# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Voorwoord

 

"Dan skryf ons self 'n geskiedenis." Dié plofkragtige opmerking van prof. Jacques van der Elst, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, by 'n simposium van die Geskiedeniskommissie het my oor die afgelope ses jaar slapelose nagte besorg. 

By dié geleentheid in 2006 is daarop gewys dat die inhoud wat deesdae aan Suid-Afrikaanse geskiedenis gegee word, veral op skoolvlak, basies klem lê op die versetgeskiedenis van die land, meer spesifiek dié van swart Suid-Afrikaners. Die bevinding was dat, waar die skaal in die apartheidsjare te veel na 'n Afrikaner- of witsentriese benadering tot die verlede oorgeleun het, het die pendulum nou weer te veel na die ander kant geswaai het, met 'n groot fokus op die strugglegeskiedenis.

Gedurende die Apartheidsjare het die struggle en sy strewes nie juis in die gekiedsbekrywing van Suid-Afrika gefigureer nie. Swart mense is as "die probleem" beskou, soos blyk uit temas soos die "Naturelle-" en "Kleurlingvraagstuk". Die bestaan van swart konsentrasiekampe wat die Britse owerhede in die Anglo-Boereoorlog opgerig het, is byvoorbeeld ook nie opgehaal nie omdat dit nie by die Afrikaner se nasionalistiese idees oor die lyding van Boerevroue en -kinders ingepas het nie. Dit is trouens ook nie in die Britse geskiedenisse van die Anglo-Boereoorlog genoem nie.

Met die koms van die Nuwe Suid-Afrika in 1994 het swart verset die sentrale tema in geskiedskrywing geword. Soos die Afrikanersentriese benadering sekere helde- en lydingsoomblikke in die Afrikaner se geskiedenis as die enigste ware geskiedenis van Suid-Afrika voorgestel het, word die oorwinning van die swart versetbewegings nou as die ware geskiedenis van Suid-Afrika voorgehou. Dit was maklik om die pendulum na die strugglekant toe te laat swaai en maklik om te bewys hoe verderflik apartheid vir die land se swart bevolking (wat bruin en Indiërs insluit) was - dit inderdaad was. 

Afrikanerrepublikanisme figureer selde of ooit in die swart versetgeskiedenis. In een werk word gemeld hoe swart mense in die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog gely en gesterf het, terwyl die soortgelyke lot van wit aangehoudenes verswyg word. Die rolle is inderdaad omgeruil. In dieselfde werk is slegs een sinnetjie aan pres. Paul Kruger van die Zuid-Afrikaanse Republiek - waarskynlik een van die invloedrykste figure in die Suid-Afrikaanse geskiedenis van die 19de eeu - gewy en wel oor die probleme wat hy met die mynmagnate ondervind het.

Gevolglik is die begeerte by die simposium van 2006 uitgespreek vir 'n omvattende geskiedenis van Suid-Afrika wat sou probeer om die pendulum na die middel te stuur ter wille van versoening en wedersydse begrip onder die verskillende kulturele en politieke groepe. Die Akademie se Geskiedeniskommissie is gevra om hierdie ambisieuse projek van stapel te stuur. Die bedoeling was 'n inklusiewe benadering - beslis nie 'n eksklusiewe een nie - tot die geskiedenis van Suid-Afrika. 

In 1969 het die Oxford History of South Africa met Monia Wilson en Leonard Thompson as redakteurs die weg aangedui vir 'n breër persepektief op die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Dit het - anders as vroeëre werke - nie die teenwoordigheid van die Portugese aan die einde van die 15de eeu of die koms van Jan van Riebeeck na die suidpunt van Afrika in 1652 as die beginpunt van Suid-Afrika se geskiedenis beskou nie. Interdissiplinêre samewerking met die argeologie en die sosiale antropologie het daarvoor gesorg dat die prekoloniale tydperk ook uitgebreide aandag geniet het. 

