# Afrikanerhart - die Trekpad van 'n Nasie

"Grensverhaal"

Ek was op die Grens (90 dae ononderbroke opleiding) toe sy tussen 18h00 en 19h00 die aand van 1 Augustus 1983 dood is. Sy was 24 jaar oud. Ek het dikwels aan mense gesê sy is "my beste vriendin."

Sy was die eerste vrou aan wie se borste ek gevat het. Ek was toe negentien. In die sowat agttien maande wat ons "uitgegaan" het, wou sy nie hê ek moes haar penetreer nie. Sy was 'n maagd toe ek in Augustus 1979 met haar "uitgemaak" het. Ek het die operasionele gebied in 1982 tydens 'n kamp van dertig dae vir die eerste keer besoek om vir Paratus, die amptelike tydskrif van die Suid-Afrikaanse Weermag, 'n onderhoud te gaan voer met Luitenant Louis Kruger, skrywer van die roman Die skerpskutter wat daardie jaar deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns met die Eugène Marais-prys bekroon is. Hy was besig met sy twee jaar diensplig en op 'n buitebasis, Okalongo, in Owambo as kapelaan gestasioneer.

"Owambo is in die noorde van Suidwes-Afrika geleë. Dit word aan die noordekant deur Angola begrens, oos deur Kavango, suid deur Etosha en wes deur die Kaokoland. Die gebied is ongeveer 53 000 vk.km groot en lê tussen 14 grade en 18 grade oos en 17 en 18 grade 46 minute suid," volgens 'n inligtingstuk van die S.A.W.

"Met die uitsondering van die noord-westelike grensgebied waar die Kunene-rivier 'n natuurlike grens vorm, bestaan die grens tussen Owambo en Angola uit 'n kartografiese lyn wat op die grond deur 'n veewerende heining aangedui word. Suid van die heining is 'n strook van een kilometer tot niemandsland verklaar in 'n poging om beter beheer oor die grens te verkry. Die niemanslandstrook staan bekend as die Jati-strook. Die grens tussen Owambo en Angola is ongeveer 450km lank."

Ek is van die Waterkloof-lughawe met 'n Lockheed C-130 Hercules van Ondangwa, wat daar met 'n Bedford na Oshakati en toe per buffel na Okalongo. "Owambo bestaan hoofsaaklik uit 'n besonder gelyk en uitgestrekte vlakte van 1 090 en 1 150 meter bo seespieël, wat deel uitmaak van die Kalaharikom. Die vlakte daal geleidelik in die rigting van die Etoshapan. Die sentrale deel van Owambo is deurkruis met 'n netwerk van vlak vloeikanale bekend as Oshanas. Hutgroepe en landerye is geleë op die hoërliggende grond tussen die Oshanas." Een oggend op die paradegrond het luitenant Kruger uit hoofstuk 3 van die Evangelie volgens Johannes voorgelees - Die gesprek van Jesus met Nikodemus. Hy het die volgende teksvers uitgesonder: "Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie." 

Ek is die volgende dag met 'n konvooi terug Oshakati toe. Teen die wand van die Buffel was ROOK VERBODE en GESPE VAS geverf. Langs die pad het ons stilgehou om te gaan kyk waar 'n trekker die week vantevore 'n landmyn afgetrap het. Die wrakstukke het in 'n radius van sowat vyftig meter om 'n gat van sowat 1,5 meter diep gestrooi gelê.

"Des moers", het 'n onderoffisier met 'n litteken op sy wang gesê. "Die twee PB's (plaaslike bevolking) wat op die tractor was het net 'n halwe body-bag vol gemaak." 

Volgens 'n koerantberig wat die oggend van 2 Augustus 1983 verskyn het, is sy dood deurdat sy van 'n perd afgeval het op 'n plaas naby Rustenburg. 

"In 'n poging om haar lewe te red, is sy inderhaas per ambulans van die hospitaal op Rustenburg na die H.F. Verwoerd-hospitaal in Pretoria gebring. Sy het egter onderweg beswyk aan kopbeserings wat sy tydens die val opgedoen het, " lui die berig. Ek het nooit haar lyk gesien nie.

