraton gevorm. Dit het mettertyd deel geword van die kontinent Ur (3,000 miljoen jaar gelede), wat die oudste volwaardige kontinent was.

Toe die Kaapval-kraton deel van Ur was, het die Soutpansberg- en Waterberggesteentes sowat 1,900 tot 1,700 miljoen jaar gelede ontstaan weens opligting en was daar aanduidings dat suurstof reeds bestaan het. 'n Vulkaan wat waarskynlik sowat 7 km hoog was, het 1,200 miljoen jaar gelede op die Kaapval-kraton gevorm en mettertyd verweer om die Pilanesberg naby Rustenburg te vorm. Ander kontinente  was Arktika en Atlantika (3,000 tot 1,500 miljoen jaar gelede); Nena (1,600 tot 1,400 miljoen jaar gelede); Rodinia (700 miljoen jaar gelede); Pangaea (600 tot 500 miljoen jaar gelede); Laurasië en Gondwana (500 tot 120 miljoen jaar gelede).

Terwyl Suider-Afrika nog deel van Gondwana was, het omvangryke geologiese lae op en om die Kaapval-kraton gevorm. Grootskaalse klimaatswisselinge en 'n omvangryke ontwikkeling van plant- en dierelewe het ook plaasgevind. Fossieloorblyfsels van dié plante en diere het in rotslae behoue gebly.

Ruie plantegroei wat tussen 310 en 180 miljoen jaar gelede in die moerasse en rivierdeltas van Gondwana bestaan het, het mettertyd omvangryke steenkoolafsettings gevorm. Tussen 190 en 120 miljoen jaar gelede het diamanthoudende kimberlietmagma ook opgestoot in vulkaniese pype soos dié by Kimberley en Cullinan.

Toe Gondwana sowat 120 miljoen jaar gelede opbreek, het die bestaande vastelande van Afrika, Suid-Amerika, Antartika, Indië en Australië en die eiland Madagaskar in die Suidelike Halfrond ontstaan en van mekaar af weggedryf. Saam met die noordelike kontinente Noord-Amerika en Eurasië het dit die kontinente gevorm soos ons dit vandag ken, en hedendaagse kuslyne, oseane, seestrome, winde asook klimaats- en weerstoestande het ontwikkel. 

Hierdie verskynsels het 'n groot invloed uitgeoefen op die ontwikkeling en voortbestaan van lewensvorme. Nog 'n wesenlike invloed op die landskappe was die Suider-Afrikaanse landmassa wat ongeveer sowat 20 miljoen jaar gelede 'n eerste keer opgelig het en weer sowat 5 miljoen jaar gelede. Dit het 'n plato-karakter aan Suider-Afrika gegee wat gepaardgaan met 'n unieke topografie, klimaat, plant- en dierelewe, asook die lewenswyses van die mense wat die gebied daarna bewoon het. 

Tydens die Pleistoseenepog, tussen 2 miljoen jaar en 10 000 jaar gelede, het klimaatskommelinge met gepaardgaande ystydperke in die Noordelike Halfrond besonder droë klimaatstoestande in die binneland van Suider-Afrika veroorsaak. Tydens die opeenvolgende ystydperke het di verlaging van atmosferiese temperature veroorsaak dat die ysplate van die poolgebiede en veral van die Noordpool oor groot gebiede uitgebrei het. Enorme hoeveelhede water is in die vorm van ysplate vasgevang wat tot kilometers dik was en wat groter gedeeltes van die aardoppervlakte bedek het. Die gevolglike vermindering van water in die oseane het die seevlak om die Suid-Afrikaanse kuslyn met tot soveel as 130m laat daal. 

Hierdie veranderende klimaatstoestande het gesamentlik bygedra tot die vorming van uitgebreide woestyne in die Suider-Afrikaanse binneland. Die Kalahariwoestyn en die oorblyfsels van Kalaharisand-afsettings elders in suid-westelike Afrika is vandag getuienis van hierdie oerwoestyn. Gedurende die tussen-ystydperke het temperature weer gestyg, die ysplate in die poolgebiede het kleiner geword en die smeltende ys het die seevlak laat styg. Die reënval in gedeeltes van die Suider-Afrikaanse binneland het dan weer toegeneem en daarmee saam ook die plant- en dierlewe. Hierdie wisselende omgewingsveranderinge het ook die verspreiding en omgewingsaanpassing van die mense van die Steentyd in die landstreek beïnvloed. Sowat 220,000 jaar gelede het 'n meteoriet wat volgens wetenskaplike interpretasies sowat 30 tot 50m in deursnee moes gewees het, die Aarde net noord van die hedendaagse Pretoria getref en die Tswaing-impakkrater van ongeveer 1,13km wyd en 100m diep veroorsaak.