Sedertdien is 'n algemene geskiedenis van Suid-Afrika ondenkbaar sonder 'n bespreking van die eerste mense in Suider-Afrika en die verskillende prekoloniale groepe wat vir 'n komplekse samelewing gesorg het. So het Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika in woord en beeld onder redaksie van Trewhella Cameron en S.B Spies (1986) en die Reader's Digest illustrated history of South Africa (1988) die prekoloniale geskiedenis van Suid-Afrika in hul werke ingesluit.

Dieselfde het met Nuwe geskiedenis van Suid-Afrika onder redaksie van Hermann Giliomee en Bernard Mbenga (2007) gebeur. Daarom is ons ingenome met ons eerste hoofstuk deur die etno-argeoloog Andrie Meyer. Hy wys daarop dat Suid-Afrika se geskiedenis miljarde jare teruggevoer kan word van die oorspronge van die heelal en die aarde, asook watter skatkis van oorblyfsels uit daardie tye steeds bestaan. Meyer dui voorts aan hoe die ontstaan en ontwikkeling van Suid-Afrika tydens verskillende historiese tydperke die verloop van die koloniale geskiedenis en onlangse verlede tot in die hede beinvloed het.  

Geen geskiedskrywing kan op volkome objektiwiteit aanspraak maak nie. Dit doen ons ook nie. Tog verklaar ons ons strewe om sover moontlik 'n billike en objektiewe geskiedenis van Suid-Afrika aan te bied. Ons stel daarom verskillende gesigspunte van bepaalde tydperke naas mekaar. Die Nederlandse era aan die Kaap van 1652 tot 1806 word dus nie alleen die geskiedenis soos vanuit die koloniste se perspektief gesien nie. Die hoofstukke deur Johan de Villiers en Robert Shell behandel ook die lot van die slawegemeenskap en die Khoenkhoen (wat in die geskiedenis ook as die Khoi-Khoi of Hottentotte bekend was). 

Wat die tydperk van 1750 tot 1854 betref, bespreek Jan Visagie die motiverings vir en die migrasies van die wit trekboere en Voortrekkers. Hy wys egter ook op die rol wat gekleurde groepe in die binneland - die Boesmans, Koranas, en Griekwas - gespeel het en hoe die Sotho-Tswana- en Ngunisprekendes en die Voortrekkers deur die Mfecane beinvloed is. 

Jackie Grobler bekyk staatsvorming en strydperke in die tweede helfte van die 19de eeu en die verhaal van die verskillende swart groepe wat deur Visagie begin is, word voorgesit. Grobler ondersoek ook die konstitusionele, politieke en landbou-ontwikkeling van die Kaapkolonie en Natal, en die vorming van 'n aantal Boererepublieke, waarvan die Republiek van die Oranje-Vrystaat en die aanvanklik verdeelde Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) die belangrikste was. Sy hoofstuk, asook dié van Wessel Visser oor die minerale revolusie en Grietjie Verhoef se bydrae oor die ekonomiese geskiedenis van Suid-Afrika in die 19de eeu, vul mekaar goed aan. Hermann Giliomee se hoofstuk oor Afrikanernasionalisme in die laaste dekades van die 19de eeu sluit daarby aan.

Dit bring ons by die breukvlak tussen die 19de en 20ste eeu. Hier word van die standpunt uitgegaan dat die Anglo-Boereoorlog in die eerste plek 'n stryd tussen die Boererepublieke en Groot-Brittanje was, maar daarnaas ook 'n oorlog was wat Suid-Afrikaners uit alle bevolkingsgroepe geraak en betrek het (Fransjohan Pretorius). Daar word ook verwys na 'n alternatiewe benaming vir die oorlog, die Suid-Afrikaanse oorlog, wat juis op die betrokkenheid van alle Suid-Afrikaners dui. 

