# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

Groep Twee 


was 'n Suid-Afrikaanse Musiekgroep wat bestaan het uit twee lede: Gert van Tonder en Sias Reynecke. Hulle was bekend vir liedjies soos Die Oukraal-liedjie,Daar's Niks Soos Ware Liefde, Die kat kom weer en Die padda wou gaan opsit.

In Suid-Afrika was daar seker nie 'n sanggroep wat Groep Twee se skoene kon volstaan nie. Dan het hulle boonop, in Januarie 1968, vier liedjies, onder andere Mangwane Mpulele en Little Go Go Girl, in Ateljee 2 van die EMI-ateljees in Abbey Road, Londen, opgeneem, dieselfde ateljees waar The Beatleshulle wêreldtreffers opgeneem het. Maar moenie dink hulle klem was Engelse liedjies nie.

Gert van Tonder, gebore op 29 Junie 1941, is 'n seun van Bergplaas, 'n bosboustasie tussen George en Knysna. Sias Reinecke is op 23 April 1940 in Johannesburg gebore, en hulle was albei eers trekklavierspelers! Gert was in 'n plaasskool en hulle grond was groot genoeg om 4 koeie, varke en hoenders aan te hou. Jare later, toe daar van Bergplaas niks meer oor was nie, sou hy sy verlies betreur in die woorde van die luisterliedjie Net 'n droom, wat 'n skoolmaat van Gert, Danie Gerber, getoonset het.

Groep Twee sou ook Danie se Awendwindjie opneem. Sias en Gert het mekaar in 1963 ontmoet. Gert was hoof van die byklanke-afdeling van die SAUK in Durban en Sias 'n assistant-programbediener in Johannesburg. Eric Eagan van Springbokradio het vir Sias saamgeneem Durban toe om te help met die uitsending van sy oggendprogram. Gert was lid van die folksanggroep The Titans wat dikwels in die radioprogram Om die kampvuur en in konserte saam met Danie Smuts en Heine Toerien opgetree het. Sias was 'n trekklavierspeler in 'n boereorkes.

'n Jaar later het die SAUK vir Gert Johannesburg toe verplaas en het die twee elke moontlike tydjie gebruik om hulle klank te vervolmaak. Volksang was destyds besonder gewild en hulle het in 'n restaurant, Dunk A Doughnut in die kosmopolitiese Hillbrow, begin optree as Folk Two, met R4 per aand en iets te ete as vergoeding. Hulle het daaraan begin dink om met 'n Afrikaanse naam Afrikaanse musiek op te neem en een aand, tydens hulle optrede in Battle of the Beats, het Michael Mayer van Springbokradio voorgestel dat hulle Groep Twee heet na aanleiding van die groep, Group One, waarvan Lance James lid was tydens sy verblyf in Engeland. Hulle eerste openbare optrede was tydens die Primrose-amateurtalentorganisie se Dixieland-konsert met liedjies soos Where have all the flowers gone en Kumbaya.

Mike Heine van Springbokradio was die seremoniemeester en met sy aanmoediging het hulle by Golden Sound Promotions/Goue klank promosies beland wat Jurie Ferreira se hertoetrede tot die musiekwêreld ook hanteer het. 'n Solussewe volg in Desember 1966 met Die oukraalliedjie (It Ain't Nobody's Biz'ness What I Do) op die een kant en Die padda wou gaan opsit (Froggy went a courtin") op die keersy. Nick Taylor en Min Shawe het ook in dieselfde jaar Die oukraalliedjie opgeneem, maar dis Groep Twee se weergawe wat die derde plek op Springbokradio se treffersparade behaal en 15 weke lank op dié treffersparade kuier.

Die padda wou gaan opsit se gewildheid haal die nuusblaaie wat selfs die lirieke volledig weergee by 'n spotprent deur die legendariese T.O. Honiball, die vader van die Adoons-hulle-tekenprente. Engels- en Afrikaanssprekendes versoek die plaat tot so 'n mate dat dit seker die enigste plaat is wat ooit twee keer in een radioprogram gespeel is! Hulle goue plaat vir Die Oukraalliedjie is nog nie al nie.

Op 27 Januarie 1968 sing hulle Little Go Go Girl saam met die 40-stuk-orkes van die Franse orkesleier Frank Pourcel op die verhoog van die Palais de Festival in Cannes, Frankryk. Die teater het sitplek vir ongeveer 2700 mense en Groep Twee deel die verhoog met sterre soos Duitsland se Udo Jurgens en Engeland se Tom Jones en Vera Lynn. Dis ook hulle eerste kennismaking met televisie. Die geleentheid is die oorhandiging van die Midem-trofee vir die kunstenaar wat in daardie jaar die meeste plate in sy/haar land verkoop het, die eerste keer dat Afrikaanssprekendes die toekenning verwerf.