Ongeveer 10,000 jaar gelede, na die einde van die laaste Ystyd en die begin van die Holoseenepog, het die huidige klimaatstoestande ontwikkel. Suider-Afrika se platokarakter, asook sy seestroom- en windpatrone, het gelei tot vandag se klimaats-, seisoene- en weertoestande en die natuurlike landskappe van die Suider-Afrikaanse subkontinent. Tipiese kenmerke is die somerreënval in die noorde, die winterreënval in die Suid-Kaap, hoër reënval in die ooste en suide teenoor droë klimaatstoestande in die weste. Verskillende bioomsisteme wat in dié tyd ontwikkel het, is die hedendaagse fynbos van die Wes-Kaap; die woudbioom van die Suid-Kaapse kus; die savannebioom in die warmer noorde; die grasland van die sentrale Hoëveld; en die sukkulent-Karoo, Nama-Karoo en woestyne van die droë weste. 

Die eerste mense van Suid-Afrika

Die australopithesene ("suidelike ape") was pre-menslike ape wat tussen 4,5 miljoen jaar en 1,5 miljoen jaar gelede op die grasvlaktes en in savannegebiede van Oos- en Suider-Afrika geleef het. Hulle het regop geloop omdat hul dye langer was as dié van ape, terwyl hul arms korter was en hul bekkenskelet geskik was vir 'n regop liggamsposisie. Verskillende variasies van die Australopitheus-genus was Australopithecus robustus en Australopithecus africanus. Die vroegste australopithesene het waarskynlik nog gedeeltelik in bome gewoon. Hulle het op eenvoudige wyse in die veld rondgeswerf op soek na plantaardige voedsel. 

Die vroegste ware mense was jagters en versamelaars wat die vermoë gehad het om klipwerktuie te vervaardig. Die eerste mense waarvan fossieloorblyfsels gevind is, staan bekend as Homo habilis, of "nutsman", wat in die Vroeë Steentyd tussen sowat 2,2 miljoen en 1,8 miljoen jaar gelede in Oos- en Suider-Afrika geleef het. Hulle was eenvoudige jagters en versamelaars van veldkos, maar was fisiek en intellektueel in staat om 'n eenvoudige klipwerktuigtegnologie aan te wend vir die vervaardiging van klipwerktuie. Die klipgereedskap van Homo habilis was ruwe, kapper-agtige klipwerktuie en klipskilfers, bekend as die Oldupai-industrie omdat van dié werktuie eerste by Oldupai (voorheen bkend as Olduvai) in Tanzanië gevind is. 

Belangrike fossieloorblyfsels van die australopithesene en die eerste mense, asook van hul handgemaakte werktuie, is in Suid-Afrika gevind. Wetenskaplikes het afgekom op gefossileerde skeleetgedeeltes van die australopithesene en klipwerktuie van 4,5 miljoen tot 1 miljoen jaar gelede by die wêrelderfenisterreine van Sterkfontein, Swartkrans en Kromdraai, ook bekend as die Wieg van die Mensdom (dit sluit die Taungskedel-fossielterrein en Makapanvallei in). Die skeletgedeeltes is o.m. van Homo habilis en Australopithecus sediba, wat beskik het oor menslike fisieke kenmerke soos hand-, bekken- en voetbene en 1,9 miljoen aar gelede by Sterkfontein geleef het. 

Homo erectus, of "regop mens", was jagters en versamelaars wat gedurende die Vroeë Steentyd tussen 2,2 miljoen en 1,9 miljoen jaar gelede in groot dele van Afrika voorgekom het en mettertyd na Suid-Europa, die Nabye-Ooste en Asië het. Baie van hul werktuie is in Suid-Afrika gevind, bv. aan die Kaapse suidkus en in gruislae van oerrivieroewers en waterpanne in die omgewing van die Oranje- en Vaalrivier. Hulle het klipwerktuie vervaardig wat bekend is as die Acheul-industrie. Die werktuie is tydens vervaardiging en gebruik met die hand vasgehou. Verskillende soorte klipgereedskap wat in hierdie tyd ontwikkel het, was handbyle of vuisklippe en ruwe klipskilfers wat as messe en skrapers gebruik is. 