Ons strewe om verskillende groepservarings naas mekaar te stel, bereik 'n hoogtepunt in die aanbieding van die geskiedenis van die 20ste eeu. Die meeste van die hoofstukke in die boek word trouens aan dié eeu gewy. Naas die gewone politieke geskiedenis van die bewindhebbers van 1902 tot vandag (deur David Scher, Giliomee, Kobus du Pisani, Japie Brits en Jan-Jan Joubert), word aandag geskenk aan die ekonomie van die tyd (Verhoef), die vakbondwese (Visser), Afrikanernasionalisme (Giliomee), swart verset (Grobler), die wit Engelsprekende ervaring (John Lambert) en kortliks selfs aan die Chinese gemeenskap in Suid-Afrika (Karen Harris). Hoffie Hofmeyr ondersoek ook die rol van die NG Kerk in hierdie eeu, terwyl Elize van Eeden en haar medeskrywers, onder andere William Beinart (Universiteit van Oxford) en Phia Steyn (Universiteit van Stirling), op die waarde van omgewingsgeskiedenis wys.

Geen interpretasie van die geskiedenis is alleengeldend nie, en Scher en Giliomee verskil byvoorbeeld oor die rol wat apartheid by die Nasionale Party-oorwinning in 1948 gespeel het. Teenoor Scher se uiteensetting van gebeure onder die aprtheidsregering tussen 1948 en 1966, verskaf Giliomee weer 'n ander blik op apartheid, deur antwoorde te probeer vind op vrae soos: Was apartheid heeltemal verskillend van die segregrasiebeleid wat tussen 1902 en 1948 gevolg is? En: Kon Suid-Afrika ekonomies beter gevaar het as daar nie apartheid was nie? Scher se hoofstuk beskryf apartheid feitelik, terwyl Giliomee apartheid ontleed as 'n bepaalde vorm van modernisering in ontwikkelende lande. Die twee hoofstukke moet dus saam gelees word. 

Ons het dus oorwegend 'n chronologiese benadering gevolg, maar die werk bevat ook sterk temas uit die betrokke tydperke. Ons wil graag hê dat hierdie werk vir hoërskoolleerlinge en onderwysers van nut moet wees, maar is oortuig dat sowel die historikus as die belangstellende algemene leser ook veel hieruit sal put. 

Hoewel die boek 'n projek van die Geskiedeniskommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is, en uitnemende skrywers uit hierdie groep historici na vore gekom het wat die geskiedenis kon saamstel, het ons na gelang van behoefte nog kenners op hul gebied buite hierdie groep betrek. Wat ons hier aanbied, is dus nie die werk van 'n etnies, taal- of ideologies gebonde groep skrywers nie, maar van 'n groep historici wat die geskiedeniswetenskap wou dien. 

Ek wil Herman Giliomee en Tafelberg bedank vir die stuk wat uit Nuwe Geskiedenis van Suid-Afrika oorgeneem kon word. 'n Besondere woord van dank aan die buitengewone en buitengewoon groot span wat aan die projek deelgeneem het. Ek is telkens opnuut onderskraag deur die geesdrif van my medewerkers. Dit het my taak aansienlik vergemaklik. Elke hoofstuk is sorgvuldig aan eweknie-evaluering onderwerp. 

Prof. Jacques van der Elst het 'n enorme bydrae tot die totstandkoming van die werk gelewer. Sy daadwerlike ondersteuning in hierdie tyd word opreg waardeer. Sonder die finansiële ondersteuning wat hy vir ons gewerf het, was daar nie vandag 'n boek nie. 

Linda Brink, senior administratiewe beampte van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, verdien my hartlike dank vir die onbaatsugtige en waardevolle hulp wat sy verleen het. 

My dank gaan ook aan Ingrid Booysen wat die kaarte geteken het, en Dione Prinsloo wat met geesdrif help proeflees het. Vanuit Tafelberg Uitgewer-geledere het ek besonder aangenaam met Annie Olivier as ons eindredakteur gewerk - en haar, Hans Buttner en Henriëtte Lategan vir hul redaksionele versorging 'n woord van dank. 

Sonder die ruim finansiële steun van die Dagbreek Trust, asook die geldelike bydrae van die Navorsingstrust van die Erfenisstigting sou hierdie publikasie nie moontlik gewees het nie. 

Fransjohan Pretorius

Redakteur