Terug in Suid-Afrika, sing hulle Die oukraalliedjie saam met Min Shaw in die rolprent Jy is my liefling. Hulle het nie net vertalings gesing nie, inteendeel. Groep 2, hulle langspeler van Januarie 1967, maak FAK-Sangbundel-liedjies soos Vaarwel my eie soetelief, Rokkies wou sy dra en Liewe maan opnuut gewild, terwyl oorspronklike, ligte Afrikaanse musiek 'n regmatige plek kry.

Gert dra sy deel by met Langs my vuurtjie, Anton de Waal met Elke aand as die son verdwyn en George Esaul en Anton de Waal met, Marita. Die langspeler Op silwer vleuels met Groep 2 bied weer 'n regmatige plek aan komponiste van ligte Afrikaanse musiek met snitte soos My hart verlang na die Boland van Olaf Andresen, Appeltert van Carstens en De Waal, Ali Arletowicz en Anton de Waal se Groen is die land van NatalBolandse liedjie van Hermann Nell en Martin Vorster en Rhoda Bekker se Dit is my land, dit is jou land. Groep Twee was ook die hoofkunstenaars van die Ateljee '67-konserte, wat dwarsdeur die Republiek van Suid-Afrika voor studentegehore aangebied is.

Ten spyte van hulle sukses besluit Sias, ná hulle toer saam met die Günther Kallmann-koor, om saam met twee koorlede, Monika en Angelika Neuenfeldt, die Treble Aires te vorm. Gert moet noodgedwonge vir Eddie Trautman as sangmaat vra om as Groep Twee voort te gaan. Die Treble Aires was nie geslaag nie en na Eddie Trautman se noodlottige motorongeluk in 1971 het Gert en Sias weer begin planne maak om saam te sing met meer ritme, maar dieselfde klank.

Heine Toerien, bekend vir sy radio-verskeidenheidsprogramme, het vir Gert, toe 'n programopsteller by Springbokradio, 'n solussewe-plaat van Udo Jurgens gebring met die Afrikaanse woorde Daar's niks soos ware liefde en Solank daar treine loop, wat hy vir die liedjies geskryf het. Gert en Sias het die nommers instudeer en op hulle konserte begin sing. Een aand het hulle in die arena by die skou in Bloemfontein opgetree en die buite-eenheid van die SAUK het hulle vertoning opgeneem. Terug by die SAUK het Gert 'n sagteplaat-afdruk van Daar's niks soos ware liefde laat maak en in sy opstelhokkie gespeel. Lance James, wat in die diskoteek gewerk het, wou dadelik die nommer self opneem indien Groep Twee dit nie doen nie

Albie Venter, die platebaas van Brigadiers, het nie geglo dat daar enige lewe in Groep Twee oor is nie en wou hulle liewer saam met Anita Briel in 'n nuwe groep opneem. Eers toe Lance James hom skakel en vra om die nommer op te neem, het hy baie teësinnig vir Groep Twee die groen lig gegee. Na die vrystelling van die opname in Augustus 1971 moes Albie toekyk hoe die plaat die derde plek op Springbokradio se treffersparade behaal en 18 weke lank weekliks op dié program gehoor word! Boonop moes Albie twee goue plaat-toekennings aan Groep Twee oorhandig vir verkope van 73 000 eenhede. Dit lei in 1972 nog verder tot die Sarie-toekenning as die beste sangpaar!

Die langspeler Dink jy darem nog aan my sorg vir nog 'n goue plaat en Laat my weet, met Gert en Sias se eie liedjie, Bly voel my hart, vir 'n Sarie as die beste langspeler van die jaar. Groep Twee neem ook 'n transkripsieplaat vir die SAUK op en vernuwe nommertjies soos Tommy Roering se Bloemfontein se roseMaanlig op die water en Rollo Scott se Lente in die Hoëveld.

Maar in 1977 moet bewonderaars in die nuusblaaie en tydskrifte verneem dat dit Groep Twee se laaste jaar is. Hulle sou die volgende jaar twee damesstemme bykry en as Plus Twee optree. Daarvan het niks gekom nie, want Sias wou maar altyd 'n solosanger wees. Gert, met sy lisensiaat in spraak- en drama, het intussen bedrywig geraak met rolprent- en TV-rolle, oorklanking, radiowerk en hy was behoorlik in aanvraag as liriekskrywer. Dit moes hy alles inpas tussen sy verpligtinge, onder andere as bemarkingsbestuurder van 'n bankgroep. Talle kinders onthou hom as die aanbieder van die TV-kinderprogram, Wielie WalieGroep Twee het die weg gebaan vir groepe soos Tony en Jan, Ian en Dix, Mynie en Jan, Jan en Martie, Herbie en Spence, Die ou menere en Francois en Elizabeth Fourie. Wat sangpare betref, was Tony Osler en Jan Grové seker die beste in staat om Groep Twee se sukses te ewenaar met hulle besondere vertolking van nommertjies soos hulle eie Anita kom met die môretreinSuikerbossie, Bobbejaan klim die berg, Ver in die wêreld Kittie, Die blink vosperd, en Ali Arletowicz en Anton de Waal se Groen is die land van Natal.