Homo sapiens, of "wyse mens", ook bekend as die argaiese Homo sapiens, het tussen sowat 500,000 jaar en 100,000 jaar gelede verspreid  in Afrika, Suid-Europa en Asië geleef. Hulle was fisiek  en intellektueel in 'n groot mate soortgelyk aan die moderne mens. Hulle het gespesialiseerde klipwerktuigtipes soos meslemme, skrapers en spiespunte vervaardig. 'n Voorbeeld van die argaiese Homo sapiens is die fossielskedelgedeeltes van so 'n mens wat sowat 260,000 jaar gelede in die omgewing van die hedendaagse Florisbad naby Bloemfontein geleef het. 

Homo sapiens sapiens het tussen ongveer 150,000 en 100,000 jaar gelede uit die argaiese Homo sapiens ontwikkel en was reeds fisiek en intellektueel soortgelyk aan die moderne mens. Hulle was Steentydjagters en -versamelaars in Afrika, Europa en Asië. Van daar het hul afstammelinge geleidelik ook na die Amerikas, Australië en Tasmanië versprei. Gedurende die Middel-Steentyd in Suid-Afrika het dié mense reeds gevorderde klipwerktuie vervaardig. In die Blombosgrot aan die Kaapse suidkus is deurboorde seeskulpe gevind wat as liggaamsornamente gebruik is, asook gegraveerde patrone op oker wat getuienis is van die oudste prehistoriese kuns van sowat 75,000 jaar gelede.

Gedurende die Laat steentyd in Suid-Afrika, wat van sowat 20,000 jaar gelede tot so onlangs as ongveer 200 jaar gelede geduur het, het nomadiese, gespesialiseerde jagters en versamelaars oral in Suider-Afrika voorgekom en 'n verskeidenheid gespesialiseerde klipwerktuie vir verskillende doeleindes gebruik. Hulle was die voorouers van die Khoisan van Suider-Afrika. 

Die Khoisan

Die histories bekende Khoisan bestaan uit twee verwante hoofgroepe: die San, of Boesmans, en die Khoekhoen, of Khoi-Khoi. Die Khoisan is afstammelinge van die mense van die laat Steentyd en het hul kulturele tradisies gedeeltelik tot in hedendaagse tye behou. Hulle het egter in die laaste eeue uit groot dele van Suider-Afrika verdwyn. 

Die Boesmans was tradisioneel nomadiese jagters en versamelaars van veldvoedsel en het tot in historiese tye as klein familiegroepe in hul jagvelde in rotsskuilings of vlak grotte en in tak-en-grasskerms gewoon. Hul tipiese jagwapens was boë en gifpyle. Rotskilderinge teen die oorhangende wande van rotsskuilings en gravures op rotse in die oop veld wat afbeeldings is van mense, diere en abstrakte simbole kom oral in Suider-Afrika voor en word met die Boesmans verbind. Een van die rykste Boesman-rotskunsterreine is tot 4,000 jaar oud en is in die uKhahlamba/Drakensbergpark-wêrelderfenisgebied. Oorblywende Boesmangemeenskappe bestaan nog in die droë noordweste van Suider-Afrika, veral in die Kalaharistreek in Botswana. 

Die Khoekhoen het tradisioneel in familiegroepe gewoon in matjieshutte bestaande uit raamwerke van houtlatte wat oorgetrek is met gevelgte matjies. 

Die boumateriaal is op pakbeeste van een kampterrein na 'n ander vervoer. Skeletoorblyfsels van gedomestikeerde (mak gemaakte) skape wat sowat 2,000 oud is en in Laat Steentydafsettings in rotsskuilings aan die Kaapse kus geeveind is, word verbind met vroeë Khoekhoenjagters. Dié jagters was toe reeds nomadiese herders van kleinvee en het mettertyd ook beeste bekom, waarskynlik van Bantusprekende Ystertydboere. Khoekhoengropee was tot en met die aanbreek van die koloniale tyd betreklik welvarende veeboere. 'n Khoekhoengemeenskap wat vandag nog 'n tradisionele pastorale lewenswyse handhaaf, is die seminomadiese Nama van die Richtersveld.