Die oproepinstruksies het beveel dat ek my op Donderdag 7 Julie 1983 om 08h00 op die parkeerterrein voor die Pretoria-stasie moes aanmeld, saam met die res van 'n burgermageenheid wat drie maande lank Grens toe gestuur is. Dit was koud - die koudste dag tot nog toe daardie winter, volgens die weerberig die aand op SAUK-TV1. Op Winterton in Natal is -12 grade Celsius dié nag gemeet.

Anderkant die tuine voor die stasie het werkers in wit oorpakke die Victoria-hotel se dak geverf. Op een van die houtbanke by die ingang het 'n boemelaar gelê en slaap. Op dié deel van sy rug wat onder sy vuil, geel trui uitgesteek het, het sere gesweer. 

Die blas sersant wat "roll-call" gehou het, het laaste van sy vrou afskeid geneem. Sy het twee kindertjies by haar gehad, elkeen met 'n rooi gehekelde poncho aan. Ons is met ons "balsakke" oor die skouer na die Bedfords en daarna na die deurgangskamp op Voortrekkerhoogte. Niemand het juis gepraat nie, behalwe 'n maer man met bakore wat vir die "drywer" gesê het hy sal hom "opfok" as hy ons "oumanne" 'n "rofie-ride" gee. 

By 1 Militêre Hospitaal het hulle ons ondersoek, urinemonsters geneem en ingespuit teen tifoïed, paratifoïed en tatanus. Die aand het 'n sersant-majoor met 'n blonde snor vertel hoe hy die dokter, 'n vrou, wat die Tet.-inspuiting toegedien het, laat skrik het. "I told her I had herpes. Ha!" Drie biere later het hy die storie herhaal.

Na die ondersoek het ons buite in die son rondgestaan en wag op instruksies. "Hurry up and wait, is mos die army se motto," het die maer man met die bakore gesê.

Die saal langsaan het 'n nommer teen die muur gehad: 22. Die verf op die sinkdak was besig om af te skilfer. Party van die vensters was stukkend en die deure toegespyker. Toe ek tydens my diensplig in 1976 tien dae daar deurgebring het, het die saal 'n "naam" gehad. Dit was die psigiatriese afdeling vol "dwelmverslaafdes" (m.a.w) "daggarokers"), "sensitiewe seuns" wat met "identiteitsprobleme", bosbefokte "eenvoudige skisofrene" wat glo hulle is Idi Amin of die hoof van die Weermag, die Groot Instrukteur, Moses, Jesus Christus ("Hy was rein en onskuldig, daarom is ek nou hier om net 'n mens te wees, 'n vuilgat") almal in dieselfde rooi, wit en blou gestreepte kamerjasse ("technicolour dreamcoats") en swaar, bruin stewels. Teen een van die mure het 'n poster gehang an 'n meisie teen 'n sonsondergang met 'n blom in haar hand. 'n Vers van William Blake was in die onderste regterhoek afgedruk:

to see a World in a Grain of Sand

And to Heaven in a Wild flower

Hold Infinity in the palm of your hand

And Eternity in an hour.

Die middag in die deurgangskamp, nadat ons met R'1's en slaapsakke uitgereik is, het ons in 'n kaserne op kaal skuimrubbermatrasse wat met "pisvelle" oorgetrek is, gelê en "ballas bak".

"Hierdie kamp is PW se skuld, die meidenaaier," het 'n man met blonde kroeshare en puisies gesê. "Hoe so?" wou die maer man met die bakore weet. "Hy wil nou mos hê ons moet met die kaffers trou." Die kroeskop het 'n foto van 'n vrou uitgehaal en dit vir almal gewys. "My vrou," het hy gesê.

"Here, maar sy's lelik," het bakore laat hoor. "Miskien van buite, maar van binne is sy mooi." Buite het 'n vragmotor met 'n vrag bier verbygery. Iemand het 'n ghetto blaster uit sy "balsak" gehaal; die volume eers opgedraai en toe weer afgeskakel. Aan die onderpunt van die kaserne het die maer man die rooikop langs hom vertel van Deep Throat wat hy op 'n Pirate-video gesien het" "...Ja, man haar clit sit toe al die tyd in haar keel."