Die Ystertyd en die Bantusprekende samelewing

Inheemse vroeë boeredery- en metaalbewerkergemeenskappe het reeds sowat 2,000 jaar gelede voorgekom in Noord-Afrika, asook in die Soedangebied, in Kameroen en in Oos-Afrika. Hievandaan het hulle via die oos-Afrikaanse meregebied en die kus suidwaars verprei.

Die skeletoorblyfsels van beeste, bokke, skape, pluimvee en honde, asook oorblyfsels van graan- en boontjiegewasse, is op talle ystertyd-woontrerreine gevind. Getuienis van gemengde bestaansboerdery van die Ystertyd bestaan op talle terreine, met Mapungubwe as 'n uitstaande voorbeeld daavan. Mapungubwe was die hoofsetel van 'n vroeë Suider-Afrikaanse koninkryk of klein staat wat tussen 1,000 en 1,300 n.C. in die Limpoporiviervallei in die noorde van Suid-Afrika bestaan het. Dit is vandag deel van 'n nasionale park en wêrelderfenisgebied.

Die herkoms van gedomestikeerde diere van die ystertydmense kan teruggevoer word na Oos- en Noord-Afrika, die Nabye-Ooste en Asië. Die gedomestikeerde bok (Capra hircus) stam af van die Wes-Asiatiese bok (Capra aegagrus) en het van Egipte saam met Ystertydgemeenskappe tot in Suid-Afrika versprei. Die gedomestikeerde skaap (Ovis aries) stam af van 'n wilde Asiatiese voorouer (Ovis orientalis), terwyl dunstert- sowel as vetstertskape wat in rotskuns in Zimbabwe uitgebeeld is, via die weskus van Suider-Afrika tot by die kaapse suidkus versprei het. Die oorsprong van die Afrikabeeste word teruggevoer na die skoflose bees, Bos taurus van Eurasië, Bos indicus van Asië (wat wel 'n skof het) en die inheemse bos primigenius van Noord-Afrika. Die gedomestikeerde hoender (Gallus gallus) kom uit Indië en Suid-oos-Asië waarvandaan dit versprei het na Noord-, Wes en Suider-Afrika. Die gedomestikeerde hond (Canis familiaris) stam waarskynlik af van die suid-oos-Asiatiese wolf (Canis lupus arabs). 

die graansoorte wat deur die Ystertydmense verbrou is, is ook afkomstig van Noordoos- en Oos-Afrika. Droogte- en omgewingsbestande sorghum- variasies het ontwikkel uit Sorhum verticilliflorum van oos-Afrika en Sorghum bicolor van Noordoos-Afrika. Mannasoorte wat verbou is, is o.m Pennisetum glaucum, wat wild voorkom in die Saharagebied, en Pennisetum typhoides van Oos-Afrika. Die boontjie (Vigna unguiculata) is een van verskeie spesies van die wyd verboude, droogtebestand genus Vigna in die droë savannagebiede suid van Sahara.

Van dié bestaansboerderygemeenskappe wat ystergereedskap en versierings van yster en koper vervaardig het, het hulle in die Vroeë Ystertyd - tussen 400 en 900 n.C - in die savannegebiede in die noordelike en oordoostelike streke van Suider-Afrika gevestig. Tussen 800 en 1600 n.C. het gemeenskappe tydens die middelfase van die Ystertyd dikwels reeds in groter woonterreine gebly. Hul ekonomie, wat gebaseer was op boerdery met beeste, bokke, skape en hoenders, asook gewasse soos sorghum-, manna- en boontjiesoorte, was nou verweef met die ontwikkeling van hul besondere tegnologie, verstigingswyse en sosiale lewe. Hul kulturele tradisies het sosiaal komplekser gemeenskapstrukture ingesluit en hul koninkryke het dikwels tot klein Afrikastate ontwikkel. 

n Vroeë voorbeeld hiervan was die binnelandse stamkoninkryk van Mapungubwe wat o.m. gekenmerk is deur die vervaardiging en besit van goue kultuurvoorwerpe. Dit, sowel as hul vestigingspatrone (die terreinuitleg, klipterrasmure en kliptrappe) het voorts die inwoners se koninklike status aangedui. Die goue renostertjie wat argeoloë by Mapungubwe gevind het, was volgens plaaslike stamtradisies 'n simbool van krag en mag wat met 'n koning geasosieer word. goue kultuurvoorwerpe word ook met vroeë koningshuise in die gebied geassosieer. 

Soortgelyke latere koninklike terreine is Groot Zimbabwe en Khami in die hedendaagse Zimbabwe. Die mense van daardie koninkryke het goud, koper en yster wat hulle in natuurlike vorme ontdek en gemyn het, en ook ivoor, aan seevarende Swahili handelaars van die ooskus van Afrika en aan Arabiese en Portugese handelaars verruil vir handelsware soos glaskrale en chinese keramiek wat buite Afrika vervaardig is. Groot Zimbabwe en Khami is ook verklaarde wêrelderfenisterreine.

Die Ystertydgemeenskappe in Suider-Afrika van die Laat Ystertyd (tussen 1,500 en 1,800 n.C.) was die voorouersamelewing van die Bantusprekende stamme en ryke wat later in die historiese tydvak bekend geword het as die Suidoos-Bantu. Hul woonterreine met ashope, klipruines, grafte en oorblyfsels van metaalbewerking en kleipotskerwe kom wyd verspreid voor in die noordelike, oostelike en sentrale dele van Suid-Afrika, van die subtropiese ooskus en die savannegebied van die laweveld tot die grasvlaktes van die Hoëveld en die berggebiede van die hedendaagse Swaziland en Lesotho. Hul kenmerkende sosiale samelewingstrukture het as stamryke ontwikkel. 'n Stamryk is 'n verwantskapsgebaseerde bevolkingsgroep met 'n eie identiteit en hiërargiese sosiopolitieke rangstruktuur. 'n Kommunale lewenswyse, tradisies, samehorigheidsgevoel en 'n eie geografiese woongebied is kenmerkend van 'n stamryk. 

Die histories bekende en lewende Bantusprekende mense van Suider-Afrika word op taalkundige gronde geidentifiseer as die Suid-Oos Bantu. Hulle bestaan uit die Nguni- en die Sotho-Twanastamme van Suid-Afrika en Botswana; die Tsjongastamme van Mosambiek, waarvan gemeenskappe ook in die noordooste van Suid-Afrika woon; die Shonastamme van Zimbabwe; die Venda van Suid-Afrika, wat aan die Shona verwant is; en die Lemba, wat meestal in klein groepies by ander gemeenskappe soos die Venda en Sotho in die Limpopogebied woon. 

Die Nguni het in voorhistoriese tye tot een taalgroep behoort, maar oor die eeue heen verdeel in kleiner groepe wat elke hul eie kulturele karakter en taaldialekte ontwikkel het. weens die onderverdeling van die oorspronlike Ngunigroepe het verkillende Ngunistamryke in die 19de eeu verspreid voorgekom in die omgewing van Swaziland, oos daarvan in Natal en suidwaarts tot in die hedendaagse Oos-Kaap, asook in 'n gebied noordoos en oos van die hedendaagse Pretoria en verder noord in die Limpopo-provinsie. 

Die Noord-Nguni het teen die 17de eeu bestaan uit drie verwante groepe, die Lala, Mbo en Tungwa. Die Noord-Nguni het later opgebreek in verskillende stamryke wat hulle teen 1800 in die gebied noord van die Mzimvuburivier en oos van Swaziland en die Drakensbergreeks gevestig het. Die Suid-Nguni het sover bekend teen 1600 reeds in die omgewing van die Mzimvuburivier gewoon. Van die prominentste grope is die Mpondo, Mpondomise, Thembu en Xhosa. 'n Kenmerk van tradisionele Nguninedersettings was hul koepelvormige woonhutte wat in 'n halfmaan of sirkel om 'n sentrale beeskraal gerangskik was. 

Die Ndebelestamme was volgens oorlewering reeds van die 17de tot 19de eeu in die omgewing van Gauteng, Mpumalanga en Limpopo woonagtig. Die woongebeid van die Manala-Ndebele was in die noorde en ooste van die groter Tshwane-munisipaliteit, terwyl die Ndzundza-Ndebele verder ooswaarts tot in die hedendaagse Steelpoortgebied in Mpumalanga gevind kon word. 