"Dis fokol", het die rooikop geantwoord. "Een van die appys in ons shop sê hy't al 'n koei genaai. In die neus."

Die maer man het histeries begin lag. "Hy tune, as die koei hom die tweede keer lek met daai lekker skurwe tong, kom hy sulke lang skote." Die maer man het van sy bed afgeval. Die aand het die bevelvoerder van die burgermageenheid - 'n gryskopman met 'n los keelvel - die manskappe in die kaserne toegespreek. Saam met hom was 'n kapelaan.

"Julle mag nie godsdiens of politiek praat, of kaffer sê nie," het hy gesê. "En wees asseblief versigtig, ek wil nie die smart beleef om die doodstyding van een van my seuns aan sy bedroefde ouers oor te dra nie."

Die kapelaan het ingesit met psalm 100. Die mans het hortend saamgesing. Party het nie die woorde geken nie. "Ek was lank op die grens," het hy gesê, "maar die laaste tyd, vandat ek terug is in die States, werk ek net met dominees. Daarom is dit vanaand weer vir my lekker om met mense te praat." Hy het geglimlag en gevra of daar enige Jode onder ons is. 'n Man met swart krulhare het sy hand opgesteek. Hy het 'n modieuse groen- en pienk sweetpak aangehad. "Akkerpiel," het 'n man met LOVE op sy linkerhand se kneukels getatoëer, langs my gemompel.

"I'll keep kosher and read from the Old Testament," het die kapelaan gesê, sy lanferbaret afgehaal en die nuwe vertaling in Afrikaans van Psalm 23 voorgelees." As jy nog nie daar bo was nie, kan jy nie saampraat nie," het die kapelaan gesê. "Oor drie maande sal julle kan saampraat. Onthou net dis 'n voorreg. En die verantwoordelikheid lê by jou. Daar bo raak 'n man mos sterk na ses biere..."Hy het die Bybel in sy hand styf vasgeklem dat die spiere op sy harige arm span. Die man met die tatoeëermerke het gegrinnik. "...En voor jy weet waar jy is, skiet 'n wag op jou - jou eie maatjie, ja, of jou lorrie trap 'n cracker af, het hy voortgegaan. "Wees verantwoordelik. Onthou, die Here is die Herder wat jou lei en altyd by jou is." Toe het hy gebid.

Voor ons vertrek het ons die vorm DD 1112 onderteken. Op Aanhangsel A van die vorm is Artikel 118 en 119 van die S.A. Verdedigingswet (Wet nr. 44 van 1957 soos gewysig) en Artikel 3 van die Wet op Amptelike Geheime, 1956, afgedruk. Die begin van Artikel 118 lui soos volg: "(1) Niemand mag in 'n nuusblad, tydskrif, boek of pamflet of per radio of op ander wyse - (a) inligting met betrekking tot die samestelling, bewegings of opstellings van - (i) Die Suid-Afrikaanse Weermag en enige kragtens hierdie Wet ingestelde hulpdiens of vrywillige pleegdiens, of 'n mag van 'n land wat 'n bondgenoot van die Republiek is; of (ii) Suid-Afrikaanse of geallieerde skepe of vliegtuie wat vir vloot- of militêre doeleindes aangewend word; of (iii) Lokomotiewe, rollende materiaal, voertuie, vaartuie, of vliegtuie van enige spoorweg-, pad-, binnelandse water- of seevervoerstelsels of lugdiens waaroor 'n offisier van die Suid-Afrikaanse Weermag ingevolge artikel 102 (1) beheer geneem het, of enigiets wat ingevolge artikel 102 (2) op aansegging van die Minister verskaf is, of enige verklaring, kommentaar of gerug wat daarop bereken is om regstreeks of onregstreeks sulke inligting oor te dra, publiseer nie, behalwe waar die inligting verstrek of die publikasie daarvan gemagtig is deur of betrekking tot 'n lid van die Suid-Afrikaanse Weermag of 'n bedrywigheid van die Suid-Afrikaanse Weermag of 'n mag van 'n vreemde land, wat daarop bereken is om die Regering in sy buitelandse verhoudinge te benadeel of in verleentheid te stel of om lede van die publiek te ontstel of neerslagtig te maak, publiseer nie behalwe waar die publiaksie daarvan deur of op gesag van die Minister gemagtig is."