Die Kekana-Ndebele en Langa-Ndebele het in die suide van Limpopo gebly. 'n Meer onlangse vestigingskenmerk van die Ndebele op die noordoostelike Hoëveld is die geverfde geometriese patrone op hul wonings waarvan sommige motiewe geinspireer is deur alledaagse kontemporêre voorwerpe en strukture. Die Ndebele van die noordelike provinsies van Suid-Afrika word onderskei van die Matabele, wat volgelinge was van Mzilikazi. Die Matabele word dikwels ook as Ndebele beskryf, maar hulle het Natal in die 19de eeu verlaat en die Mtabeleryk noord van die Vaalrvier gevestig voordat hulle uiteindelik na die weste van vandag se Zimbabwe uitgewyk het.

Die Sotho is bewoners van die binnelandse plato van Suid-Afrika en Botswana. Verskeie van hul voorouer-woonterreine word deur uitgebreide klipmuurruïnes gekenmerk. Die oorspronklike Sotho het mettertyd in verskeie kerngroepe verdeel en later uit die noordweste van hierdie gebied na aangrensende gebiede versprei. Omvangryke Ystertyd-woonterreine (700 tot 1,300 n.C.) geleë op die Moritsane- en Tautswe-heuwel in Suidoos-Botswana word beskou as hoofsetels van voorouergroepe van die Kgalagadi, terwyl bekende Kgalagadigroepe inwoners was van die Molopogebied.

Die Fokeng en die Digoya was vroeg reeds woonagtig in die Hoëveld noord van die Vaalrivier - die Digoya in die gebied suid van die Vaalrivier, en die Rolong in die gebied tussen die Vaal-, Harts- en Moloporivier. Wegbreekgroepe van die oorspronklike Tswana is die Hurutshe, wat hulle aan die bolope van die Maricorivier gevestig het, die Kwena van die Marico- en Krokodilrivier en die Kgatla van die Witwatersrand-area. 'n Belangrike wegbreekgroep van die Kgatla is die Pedi in die Steelpoortviergebied in Mpumalanga. 

Voorbeelde van Sothostamme met 'n kleurryke geskiedenis en kultuurkenmerke soos goed bewaarde voorbeelde van rondawelargitektuur asook tradisionele gebruik soos sosiale etiket, kleredrag, voedsel en huishoudelike artefakte is die Hananwa van blouberg en die Suid-Sotha van Lesotho. 

Tsongagroepe soos die Nhlanganu, Tshangana, Nkuna en andere van die oostelike laeveldgebied in die Limpopo- en Mpumalanga-provinsie en Noord-Natal is afkomstig van die Tsonga van suidelike Mosambiek. Tsongastamme soos die Tembe was vir eeue betrokke by die ivoorhandel en waarskynlik ook die goudhandel met seevaarders soos die Portugese, wat reeds vroeg in die 16de eeu 'n handelspos gevestig het by Baia da Logoa, tans bekend as Maputobaai. Hul tradisionele woonterreine het verskillende soorte boustrukture opgelewer waaronder rondawelagtige wonings en graanhutte.

Die Venda is 'n afsonderlike groep. volgens oorleweringe het hulle hul in die begin van die 18de eeu uit die noorde in die Limpopogebied en Soutpansberggebied gevestig. Hulle is taalkundig en kultureel verwant aan die Shona van Zimbabwe, maar sommige navorsers meen dat hulle oorspronklik van die Makonde van die Malawimeer afstam. Volgens taalkundige navorsing is die Vendataal verwant aan dié van die Kalanga, wat ook bekend staan as die Westelike Shona en in die weste van Zimbabwe en ooste van Botswana voorkom. Die Kalanga het moontlik in die era van Mapungubwe via die Shashi- en Limpoporiviervallei suidooswaarts gemigreer. Dit het waarskynlik verband gehou met die vroeë goudhandel en Mapungubwe. Na hul aankoms in die hedengaagse Suid-Afrika het die Venda mettertyd verdeel in verskillende koninkryke. Besondere kenmerke  van die Venda is hul rondawelargitektuur, dikwels op klipbouterasse teen berghange, en hul kleurryke tradisionele seremonies met gepaardgaande musiek, danse en kleredrag. 

Die Lemba, wat volgens die oorleweringe saam met die Venda in Suid-Afrika aangekom het, is volgens sommige historici verwant aan die Venda en het onder die invloed van die Moslemhandelaars aan die ooskus van Afrika gekom. Hulle is vaardige handwerkers en handelaars en dien dikwels as ampsdraers by tradisionele seremonies.

Geskiedenis van Suid-Afrika

Van voortye tot vandag

Fransjohan Pretorius

ISBN 978-0624-05466-5