Drie weke na haar dood het 'n brief wat sy op 30 julie 1983 geskryf het, my bereik.

In my woonstel het ek voor 'n venster met 'n uitsig oor die tuin gaan sit. In die blombedding het papawers gestaan. Ek het die brief oopgemaak en deurgelees. Die kamer was lig en warm binne.

Die roudiens is Vrydag, 5 Augustus 1983, om 11h00 gehou waarna sy veras is. Dit was 'n helder, winderige dag. Van die kerk op die hoogtetjie in Melville, Johannesburg, kon 'n mens oor die lykswa se dak die stad sien skitter. "Soos 'n antieke tempel," het die man gesê wat die laaste met haar gepraat het voordat sy dood is. Hy het vertel dat nadat sy van die perd afgeval het, sy dadelik bewusteloos was en bloed by haar mond en ore uitgeloop het. Die dominee het uit Romeine 8 voorgelees. Hy het vers 31 uitgesonder: "Wie sal ons dan van hierdie dinge sê? As God vir ons is, wie kan teen ons wees:"

Die middag na die begrafnisis ek na 'n Turkse stoombad en gesondheidskliniek in die middestad waar ek 'n man opgetel het. Hy het prominente oogtande, 'n aknee-vel en 'n kort ken gehad. Toe hy my penentreer, die waaie van my bene oor sy skouers, het ek vir die eerste keer gehuil. Die middagson het deur die Sunfilter-gordyne op die klam, wit lakens geskyn.

Die kapelaan op Ondangwa het my die Woensdagoggend na parade laat roep. Op pad na sy kantoor het ek verby die HK gestap, 'n sinkgebou, en die vlugbalbaan waar twee witborskraaie staan en pik. Teen een van die kapelaan se kantoormure was 'n plakkaat vasgepak met 'n strokiesfiguur, Weerman Wenner,daarop geteken. Hy het 'n lang wysvinger en sê met 'n skewe glimlag: "Groet Owambo vandag, môre red dit dalk jou lewe." Die kapelaan het my ingelig oor die ongeluk waarin my "verloofde" sowat 36 uur vantevore dood is. Hy het my ook vertel van die berig in die koerant. 

"Ek is bly het het dit nie gisteraand in die hande gekry nie, anders het jy dalk gecrack," het hy gesê en toe gebid. Ek is agter op 'n Bedford na Oshakati waar ek moes gaan uitklaar. In my bosak, binne-in my diens- en soldyboek, was 'n foto van my en haar. Ek is 20 en sy is 18. Langs die pad tussen Ondangwa en Oshakati het oranje, pers en geel komberse oor die doringsdraadheinings gehang. Onder die bome het bokke op hul agterpote gestaan, hul nekke gestrek en die takke onder gelyk gevreet. In die koelte het mense gesit, Owambo's, en tussen die bome het karkasse aan dwarslatte in die wind gehang. Die man het gesê hy hou van my "bush-cut" en 'n handdoek om sy onderlyf gedraai. 

Ek het opgestaan en die venster oopgemaak. Die geur van die jasmyn in die heining het die kamer binnegedring. Op die sypaadjie het 'n poedel 'n wolfhold probeer dek. Hy kon nie bykom nie. Met sy voorpoot het die poedel teen die ferm, rooi vleis van sy penis, wat ver uitgesteek het, gekrap. Ek het na my NAD-hoëtroustel gedraai en 'n strykoktet van Mendelssohn op die draaitafel gesit. Hy het dit in 1825 gekomponeer toe hy 16 was. Volgens sy suster, Fanny, is die Scherzo geïnspireer deur die laaste vier reëls uit deel 1 van Goethe se Faust:

Wolkenzug und Nebelflor

Erhellen sich von oben.

Luft im Laub und Wind im rohr.

Und alles ist zerstoben.

Die Weense Oktet speel op dié opname (Decca Jubliee JB128) 4 minute en 41 sekondes aan die scherzo. 

Koos Prinsloo

Honderd Jaar van Afrikaanse Kortverhale

Saamgestel deur Abraham H. De Vries

Vyfde Hersiene Uitgawe

ISBN 0-7981-3569-7